
Vakansiegangers op pad na die Sonskynkus se see of Oos-Londen skiet gewoonlik op die N6 deur Cathcart. Maar as jy ’n bietjie kan wag om jou sonsambreel op te slaan, hoekom ry jy nie die 80 km-ompad deur Hogsback en Alice nie?
Die eerste stuk, van Cathcart af tot by Hogsback, is grondpad. Dit sou glo in die jare sewentig geteer word, maar die storie loop dat die kontrakteur die geld in sy sak gesteek en verdwyn het nog voordat die eerste oranje kegels uitgepak kon word.
Maar wie gee nou om vir ’n stukkie grondpad ry? Dis mos deel van die ervaring – ry stadiger, draai die ruite af, asem diep in, kyk om jou rond…
Namate jy na die suide toe vorder (en die pad mettertyd teer word) verander die landskap dramaties. Dit loop onder meer deur die Amatolawoud, glo die inspirasie agter die Suid-Afrikaans-gebore skrywer J.R.R. Tolkien se fantastiese Mirkwood-bos in sy Lord of the Rings-trilogie.
Kyk mooi tussen die takke rond – dalk gewaar jy ’n hobbit of ’n towenaar!