Deel

Pienkes du Plessis gesels oor sy nuwe boek Ons Camino

akkreditasie
Die Camino in Spanje lok jaarliks byna ’n kwartmiljoen mense. Pienkes du Plessis en sy vrou het 330 km tussen León en Santiago de Compostela gestap. Pienkes vertel vir ons meer oor sy pelgrimstog en nuwe boek.


Die Camino in Spanje lok jaarliks byna ’n kwartmiljoen mense. Pienkes du Plessis en sy vrou het 330 km tussen León en Santiago de Compostela gestap. Pienkes vertel vir ons meer oor sy pelgrimstog en nuwe boek.


Waar het jy die eerste keer van die Camino gehoor?

Soos die meeste mense het ek en my vrou, Lizzie, maar net vaagweg ‘geweet’ van die Camino, maar dis toe ons toevallig met ’n paar Camino-stappers aan die gesels raak dat dit ons avontuurlus begin prikkel het. Die boek wat waarskynlik die grootste invloed op ons besluitneming gehad het, was die intieme ontboeseming van die diep gelowige en dierbare ou oom, Ermanno Aiello van Somerset-Wes. Hy het die boek Forever a Pilgrim geskryf. Die eenvoud, ootmoed en die liefde vir sy God en vir sy vrou was ’n openbaring. Só, het ek gedink, lyk die binnekant van ’n rêrige pelgrim.


Wat het jou laat besluit om op tagtig hierdie pelgrimstog te gaan stap?

Ek en Lizzie is nou nie eintlik vreemdelinge vir sport en stap en sulke dinge nie. Ek bly in ’n groterige, sterkerige lyf, sonder siektes. Maar darem met ’n paar kwesplekke, letsels uit ’n woelige jongtyd. Vlak voor die Camino het die kardioloog met ’n pasaangeër aangehardloop gekom. Grootskrik was nie die woord nie.


Hoe het julle op die spesifieke roete besluit?

Ons eerste gidsboek, John Brierley se wonderlike A Pilgrim’s Guide to the Camino de Santiago, het toevallig oor hierdie roete gehandel. So ook Ermanno Aiello se boek. León is ’n gerieflike en maklik bereikbare beginpunt.


Wanneer het jy besef jy wil graag ’n boek oor die Camino skryf?

Ons het daagliks notas gehou van ons vordering en toe ek dit by ons tuiskoms aanmekaar begin las en ’n soort fotoboek daarvan wil maak, het ek besef ek is eintlik besig om ’n boek te skryf.


In watter opsigte verskil hierdie van jou vorige boeke?

Soos die ooste van die weste. My drie bundels jagverhale verskil uiteraard van my Camino-boek. Ons sit nie om kampvure op die Camino nie, maak nie potjies kos of skiet bokke nie. Wat my ander boeke – twee romans en ’n bundel kortverhale betref, is daar ook geen ooreenkoms nie. Ons Camino is ’n reis waarvan die einde reeds aan die begin bekend is. Dit is dus skryfwerk sonder intrige, sonder spanning, sonder donker oomblikke. Jy lê nie nagte wakker en probeer ’n storielyn uitwerk nie.

My grootste uitdaging was om te keer dat die skryfwerk nie verval in ’n vervelige relaas of ophemeling van gebeure of plekke waaruit 90% van reisverhale gewoonlik bestaan nie. Ek wou spesifiek ánders skryf.


Wat sal jy sê maak jou boek anders of uniek?

My Camino-boek is sonder liriese beskrywings van kerke en kunswerke en landskappe. Die boek wil nie lesers leer of opvoed nie; dit wil eerder vermaak, bietjie tong in die kies spot, maar spot met deernis, nie om seer te maak, te kwets of diep gelowiges te ontstel nie. Meeste van die mites in die kerkboeke is tog maar oorvertellings van oorvertellings van oorvertellings, en dit het my oneindige plesier verskaf om sommige van die lawwighede te ontbloot. Wat ek nie besef het nie, en wat Daniel Hugo die eerste keer raakgesien het, is dat Ons Camino wel ’n baie handige gids vir die oningewyde Suid-Afrikaner is, iets wat ek glad nie beoog het nie.


