Daar is ook 'n podcast van dié rubriek beskikbaar. Luister hier:

As kind werk ’n mens se kop darem maar snaaks. Jy bevraagteken min dinge, verstaan die meeste heeltemal verkeerdom, maar aanvaar dit nogtans voor die voet. Eintlik begryp jy alles net so half en half, maar dié dowwe sketse word jou prentjie van die wêreld, die enigste wat jy vir baie lank het.

So, byvoorbeeld, het ek een Sondag dominee Dries se afkondigings tydens die kollekte heeltemal verkeerd verstaan. Met my pa in die ouderlingsbank en my ma grieperig by die huis, was ek en my boetie dié oggend op ons eie in die kerk toe die dominee vra dat al die nie-bederfbare produkte vir die komende Saterdag se basaar asseblief reeds van die Donderdagmiddag af kerksaal toe gebring word.

“Dis nou die beskuit, fudge, kleinkoekies, koeksisters...” het hy bo van die preekstoel af gesê. Ek het ná Sondagskool huis toe gehol en my ma vertel sy moet Donderdag by die kerksaal wees. Ek het geweet sy’s een van die basaar-konvenors in beheer van die stalletjie vol varsgebakte goed. Dus, in kerktaal, ’n koek-suster.

Ek onthou ook nog die seer ontnugtering die dag toe ek besef het dat die gifplek in die Paarl se Hoofstraat met die woord “Beetles” groot teen die buitemuur geverf, nie John, Paul, George en Ringo se huis is nie. Maar hoe moes ek weet hulle is van ’n ander land – in die Paarl was daar ook mos Engelse.

Dis hier in die Paarl waar ek mens geword het – met die uitsondering van ’n paar vakansieplekke. As ek terugdink aan die vakansies van my kleintyd, loop die meeste herinneringe van die Paarl af oor die Bolandse berge Klein-Karoo toe. Na ’n plaas met honde en lusernbale en volstruise en peerbome. En nefies wat my leer balskop en teikenskiet en bakkiery.

Ek onthou ook nog die seer ontnugtering die dag toe ek besef het dat die gifplek in die Paarl se Hoofstraat met die woord “Beetles” groot teen die buitemuur geverf, nie John, Paul, George en Ringo se huis is nie.

Enkele onthoupaaie draai anderkant Ashton weg kus toe om oor Swellendam en Riversdal tot in Stilbaai te krul. Vakansies van sandkastele, sonverbleikte kuiwe en... bloublasies!

En dan is daar die Groot Landstoer verby die Groot Gat, die Vrouemonument en die Carlton-sentrum tot bo in die Krugerwildtuin. Dié woeste, wonderlike plek was die verste uithoek van my heelal. Maar steeds het van my mooiste reise in my grootworddorp self plaasgevind – by ouma Woonstel in die middedorp.

“Jack, Jack, Jack is a ladies’ man, he makes love where no one can!” sing my ouma opgeruimd en loer skelm oor haar kaarte. Ek is op my hoede. Dié gesingery is nie vir sommer nie, dit beteken sy’t ’n boer opgetel en gaan nou-nou uitspeel.

Ek is tien jaar oud en kuier vir die naweek by my ouma in haar woonstel: Atlanta 108. Die son bak teen die groen seil wat sy smiddae oor die balkon laat sak. Ons sit in die skemerte op die houtbankie en kaartspeel, elk met ’n lang glas Oros en ’n pierinkie gemmerkoekies – tuisgebak, met die patroon van ’n vurk se vier tande bo-op gedruk.

“Ouma, sê asseblief gou weer al die kinders se name op!” por ek. “Kittie, Lottie, Annie, Gert, Willem, Jan, Miemie, Dirk, en dan ek, Maidie,” rits sy haar broers en susters van oud na jonk af. Ek giggel. Dié string name is elke keer vir my snaaks.

My ouma gooi haar laaste hand met ’n triomfantelike “Ha!” uit en hark dan die hopies kaarte op die skinkbord tussen ons bymekaar, klaar gespeel vir die dag.

Miskien skommel sy hulle ná aandete weer, of dalk speel ons dan albasterbord. Maar eintlik hoop ek ons sal omstap na 106 toe om saam met tannie Elize en my ouma se ander pêlle in Atlanta ’n potjie Rummikub te speel.

Hulle is ’n jolly klomp – tannie Elize en haar suster, tannie Marie, tannie Raaitjie, suster Basson, dowe juffrou Smit, Anna Theron, en Miems, wat op die heel boonste vloer bly, in 408.

