Roxy, die Memel-hotel se jack russell, is die baas van die honde in Voortrekkerstraat. 

Dit kom ek agter toe ek vir haar en Zoey, die veel groter dobermann van die prokureur verder af in die straat, elkeen ’n stukkie van my hoender gee.

Die twee maal om my bene terwyl ek op die hotel se stoep aansit vir ’n laatontbyt – my manier om moed bymekaar te skraap vir die pas wat voorlê.

Normandienpas is een van ’n reeks grondpadpasse oor die Drakensbergse eskarp wat die Vrystaat en KwaZulu-Natal met mekaar verbind. Muller-, Colling- en De Beerspas is van die ander rybares.

Roxy vreet gou haar stukkie hoender op, en wanneer die arme Zoey (sy’s letterlik vier keer groter as Roxy) hare probeer eet, knor Roxy verontwaardig en gryp wragtag Zoey se stukkie voor haar neus weg.

Dalk moet ek vir Roxy vra om my te help bestuur vandag – súlke durf kan nuttig te pas kom wanneer dinge benoud begin raak.

Audrey Martin, mede-eienaar van die hotel, loer by die deur uit om te kyk of ek nog orraait is. Ek vra haar oor die pas. 

Sy reken ek kan dit met my Volkswagen Polo maak. “Dis mos ’n huurmotor, nè? Dan’s die saak reg,” bevestig sy.


Die kaal mannekyn

Wanneer ek wegtrek voor die hotel, druk ek my roetemeter op “0”. Net buite die dorp draai ek links na Newcastle met die R34, en dan weer regs op die S17. 

Dis laat in Mei en die Hoëveld rondom Memel is verskillende skakerings van geel en bruin. Die wilgerbome langs die rivierlope staan kaal soos geplukte volstruise. 

In die somer is alles hier groen, maar dit beteken nie die winter is lelik nie. Ek hou daarvan om in die winter te reis. Sonder die somer se kleur sien ’n mens die landskap beter – die voue, die slote, die klippe en die gate. Jy sien die kaal mannekyn. 

Dan, in die somer, is die landskap weer opgetof: groenigheid, pienk en pers kosmos, donderwolke met blou voete.

Die pad gedra hom, verby die plase Meulstroom, Cliffdale en Vlakspruit. Ek volg nou die Kliprivier, wat ’n mooi kloof maak.

Op 21,5 km draai ek regs na die Normandienpas. As jy reguit aanhou, kom jy binne 9 km by Mullerspas uit. Maar Mullerspas is vir ’n ander dag. Vandag is dit ek, my Polo en die Normandien.

Niemand weet eintlik waar die naam vandaan kom nie – Normandien is ook die naam van ’n plaas aan die voet van die pas, aan die Natalse kant. 

Ek ry verby ’n plaas met die naam Klimaks, dan oor die Kliprivier, waar vyf hadidas uit die draai onder die wilgerbome lawaaierig losvlieg.

Dan verby Koolhoek (op 25,3 km swenk die pad skerp na regs; wees versigtig), Helpmekaar, Lincolnshire (waar daar ook ’n plaasskooltjie is) en Natuurpraal. 

Bulle – ek dink dis bonsmaras – staan soos geroeste oorlogstenks in ’n kampie en herkou.

Die kloof (die Kliprivier is nou deurentyd links van my) raak nouer en nouer. Net verby Grootpoort begin die pad uit die kloof klim.


Skielik is dit steil en die pad sleg. Daar’s rou klipbankies wat uitsteek en Polo-pens soek om te skraap. 

Ek kruip stadig opwaarts, te bang om stil te hou, soos ’n klouterdief teen ’n gebou op: Iewers daar bo wag my beloning.

Dan is ek op die plato, waar boomlose grasvelde in elke rigting om my uitstrek. Ek stop op die gelykte – volgens my kaart is ek nou amper 2 000 m bo seespieël. 

Doer bo kom ’n Boeing uit Durban aangevlieg. As jy so hoog staan, kan jy amper sien waar hulle opstyg én waar hulle gaan land (hier oor jou skouer, in Johannesburg). Ander rookspore lê die lug vol, getuienis van die dag se lugpendelaars.

