Laat in Oktober groet ons Bulgarye en ry Griekeland by die Makaza-Nymphaea-grenspos binne.

“Kalimera, waarheen is julle op pad?” vra die doeanebeampte. Hy gaan die Carnet de Passage vir Kukuza, ons Hilux, na en glimlag.

“Geniet dit! Griekeland is die beste!”

Ons is opgewonde om die volgende ses weke die somer se laaste sonstrale hier in Zeus se agterplaas na te jaag.

Maar aarde, ons Griekeland-reisplan is vólgepak!

Die Makazapas lei ons teen die platorand af en terwyl ons daal, verander die plantegroei en klimaat byna dadelik.

Naaldbome maak plek vir bossieveld, dit raak warmer en selfs die lug ruik anders.

’n Deel van die Akropolis wat bo Athene uittroon.

Ons lê die 1 000 km Athene toe oor twee dae af. Ons bly in die kuns-voorstad Exarcheia en maak ’n afspraak om Kukuza ’n slag te diens.

Die 3 400 jaar oue metropool Athene lê in alle rigtings.

Die meeste geboue is roomkleurig geverf, lemoenboomlanings verfraai die strate en oral sien jy seilafdakkies in wit-en-blou en wit-en-groen strepe.

Daar is kwalik ’n meer ontspanne nasie onder die son as die Grieke!

Ouzo is ’n tipiese Griekse drankie.

Dis asof die ganse stad geen haas het nie – dis ’n konsentrasie restaurante, kroeë en koffiewinkels waar mense, wel, sit en mense kyk.

Trouens, die Grieke is só lief vir dié tydverdryf dat hulle selfs ’n woord daarvoor het: peratzatha. Athene is groots. Dis die geboorteplek van filosofie en demokrasie en ook die tuiste van die Akropolis en die befaamde Parthenon.

Nietemin heers hier ’n luilekker vakansiegevoel.

Ons het die Plaka, ’n woelige, geskiedkundige distrik, besoek, in die dakkroeë van Monastiraki ouzo gedrink, in Kolonaki ons vol gyros (’n soort shawarma) geprop.

Vir nagereg het ons telkens kopgekrap oor watter een van die jogurtsoorte om dié keer te probeer.

’n Aandtoneel in Monastiraki.

Dit maak nie saak waar in die stad ’n mens jou bevind nie, jy kan die Akropolis bykans van oral af sien uittoring.

Ons het deur die Tempel van Athene gestap, en ook die enorme kolomme van die Parthenon bekyk.

’n Wag buite die Griekse parlementsgebou en die grafkelder van die Onbekende Soldaat.

Ons kon ook nie ’n besoek aan Griekeland se bes bewaarde teater, die Odeon van Herodes Atticus, misloop nie.

Dis in 161 n.C. deur die Romeine gebou en in 1950 ten dele gerestoureer.

Dié teater met 5 000 sitplekke word vandag nog gebruik.

Heel laaste het ons by die Panathenaic-stadion, waar die eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 gehou is, gaan draai.

Die Panathenaic-stadion bestaan uit marmer.

Dis gebou op die murasie van ’n vorige stadion en bestaan geheel en al uit marmer!

Die sterk ontwerpstyl met lang lyne is menige argitektuurfotograaf se droom.

Intussen is Kukuza – ná 11 000 km sedert ons reis in Frankryk begin het – behoorlik gediens.

Toyota Giannitsas het die olie, filters en die homokinetiese koppelings se stofkouse (cv boots) vervang.

Die foutiewe vryloopnawe is herstel en dit het ’n nuwe stel BFGoodrich All-Terrain-bande gekry – iets wat in Griekeland sowat 40% goedkoper as in Suid-Afrika kos!

Nadat die Deltic-diepsiklusbattery vervang is, was ons weer reg vir die langpad.

Die Gurneys se geheime kampplek op Santorini.

Santorini en Naxos

Dis nie maklik om te kies watter Griekse eiland jy wil besoek nie. Hier’s duisende (2 000 tot 6 000, afhangende van watter grootte rots jy as ’n eiland beskou), waarvan sowat 220 bewoon word.

Ons het uiteindelik op Santorini en Naxos besluit.