Van haar balkon af kan jy ver sien, en ons gaan staan altyd daar en kyk wanneer Paarlberg somertyd brand en die vlamme soos gloeiwurms teen die helling afkruip bodorp toe.

’n Naweek by ouma Woonstel sou sy hoogtepunt bereik wanneer sy die tjoklitboks met die twee rooi rose op die deksel bo uit haar klerekas haal en daarmee langs die koffietafel in die sitkamer gaan kniel.

Die boks was vol ou foto’s – my oorlede oupa Thomas voor die Arc de Triomphe en een van die Alpe wat hy uit die vliegtuig geneem het.

Ek onthou ook ’n foto van my pa as ’n babatjie met ’n wit mussie op Margate se strand – ek het nooit gevra waar dié Margate is nie. Dit was bloot my ouma-hulle se seeplek, soos Stilbaai ons s’n was.

In die boks was poskaarte van ene Henny Storm, my ouma se jare lange penmaat in Suid-Holland. Hulle korrespondensie het gedurende die Tweede Wêreldoorlog doodgeloop.

Van die poskaarte het ’n foto van prins Bernhard en prinses Juliana op hulle troudag voorop gehad. “Die prinses het soos ’n gewone mens op haar fiets mark toe gery,” sou my ouma elke keer opmerk.

Hierdie prentjies van verafgeleë plekke het in my gedagtes bly talm, en saans, as ek in Ouma se spaarkamer onder die té warm deken lê en luister hoe die middedorp stil word, sou ek my na dié plekke toe verbeel.

En ook maar net dié paar bestemmings, want verder as dit was die buiteland vir my ’n plek so wyd en ver en onbegryplik soos wat iets net vir ’n kind kan wees.

My oupa se stukkende Omega-horlosie was ook in die boks, tussen stringetjies krale, ’n stinkhoutborsspeld van ’n springbokkie en ’n klompie ou ringe. Maar die mooiste was die goedjies wat hy in 1955 van Zanzibar af saamgebring het.

Oupa Thomas het glo op ’n dag besluit hy wil darem dié eiland met sy eie oë aanskou en is toe op sy eentjie soontoe – nogal met die boot. En die aandenkings en geskenke wat hy teruggebring het, was sedertdien vir my ouma ’n kleinood en vir my die poort na verbeeldingsvlugte oor dié Iewers-eiland.

Daar was ’n growwe halssnoer van oranje koraal (bid jou dit aan!), ’n breë silwerarmband met klein dansende figuurtjies op elke skakel, oorkrabbertjies van ivoor wat soos trossies naeltjies lyk en die boontjie... die uitgeholde boontjie wat só kosbaar is dat my ouma dit toegevou in ’n ou bruin koevert gebêre het.

Wanneer sy die boontjie se klein proppie uittrek en die twaalf miniatuur-ivoordiertjies op die tafelblad uitskud, was ek te bang om hard asem te haal – netnou blaas ek enetjie weg.

Daar was ’n kameel, ’n olifant, ’n leeu en iets wat soos ’n perd lyk. Die ander was te fyntjies om regtig uit te maak.

Tussen die ou foto’s sou my ouma ’n vergrootglas uitgrawe. As ek lank genoeg daardeur na die diertjies se haardun beentjies gestaar het, het my ouma hulle een-een met ’n sagte aanraking van haar pinkiepunt opgelig en teruggeglip in die boontjie. Dan kom alles weer netjies terug in die boks en dié veilig bo in die kas.

Die besoek aan Iewers-eiland was altyd té gou verby, en ek het heimlik uitgesien na die dag dat ek groot genoeg is om ook soos my oupa met die boot soontoe te vaar.

Ek was nou nog nie op Zanzibar nie, maar het darem al ’n paar stempels in my paspoort – en die wêreld is soveel groter, die lyne soveel breër en kontrasterend ingeëts as toe ek klein was. En iewers langs die pad het ek ook uitgevind dat John Lennon in my geboortejaar vermoor is – dit was dus onmoontlik dat die vier Beatles destyds in die Paarl se Hoofstraat kon gewoon het.

Maar vir dinge om groter te word, moet ander noodgedwonge wegkwyn. Deesdae staan daar ander name op die posbusse in Atlanta se voorportaal, en die plekkie waar my ouma nou in die ouetehuis woon, is te klein dat ek vir ’n naweek kan gaan oorslaap.

Ons het die anderdag weer die tjoklitboks opgespoor en die diertjies ’n slag uit die boontjie geskud.

Snaaks, daar is nou net elf oor.


Hierdie artikel is oorspronklik in April 2014 in Weg gepubliseer.