Die kampdrade langs die pad hier rond word nog geanker met groot stukke sandsteen. Dié hoekpale, pioniers van die platorand, gaan nog lank met ons wees.

Op die horison na regs (suidwes van my) troon ’n paar pieke uit. Die prominentste een, wat lyk soos ’n sfinks wat van ’n swak bloudruk af gebou is, is Mont Pelaan (2 292 m). 


Foto: Toast Coetzer


Ek stoot aan. Die pad is nou weer mooier, en wanneer ek op 39,8 km links draai op die S18 na die Normandienspas (as jy nou reguit aanhou, mik jy Verkykerskop en Harrismith se kant toe), word dit nóg beter. 

Die S18 is duidelik die hoofpad na Normandienpas. Ek het by die agterdeur ingeglip, pure werfbobbejaan. 

Regs van my lê die rand van die eskarp nou, met KwaZulu-Natal ver ondertoe. 

Op 44,1 km is daar ’n aftrekplek. Hier is glo iewers wielmerke van ossewaens in die sandsteen, maar ek weet nie presies waar nie, en sien niks nie. 

Ek haal my fles uit en skink koffie. Die landskap val skerp weg na bosbouplantasies aan Natal se kant wat soos groen pleisters die geelbruin landskap probeer toeplak. Hier en daar wink die blink van ’n plaasdam. 

Hierdie bergkom noem hulle Die Ark, maar dis wat ek hier reg teen my voete sien wat my twee keer laat kyk: geelhoutbome.

Die kransie is nie so hoog nie, en die grootste geelhoute groei tot so na aan my dat ek amper aan hulle toppe kan vat. 

Rooivlerkspreeus kom in los gelid van onder uit die woud aangevlieg. Hulle mik geselsend terug Memel se kant toe.


Geen tyd vir Lip-Ice nie

Skaars ’n kilometer verder begin die pas in alle erns. Plek-plek is sement of teer gegooi, maar in die algemeen is die pas in ’n treurige toestand.

Soos die Collingspas, verder suidoos van hier, is dit ’n bakkiepas, nie ’n Polopas nie.

En hierdie is beslis ’n pas wat beter van bo af ondertoe ry. As jy opdraande wil ry, bring jou 4x4 (veral as jy in die natter somer wil ry). Maar vir afdraandes, in die droë winter, het jy net ’n voertuig nodig wat lekker hoog bo die grond staan.

Voetjie vir voetjie klim ek teen die pas af in my Polo. Hier en daar lig ek die kar se maag oor ’n klip, terwyl my tong senuweeagtig van een hoek na die ander spring. 

Ek kom ná so vyf minute agter my lippe is kurkdroog, maar daar’s nie nou tyd vir Lip-Ice uitgrawe nie (ek het eintlik ook ’n Red Bull of iets nodig).

Op só ’n moeilike pad moet jy elke sekonde konsentreer. Soek die regte lyn om te ry – elke slegte plek het ’n ideale lyn om te ry. Kies jy verkeerd, dan kan jou kar skade kry. 

En as jy opkyk en die uitsig wil geniet... dis net mooi wanneer jy jou kar stamp.

Die volgende 5 km vat amper ’n halfuur. Soms is daar kranse aan my regterkant, die heeltyd steiltes aan my linkerkant wat weggly.

Die Chelmsforddam (sy nuwe naam is die Ntshingwayo KaMahole Khoza-dam) lê blou in die verte na links.

Nog laer af stop ek om foto’s te neem: ’n soort heide met rooi blommetjies, en die harde wit blommetjie van ’n strooiblom. Die plaasname hier sê iets van hoe die vroëe boere moet gesukkel het: Last Attempt, Up and Down. 

’n Trekker kom van voor af en die mense wuif vriendelik. Hulle wonder seker wie hierdie mal ou in die Polo is. ’n Verdwaalde regeringsamptenaar dalk? Leon Schuster?


Van Chappies tot Joko

Op 54,7 km is die ergste deel van die pas agter die rug. Hier kan jy regs draai op die Ellendalepad, maar ek hou reguit aan – die bordjie sê Newcastle is nog 39 km ver.

Die Ellendale-omgewing word Die Ark genoem, ’n lieflike kom aan die voet van die berg. Vroeë boere het hulle van oral – onder meer Holland, Frankryk – hier gevestig, vandaar die naam. 

