Ons vlieg Argentinië toe en reis tot by El Boson, ’n dorpie in die middel van die land aan die voet van die Andesgebergte. Dis middel Mei en die sneeu val reeds plek-plek.

Ek en Hanlie was nog altyd gaande oor berge. Die Andes strek oor 7 lande en oor meer as 7 000 km – dis die langste bergreeks op aarde. Hier is van die hoogste spitse ter wêreld, verskeie vulkane en die ruïnes van antieke beskawings.

Die plan is om van El Boson af noord te ry en deurentyd so na en hoog as moontlik aan dié bergreeks te bly. In die winter sluit die bergpasse tussen Argentinië en Chili gereeld weens sneeustorms; dus hou ons aan die Argentynse kant.

Die volgende dorp, Bariloche, is een van Argentinië se eersteklas skibestemmings, maar dis nog te vroeg om die hellings te takel. Noord van Bariloche wag die pragtige Route of the Seven Lakes. Ons het al dié meregebied besoek, maar nie so na aan die winter nie. Hierdie keer is dit yskoud en die busse vol toeriste is nêrens in sig nie.

Die omgewing is in herfskleure getooi: geel, bruin, rooi. Op pad na San Martin de Los Andes trek ons dikwels af en trotseer die snerpende koue om foto’s te neem. Dié boomryke skidorp langs die Lácarmeer is waarskynlik Argentinië se duurste dorp – dit herinner ’n mens aan Stellenbosch.

Die omgewing is in herfskleure getooi: geel, bruin, rooi. Op pad na San Martin de Los Andes trek ons dikwels af en trotseer die snerpende koue om foto’s te neem.

Van hier af mik ons na die Lanín- nasionale park. Die aand staan ons Landie stoksielalleen in die kampterrein: G’n ander mens is mal genoeg om dié tyd van die jaar in ’n tent te slaap nie! Dis só koud dat ons die meeste aande sonder aandete gaan slaap. Sodra die son sak, trek jy ál jou warm klere aan – drie donsbaadjies, drie buffs en twee musse – en klim dadelik in die bed. In die oggende is die water gevries. As jy wil koffie drink, moet jy die vorige aand ’n bottel water in die yskas sit!

In ’n kampterrein op die dorpie Chos Malal bring ons ’n angsnag deur. Net ná sononder begin die enigste ander mense, ’n paartjie van Buenos Aires, skielik oppak. Dis onveilig hier, sê hulle voordat hulle spore maak.

Ons ken nie die omgewing nie en weet nie waarheen elders om te gaan nie. Die ganse nag lê ons wakker en beplan wat ons gaan maak indien ’n rower opdaag. Die verligting was groot toe die dag uiteindelik breek, bevrore water en al.

Wyn in die woestyn

Ons bereik die stad Mendoza, waar ons die Landie wil laat diens. Mendoza is die hart van Argentinië se wynstreek en bekend vir malbec-rooiwyn en torrontés-witwyn. Die omgewing is ’n halfwoestyn met sanderige grond. Die nagte is koud en die gesmelte sneeu van die Andes sorg vir suiwer water; dus goeie omstandighede vir wyndruiwe. Party van die wynlandgoedere is klein en verwaarloos; ander is aanloklik. Argentinië se malbec mag wel wêreldbekend wees, maar die wynkelders hou nie kers vas by Suid-Afrika s’n nie.

Van Mendoza af mik ons noordwes na die dorpie Uspallata in die skadu van die Andes. In Oktober 1972 het ’n vliegtuig met ’n rugbyspan van Uruguay aanboord hier iewers in die berge neergestort. Hulle was onderweg van Mendoza na Santiago in Chili. Net 16 mense het oorleef, en hulle is eers twee maande later gered. Om aan die lewe te bly moes hulle later van hulle medepassasiers begin eet wat omgekom het. Die oorlewendes is eers twee maande later gered. Die fliek Alive is gebaseer op die gelyknamige boek deur Piers Paul Read.