Hoe swaar was jou rugsak en watter items was heeltemal onnodig?

My rugsak was sowat 10-12 kg nadat ons heel aan die begin die onnodige goed met die pos aangestuur het. En nee, daar was nie ’n enkele stukkie ding wat ek sou weggelaat het nie. Behalwe dat ek ’n baie ligter rugsak sou aangeskaf het en nie so ’n fênsie soldaatsak waarmee recce’s in bosoorloë probeer oorleef nie.

Die hoofrede vir die min onnodiges was seker die vergaderings en werkswinkels wat die plaaslike vereniging van Camino-stappers – die Confraternity of St James – hier  in die Kaap gehou het en waar ervare pilgrims die ideale inhoud van ’n rugsak tot vervelens toe in- en-uitgepak het. Moenie eers dink aan die Camino voor jy nie eers by die Confraternity aansluit nie. Hulle hou landswyd van hierdie werkswinkels en dit kos skaars ’n oulap. Dít, saam met John Brierly se boek, sal jou van die ergste Camino-lyding verlos.

Die Camino is God se pad en dis op hierdie pad dat jy sal leer om met jou voete te bid. ’n Ieder en enkelte wat weet wanneer om te lag en wanneer om te huil.


Wie behoort jou boek te geniet?

’n Ieder en ’n enkelte wat ’n storie liefhet. ’n Ieder en ’n enkelte wat nie lus is om te hoor hoe wonderlik die of daardie kerk of so en so se kunswerke nou eintlik is nie. ’n Ieder en ’n enkelte wat siek en sat geluister is na dwepers wat Bybel-in-die-hand wil preek en leer en vermaan. Die Camino is God se pad en dis op hierdie pad dat jy sal leer om met jou voete te bid. ’n Ieder en enkelte wat weet wanneer om te lag en wanneer om te huil. Wat na stilte kom soek, wat met sy binnekantste wil praat. Dis hierdie ieder en enkeltes wat Ons Camino sal geniet.


Waarom dink jy gryp die eeue oue, mistieke Camino die afgelope tyd soveel se verbeelding aan?

Mense stap die Spaanse Camino al vir 1 200 jaar – aanvanklik met die uitsluitlike doel om by die Apostel Jakobus se graf in Santiago uit te kom en só vergifnis vir hulle sondes te bekom. Pelgrims was hulle, of dan peregrinos.

Volgens inligting het daar reeds in die 12de eeu ’n halfmiljoen pelgrims per jaar hierdie pelgrimsreis gestap. In die Middeleeue was daar by die toegewyde Katoliek ’n obsessie om by Jakobus se beendere uit te kom. Verflenterd, honger, siek, maar biddend het hulle die tog aangepak, en in hulle duisende van koue of hitte of ander ontberings op die lang pad omgekom. Hulle belewenisse het in status en intensiteit gegroei tot byna magiese formaat, in so ’n mate dat behalwe Jakobus se eie 16 wonderwerke wat hy op die tog geskep het, daar ’n duisternis ander wonderwerke ook ontstaan het.

Mettertyd het die tog egter in gewildheid afgeneem, tot so ’n mate dat enkele jare gelede, hier in die vroeë negentigs van die vorige eeu, daar maar sowat 600 pelgrims in ’n hele jaar die tog voltooi het. Nietemin het die misterie en mistiek van die Camino bly voortbestaan, en skielik het die getalle weer begin groei en is daar tans bykans 250 000 stappers per jaar wat die tog aanpak. Maar daar het nou ’n nuwe soort stapper bygekom – die avontuurlustige, die groene, dalk een met geld, met ’n straler op Santiago se lughawe, ’n peregrino wat met gesag kan praat oor die filosofie, die wetenskap, ’n nie-Katoliek, ’n ongelowige in baie gevalle. En almal, voor die voet, op soek na die mistiek van die Camino de Santiago.  