Boonop kon dit met net twee paaie, Die Venster (van bo af, dis nou die Ellendale-afdraai) en Die Deur (van onder af) bereik word.

Teen 60,8 km kom ek by ’n T-aansluiting. Hier’s teerpad! Ek draai links na Newcastle, en ná enkele honderd meter is ek in die nedersetting Normandien met sy polisiekantoor en algemene handelaar.

“A.A. Surtee Gen. Dealer” staan op die Coca-Cola-bordjie bo die deur. Maar wanneer ek die 59-jarige eienaar, Ismail Surtie, binne ontmoet, vertel hy my die man van Coke het ’n “tikfout” gemaak op die bordjie. 

Die winkel is al 85 jaar hier aan die voet van Normandienpas – Ismail se oupa en ander familie het dit begin. 

Destyds was daar ’n klein herberg langsaan (vandag Ismail se huis). Vier gesinne het hier gebly en gewerk. Hulle het klere, implemente en negosieware verkoop, en die plaaslike boere se mielies, bone en bene (vir beenmeel) aangekoop.

Ek loer in die donker, vierkantige winkel rond terwyl Ismail ’n klant bedien. Jy kan Chappies koop teen 25c stuk, los koekies teen 20c elk, en ’n Eveready PM9-battery (die hartklop van miljoene radio’s landwyd) kos R35. 

Daar’s ook ander algemenehandelaar-ikone op die rak: Saldanha-sardyntjies, Milo, Family Favorite-kondensmelk en, natuurlik, Joko-tee. 


Foto: Toast Coetzer

Ek en Ismail stap later om na die effens vervalle gebou (die oorspronklike sink-en-houtwinkel) langsaan. Hy grawe die ou Joko-bord uit om vir my te wys.

“Mense het al gesê hulle wil dit koop,” sê hy, “maar ek wil dit om sentimentele redes hou.” 

Van die ander familie wat die winkel destyds begin het, se nasate woon al in Australië, en Ismail se eie dogters staan op trou. Hy weet nie wat van die winkeltjie gaan word nie.

“Maar ek geniet dit,” sê hy, ondanks die feit dat hy al twee keer gekaap is in die omgewing.

“Ek het in die verlede elke dag rondgery met goedere op my bakkie, wyd deur die distrikte, seker 100 km elke dag, op met Normandien- en van die ander passe,” vertel hy. “Dis maar omdat mense geweet het ek het geld en kos by my dat ek beroof is. Maar nou ja.”

Reg langs Ismail se huis is ’n kamp wat gebruik word wanneer die veeboere met hulle beeste rondtrek – na die vendusiekrale of van somer- na winterweidings. As daar ver getrek moet word op ’n dag, dan slaap die trekbeeste soms hier oor.


Dit was ’n goeie dag

Die bordjie na die Chelmsford-natuurreservaat (66,6 km) lok my van die teer af en ek draai regs.

Die son raak nou sag om my, en oral vlieg saadvreters uit die grasse op wanneer ek verbyry. Goud in die mond.

Ek ry om Leeukop en dan is die dam regs van my. ’n Riviertjie se naam trek my aandag: Spectaclespruit.

Ek kry ’n sleutel by die parkhek en ry die paar honderd meter na ’n chalet toe. Op pad sien ek drie oribies – Chelmsford is die tuiste van ’n gesonde bevolking van dié mooi klein bokkies. 

Ek pak gou af en stap na die dam toe. Die son het pas in die weste verdwyn, daar waar ek vroeër vanmiddag teen Normandienpas afgesukkel het.

“Hoe byt die vis?” vra ek die enigste ander mens hier vanaand met sy twee stokke in die water.

“Nie eintlik nie,” antwoord hy, “netnou ’n mooi karp gevang.”

Nadat ek ’n paar foto’s geneem het, stap ek chalet toe, maak ’n blikkie mossels oop en eet dit op die stoepie terwyl ek vir die volmaan kyk. 

Wanneer ’n jakkals begin skrou soos ’n laaitie wat nou net gehoor het hy moet tandarts toe gaan, weet ek dit was ’n goeie dag.

Foto: Toast Coetzer