Die Richtersveld is bekend as ’n streek wat met min oor die weg kom en heelwat gevare inhou. Deesdae is ’n deel van die gebied deur Unesco tot Wêrelderfenisterrein verklaar – ’n welverdiende beloning aan die Namas wat volhard in hulle tradisionele lewenswyse.

Die lang rit op die N7 (uit die Wes-Kaap) of N14 (uit Gauteng) is gerieflik. Die ure op die langpad gaan vinnig verby terwyl jy mik na Namakwaland en die Namakwa- nasionale park.

Jy kan die park deur verskeie hekke binnegaan, maar draai by Kamieskroon af om by die gewilde Skilpad-chalets uit te kom vir vanaand se rus. Maak eers vol by die vulstasie op Kamieskroon voor jy die grondpad na die park takel. Sodra jy afgepak het, kan jy luilekker agteroor sit en kyk hoe die son ver agter die see sak.

Dis geen gewone kuslyn nie. Die Namakawa- nasionale park se 50 km lange kusstrook het baie kampplekke en elkeen bied skuiling in die ongerepte natuur.

Nadat jy jou gesellige huisie verlaat het, moet jy kophou terwyl jy met ’n slegte grondpad bergaf ry. ’n Stokou wrak van ’n Chevrolet Bel-Air bevestig dat die roete nie speletjies is nie, maar ’n mens wonder ook hoe op aarde die Chevy in die eerste plek hier gekom het.

Wild is betreklik skaars in die park, maar jy behoort plek-plek ’n paar bokkies teë te kom. Uiteindelik, as jy die paadjie reg gevolg het, neem die 4x4-roete jou terug na die N7.

Die landskap spog met interessante plantegroei, en hier en daar sal jy ’n paar springbokkies gewaar. Sodra jy die dorp Springbok binnery, word jy begroet deur kokerbome – die onverstoorbare, stille bewakers van die noordweste.

Skaf proviand aan by Springbok se supermark en ry verder noord tot op Vioolsdrif. Jou trokkie se buitetemperatuurleser wys hoe die kwik styg en jy wonder dalk hoekom jy die Richtersveld gekies het vir ’n somervakansie.

Vioolsdrif het talle kampplekke, maar Fiddler’s Creek met sy staanplekke teenaan die Oranjerivier is ’n puik verteenwoordiger vir die lewe langs die rivier wat hier rond die Gariep genoem word. Dis ook ’n goeie vertrekpunt vir diegene wat die Richtersveld wil verken.

Die kampplek het ’n bedrywige kroeg teenaan die waters waar jy skouers skuur met ’n mengelmoes van reisigers. Sommige van hulle gebruik, nes jy, Fiddler’s Creek as ’n blote oornagplek, maar daar is ’n jolige klomp wat spesiaal hierheen gekom het om hulle vakansie op die rivier deur te bring.

Wes van Vioolsdrif sal jy honderde klipstapels aan weerskante van die pad aantref. Dit is tradisie vir toeriste om ’n nuwe stapeltjie te pak voordat hulle die Richtersveld binnery. Besluit maar self of dit nodig is om ’n merk op die landskap te laat.

Op Nababeep is ’n kopermyn en bewaringsgebied. Dit is ’n gawe plek om te oornag, maar daar lê nog ’n lang pad voor en ons stel voor jy stryk aan. Die pad vat jou hierna deur Eksteensfontein, ’n gehuggie wat vasklou aan vervloë dae toe die streek welvarender was.

Die dorpies van die Richtersveld is nie juis fotogenies nie, maar die omliggende landskap is aangrypend. Soos jy verder noord ry, verander die klipkoppies in skerpkantige berge – jy’s nou behoorlik in die Richtersveld. Om jou heen groei dorre bossies tussen plate klippe, en eensame jakkalsies draf oor die rantjies.

Die grondpaaie hier loop pylreguit so ver as wat die oog kan sien. Die ironie is dat dit inspanning kos om jou trokkie se wiele reguit vorentoe te hou. Plek-plek neem die pad jou deur los sand en dis raadsaam om die lugdruk in jou bande te verlaag – ’n gewoonte wat jy in elk geval moet aanleer as jy lang ente op grond gaan ry.

Kort voor die hoofingang na die Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark kan jy aftrek by die Wondergat. Dit is nie dadelik duidelik waarom dié attraksie ’n besoek werd is nie, maar ’n kennisgewing verduidelik die gat is minstens 20 m diep en word moontlik verbind met ’n netwerk van grotte wat al die pad tot teenaan die Oranjerivier strek.

Die bakoorjakkals (Canis mesomelas) is ná die luiperd die park se top-roofdier.

