Ek ry in ’n Mercedes-Benz 280E met ’n gat in die uitlaatstelsel en ’n bedenklike koppelaar. Die kar klink soos ’n effens befoeterde sportmotor. Die spoedmeter werk al lankal nie meer nie en die temperatuurmeter skiet op en af. Ek ry dus op gevoel, klank en genade – en probeer so min as moontlik van ratte verwissel. Ten minste loop hy.

Ná ’n week van Bull Run-werk sien ek uit na die huis, maar die mense by die bakkie langs die pad het ons hulp nodig. Agter my is Thys en Daniel de Jager in ’n Hilux en ’n Mercedes-Benz (wat ook eens op ’n tyd ’n 280E was, maar nou het hy ’n Ford 351-enjin). Ons is, net soos die manne van die Isuzu, op pad huis toe ná die Bull Run. Maar hierdie spesifieke pad is nie een wat baie mense ry nie, en juis daarom is hulle so bly om ons te sien.

“Ons staan nou seker al ’n uur hier,” sê Marno van der Merwe. Die bakkie het so ’n entjie terug besluit om sy laaste luier te luier, en hulle het hom tot hier langs die boom gestoot. Pieter, die Van der Merwes se patriarg, beduie dat Tiaan, Marno se broer, onder die boom langs die plaasdam op ’n kampmatras lê en slaap. “Hy voel effens broos ná gisteraand...”

Maar hierdie spesifieke pad is nie een wat baie mense ry nie, en juis daarom is hulle so bly om ons te sien.

Ek kyk vol hunkering na die plaasdam. “In hierdie hitte moes hy al lankal daar ingespring het,” sê ek. Pieter beaam dit, effens harder sodat Tiaan moet hoor, maar die woorde wat onder die boom uitkom, is nie geskik vir ’n gesinstydskrif nie.

“Ons het al lankal voorgestel hy moet dit doen.”

“Maar waar is die ander ou – julle was dan vier?” vra ek.

“O, Xander [Steyn] het sy tekkies aangetrek en begin om Carnarvon toe te draf om te gaan hulp soek.”

In hierdie hitte wat skuins ná tien in die oggend al naby aan smeulend is, is ek bitterlik bly my naam is nie Xander nie en dat ek nie my tekkies saamgebring het nie. “Ons het darem vir hom water en ’n selfoon gegee sodat hy iemand kan bel as hy ontvangs kry.”

Op ’n Saterdagmiddag rondom ’n braaivuur is besluit hulle wil hierdie jaar Bull Run toe kom. Sommer gou is ’n Mercedes-Benz 280E aangeskaf en ingeskryf. Die Merc het so ’n bietjie liefde nodig gehad en Mohammed, ’n werktuigkundige in die Kaap waar die Van der Merwes vandaan kom, het die taak gekry om die kar weer in ’n lopende toestand te kry. Marno vertel dat hy sommer met ’n viltpen ’n lys op die kar se enjinkap gemaak het van wat gedoen moet word, en dat Mohammed dit sommer daarop kon afmerk as dit gedoen is. ’n Bietjie ekstra karakter vir die Bull Run, sien...

Hulle plaas baie vertroue in die Merc en in Mohammed se werk, maar Donderdagoggend vertrek hulle uit die Kaap met ’n kampwaentjie agter die Merc... en geen ander ondersteuningsvoertuig nie.

Net voor Ceres begin die moeilikheid. Eers is dit die enjin wat oorverhit. Nadat hulle wag dat sake afkoel, vorder hulle verder. Ná Ceres besluit die ratkas hy wil saam speel en dié oorverhit ook. Nog 50 km verder is dit weer die enjin se beurt en oplaas, 40 km voor Laingsburg, besluit die enjin sy main bearing het nou genoeg gehad. Op Laingsburg is hulle baie naby aan boedel oorgee, maar wat is ’n goeie storie dan sonder sukkel?

Die Isuzu waarmee ons hulle langs die pad kry, het ’n interessante storie wat met ’n lang draai kom. In Laingsburg se strate stap Marno en Xander moedeloos rond en soek as ’n laaste poging ’n ander Bull Run-kandidaat. En daar kry hulle hom langs die pad – ’n 1980 Isuzu KB-enkelkajuitbakkie. Die transaksie word beklink teen R13 000 en ’n sleephaak word daar en dan vasgesweis.

Met Marno en Pieter in die betreklike gemak van die kajuit, Tiaan en Xander bo-op die bagasie agterop – en die kampwaentjie agterna – vat hulle weer die pad.

Die Isuzu se verkoeler het nie meer ’n prop op nie, want daar is ’n gat in die enjinblok wat met stopverf gevul is. As druk in die stelsel opbou, spoeg die enjin die stopverf uit en al die water stroom uit. Elke 40 km of wat hou hulle stil om die verkoeler weer vol water te maak en die olie na te gaan. Die aansitter is ook op die koffie en die twee manne agterop moet hom elke keer aan die brand stoot.

Ondanks al die terugslae kom die span Vrydagoggend op Vanwyksvlei aan, nadat hulle besluit het om op Fraserburg te oornag. Met die Isuzu neem hulle aan die hele Bull Run deel en hulle besluit om nog die pad terug ook aan te durf. Op Williston wag daar ’n Hilux wat van die Kaap af vir hulle opgebring is en dít is die eerste mikpunt. Hulle kampwaentjie is gelukkig met ’n ander geleentheid terug Kaap toe.

Die naweek van die Bull Run is die bakkie al twee keer verkoop (ek vra nie meer vrae nie) en die plan is om hom op Williston te los waar die nuwe eienaar ingestem het om hom te kom haal.

Nadat ons die Isuzu agteraan Thys se Merc gehaak het, begin ons ’n veilige plek langs die pad soek waar ons hom kan los – en ons soek ook vir Xander wat steeds aan die draf is. By die eerste plaas waar dit lyk of daar lewe is, draai ek in en gaan hoor of die mense sal omgee om die bakkie daar te laat staan.

Soos die toeval dit wil hê, is dit mense wat juis gisteraand kom saam kuier het by die Bull Run-feestelikheid, en hulle stem in om te help. “Die ontbyt is klaar, maar daar is koue bier,” bied Gert Delport aan.

“Julle het nie dalk iemand hier sien verby draf nie?” vra ons toe die Isuzu klaar sy plek gekry het.

Maar daar was nog geen teken van Xander nie. Daniel word aangesê om met die Hilux terug te gaan op die pad en hom te soek.

Sowat ’n kwartier later is hy terug met ’n baie verligte Xander in die bakkie. “Die natuur het geroep terwyl ek draf,” vertel Xander, “en ek het agter ’n bossie so ’n entjie van die pad af gaan antwoord.” Dit was net mooi toe ons konvooi daar verby is. Hy kon nie betyds ons aandag trek nie en het al gesien hoe ons hom daar los. Sy stem is ook effens hees ná ’n paar dae se ontberinge agterop ’n Isuzu in die stof van Vanwyksvlei, en daarom kon hy ook nie skree nie.

Op die pad Williston toe is Marno saam met my in die Merc. Ons moet effens skree om mekaar te hoor bo die raserige uitlaatstelsel, maar Marno is reeds besig met planne vir volgende jaar se Bull Run. Hy sê hulle blou Merc sal wel daar uitkom... hy moet net nog ’n paar dinge op die enjinkap gaan neerskryf.