Almal weet jong mense is gewoonlik taamlik haastig. Hulle ry vinnig, praat vinnig en doen min of meer alles asof hulle nooit weer ’n kans gaan kry daarvoor nie. Ou mense, lyk dit vir my, het weer die wêreld se tyd. As ’n verkeerslig oorslaan na groen, dan soek hulle eers goeie ontvangs vir RSG en dán eerste rat.

Maar dis eintlik alles agterstevoor. Want dis nie asof ou mense nog die wêreld se tyd het nie.

As jy mooi daaroor dink, behoort jong mense eintlik hulle tyd te vat met alles omdat hulle hele lewe nog voorlê. En ou mense behoort weer te jaag vir ’n vale hel – asof hulle die dood gesien het, by wyse van spreke. Maar dit werk nie altyd so nie, want sommige mense is al van kleins af tydsaam. Hulle is eenvoudig so gebore.

Ons eie familie is ’n goeie voorbeeld van hoe mense met verbasend ooreenstemmende DNS heeltemal uiteenlopend kan wees as dit kom by haastigheid en hei-daar-is-nog-jare-oor-voordat-ek-omkap.

Van ons drie broers is ek die haastige een. Gelukkig is ek en my vrou presies dieselfde wat dit betref. As ons ver ry, pak ons die vorige aand al sodat ons die volgende oggend net hoef tande te borsel, die bagasie te laai en warm koffie in die fles te gooi.

Ons eet selfs in die ry en ek weier om te glo ’n frikkadel en appelkooskonfyt-en-kaasbroodjie smaak beter as jy hom onder ’n boom gaan sit en eet. Buitendien, wat doen jy as jy langs die pad by daai vieslike vuil sementbankies en -tafels sit? Kyk na die verkeer? Asem vragmotors se dieseldampe in? Tel hoeveel duur motors het nie voorste nommerplate nie?

Een jaar, toe ons werklik keelvol begin raak vir die pad tussen Kaapstad en Bloemfontein (waarskynlik iewers tussen Hanover en Richmond) besluit ek en my vrou saam-saam ons wil die eerste proefkonyne wees vir navorsing oor teleportasie. Jy weet, soos in die fliek The Fly waar jy diékant in ’n tiekieboks-affêre inklim en ná ’n rukkie, as die ding soos ’n goedkoop mikrogolfoond brom, dan – woerts – klim jy ’n ent verder uit in ’n soortgelyke tiekieboks.

En vir diegene wat stééds nie verstaan nie, dis soos wanneer kaptein Kirk van die USS Enterprise op ’n woeste planeet (amper soos daai stuk pad tussen Noordoewer en Grünau) staan en laat weet: “Beam me up, Scotty.”

Dink net daaraan! Niks meer sooibrand van twyfelagtige vleispasteitjies op Beaufort-Wes nie. Geen spoedboetes wat agterna in die pos opdaag nie. Geen padongelukke of vertragings by een van die 20 padwerke waar ’n geel kennisgewing verklaar “Gemiddelde wagtyd 20 minute” nie. As jy elkeen van dié plekke op ’n slegte tyd tref, beteken dit jy gaan in Bloemfontein tou opgooi, ’n bier sluk, twee tjops eet en weer in jou kar móét klim as jy voor die einde van die langnaweek in die Kaap wil wees.

Dan is daar ander, meer tydsame mense vir wie só iets nie in die minste sal pla nie. Trouens, hulle sal dit eintlik geniet.

Mense soos my ouboet.

Tydsame mense praat altyd in kodetaal. Leer sommer dié stuk taktiese inligting nou aan: Hulle verwar jou gewoonlik met die gebruik van die woorde “... net gou...” Byvoorbeeld: “Ek wil net gou vir ons iets gaan koop om te braai”.

Hulle verwar jou gewoonlik met die gebruik van die woorde “... net gou...”

Só vat ek hom en sy swaer een jaar op ’n twee dag lange tog waarin ek beplan het om twee 4x4- roetes te gaan ry. Op Villiersdorp moes ek die gevaarligte al sien flikker het toe hulle “net gou” Spar toe is en ek hulle ná 20 minute opspoor. Hulle was nog nie eens by die kassier nie.

En wat moes hulle koop? Margarien en ’n paar broodrolletjies. Trouens, dié was nog nie eens in hulle mandjie nie. Volgens my jonger broer is dit omdat hy nie ’n winkel van punt A tot B deurstap nie, maar eerder soos ’n Kreepy Krauly wat kruis en dwars deur ’n swempad tjôk-tjôk-tjôk.

Die volgende oggend moes ons opskud om van die berg af te ry waar ons oornag het, want laatoggend begin ander ouens weer boontoe ry met die uiters smal tweespoorkronkelpaadjie.

Die son het al water getrek en die meeste dinge was gepak toe hy nog rustig sit en aan sy (hoeveelste) beker koffie teug en koerant lees – die vórige week se koerant.