Die suidwestelike ingang na die Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark is betreklik beskeie, en dit lyk of die veldwagter hier dae laas mense gesien het. Die klipbesaaide landskap gaan voort anderkant die park se hek, maar ’n padteken nooi jou om regs uit die hoofpad te draai na die Helskloofpas – ’n bergpas wat bekend is om sy aptyt vir stadsbande.

Stryk eerder reguitaan met die hoofpad tot op Sendelingsdrif waar jy die park se kantore sal aantref. Hier gaan nie veel aan nie, buiten dat jy brandstof kan ingooi en met ’n pont oor die rivier kan vaar tot in Namibië.

Jy moet egter hier aanklop om die laaste papierwerk vir jou besoek aan die park af te handel. Koop ys en basiese proviand by die park se winkel voordat jy die ware rede vir jou besoek aandurf.

Ry versigtig op die smal paadjie deur die park se klowe en wees op die uitkyk vir ’n padpredikant wat jou beduie na die Hand van God. Dis ’n geologiese aardigheid wat lyk soos ’n afdruk van ’n reusagtige hand in ’n rots. Jy hoef nie ver van die hoofroete af te wyk om die rots te besigtig nie, en dis beslis ’n besoek werd.

Jou volgende bestemming lê heelwat dieper die park in, ver van die rivier af, versteek tussen smal klowe. Die Akkedispas verg dat jy viertrek inhaak en stadig oor die kliptrappe kruip. Dit is duidelik waarom veldwagters daarop aandring jou voertuig moet ’n goeie grondvryhoogte hê.

Terwyl jy rustig deur die landskap ry, let veral op die plante. Die Richtersveld het duisende soorte en vorm deel van die groter Karoo-vetplantstreek, ’n stuk aarde wat bekend is vir die rykste verskeidenheid geharde plantegroei op aarde. Kokerbome (Aloidendron dichotomum) is sekerlik die bekendste voorbeeld van dié verskeidenheid en jy sal hulle oral in die berge, rantjies en koppies van die Richtersveld sien. Soos jy seker weet, het dié boom, wat deel vorm van die aalwynfamilie, sy naam gekry omdat die Khoisan die uitgeholde takke gebruik het as kokers vir hulle pyle. ’n Ander bekende boomsoort is die halfmens (Pachypodium namaquanum), so genoem omdat hy op ’n afstand, wel, soos ’n mens lyk.

Die uitgebrande wrak van ’n ou Chevy staan tussen die bossies in die Namakwa- nasionale park.
’n Nuuskierige klipspringer (Oreotragus oreotragus) wag dat besoekers aanbeweeg voordat hy by sy ooie aansluit.
’n Gemsbok (Oryx gazella) hou ons fyn dop terwyl ons deur Namakwaland reis. Hierdie bokke kry al hulle water uit die plante wat hulle vreet.

Sodra jy met die Akkedispas en die sandvlaktes daarna afgereken het, sal jy rigtingaanwysers aantref wat jou na die Ganakouriep-wilderniskamp beduie.Hier, etlike kilometers van die park se rivierkampe af, kan jy die stilte en strak afsondering van die Richtersveld ervaar. Daar’s vier selfsorghuisies, elk met sy eie yskas en sonkragverhitte watertenks, wat Ganakouriep geskik maak as ’n oornagbestemming.

Die dorre landskap is bedags dalk vreesaanjaend, maar saans wys die Ganakouriep ’n sagter kant. ’n Vreemde dynserigheid dryf oor die vallei, en voëls wat tot nou toe teen die hitte geskuil het, kom vrolik na vore. Die oorskakeling van snikhete middag tot yskoue aand is tipies van dié wêreld en jy gaan dankbaar wees vir die vuurtjie op jou stoep. Sodra die aandwind gaan lê, raak dit weer tjoepstil sodat jy de laaste geluid duidelik hoor.

Dit is hier waar jy die kern van dié geheimsinnige woestyn sal aanvoel. Die afsondering van die plek is intens. Dit is die soort alleenheid wat jou eers nietig laat voel, maar jou mettertyd laat besef jy het ’n belangrike rol in die lewe. Die berge van die Richtersveld staan ontelbare jare onverstoord rondom jou en sal vir nog baie eeue net so bly. Dit is ’n geleentheid vir diegene wat hierheen reis om perspektief te vind.

Een
’n Likkewaan
Fiddler’s
Hier is heelparty riviertoere by Fiddler’s Creek en dis lekker om die rivier met ’n kano te verken.