Noord van Mendoza verander die landskap stelselmatig. Dit raak droër, meer woestynagtig. In dié deel van Argentinië is van die oudste dinosou-rusfossiele ter wêreld ontdek. In die Ischigualasto- provinsiale park stap ons deur ’n moderne museum, wat die geologiese geskiedenis van die aarde en die dinosourusse uitbeeld. Die uitstallings en die begeleide toer is puik. Glo my, jy skrik as jy verby die lewensgroot modelle van die dinosourusse stap!

Op die dorpie Fiambalá sluit vriende uit Suid-Afrika, Johan en Marianne ver Loren van Themaat, hulle by ons aan. Hulle het van Uruguay af gery met hulle Land Cruiser en ons reis vir die volgende drie weke saam tot by La Paz in Bolivia. Maar eers wink die omgewing rondom Fiambala – ons ry op en af met die San Francisco-pas (4 748 m) wat Argentinië met Chili verbind, en week in die warm water van Termas de Fiambala, ’n oord in die heuwels.

Een van die plaaslike inwoners is in vervoering oor Johan se Land Cruiser. Die bewonderaar vertel van ’n onbekende 4x4-paadjie van Fiambala af deur die berge wat uiteindelik aansluit by die nasionale Roete 40, oftewel Ruta 40 in die volksmond. Dis die hoofweg van suid na noord al langs die Andes.

Las Papas
Op pad na die gehuggie Las Papas

Ons kan die versoeking nie weerstaan nie. Pleks daarvan om die maklike R60 na Ruta 40 te volg swoeg ons twee dae lank op die 4x4-paadjie. Ons sigsag byna 40 keer oor ’n droë rivierbedding met hoë kranse alkant. Die enigste tekens van lewe wat ons teëkom, is die gehuggie Las Papas waar dit lyk asof daar net een gesin bly. Hulle blik of bloos nie toe ons toestemming vra om ’n foto te neem nie. Ek kon nie help om te wonder of hulle al ooit iemand uit die buitewêreld gesien het nie.

Las Papas
Hanlie gesels met ’n gesin wat op die afgeleë gehuggie Las Papas bly

Hierna word die pad al hoe smaller en kronkel in ’n stywe pas tot bo-op die berg (4 300 m). Rondom ons lyk dit soos ’n maanlandskap. Wit rotsformasies, uitgekalwe deur die wind, troon uit die rooi grond. Dis waarskynlik die mees afgeleë kol waar ons nóg was op die vasteland.

Toe ons uiteindelik weer op Ruta 40 is, mik ons vir die dorp Salta. Op pad ry ons deur mooi dorpies en doen die Quilmes-ruïnes aan, ’n nedersetting wat dateer uit 1 000 n.C. Die Spanjaarde het die stam in 1666 verslaan. Byna al die dorpies het ’n dorpsplein. Al die belangrike kantore, winkels en restaurante is om die plein. Dis die hart van die dorp – vriende kuier saam, kinders speel en musikante tokkel tot laataand. By die stalletjies verkoop mense straatkos en tradisionele handwerk en hier’s gratis (maar stadige) Wi-Fi. Ons sit op die pleine en gesels met vriende op WhatsApp en probeer ’n paar Spaanse woorde wissel met die plaaslike inwoners. Op die platteland praat byna niemand Engels nie.

Ons kamp ’n paar dae in ’n munisipale kampterrein op Salta; hier is die grootste swembad wat ek nog gesien het. Dis 300 m x 100 m – so groot soos 24 Olimpiese swembaddens. ’n Nabygeleë rivier sorg vir water. Dit woel hier in die somermaande.

Wes van die dorp lê die Los Cardones- nasionale park. Ons ry deur die halfwoestynpark met mooi uitsigte en ’n skare kaktusse wat soos verdwaalde toeriste op die vlaktes staan.

Los Cardones- nasionale park.
Die Gerickes kamp net buite die Los Cardones- nasionale park.

Dis tyd om verder noord te mik. Weer bly ons so na aan die berg as moontlik. Dis ’n fout! Oor die volgende 150 km op die Ruta 40 tot op San Antonio de los Cobres trotseer ons ’n pas teen sowat 5 000 m bo seespieël. Ons het aangeneem die Ruta 40 is ’n veelberese pad. Maar dis duidelik dat hier weke laas iemand gery het, waarskynlik weens die onlangse sneeu. Ons het nie sneeukettings vir die bande nie en haal San Antonio so byna nie.