Albei is deel van die Siklade-eilandgroep (420 km²), maar waar Santorini ’n ware toerisme-ervaring is, het Naxos die aantrekkingskrag van ’n doodgewone plekkie.

Ons brood was dus aan albei kante gebotter!

Kukuza het aanboord die Bluestar-veerboot saam met ons die agt uur lange vaart van Athene oor die Egeïese See na Santorini geneem.

Dié byderwetse eiland het tallose blyplekke waar jy met ’n skemerkelkie in die hand kan selfies neem.

En hoewel ek en Marie ’n waardering vir mooi blyplekke het, reis ons met ’n bakkie met ’n daktent.

Gevolglik is die hele eiland ’n moontlike oornagplek.

Vroegaand op Oia, Santorini.

Santorini se landskap is rotsagtig en dor. Dis ’n antieke krater en die kranse lyk troosteloos, die strande het swart vulkaniese sand en hier groei nie veel plante nie.

Die oomblik dat ’n mens van die toerismekolle na die kleiner dorpe beweeg, is die lewe eintlik verbasend landelik.

Ons het die eerste aand deurgebring in wat ons ’n “plekhouer” noem – nie te waffers nie, maar darem afgesonder en aanvaarbaar vir ’n eerste nag in ’n nuwe omgewing.

Die volgende dag was dit egter ’n prioriteit om ’n goeie kampplek op te spoor.

Ons was gelukkig genoeg om ’n kolletjie gelyke grond as basis te vind. Dit was ver weg van Santorini se swierigheid, maar met ’n ongelooflike uitsig oor die saffierblou see en goed beskut teen wind.

Die uitsig oor die Alyko-strand.

Dit het steeds luuks gevoel om terwyl ons JBL-luidsprekertjie vir die stemming sorg, yskoue witwyn van die bekende Boutari-kelder te teug en vir die verbygaande partytjiebote te wuif.

Ons het selfs van die kampplek af ons eie stel trappies tot op die strand gehad!

Ons het die eiland se straatkafees, restaurante en strandkroegies besoek en die gulheid van Griekse wyn en lamsdisse geniet.

Santorini spog met sy eie wingerdsoort. Maar wat nóg meer indrukwekkend is, is hoe hierdie wingerde oorleef en druiwe produseer.

Hoewel die eiland se grond poreus en arm aan voedingstowwe is, het dit ’n hoë mineraalinhoud.

Reënval is skaars, sterk winde waai uit alle rigtings en in die somer raak dit só warm dat onkruid doodbrand.

’n Boer sien om na sy kouloura-wingerdmandjie op Santorini.

Wanneer ’n mens by wingerde verbyry, sien jy lae groen “balle” op die sand. Dié balle is die resultaat van ’n unieke snoeitegniek wat die Grieke kouloura noem.

Die boere lei nie die wingerd op nie, maar snoei dit laag teen die grond en vleg dan die lote in spirale saam wat soos mandjies lyk – dís die balle wat ’n mens van ver af sien.

Die trosse hang aan die binnekant van hierdie mandjies en word sodoende deur die plant self teen die elemente beskerm – briljant!

Naxos is twee en ’n half uur per veerboot van Santorini af. Dis die grootste eiland in die Siklade-groep, met sowat 20 000 permanente inwoners in die 20 dorpies wat verspreid lê in die welige valleie en teen die berge en spierwit strande.

Volgens die Griekse mitologie is Zeus in Kreta gebore, maar het hy op Naxos grootgeword.

G’n wonder dat die hoogste piek op die eiland (1 003 m) Zeusberg heet nie.

Tydens die week lange kuiertjie op Naxos voel ons werklik tuis. Ons ry om die hele eiland en kamp op ’n paar plekke.

Maar twee verdien spesiale vermelding: Itonasbaai en Alyko-strand.

Alyko grens aan ’n beskermde sederwoud (een van die grootstes in Griekeland). Aan die strand staan die verlate bouperseel van ’n hotel wat uit die 1970’s dateer en die mure pronk deesdae met interessante graffiti.

’n VW Kewer in die strate van die dorpie Chalkio op Naxos.

