Die roete begin op die R74- streekpad aan die onderpunt van die Sterkfonteindam in die Vrystaat.

By ’n padpredikant (S28.52302 E29.07693) vir die Retiefpas en Retiefklip volg jy die S19-Bergvillepad vir 2 km tot by ’n rigtingwyser vir die Kaalvoetvrou en Retiefpas.

Hier kan jy links draai en die standbeeld van Susanna Smit besoek – volgens oorlewering het sy ’n Britse kommissaris die volgende toegesnou: “Eerder kaalvoet terug oor die Drakensberg as om onder Britse beheer te staan.”

Die Retiefpas waarna die padteken verwys, lê op private grond en jy moet by Sollie Prinsloo van die Dumbe Berg-verblyfplekke toestemming kry om daar te ry.

Dié pas is in 1977 tot Erfenisgebied verklaar omdat Piet Retief sy trek in 1838 hierlangs gelei het.

Maar Retiefpas gaan jou in die verkeerde rigting neem, en daarom hou ons eerder verby en ry 600 m verderaan tot by ’n rigtingwyser vir Retiefklip (S28.50272 E29.08663) – draai hier regs.

’n Tweespoorpad neem jou met ’n laagwaterbrug oor die Modderspruit en dan op tot teenaan die kranse van die Kerkenberg.

Dié berg is so genoem deur die geestelike leier en dagboekskrywer van die Retieftrek, eerw. Erasmus Smit, wat ook Susanna, “die kaalvoetvrou”, se man was.

Die Retieftrek het hier uitgespan terwyl Piet toestemming by Dingaan gaan kry het om Natal binne te trek.

Keer terug na die S19-Bergvillepad en draai regs in die rigting van Harrismith.

Volg die pad vir 4 km en draai wéér regs op die S796-plaaspad. Volg die S796 vir 10 km tot hy doodloop in die S800, en draai dan nog ’n keer regs in die rigting van Geluksburg.

Ná 9 km sal jy ’n erg verroeste padteken raakloop waarvan slegs die “urg” van Geluksburg leesbaar is – draai hier regs.

Jy ry nou op die Tintwapas, ’n pragtige grondpad wat teen ’n berg uitkronkel wat Die Maanhaar genoem word.

Op die kruin van Die Maanhaar gee die Tintwa-pas se grondoppervlak oor aan die geteerde Middledalepas wat jou afneem tot op Geluksburg.

Pleks daarvan om die geteerde pad te volg moet jy ongeveer 800 m ná die oorgang van grond na teer uitkyk vir ’n afdraai aan jou linkerkant (S28.47025 E29.31717).

Hier is geen padpredikant nie; slegs ’n paar strooidakrondawels met ’n beeskamp, en ’n ent verder ry jy deur ’n draadhek wat slap hang: Dít is die begin van die Sandspruitpas en die viertrekpret!

Die Sandspruitpas is byna vergete – hy wys nie op Google Maps óf Google Earth nie, en ook nie op die 1:500 000- topografiese landmeterkaart nie.

Dit is duidelik dat die pad min gebruik word, want hy’s feitlik heeltemal toegegroei en die tweespoor skaars sigbaar.

Volgens sommige bronne is dit die roete wat Gerrit Maritz se trek geneem het, maar ander voer aan die Maritztrek het verder noord deurbeweeg met die De Beerspas waar die legende van Racheltjie de Beer afspeel.

Daar word ook beweer dat Piet Retief met sy eerste besoek aan Dingaan hierdie roete geneem het.

Hoe ook al, die Sandspruitpas was met ons vorige besoek in 2013 ’n heerlike pad met ’n moeilikheidsgradering van 2 uit 5.

Met hierdie besoek was hy ’n 3. Presies 3 km ná die slap draadhek ry jy óm ’n uitloper van Die Maanhaar en daarna ’n laaste keer op met ’n kliptrap voordat die bergpas ondertoe mik.

Die uitsig is fantasties, maar jy gaan nie te veel kans kry om die natuurskoon te waardeer nie, want die pad verg van hier af ál jou aandag.

Ons gehuurde vakansiebakkie had ’n goeie grondvryhoogte maar ’n power vertrekhoek, en daarom moes ons hom herhaaldelik met ’n domkrag oplig sodat ons klippe onder die wiele kan pak.

Dit is nie duidelik of die Sandspruitpas ooit herstel gaan word nie, en dis waarskynlik die viertrekgemeenskap wat hom in ’n rybare toestand gaan hou.

In 2013 het ons sowat 45 minute gery aan die Sandspruitpas, maar met ons jongste besoek moes ons 3 uur opsy sit vir die 16 km lange bergpas.

’n Sagte veldryvoertuig sal hom beslis nie baasraak nie, en as dit sneeu of hard reën, sal ons hom nie eens met ’n Unimog wil takel nie.

Nadat jy met die Sandspruitpas afgereken het, neem jy die D43-streekpad tot by Geluksburg.

Van hier af ry jy suid in die rigting van Bergville en steek die Venterspruit oor. Sowat 7 km buite Geluksburg sal jy ’n rigtingwyser vir die Kwaggashoek-wildreservaat teëkom – draai hier regs.

Stop voor Kwaggashoek se indrukwekkende hoofhek en kyk links; hier is ’n gewone plaashek waaragter ’n tweespoorpad teen ’n rant uitkronkel.

Dit is die Bezuidenhoutspas.

Dié verskyn wel op Google se kaarte, maar die hemel behoed jou as jy hom met ’n gewone bakkie takel, want hy’s beslis uitdagender as die Sandspruitpas – ons gee hom ’n lae 4 uit 5 op ons moeilikheidskaal.

Met ons besoek het Kwaggashoek se mense ons ten sterkste afgeraai om Bezuidenhoutspas met ons vakansiebakkie aan te pak. Maar dink jy ons wou luister?

Die geneuk begin 6 km ná Kwaggashoek se hek waar die pas in alle erns begin.

Die eerste rotstrap is steil en jy gaan al wat ’n ewenaarslot en laestrekrat is, moet inhaak.

Die rotstrap is skaars agter die rug of daar wag ’n moddergat op jou met bosse en bome aan weerskante.

Die modder hier is nie die waterige soort nie, maar eerder ’n soort klei wat jou trokkie rondgooi as jy daardeur ry.

As jy hier deur is sonder om ’n boom te tref, lê daar ’n paar dongas voor waar jy gaan moet klippe stapel.

Hier is ook ’n paar haarnaalddraaie op Bezuidenhoutspas en elkeen van hulle bied sy eie uitdaging.

Stop en klim uit jou trokkie vóór elke draai en gaan kyk eers wat aan die ander kant aangaan, want dalk lê daar ’n verrassing voor.

Een so ’n haarnaalddraai was besonder modderig en ons moes hom met momentum takel om te keer dat ons vasval.

Ongelukkig was die verrassing ’n gat aan die ander kant van die draai, en die aluminiumpanele op die agterent van ons gehuurde vakansiebakkie het dit lelik ontgeld.

Ons is nie seker hoeveel slae ons die domkrag en graaf op Bezuidenhoutspas gebruik het nie, maar dit was ’n hele paar keer.

Die laaste hindernis op die roete is ’n enorme kliptrap, en te oordeel na die kepe én skaaf- en metaalmerke wat deur onderstelle op die rotsbanke gelaat is, is dié hindernis niemand se speelmaat nie.

Ons moes ’n hele ruk by dié laaste hindernis deurbring en al wat ’n klip is pak om hom baas te raak.

Ongeveer 2 uur nadat jy die 5 km lange pas aangepak het, bereik jy uiteindelik die bopunt (S28.53568 E29.20348).

Ry deur ’n plaashek voordat jy by ’n goeie grondpad aansluit wat jou terugneem na die Bergvillepad.

As jy die Sandspruit- en Bezuidenhoutspas sonder probleme kafgedraf het – met ’n omgeboude bostrok eerder as die effens makker vakansiebakkie waarin ons gery het – kan jy ook die nabygeleë Retiefpas aandurf vir ’n driekuns.

Gee jouself ’n klop op die skouer voordat jy terugkeer na jou kampplek in Glen Reenen.

Jy behoort nou ’n taamlik goeie idee te hê wat die voortrekkers destyds met ossewaens vermag het.

Wat jy moet weet

Maksimum aantal voertuie? Onbeperk.

Kan ek op my eie ry? Ja, maar ons stel voor jy gaan eerder in ’n groep.

Kry ek ’n kaart? Nee.

Sal my voertuig krap? Die kans is goed, ja.

Moet ek ’n kompressor neem? Ja.

Kan ek braai langs die pad? Daar is geen braaigeriewe nie.

Kan ek halfpad omdraai? Die passe is smal, maar daar is omdraaiplek.

Is daar selfoonsein? Meestal ja, maar nie in die diep klowe nie.

Beste tyd om te gaan? In die somermaande. Die passe is lewensgevaarlik as dit sneeu.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, hulle kan help klippe pak.

Net vir die dag of die naweek? Dit is beter om vir ’n naweek te kom.

Hoe lank neem dit? ’n Volle dag.

Is daar ablusiegeriewe? Nee.

Aanwysings Die passe lê tussen Harrismith en Bergville, presies op die grens tussen die Vrystaat en KwaZulu-Natal.

Prys Gratis – dit is openbare paaie.

GPS

Sandspruitpas S28.47034 E29.37141

Bezuidenhoutspas S28.54326 E29.20936