Dis bitterkoud op San Antonio en hier’s nêrens om te kamp nie, dus klop ons aan by ’n pension. Later die middag begin ’n band speel en vaar die dorpenaars die strate in. Baie dorpe in Argentinië is genoem na ’n heilige en daar’s gewoonlik ’n feesdag ter ere van dié heilige. Dié fees ter ere van St. Antonio duur voort tot ná middernag. Ná ’n halfuur begin ons tande só erg klapper van die koue dat ons huiswaarts keer.

Argentinië
Oral op dorpies in die noordweste van Argentinië sien ’n mens artikels gemaak van geweefde materiaal. Die Gerickes het natuurlik ’n hele paar geskenke aangeskaf.

Die volgende dorp op die lys is Purmamarca aan die voet van die sogenaamde Hill of Seven Colours – die omliggende heuwels lyk kompleet soos ’n geologiese reënboog met rotslae in verskillende kleure: wit, bruin, pers, grys... Purmamarca is ook ’n puik plek om plaaslike geweefde handwerk aan te skaf – ons koop baie meer as waarvoor ons plek het!

Iruya
Die afgeleë dorpie Iruya klou vas aan die hange van die berge. Geen toeristevoertuie word hier toegelaat nie; trek dus stapstewels aan!

Sowat 100 km suid van die grens met Bolivia draai ons af na die dorpie Iruya wat doer bo in die berge geleë is. ’n Medereisiger het aanbeveel ons reis daarheen; dis een van die min plekke waar die tradisionele kultuur behoue gebly het. Ons kruie oor twee passe om daar te kom. Die dorpie lê ingedruk teen die hange van die berg. Voertuie van buite word nie toegelaat nie, dus verken ons te voet. Die plaaslike mense loer versigtig vir ons. Die arme mense sien seker net enkele toeriste per jaar. Van Iruya af ry ons Bolivia in by die grensdorp Villazón. (Lees oor dié avontuur in Weg #187).

Chili net, man

Ná vier weke in Bolivia ry ons Chili binne – nou aan die ander kant van die Andes. Ons mik vir die toeristedorp San Pedro de Atacama – die naaste dorp waar jy maklik by die Atacama-woestyn kan uitkom. Die stowwerige strate wemel elke dag van toeriste wat operateurs probeer ontwyk wat allerlei aktiweite (stap, roei, fietsry) aan hulle wil verkwansel.

Atacama
Die Atacama was lank op die Gerickes se wenslysie. Hier sit Hanlie en kyk na die sonsondergang op hulle eerste aand in dié woestyn.

Van San Pedro af verken ons die westekant van die Andes. Ons besoek die Valle de la Luna, en ja, dit lyk asof dit op die maan hoort. Winde en vloede het oor jare heen eiesoortige rotsformasies op die landskap uitgekerf.

En ons staan en droom by die Miscanti- en Miñiquesmeer; die water is net so blou soos die lugruim. By die Piedras Rojas-uitkykpunt is ons, soos die kondor vlieg, net sowat 200 km van die dorp San Antonio de los Cobres af. Dis waar ons net weke gelede by die St. Antonio-fees gestaan en bibber het.

Atacamawoestyn
Die uitsig van die Piedras Rojas-uitkykpunt af in Chili se Atacamawoestyn

Die Atacama-woestyn is al jare lank op ons wenslysie – dis die droogste woestyn op aarde. Ja, alle woestyne is droog, maar in die Atacama is daar kolle waar geen reënval al ooit gemeet is nie. Die Atacama lê sowat 1 000 km langs die kus van Chili en Peru. Die klipperige, verlate landskap strek van dié kus af vir 200 km oos tot by die Andes.