Sodra jy gereed is om die middel van nêrens te verlaat, is daar eintlik net een kuur om jou weer deel van die mensdom te maak, en dit is om rivier toe te mik, na een van die gewilde kampplekke langs die Oranjerivier. Een van die gewildstes is beslis De Hoop.

Die lafenis wat die rivier bied, is welkom en dis ook ’n goeie plek om ’n basis te stig vanwaar jy die park se besienswaardighede kan besoek. Met ons besoek het die hemelsluise oopgemaak en ons was geseën met ’n harde reënbui – ’n ongewone verskynsel in die Richtersveld.

Mense het maar gemengde gevoelens rakende die klipstapels: Sommige mense reken dit skend die natuur, terwyl ander glo dit is onskadelike pret.
Grootslang

Volgens oorlewering is die Wondergat die woonplek van Grootslang, ’n skepsel wat jou glo met sy asem doodmaak. Sommige Namas sê hy was oorspronklik half slang en half olifant, maar die gode het besef hulle skepsel is té gevaarlik en hule het hom toe in twee diere gekloof.

Een van hierdie diere het weggetrek, maar Grootslang leef al duisende jare hier langs die Oranjerivier. Snags neem hy die vorm van ’n vrou aan en lok mans na die water waar hulle verdrink word.

Bonatuurlike klippe
Volgens plaaslike inwoners word die klipstapels gebou deur reisigers wat ’n voorspoedige tog deur die Richtersveld wil verseker. Ons het ook ’n stapeltjie gepak en ons reis het seepglad verloop. Dalk steek daar waarheid in die bygeloof?

Volgens die polisie op Sendelingsdrif het die streek ’n skamele 6 mm reën gekry die afgelope drie jaar.

Ná jou kamp op De Hoop ry jy ’n ompad deur die Kokerboomkloof met sy honderde kokerbome. Hier is ook tamaai rotse wat soos reusagtige albasters op ’n valleivloer rondlê – ’n goeie plek om pragfoto’s te neem. Hier is lekker kampplekke tussen die rotse en bome, elk met badkamers en kombuisgeriewe.

Hier naby sal jy ook die Eggo-canyon vind met sy manjifieke uitsigte van die rotskoppies af. As jy effens ontsenu voel, is dit waarskynlik omdat die dassies jou so stip dophou.

Besienswaardighede soos dié kry jy reg oor die Richtersveld, maar jy kan nie almal van hulle met jou eerste besoek ontdek nie. Jy sal weer en weer moet kom. Die kaart wat Sanparke vir jou gee, wys slegs die hoogtepunte en dis beslis die geld werd om te belê in ’n omvattende gidsboek oor die streek.

’n Puik voorbeeld van ’n kokerboom (Aloidendron dichotomum) by Kokerboomkloof. Hierdie bome raak tot 7 m hoog en kan 80 jaar oud word.

Die 2 200 km lange Oranjerivier het baie name, maar vir die ganse Suider- Afrika is dit ’n ware ikoon. Sy waters is gelaai met sediment wat boerderye van Lesotho tot in Alexanderbaai voed. Richtersberg en De Hoop is albei puik plekke om kunsvlieghengel te beoefen. De Hoop se snelstrome is veral geskik om grootbekgeelvis (Labeobarbus kimberleyensis) te vang.

Hier is 12 staanplekke by De Hoop, almal met toegang tot koue storte en spoeltoilette. Die staanplekke is op los sand en jy gaan jou dae deurbring met swem en laaglê in die koelte van jou tent.

Heelparty besoekers gebruik die Oranjerivier vir roeibootavonture, en hier in die park kan jy jou eie roeiboot te water laat sonder om koppe te stamp met groot en raserige roeiboottoergroepe. As jy dus ’n opblaasboot het, is De Hoop se stroomversnellings ’n heerlike en veilige speelplek.

Almal rondom jou wat op De Hoop kamp, het iets in gemeen: Julle almal het mense by die huis wat dink julle is stapelgek om in ’n Suid-Afrikaanse somer na ’n woestyn te reis, maar die hitte is nie ’n probleem op ’n plek soos De Hoop nie. Maak net seker jy’t genoeg ys en skaduwee, en dan sal jy die Richtersveld op sy beste ervaar.

Saans word die kranse rooi geverf deur die gloed van die ondergaande son. Lang skaduwees kruip van Namibië se kant af oor die rivier nader en die hitte verrys uit die grond. Grawe ’n gat in die sand en pak hom vol vuurmaakhout. Vanaand knetter vonkies uit die vlamme en styg hemelwaarts na die miljarde sterre van die Melkweg. Buiten die bries wat vroegaand opkom, is dit doodstil.

Ja, vakansies op die oewer van die Oranjerivier hier in die Richtersveld is doodeenvoudig. Al wat jy nodig het, is ’n lekker leesboek, ’n lekker drankie en baie ys. Vryf jou uurliks in met sonroom en drink genoeg water tussendeur bommies en vlinderslae in die rivier.

As jy nie vroegoggend deur die son uit jou tent gebak word nie, sal die boerbokke jou wakker blêr. Nama-veewagters wat hulle kuddes langs die rivier aanjaag, is ’n algemene verskynsel en iets wat die streek so uniek maak. Die bokke sal nie sommer die Niknaks van jou tafel af kom vreet nie, maar hulle hou om duistere redes daarvan om by die ablusieblok in te loer.

Die lieflike aande langs die rivier vergoed vir die versengende hitte bedags, maar as jou ys op is, is dit tyd om op te pak en, nes die Namas, aan te beweeg na groener weivelde.

Die Namas

Die Namas is die grootste groep oorlewende afstammelinge van die Khoekhoen (of Khoikhoi), die oorspronklike inwoners van Suider-Afrika. Anders as hulle Kalahari-eweknieë, die San, is hulle boere eerder as jagters – ’n lewenswyse wat hulle honderde jare al volg.

In die Richtersveld verskuif die Nama-herders hulle kookskerms jaarliks na nuwe weiveld. Hulle is die laaste stam van die Khoikhoi wat dit nog doen, en dit is die hoofrede waarom die Richtersveld tot Wêrelderfenisgebied verklaar is.

Neem dus kennis dat die Richtersveld aan die Namas behoort.

Hoewel ons nie die heel beste staanplek op De Hoop gehad het nie, was dit nietemin ’n heerlike kampplek.
’n Groot trop boerbokke huppel deur die kampplek en vreet al wat ’n blaar is op.
Dit lyk byna asof die Hand van God deur bonatuurlike kragte geskep is – dit is maar net een van talle aardighede in the park.
Half klip, half seil, 100% gemak – Ganakouriep se huisies hier in die dorre woestyn is gemaklik verby.
Akkedispas is een van die uitdagings wat jy moet baasraak as jy die Richtersveld-oorgrenspark wil besoek.
Die ooraanbod van rotse sorg vir ’n skuiling teen die aandwind.

Indien jy Namibië wil besoek, moet jy terugkeer Sendelingsdrif toe waar jy die Oranjerivier met ’n pont oorsteek na ons buurland.

Op pad soontoe kan jy by die Potjiespram-kamp oorbly as jy nog nie genoeg gehad het van die park nie – daar’s ys by die nabye parkkantoor – maar vergeleke met Richtersberg en De Hoop het Potjiespram niks om oor huis toe te skryf nie.

Hier is heelwat staanplekke in die bosse langs die rivier, maar as jy wil swem, moet jy eers tussendeur wag-’n-bietjiebome beur en dan oor klippe klouter voor jy by die heerlike koel water uitkom.

By Sendelingsdrif is dit maar die gewone prosedure om oor die landsgrens te kom. Met albei grensposte se stempel in jou paspoort staan dit jou nou vry om Namibië se gewilde C13-streekpad te vat.

Dié goedgeskraapte grondpad kronkel teenaan die Oranjerivier en jy sien hom nou uit ’n ander perspektief. Die aarde aan Namibië se kant is selfs droër en hier is enkele bossies wat kop uitsteek.

Op Aussenkehr sien jy ondanks die woestyn groen wingerde wat deur die rivier gevoed word. Die werkers lewe in haglike omstandighede in honderde riethuisies. Die enigste rede om hier stil te hou is ’n Spar-supermark, maar die rakke was met ons besoek halfleeg.

Tegnies gesproke is jy nou nie meer in die Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark nie. Om terug te keer na die park moet jy noord mik na Ai-Ais. Dié oord is bekend vir sy warmwaterbron in die loop van die Visrivier. Dit is ’n gewilde kampplek, net soos sy susterkamp, Hobas, verder noord met die rivier.

Ondanks die dorre grond kon die boere van Aussenkehr daarin slaag om topgehalte druiwe langs die Oranjerivier te kweek.
Dis ’n tragiese toneel... honderde werkershutte in die woestyn naby Aussenkehr.
Die son sak oor die Visriviercanyon.
Hobas se swembad bied ’n welkome lafenis.

Die twee oorde dien as wegspringplek vir die Visriviercanyon se staproete. Ry oor die vlakte tussen Ai-Ais tot op Hobas en slaan jou kamp hier op. Hou maar bedags jou oë oop vir bobbejane en snags vir vlermuise. Laasgenoemde vlieg laag terwyl hulle goggas jag, en swiep millimeters bo jou kop verby – of so voel dit.

Dit is ’n kort rit van Hobas af tot by die canyon se rand. Hier kan jy ’n skemerkelkie saam met jou reismaat klink terwyl julle die sonsondergang dophou.

Dit is moeilik om teen sononder ’n mooi foto van die Visriviercanyon te neem; dis beter om bloot daarna te kyk en dit in jou geheue vas te lê. As jy tog ’n mooi foto wil neem, daag eerder môreoggend vroeg met jou kamera op.

Die son sak letterlik en figuurlik op jou reis deur die Richtersveld. Daar is geen beter plek om te wees om die woestyn se geologie te bekyk nie.

Dit is beslis die moeite werd om die grens oor te steek, selfs al is dit net vir een nag. Ons reis eindig hier, maar niks keer jou om verder noord te reis en Namibië te verken nie. Maar dit is ’n storie vir ’n volgende keer...

Hiermee het ons gery

Die Toyota Fortuner is die kampioen onder bakkiegegronde sportnutse in Suid-Afrika. Die 2.4 GD-6 4x4 (outomaties) waarmee ons gery het, wek 110 kW krag en ’n gesonde 400 Nm wringkrag op.

Saam met die 6 spoed- outomatiese ratkas kry jy ’n sterk enjin en hy het op die koop toe heelwat luukshede om jou reis gerieflik te maak. Ons het ’n standaardweergawe gebruik om twee mense se kampgoed te vervoer.

Neem maar ’n herwinningstel saam asook ’n bandherstelstel. Soms skuil daar skerp klippe onder die sand en dit is baie belangrik dat jy die banddruk verlaag. Ons het nie sandplanke nodig gehad nie, maar oorweeg hulle beslis as jy ’n boswa of boswoonwa sleep.

Die Visriviercanyon

Teen 160 km is die Vis ná die Grand-canyon in Arizona, Amerika, die langste canyon ter wêreld. Plek-plek is hy byna 27 km breed en op sy diepste is die wal 550 m hoog. Hy’s op sy indrukwekkendste in die noordelike deel van die Ai-Ais- Richtersveld-oorgrenspark.

Die canyon is bekend vir sy uitmergelende staproete van 90 km waarop jy plek-plek moet swem, klim en ure lank onder die son moet stap. Dit duur sowat 5 dae om die canyon te voet te leer ken en jy moet jou plek lank vooruit bespreek.

Ek wil ook gaan!

WAAR?

Die Richtersveld strek oor die hele noordwestelike hoek van Suid-Afrika en spoel oor tot in Ai-Ais in Namibië.

PROVIAND

Laai al die kos en drank in wat jy gaan nodig kry, want daar is geen waarborg dat jy dit langs die pad gaan kry nie. Springbok het wel ’n Shoprite en Spar. ’n Watertenk is noodsaaklik, veral in die Richtersveld.

BLYPLEK

Skilpad

Die ruim chalets staan op die rand van ’n krans sodat jy die hele Namakwa- nasionale park kan bespied. Hier’s slaapplek vir 4, maar dit is gewoonlik lank vooruit bespreek, veral in blommetyd.

Kontak: reservations@sanparks.org, 012 428 9111

Prys R800 p.n.

Fiddler’s Creek @ Bushwacked

Daar is verskeie kampplekke naby Vioolsdrif, maar hierdie een is die lekkerste as jy hou van kuier.

Kontak: info@bushwhacked.co.zam, 027 761 8953

Prys: R120 p.p.p.n.

Sendelingsdrif-ruskamp

Dis bloot ’n oornagplek as jy die grens vroeg die volgende oggend wil oorsteek. Andersins is dit maar ’n goor plek.

Kontak: reservations@sanparks.org, 012 428 9111

Prys: R275 p.n.

Ganakouriep-wilderniskamp

Goed, jy kan goedkoper kamp op ander plekke, maar daar’s niks mee fout om jouself te bederf by Tatasberg of Ganakouriep nie.

Kontak: reservations@sanparks.org, 012 428 9111

Prys: R1 030 p.n.

De Hoop

Dit is die gewildste kampplek in die park danksy die lekker swemplek in die rivier. Hy’s ook ewe gewild onder roeiers en hengelaars.

Kontak: reservations@sanparks.org, 012 428 9111

Prys: R275 p.n.

Hobas

Hier is 14 puik staanplekke in die kleinerige oord naby die afskopplek vir die Visrivierstaproete. Hier’s ook baie skaduwee en ’n swembad.

Kontak: nwr@nwrnamibia.com, 013 751 2220

Prys: R401 p.p.p.n