Wanneer ’n mens op Roete 62 deur die Klein-Karoo ry, is daar nie regtig enige praktiese rede om af te draai en deur Seweweekspoort te ry nie, tensy jy dalk op pad is Sutherland toe. Aan die ander kant van die poort is daar immers net ’n verlate grondpad Laingsburg toe, en in die teenoorgestelde rigting ’n pad wat teen die Gampapoortdam doodloop.

Maar ’n mens het nie altyd ’n goeie rede nodig om iets lekkers te doen nie. Hierdie pad, wat deur die Klein-Swartberg sny en al langs die Huisrivier langs kronkel, is ’n bestemming op sigself. Hoe dieper jy by die poort inry, hoe hoër troon die roesrooi kranse aan weerskante van jou uit – om elke draai in die slingerende pad wag ’n nuwe uitsig wat jou kort-kort wil laat aftrek om foto’s te neem. 

Wanneer die berg jou anderkant die poort uitspoeg, kan jy regs draai en oor die ewe mooi Bosluiskloofpas ry, tussen getande pieke en keëlvormige heuwels deur.

Aan die voet van dié pas lê die Gamkapoortdam. Hier’s huisies waar jy vir die aand kan oorbly, en die volgende dag kan jy die mooi pad weer in die teenoorgestelde rigting volg tot terug op die R62.

Waar kom die naam vandaan?

Seweweekspoort is genoem na die seweweeksvaring (Polystichum adiantiformis) wat in die klam krakies van die Klein-Swartberg se rotsvoue groei. 

En Bosluiskloof? Wel, dis fossielwêreld dié, en voorheen is hier heelwat fossiele van prehistoriese bosluise gevind. Argeoloë fynkam die gebied al geslagte lank, maar wie weet – as jy aftrek en fyn kyk na die klippe om jou voete, mag jy dalk net nog ’n fossiel vind…