Ons het drie nagte tussen die duine en plantegroei kamp opgeslaan en die enigste besoekers was ’n ou man wat elk dag verbygekom het om olywe, vrugte en vars brood te smous.

Die Windy-app (gewild onder vlieërplankryers) het handig te pas gekom wanneer ons kampplek gesoek het.

Omdat ons in ’n daktent slaap, is jy glad nie beskut teen wind nie; daarom was dit belangrik om altyd te weet hoe (en hoe sterk!) die wind waai.

Kuslangs is die wind ’n gegewe en ons moes menigmaal ’n kampkol met ’n mooi uitsig verruil vir ’n meer beskutte een.

’n Mens leer gou ’n goeie nagrus is belangriker as ’n mooi uitsig!

Naxos het in ons albei se hart gekruip.

Op die mooi dorpies kronkel die strate verby blou en wit huisies met klassieke Griekse leiklipvloere.

Kitron-likeur word net op die Naxos-eiland deur die Villandras-stokery gemaak.

Op ’n vissersdorpie kon ons heerlik smul aan seekatslaai, en op Halki het ons ’n unieke likeur genaamd Kitron geproe.

Die eerste stokery op die dorpie is in 1896 gebou. Dis soortgelyk aan limoncello (hoewel sterker!) en word gemaak van die vrugte en blare van sitroenbome.

Ons het ’n hele paar bottels aangeskaf om ons in die komende wintermaande warm te hou.

Die verhewe verbindingspad na Monemvasia, Peloponnese.

Olyfwêreld

Ná afloop van ons eilandavonture reis ek en Marie terug na Athene, waarvandaan ons die 100 km weswaarts Korinte toe gery het.

Ons het ’n paar kiekies geneem van die Korinte-kanaal, ’n 6,4 km lange groef wat Franse en Griekse ingenieurs in die 1880’s deur die kalksteen gegrawe het.

Die kanaal is ’n kortpad tussen die Egeïese See en die Ioniese See.

Van Korinte af het ons gery na die Peloponnese skiereiland, ’n streek ryk aan natuurlike en geskiedkundige besienswaardighede.

Aan die oostekant van die skiereiland lei ’n verhewe pad van 200 m na ’n eilandjie.

Ons het die vestingstad Monemvasia, gebou in die 6de eeu n.C., op dié eiland besoek. Dié romantiese dorpie was ’n belangrike handelsentrum in die Bisantynse Ryk.

Op Monemvasia wag ’n doolhof van smal straatjies, pleine en eeue oue kliphuise, sowel as ’n paar restaurante en spoggerige hotelle.

Ons het deur die dorp gedrentel en ook die murasie van die sitadel hoog bo-op die heuwel besoek.

Die Athena Pronaia-tempel op Delphi.

Die Peloponnese skiereiland is bekend vir sy olywe en ons arriveer mooi in die middel van die oestyd.

Elke dorpie is in rep en roer, oral lê groot nette onder die bome oopgesprei en trekkers staan gereed om die olywe wat afgeval het in groot dromme weg te ry.

Ons wil meer te wete kom en loer dus in by die Olyfmuseum op Sparti.

Die eerste olyfolie is rondom 2 000 v.C. in die Midde-Ooste gepers en dit was drie keer meer werd as wyn.

Olyfolie is daardie jare as ’n skoonheidsmiddel gebruik, om seep te maak en ook as brandstof vir lampe.

Oral op Peloponnese sien ’n mens perswiele waar berge olywe lê en wag om gepars te word.

Dié olie word meestal in kombuise gebruik of op plaaslike markies verkoop.

Marie moet werk inhaal en ons gooi anker op Drosopigi. Dis ’n piepklein dorpie in die berge met slegs 50 permanente inwoners.

Ons gaan stap soggens, sit dan aan vir ontbyt (Griekse jogurt, neute en heuning) en begin eers daarna werk.

Canon Square in Monemvasia met die sitadel in die agtergrond.

My “werk” behels die skoonmaak van die Hilux en navorsing vir die volgende skof.

Ek en Marie het na dié rusposes in ’n baksteenblyplek verwys as “tydelike onttrekking”.

Dis belangrik om balans te handhaaf in die lang maande op die pad.

Teen hierdie tyd is ons al sewe maande aan’t swerf en goed bekend met die uitdagings van ’n nomadiese bestaan.

Wanneer jy dag na dag ietwat “barbaars” lewe, is dingetjies soos ’n warm stort of om deur die inhoud van ’n gewone yskas te snuffel net so goed soos ’n week lange vakansie in Bali!

Toe Marie se werk op datum is en ons albei lekker gerus het, was dit tyd om die sirkelroete deur Peloponnese te voltooi.

Ons mik noord vir Kalamata (jip, die plek waar Kalamata-olywe hulle oorsprong het) na die Tempel van Apollo Epicurius.

Dis 150 km soontoe, maar die pad deur die Arcadiaberg en deur pragtige valleie neem ons ses ure.

Die tempel is in die 5de eeu v.C. teen die hange van die Kotylionberg gebou en ’n uitstekende voorbeeld van klassieke Griekse argitektuur – beslis die lang rit werd!

Volgende op die lysie is Voidokiliastrand in die streek Messenië. Ons het dié strandjie toevallig op Google Earth gesien; uit die lug lyk die baai kompleet nes die Griekse letter omega (O)!

Die water is glashelder, die strand spierwit en beskut teen wind. Hiér wil ons beslis ’n paar dae bly!

En ons is nie die enigste mense wat so dink nie – daar is reeds ’n paar ander swerwers by Voidokilia en ons geniet dit om met hulle stories te ruil.

Die laaste besoekpunte in Peloponnese is Olimpië (waar die Antieke Olimpiese Spele van die 8ste eeu v.C. tot die 4de eeu n.C. plaasgevind het), die antieke stad Messenië en die Foloiwoud (die oudste Europese staning van beuke- en eikebome).

Dis die middel van herfs en die stokou bome met goudgeel blare is beeldskoon.

Die Klooster van St. Barbara is deel van die kloosters van Meteora en in die 14de eeu gestig. Deesdae bly hier 15 nonne.

Delphi en die Kloosters van Meteora

Ons keer terug na die Griekse “vasteland” vir ’n besoek aan Delphi, ’n antieke stad, en tref weer eens ’n tempel teen ’n berghang (dié keer van Parnassus) aan met ’n uitsig oor ’n vallei.

Ek kan verstaan hoe die tempel se ligging pelgrims kon aanmoedig om die wysheid van die hoëpriesteres, oftewel die Orakel van Delphi, te kom soek.

Wat egter my verstand te bowe gaan, is hoe die bouers die enorme rotsblokke bo gekry het!

Delphi was tussen die 6de en 4de eeu v.C. waarskynlik die tempel met die meeste invloed en is deur sommige as die middelpunt van die wêreld beskou.

’n Gids vertel dat gesiene heersers die Orakel vir raad kom vra het, natuurlik teen ’n stywe tarief!

“En ja,” voeg hy droog by, “hoe meer jy bereid was om te betaal, hoe gouer het jy ’n beurt by die priesteres gekry.”

Van Delphi af ry ons verder noord na Meteora, ’n plek met ’n geestelike grootsheid soos min.

Voidokiliastrand

Twee dinge maak Meteora besonders: Eerstens, die 300-500 m-rotstorings wat soos kerse op ’n koek uit die landskap troon.

Tweedens, die 24 klipkloosters wat honderde jare gelede bo-op van dié torings gebou is.

Mense aanbid vandag nog in ses van die kloosters.

Meteora voel soos ’n tree terug in tyd. Dit verg nie veel verbeelding om te sien hoe monnike in mandjies teen die kranse opgehys word nie.

Deesdae hoef ’n mens genadiglik nie dié geloofstoets te deurstaan nie – minder vreesaanjaende trappe en bruggies lei tot bo.

Die ganse plek slaan jou asem weg – dis waarskynlik een van die mees manjifieke uitsigte op aarde.

Die ganse Griekeland vra vir ’n road trip. Hier’s van die beste Mediterreense swemstrande. Die talle bergpasse – veral in die noorde – is enige 4x4-entoesias se droom.

Die mense is vriendelik en die straatkos is smullekker. Maar die werklike kulinêre hoogtepunt het ons eers op pad van Meteora na Thessalonika beleef: Ons was reeds ure op die pad, rasend honger en moes eenvoudig by die eerste beste dorpie iets te ete kry.

Terwyl ek bestuur, vind Marie op Google ’n eetplekkie, maar toe ons die dorpie – ek kan nie eens die naam onthou nie – binnery, is dit tjoepstil.

Daar is nie eens ’n kat op straat nie.

Ons stap straataf, kyk links om ’n hoek en daar is die eetplek: stampvol mense, altans, stampvol mans!

’n Lekker strandrestaurant met tradisionele Griekse kos.

Dis Saterdag, al die boere is hier vir middagete en dit raas en rumoer vir die beker!

Ons moet ’n paar minute buite wag totdat ’n tafel binne beskikbaar is, en met die instapslag word ons omtrent deurgekyk – duidelik besoek toeriste nie gereeld dié plaaslike kuierplekkie nie!

Ons sê vir die kelner ons het elk €15 (R250) en wil graag soveel disse proe as wat dié begroting toelaat – die sjef kan maar besluit wat hy wil voorsit.

En toe kry ons ’n fees: beesvleis-dolmades met ook iets soeterigs, heerlike murgpampoentjiekoekies, lamsmoussaka, bees-en-tamatie-frikkadelle (keftedes), diepgebraaide vis en nóg vleis, olywe, plaaslike smere (soos fava, ’n geelertjiepuree) en verskeie brode.

Dit was nie lank nie, toe begin van die boere – op hulle onkoste! – nog disse bestel wat ons moet proe: stifado (beesbredie), kritharaki (hoender en ryspasta) en papoutsakia (gevulde eiervrug).

Die kelner word ook sommer oor die kole gehaal omdat hy durf goedkoop ouzo vir ons skink, ’n flater wat hy gou-gou regstel met ’n bottel komplimentêre retsina (witwyn met ’n denneboom-aroma).

Wat ’n feesmaal!

Ek kon nie anders as om ná afloop van die ete vir die personeel en klante met ’n toesprakie te bedank nie.

Marie en Patrick in ’n straat op die dorpie Fira, Santorini.

Met dié lieflike herinnering vars in ons geheue was dit tyd om Griekeland te groet.

Kersfees was net ’n paar weke weg en ons het afgespreek om ons twee seuns vir die feestyd in Kappadosië, Turkye, te ontmoet.

Vaarwel, Europa! Kom ons kyk wat die Ottomaanse Ryk oplewer!

Uitgawes

Hierdie pryse is na raming. Die Gurneys het in 2018 in Europa gereis; tariewe sou sedertdien gestyg het.

Athene

  • AirBnB: R3 500 (5 nagte)
  • Akropolis-toegangstarief: R500 p.p.
  • Gyros in Kolonaki: R35 p.p.
  • Jogurt-bakkie: R75 by die Fresco-jogurtkafee by die Akropolis
  • Diens en herstelwerk aan die Hilux: R7 200
  • ’n Stel van 4 BFGoodrich-bande: R6 800
  • Diepsiklusbattery: R1 800

Drosopigi

  • AirBnB: R2 700 (5 nagte)

Santorini en Naxos

  • Veerboot van Athene na Santorini: R2 700 (2 persone, eenrigting, voertuig ingesluit)
  • Veerboot van Santorini na Naxos: R1 550 (2 persone, eenrigting, voertuig ingesluit)
  • Veerboot van Naxos na Athens: R2 700 (2 persone, eenrigting, voertuig ingesluit)

Delphi

  • Toegangstarief: R160 p.p.

Nota

Die Afrika-skof van Patrick en Marie se reis deur Egipte, Soedan, Kenia, Tanzanië, Uganda, Rwanda, Malawi, Zambië en Zimbabwe het in uitgawes #178 tot #186 verskyn.

Hierdie Europese reis het hulle Afrika-reis voorafgegaan.

Op die ou einde het hulle 23 lande in totaal besoek, meer as 50 000 km gereis en op 19 Desember 2019 weer by hulle huis in Johannesburg aangekom.

Nog inligting info@skultcha.com; skultcha.com; Facebook: “skultcha”; Instagram: @skulcha