En ja, halfpad teen die berg af moes ek ’n vreesaanjaende 50m of wat in trurat terugry met ’n meter of wat grasie aan my regterkant tussen my en ’n gewisse dood.

Maar tydsame mense laat hulle eenvoudig nie deur sulke dinge onderkry nie. Skaars ’n uur daarna, op Worcester, gaan koop hulle “net gou” ’n paar stukkies hoender en wors vir die aand se braai. Hulle tyd om dié oefening af te handel? ’n Kordate 50 minute. Ek kan dit in 5 minute doen! Waarheen is daardie ander 45 minute?

Weggeteleporteer Mars toe?

’n Ander gunsteling van hom was (in die dae toe ek nog saam met hom gereis het) om “net gou” ’n ander alternator/petrolpomp/ straalturbine/kernreaktor/partikelversneller/wat ook al in die Kombi in te bou – op dieselfde oggend waarop jy veronderstel is om te vertrek.

Nodeloos om te sê is hy en sy gesinnetjie al goed geoefen om baie laat in die nag by ’n plek aan te kom en in die donker kamp op te slaan.

Verlede jaar ry ek en twee ander manne op motorfietse in die Kalahari. Altans, so was die plan, want pap wiele en ’n algemene tydsaamheid het beteken ons kon nooit ons beplande roete voltooi nie. Die 2000km soontoe en terug was dus eintlik verniet.

Die probleem was nie dat ons drie ryers was nie; die probleem was dat die twee ander ouens mekaar oënskynlik probeer ore aansit het met tydsaam wees.

Al twee is pyprokers (nooit ’n goeie teken nie) wat elke nou en dan wou stilhou om “net gou” ’n bietjie pyp te rook. Teen dag twee, toe ’n stukkende motorfiets en drie pap wiele ons al ’n beduidende agterstand gegee het, het ek gedink die manne sou effens vroeër aan die gang wou kom.

Watwo!

Kort ná nege was die stukkende oranje motorfiets weer aan die loop en ek het gedink ons sal in die pad kan val. Helaas nie.

Want om halftien het ek uit die hoek van my oog ’n plastieksak gesien. “Ek het net gou deeg gemaak. Dis besig is om te rys. Dan gaan ons gou roosterkoek maak...”

Vergeet daarvan dat ons ver agter skedule is, dat ons nog honderde kilometers oor afgeleë terrein moet aflê. Nee, dis tyd vir roosterkoek. En daarna, het hulle, voorspelbaar genoeg, “net gou” ’n bietjie koffie gemaak.

Vergeet daarvan dat ons ver agter skedule is, dat ons nog honderde kilometers oor afgeleë terrein moet aflê. Nee, dis tyd vir roosterkoek.

Uiteindelik het ons om 12.30 daardie middag uit die naaste dorpie gery – toe die kwik aan 40ºC begin lek-lek het. En, nes ek verwag het, het een van hulle binne 15km oor ’n spyker gery. Het hy, soos konvooiprosedure is, in die pad gaan wag vir ons? Nee, hy het “net gou” na ’n plaashuis gaan soek.

Ons kon eers ure daarna weer aan die gang kom en moes ons beplande roete wéér eens kortknip, wat ook maar goed was, want ons het voor donker nóg twee pap wiele gekry. En tussendeur is daar sommer baiekeer pyp opgesteek.

Trouens, ek was naderhand self lus vir ’n pyp. Met stérk twak.

My Vriend Canz Kleyn van Caledon se wêreld het blykbaar ’n pa gehad wat bekend was vir sy tydsaamheid. Soveel so dat die plaaslike dominee nie sommer met sy diens begin het voordat die Kleyn-gesinnetjie eers ná die eerste gesang of wat hulle opwagting gemaak het nie.

Een jaar is hulle met die woonwa Etosha toe. Die eerste twee weke van die drie weke lange Junie-vakansie is gewy aan die betaal van rekeninge en die hersien van sy testament, want die dood was een van sy groot vrese.

’n Dag of wat voor hulle sou vertrek, het sy pa besluit die Mercedes se sleepstang “lyk nie sterk genoeg nie” en ’n ander een is geïnstalleer. Hulle het uiteindelik só laat uit Caledon vertrek dat hulle die eerste aand by die Goudini-spa moes slaap – skaars 140km verder.

En so het hulle aangesukkel. Met die destydse oliekrisis was daar brandstofbeperkings, wat beteken het vulstasies was naweke gesluit. Hulle moes uiteindelik drie dae langer as beplan op Swakopmund oorstaan. Toe hulle by Etosha aankom, was hulle al só laat dat hulle net een aand kon bly voordat hulle moes terugkruie Kaap toe.

Uiteindelik is nie tydsame óf haastige mense reg of verkeerd nie. Hulle is net verskillend. Soos lig en donker, kommunisme en kapitalisme, goed en kwaad, vuur en buskruit... Met ander woorde, hou hulle om hemelsnaam uitmekaar.


*Hierdie artikel het oorspronklik in Junie 2009 in Weg verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.