Ons kon dus binne ’n dag by die kus uitkom, en op redelike goeie grondpaaie. Dit was spesiaal om uiteindelik die woestyn te ervaar, maar die grootskaalse skade van die mynbedrywighede (koper, litium, goud en silwer) op die omgewing laat jou met ’n gevoel van teleurstelling. Nadat ons oor die Stille Oseaan getuur het, reis ons ’n entjie suid en toe weer noord deur die groot myndorpe Antofogasta, Iquique en Arica – laasgenoemde lê teen die grens met Peru. Die dorpe is sonder atmosfeer en ons talm nie lank nie.

Iquique
Die Gerickes kamp langs die Stille Oseaan suid van die myndorp Iquique

Op ons reis deur Suid-Amerika het ons nie veel Suid-Afrikaners teëgekom nie, maar in Iquique braai ons saam met De Bruyn Joubert van Bloemfontein. De Bruyn droom daarvan om om die wêreld fiets te ry. Hy het reeds oor al die vastelande behalwe Afrika en Antarktika getrap. Ons het hom toevallig agt maande gelede op die dorpie El Calafate in Patagonië ontmoet. Intussen het hy tot by Iquique gevorder.

Ons toer in die hoë gebergtes staan einde se kant toe. Dit was seker waaghalsig om van die roetes in die winter aan te durf, maar die tonele was onvergeetlik – van sneeubedekte berge en maanlandskappe tot ’n lewensgroot dinosourus wat vir jou loer!

VOLGENDE MAAND

Vivian en Hanlie reis deur die suide van Brasilië.

Vinnige feite

Hoeveel kos dit per dag? Om in jou eie voertuig deur Suid-Amerika te toer kos min of meer dieselfde as in Suid-Afrika. Ons begroot vir R1 300 tot R1 500 per dag en dit sluit kos, blyplek vir twee, diesel én motordienste in.

Om geld te spaar kamp ons gereeld wild. Ons bly net in formele akkommodasie wanneer daar geen ander keuse is nie.

En as ek nie my eie ryding het nie? Jy kan in Bolivia – en die res van Suid-Amerika – op die busdiens staatmaak. Dis doeltreffend en daar is heelwat opsies. Óf jy kan ’n tweedehandse oorlandvoertuig aanskaf – dis veral gewild in Chili.

Dit vereis sorgvuldige beplanning om met jou eie voertuig in Argentinië en Chili te ry soos ons, want dis onwettig om jou voertuig in dié lande te los – lees op die Gerickes se webtuiste hoe hulle te werk gegaan het.

Veiligheid? Suid-Amerika is in die algemeen veiliger as Suid-Afrika, maar daar is sekerlik heelwat gevaarpunte wat ’n mens moet vermy: Net soos in Afrika is groot stede gevaarliker as die platteland.

Nuttige bronne: ioverlander.com en “PanAmerican Travelers Association” op Facebook

Wat van visums? Suid-Afrikaners het nie ’n visum nodig vir Argentinië of Chili nie.

Vivian En Hanlie Gericke

Hanlie was ’n biologie-onderwyseres en Vivian ’n raadgewende ingenieur wat gereeld met hulle kinders in Suider-Afrika rondgetoer het. Ná hulle aftrede in 2016 het die twee besluit dis tyd vir nuwe avonture!

In Oktober daardie jaar is hulle Land Rover Defender per skip na Montevideo in Uruguay, en die twee het deur Patagonië gereis (sien Weg #170). Sedertdien het hulle al vier keer na Suid-Amerika teruggekeer vir toere deur die Sentraal-Andesgebergte tot by Cusco in Peru en van daar af deur die laaglande van Bolivia, Paraguay en Brasilië terug Uruguay toe.

In 2019 was die Pantanal-moerasland in Brasilië aan die beurt, asook die Amasone-reënwoud en minder bekende landjies soos Frans-Guiana en Suriname. Tot dusver het elke reis tussen drie en vier maande geduur en in totaal het die Gerickes al meer as 55 000 km gery en 38 keer ’n landsgrens oorgesteek! Reis vir die volgende paar uitgawes saam – lees Weg #187 vir deel 1.

Loer by between2safaris.com vir die Gerickes se gedetailleerde roetes, wenke oor hoe om jou voertuig te verskeep en ook die aanpassings wat nodig is om jou ryding vir ’n oorlandreis toe te rus. Volg hulle avonture op Instagram by @between2safaris


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook