Van Kroasië af mik ons noord na die piepklein Sloewenië, ’n land so groot soos die Krugerwildtuin. Ons ry deur netjiese Alpynse dorpies waar plantjies kleurryk in die bakke aan die vensterbanke blom.

Ons eerste bestemming is die Postojna-grot waar ’n treintjie besoekers vir 3,7 km op ’n ondergrondse spoor deur die verligte grotsale neem.

Ons sien selfs die beroemde “Baby Dragon” – ’n soort salamander. Dié diertjie word ook ’n “olm” genoem en kan glo tien jaar lank sonder ’n krieseltjie kos oorleef en boonop meer as 100 jaar oud word!

Die toegangskaartjies tot die grot sluit ook ’n besoek aan die Predjama-kasteel in. Dié plek is bo-op ’n hoë krans en deels ín die grot gebou.

Sloewenië het slegs een nasionale park, Triglav, maar dit is só indrukwekkend dat hulle nie nog een nodig het nie! Die park is bekend vir sy gletserrivierstelsel met glashelder water wat in die Juliese Alpe ontspring.

Die pad soontoe loop langs die verruklike Socarivier en deur die dorpie Bovec – Sloewenië se adrenalienhoofstad. Ons moet eenvoudig ’n rukkie vertoef.

Dis laatsomer en ons stap en kajakroei. Ons waag dit ook op Europa se langste foefieslaaid – 4 km in totaal, die langste glykabel ’n yslike 650 m!

’n Informele kampplek langs die Socarivier, Bovec.

Met behulp van die park4night-app spoor ons ’n nie-amptelike staanplek reg langs die Soca op. Dis asemrowend! Drie ander kampeerders kom span ook vir die nag uit en ons almal word die volgende oggend deur ’n polisie-man wakker geklop.

Gelukkig boei ons daktent, die Hilux se Suid-Afrikaanse nommerplate en toerplan hom só dat hy nie vir ons ’n kaartjie skryf nie. “Julle ry wáántoe?” vra hy. “Afrika!” Die man skud sy kop in ongeloof. “Julle mag maar gaan, maar ek moet die ander mense beboet – hulle ken die reëls.”

Dis ’n waardevolle les: Soek altyd na die stilste staanplek moontlik, ’n kuns wat ons in die komende maande sou vervolmaak. Ons is gelukkig om ’n boete van R550 vry te spring.

’n Mens kan nie Sloewenië besoek en nié die Vrsicpas – ook in die Triglav- nasionale park – ry nie. Dit word ook die “Russiese Pad” genoem omdat 10 000 Russiese krygsgevangenes dit in 1915 gebou het.

Die pas is 20 km lank en klim in ’n allemintige 50 haarnaalddraaie sowat 1600 m teen die Juliese Alpe uit. Met ’n gemiddeld van een haarnaald elke 500 m trek ons Hilux genaamd Kukuza maar swaar.

Hoewel die uitdagende pad ’n mens jou naels laat stomp kou van spanning, is die behendige vakmanskap waarmee die knap draaie gebou is, boeiend. Marie is egter nie gaande oor die loodregte kranse langs die pad nie en wonder heelpad hoe vinnig sy die deur sal kan oopkry en uitspring, indien nodig.

Gelukkig is die 50 draaie genommer, dus kan ’n mens jou vordering na die einde van die senutergende rit meet!

Plankiespaaie langs die Vintgar-ravyn, Sloewenië.

Sloewenië se hoofstad, Ljubljana, is net 80 km van die Vrsicpas af en ons het tyd om eers by die Vintgar-ravyn te stop. By dié ravyn lei ’n 1,6 km lange plankiespad jou in ’n smal vallei al met die Radovnarivier langs.

Vandaar ry ons na die dorpie Bled om te kyk hoe lyk die kerk wat op ’n eiland in die gelyknamige meer gebou is. Dis ’n warm dag en ons swem saam met honderde ander mense in die meer en eet daarna middagete, gevolg deur koffie en ’n stuk heerlike plaaslike gebak: ’n Bled-roomkoek met ’n skilferkors en ’n vulsel van room en vla.

In die byderwetse Ljubljana tref ons toevallig die Odprta Kuhna- (Oop Kombuis) extravaganza aan. Dit vind glo elke Vrydag plaas en gee aan topsjefs die geleentheid om hulle nuutste skeppings aan die publiek voor te sit.

Ljubljana, die hoofstad van Sloewenië.

Ons neem ons intrek vir twee nagte in ’n taamlik duur AirBnB. (In die algemeen was Sloewenië die duurste land op dié skof van ons reis.) Die eienaar bied saam met die sleutels ook vir my en Marie elk ’n beker kava (koffie) en ’n skeut snops (’n dop met ’n 40%-skop!) aan... dis skaars negeuur in die oggend!

Ons kamer is toe so droewig dat ek sommer terugstap ontvangs toe om nóg ’n sluk te vat.

Alles in dié stad is aan die duur kant. Maar as jy jou oë daarvoor kan toeknyp, is Ljubljana ’n kunstige, ontspanne bestemming.

Ons loer in by die Metelkova-kompleks – voormalige Joego-Slawiese militêre barakke wat plakkers in 1993 oorgeneem het. Die staat probeer die plek al jare lank gesloop kry, maar sonder sukses.

Deesdae huisves dit jeugorganisasies, installasiekuns, kroeë en koffiewinkels.

Ons is op pad Hongarye toe en vandaar na Roemenië. En terwyl ek in ’n kavarna (koffiewinkel) sit en lees oor laasgenoemde, kom ek af op ’n groot kultuurfees wat glo oor ’n week naby die Prisloppas plaasvind.

Ons moet deur Hongarye wikkel as ons dit wil haal!

’n Blou cowboy, Hortobágy- nasionale park, Hongarye.

Blou cowboys en ’n renjaer

Die eerste dag in Hongarye ry ons net – in totaal 400 km met ’n netwerk mooi, geteerde plattelandse paaie langs en hier en daar op ’n snelweg om tyd te wen.

Ons bly op die dorp Pécs by vriende Kathy en Josef wat ons vroeër in Kroasië ontmoet het. Josef trakteer ons op ’n sterker maar sagter drankie genaamd pálinka wat hy saam met hulle bure stook. Kom ons sê maar net dat die volgende paar dae gaan dinge alte vrolik!

Die Zsolnay-fontein in Pecs het vier spuite in die vorm van ’n bees se kop.

Op pad Boedapest toe kamp ons langs die Donaurivier. Ons bring net ’n oggend in die hoofstad deur; ’n rivier verdeel die stad in twee en hier heers dieselfde romantiese atmosfeer as in Parys.

Vandaar toer ons oos om die Csikós in die Hortobágyi- nasionale park te ontmoet – danksy hulle tradisionele blou uitrustings ook bekend as die “Blue Cowboys”. Hortobágyi is Europa se grootste beskermde kulturele grasvlakte en dis hier waar dié bobaas ruiters al eeue lank troppe perde oppas.

In die somer word boere ook toegelaat om troppe Hongaarse grysbeeste in die park te laat wei; nóg ’n eeue oue gebruik. Die Csikós se ervare ruiterkuns laat ons monde oophang en ons kry ook Hongaarse waterbuffels te sien.

Racka-skape wat bekend is vir hulle vreemde horings.

Dis ’n jammerte om ons tydjie in Hongarye kort te knip, maar die Prislop-fees lê om die draai. Gewoonlik ry ons in daglig oor ’n landsgrens sodat daar nog genoeg tyd oor is om ’n kampplek op te spoor.

Dié keer is ons egter ietwat haastig en ry Roemenië se noordwestelike uithoek omtrent 8.30 nm. binne. Die eerste beste dorpie, Satu Mare, moet vir aandete deug en terwyl ons aansit, soek ons op Google Earth ’n staanplekkie langs ’n rivier net buite die dorp.

Ons slaan kamp op en kruip in... net om 2 vm. heel onbeleefd deur ’n knaap en sy kar wakker geraas te word! ’n Mens sou sweer hy oefen vir die Dakar-tydren! Min weet ons dis net ’n voorsmakie van wat wag…

Die volgende oggend stoot ons sowat 120 km aan tot in Maramures, ’n streek bekend vir sy 17de-eeuse Ortodokse houtkerke. Hoë kloktorings en dakke met baie groot teëls is eie aan dié boustyl.

Maramures lê knus teen die grens met die Oekraïne en jy kry die indruk dat die hele distrik in ’n vorige era vasgehaak het. Dis glad nie vreemd om perdewaens met vragte hooi te sien verbykom nie, en die mense dra steeds tradisionele uitrustings. Dit voel asof ons deur ’n lewendige museum toer.

Die Sapanta-begraafplaas.

Ons doen die dorpie Sapanta aan, wat die tuiste is van Roemenië se hoogste houtkerk met ’n toring van 75 m, asook die Sapanta-Peri-klooster. Wanneer ’n inwoner van Sapanta sterf, word ’n kunstenaar opdrag gegee om ’n geïllustreerde huldeblyk aan die oorledene uit ’n houtgrafsteen in die dorp se “Merry Cemetery” te kerf.

’n Gids interpreteer van die stene vir ons – sommige is hartseer, ander humoristies. Vir ’n vasteland so modern soos Europa het dié kerkhoffie ’n magiese gevoel.

Om by die kultuurfees uit te kom moes ons weer eens ’n bergpad met talle skerp draaie – die Prisloppas – trotseer, maar ons is nou vol vuur vir die feestelikheid wat aan die bopunt wag! Ons daag met groot afwagting op en... sien niks.

Waar’s die feesgangers? Die volksdanse lok dan glo jaarliks 20 000 mense? En al wat ons sien, is ’n houthutjie wat Roemeense aandenkings verkoop.

Ons vra die winkeleienaar wat aangaan. “Aa,” antwoord hy geamuseerd, “daar’s geen partytjie nie – kom weer in 2019!” Die webruimte waarop ons van die fees gelees het, het duidelik gesê dat daar vanjaar ’n fees plaasvind, maar dit is toe glo weens probleme met befondsing uitgestel.

Ons is bekaf daar weg en soek in die heuwels ’n kampplek vir die nag. Langs die pad ontmoet ons ’n skaapwagter wat ’n stuk kaas sit en geniet en besluit om ons Hongaarse pálinka met hom te deel.

’n Paar skeute later is die teleurstelling vergete en ons belowe mekaar om nooit weer toe te laat dat eksterne faktore ons roete beduiwel nie – van nou af gaan ons eenvoudig inval by wat die pad oplewer.

’n Algemene (steeds gewilde) vervoermiddel in Roemenië.

Jy’s in my baan!

Baie Roemene kom nog met perdekarretjies oor die weg. Maar dit wil voorkom asof net soveel hulleself haas om die hede in te haal.

Hulle koop Europa se weggooikarre vir ’n appel en ’n ei; die gevolg is ’n gevaarlike kombinasie van te veel perdekrag en te min bestuursvernuf.

Hier werk dinge só: Indien jy aan die regte kant van die pad ry, maar daar kom ’n motor van voor af in jou baan aan, is dit jóú verantwoordelikheid om uit te swaai! Vreemd genoeg kom ons nie op ’n enkele ongeluk af nie; duidelik het almal dié ongeskrewe reël onder die knie.

Hoe verder ons reis, hoe meer opvallend raak die land se kulturele erfenis. Die disse is ’n bietjie swaar, maar die stadiggekookte lamsbredie wat ’n skaapwagter langs die Transfagarasan-pas aan ons voorsit, is van die lekkerste wat ek al ooit geproe het.

Die plaaslike wyn vind ook aanklank – Marie geniet veral die bessiewyn. Die Roemene is gasvry en is altyd bereid om te help.

Ons ontmoet ook van die Romani-sigeuners wat as seisoenwerkers groot vragte bessies en sampioene vir die uitvoermark pluk. Dis lekker om letterlik enige plek te kan kamp opslaan.

Die Roemene beskou dit byna as ’n nasionale reg om te kamp net waar jy wil! Ons kamp op plase, in woude, langs riviere... eenmaal ry ons teen ’n berghelling (sonder ’n pad!) uit om ’n staning met ’n mooier uitsig te kry en niemand vind dit vreemd nie.

Patrick en Marie in Roemeense skaappelsjasse te koop op die Transfagarasan-pas.

Buiten Transfagarasan ry ons etlike ander indrukwekkende bergpasse: Transalpina, Bicaz-ravyn, Buzau-pas en Rucar-Bran-pas. Elke 100 km tref ons ’n nuwe dorpie aan wat net nóg meer outentiek as die vorige lyk, met ’n kasteel, ’n kerk en – natuurlik! – die plaaslike inwoners se gebrek aan padvaardigheid.

Ons reis verder oos, tot by die Kerke van Moldawië se kleurryk geskilderde kloosters. Dié groot kerke is Bisantynse kunsskatte. Die mure is – binne én buite – oortrek van 15de- en 16de-eeuse fresko’s wat Bybelverhale sowel as die alledaagse lewe van die Roemene uitbeeld.

Die één Roemeen wat ons egter bittergraag nog wil sien is... ’n beer! Die land het immers die grootste konsentrasie Europese bruinbere op die vasteland.

Ek kies elke aand – ongeag Marie se pleidooie, die locals se waarskuwings en die “Do Not Enter”-bordjies – ’n staanplek in die mees afgeleë hoekie van ’n woud as kampplek en hoop dat ons iewers ’n beer op die lyf sal loop.

Wildkamp op die oewer van die Bicazmeer, die grootste mensgemaakte meer in Roemenië.

Dit gebeur toe een nag diep in die Sureanugebergtes… “Het jy dit gehoor?” fluister Marie my wakker. “Nee,” jok ek. Maar ek hoor wel die beer... en hy klink nie baie gelukkig nie. Hoewel die dier seker ’n goeie halfkilometer ver is, klink dit asof hy reg langs die Hilux staan.

Ons is so angsbevange dat ons dit nie eens waag om by die tent uit te loer nie. Die beer grom elke dertig sekondes, maar beweeg mettertyd verder weg. Marie bring uiteindelik haar hartklop tot bedaring en ons lê dié aand nog lank van pure senuwees en giggel voordat ons weer aan die slaap raak.

Maar steeds het ek nog nie ’n vervlakste beer gesién nie! Toe ons waaghalsige kampgewoontes ná drie weke niks oplewer nie, nader ons ’n professionele spoorsnyer.

Beplan nou, reis later

Het die Gurneys se storie jou geïnspireer om jou eie Europese avontuur te beplan? Klik dan hier.

Op ’n uitstappie saam met Absolute Carpathian Tours sien ons binne twee uur tien bere by ’n voerplek hoog bo in die berge. Die bere word hier gevoer, anders maak hulle amok onder die nabygeleë dorpie, Zarnesti, se vullisdromme.

Dis steeds besonders om Europese bruinbere in hulle natuurlike habitat te aanskou. Hulle is massief maar baie sku en dis interessant om die groep se interaksie uit die veiligheid van ’n houtskuiling dop te hou.

Van een vreesaanjaende ding na ’n ander: Die Bran-kasteel waar graaf Dracula kastig gewoon het, is ook naby Zarnesti. Ongelukkig daag ons kort op die hakke van vier tjokvol toerbusse daar op en kan slegs van buite die kasteel ’n paar foto’s neem.

Die Peles-kasteel, 50 km verder, is in elk geval meer indrukwekkend. Dis in die 1800’s gebou en was die Roemeense koninklike gesin se somerwoning. Die houtsneewerk boul ons uit en in die ou dae is die hele kasteel se krag deur ’n klomp waterturbines opgewek – hoe vindingryk!

Die son sak oor Boekarest, Roemenië.

Ons reis verder suid tot in Boekarest – die hartklop van Roemenië en ’n mengsel van ouwêreldse Parys en Sowjet-woonstelblokke. Ons draf vir twee dae die stad se hoogtepunte deur, waaronder die kolossale Palatul Parlamentului (Paleis van die Parlement), glo op 4,1 miljoen ton die swaarste gebou in die wêreld.

Ons besoek ook die operahuis en hou piekniek in van die parke. ’n Ete by die gewilde Caru’ cu bere (die Bierwaentjie) is ’n hoogtepunt. Die restaurant doen al sedert 1879 sake en kry sy naam van die gesinsbrouery om die hoek wat die restaurant se biervoorraad met, wel, ’n waentjie aflewer.

Nóg ’n moet in hierdie geweste is ’n besoek aan die weelderige woning van Nicolae Ceausescu, Roemenië se laaste kommunistiese staatshoof.

Die toerleier is snaaks en terwyl ons deur die vertrekke dwaal, raak hy goed kwyt soos: “My kamerade, aanskou net die nederige goue krane en Persiese matte!” of “Sien julle hierdie private bioskoop? Nee, kamerade, dit is beslis nie dieselfde Roemenië as die een waarin ék grootgeword het nie!”

Die byna verbitterde laggie wat telkens op sy kwinkslae volg, weergee die pyn wat hy onder Ceausescu moes verduur het.

Op die ou einde bring ons ’n maand in Roemenië deur en raak verlief op die plek. Dis ’n wilde, vry plek en boonop heel bekostigbaar.

’n Informele kamp buite Varna, Bulgarye, wat oor die see uitkyk.

Blitstoer deur Bulgarye

Teen middel November word dit by die week kouer en ons wil Bulgarye vinnig deurkruis om by Griekeland se sonskyn uit te kom. ’n Veerboot besorg ons anderkant die Donaurivier op die dorp Silistra, waarvandaan ons tot by Varna aan die kus van die Swartsee ry.

Ons hou seelangs tot by die antieke stad Nessebar, bekend vir sy houthuise en keisteenstrate. Van Europa se vroegste geld (400 v.C.) is hier gemunt.

Daarna swenk ons binneland toe om die kort Shipkapas te ry en langs Bulgarye se sogenaamde “VVV” te kamp.

Die monolitiese Buzludzha-monument uit die Sowjet-era, Bulgarye.

Die Buzludzha-monument is in die 1970’s ter ere van sosialisme opgerig; deesdae lyk dié vervalle oorblyfsel van Oos-Europa se kommunistiese verlede inderdaad soos ’n ruimteskip wat op ’n heuweltjie kom land het en toe nie weer kon opstyg nie.

Nie ver daarvandaan lê die Kazanlakvallei waar Thraciese konings en ander adellikes meer as 5 000 jaar gelede in etlike grafheuwels in die veld te ruste gelê is.

Ons besoek ’n paar van dié versierde grafte. Bulgarye is nog ’n relatief nuwe argeologiese toerismebestemming in Europa, maar met noemenswaardige terreine wat tot 8 000 jaar terugstrek, het dit baie om te bied en navorsers ontdek elke jaar nóg plekke van historiese belang.

Die Kovan Kaya- argeologiese terrein is ons laaste stop in Bulgarye. Ons staan sommer die nag in die parkeerterrein oor sodat ons dié granietkrans met sy honderde uitgekerfte nisse vroegdag kan verken.

Daar is verskeie teorieë oor die oorsprong van die uitgekerfte nisse op die Kovan Kaya- argeologiese terrein, Bulgarye.

Daar word geglo dat dit in die Trachiese tyd ’n soort gedenkmuur was, want in elkeen van die nisse staan ’n vaas met iemand se as. Die bergagtige Bulgaarse platteland is ’n beeldskone landskap en ons geniet die kos – met duidelike invloede uit die Balkans en die Midde-Ooste.

’n Paar hoogtepunte is die kufta (frikkadelle), banitsa en broek (albei is filodeeggeregte).

Maar die grootste ontdekking is die Russies geboude UAZ 350, ’n retro 4x4 wat vroeër jare as troepedraer gebruik is. Ons sien ’n hele paar van dié en dit word op die platteland vir allerlei funksies ingespan. Nou wil ek graag een koop!

Dit sal wonderlik wees as ons oor ’n paar jaar weer deur Europa kan toer in só ’n ryding. Maar vir eers is ons dolgelukkig met Kukuza. Ons draai die Toyota se neus suid. Griekeland se olyfboorde roep!

’n Thraciese grafkelder in die Kazanlakvallei.

NOTA Die Afrika-skof van Patrick en Marie se reis deur Egipte, Soedan, Kenia, Tanzanië, Uganda, Rwanda, Malawi, Zambië en Zimbabwe het in uitgawes #178 tot #186 verskyn. Hierdie Europese reis het hulle Afrika-reis voorafgegaan. In totaal het hulle 23 lande besoek, meer as 50 000 km gereis en op 19 Desember 2019 weer by hulle huis in Johannesburg aangekom.

UITGAWES

Dié pryse is na raming. Die Gurneys het in 2018 in Europa gereis; tariewe sou gestyg het.

Sloewenië

  • Toegang tot die Postojna-grot: R750 p.p.
  • ’n Standaard-maaltyd: R250 p.p.
  • ’n Sny Bled-roomkoek: R120 p.p.
  • AirBnB-verblyf in Ljubljana: R3 650 vir 2 mense vir 2 nagte
  • Triglav- nasionale park: Besoekers mag gratis deurry Vintgar-ravyn: R170 p.p.

Hongarye

  • Hortobágyi- nasionale park: R320 p.p. (ook die Blue Cowboys)
  • Sapanta-begraafplaas: gratis; R120 p.p. vir die klooster
  • Roemenië
  • Kerke van Moldawië: R100-R150 p.p. (per klooster)
  • Bruinbeer-uitstappie saam met Absolute Carpathian Tours: R950 p.p.
  • Peles-kasteel: R120 p.p.
  • AirBnB-verblyf in Boekarest: R3 800 vir 2 mense vir 2 nagte
  • Ete by die Caru’ cu bere: R250 p.p. (hoofmaal en ’n goeie plaaslike bier)

Bulgarye

  • Veerboot oor die Donaurivier: R550 (een rigting)
  • Buzludzha-monument: Gratis
  • Die Kazanlakvallei se grafheuwels: R153 p.p.
  • Kovan Kaya- argeologiese terrein: R36 p.p.

NOG INLIGTING info@skultcha.comwww.skultcha.com; Facebook: “skultcha”; Instagram: @skulcha