Wat mis jy die meeste van die Camino?

Die opwinding van die vreemde en die onbekende is myns insiens ’n baie groot element van die stapper se belewenis op die Camino. En saam met dit die groot stilte van jou binnekantste. Die gesels met jouself, met jou lewensmaat, met ’n totale vreemdeling uit verre Swede of Skotland. Ek mis dit ontsettend, maar dit bly my by. Elke dag nog, ná ons pelgrimsreis.


Wat mis jy die minste van die Camino?

Ek het ’n ewige renons in die kinders – ek mag maar vir jongmense van 25 jaar oud kinders noem – wat alewig na hulle selfone staar en nugter weet wat daar soek. Of die ander klomp wat dink die Camino is ’n resiesbaan. Hulle jaag die tog af, kyk nie links of regs nie, weet skaars as hulle deur ’n pragdorpie stap, maar hou vanaand ná 40 km partytjie, net om die volgende dag weer hulle jaagtog met bravado voort te sit. Hulle het die Camino skoon misgestap. Sies tog.


Hoe was dit om hierdie ervaring saam met jou vrou aan te pak?

’n Baie interessante vraag, en een wat gedurig tydens die tog tussen stappers opduik. Wat my en my Lizzie betref, was daar nie eers ’n kwessie nie. Ná 57 jaar se getroude lewe het ons koppe vol goeters om oor te praat, en die tyd raak min, ons moet in die Camino se woude en berge en al die allenige plekke ons geselse gesels en ons prate praat. Oor die kinders en kleinkinders, oor die land, oor eendag. Ja, oor doodgaan en alleenwees praat ons.

Buitendien het oumense mekaar se hulp nodig – ’n rugsak vashou, waterbottels aangee, reënbaadjies uitgrawe. Jy kan gly en val. Ons dink oumense sal dwaas wees om alleen te probeer stap. Baie alleenstappers glo anders. En ons het heelwat sulkes teëgekom.  Hulle wil dink, sê hulle, met hulleself gesels. Dís wat die Camino die Camino maak.


Wat was vir jou die belangrikste lewensles langs die Camino?

Ek en my vrou het nie geweet ons het so baie om oor te praat nie. Ek het ook nie geweet mense kan met soveel hartstog en oortuiging hulle godsdiens beoefen nie. Die vrou wat haar lang bos hare afsny en dit huilend-biddend aan die Cruz de Ferro (Ysterkruis) buite Rabanal vasbind. Vir my as afgetrede sakeman en stedeling was die eenvoud van die Spaanse platteland oorweldigend.


Sal jy dit weer gaan stap?

Nee, ons sal nie weer nie. Eerstens weet ek nie of die fisieke vereistes van die Camino dalk my baas gaan wees nie. Tweedens is ek huiwerig dat ’n tweede of derde Camino dalk die vreugde en intensiteit van die eerste een gaan vernietig. En dít wil ek asseblief nooit verloor nie. En derdens, as ek dit wel weer sou stap, sou ek ernstig dink aan die Portugese roete, daar van Porto af.


Waar kan mense jou boek in die hande kry?

Die groter en meer bekende boekwinkels behoort almal die boek te hê, maar dit lyk asof die aanlynverkope op my webwerf (www.onscamino.co.za) begin spoed optel. Die boek kos R295 en die bestelvorm is maklik om in te vul.


Watter skryfwerk lê nou vir jou voor?

Wat vra jy my nou? Ek sit en dink aan iets soos Cormac McCarthy se The Road, nie dat ek in my lewe ooit sulke skryfhoogtes sal kan bereik nie. Maar dis ’n fassinerende vooruitsig. In my bundel Die Man het ek so ’n strak styl probeer raakskryf en sal dit graag verder wil uitbou. Maar dis ook maar wensdink.