Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

In Kommunikasiekunde 101 leer studente die sender kodeer ’n boodskap voordat dit deur ’n kommunikasiekanaal versend word, en die ontvanger dekodeer dan die boodskap om sin te maak daaruit. Allerhande steurings veroorsaak egter dat die boodskap swak geformuleer en gekodeer word. Gebreke in die kommunikasiekanaal versteur die boodskap, en die ontvanger verwring die dekodering van die boodskap – wat tot gevolg het dat dit dikwels nie sin maak nie.

Ons president doen telkemale ’n beroep op die nasie dat ons almal maskers dra, ons hande was en ’n sosiale afstand handhaaf. Die daaropvolgende Staatskoerant, wat kort ná die president se toesprake gepubliseer word, dra ongelukkig klokslag by tot grootskaalse verwarring omdat dit dikwels reëls bevat wat ruimte skep vir verskillende vertolkings. Dit verwring die boodskap.

Fopnuus versprei vinnig daarna, want onsinnighede word makliker geglo as ’n amptelike aankondiging deur die owerheid. Die grootste rede hiervoor is dat ons weinig glo wat die regering aan ons kommunikeer, of ons verstaan nie wat die presiese agenda is nie.

Volgens my is daar ’n totale wanbegrip by senior besluitnemers in die toerisme-departement oor die unieke aard van kampering. Derhalwe word dié bedryf bloot as ’n vorm van verblyf beskou.

Vele petisies, pleidooie en voorleggings oor die kampbedryf is aan die minister van toerisme en haar raadgewers gerig, maar dit het op dowe ore geval. Haar raadgewers was net eenvoudig nie instaat om ons boodskappe te dekodeer nie – selfs nie die persoonlike gesprekke wat mense in die toerismebedryf met haar gevoer het nie.

Al wat ons wou gehad het, is dat sy probeer verstaan dat kampering wêreldwyd beskou word as ’n uiters lae risiko wat betref die verspreiding van die virus. Derhalwe word alle Covid-19-regulasies wat in die Staatskoerant vervat word, steeds bloot toegepas op verblyf as ’n breë begrip.

In Desember het ’n plaaslike owerheid in die Kaapse Weskus sy kampterreine tot groot onsteltenis van die publiek gesluit. Hulle het ’n amptelike verklaring uitgereik dat die sluiting gedoen is om lewens te beskerm. Damme en wildreservate in die Vrystaat is ook terstond gesluit, sonder dat dit in ’n sogenaamde brandpunt geleë is.

Die verweer van die plaaslike owerheid is dat hulle wil voorkom dat groot getalle hengelaars uit brandpuntgebiede soontoe reis.

Die mense is “te lui om te werk”, word spoedig ’n refrein op sosiale media. Die regulasies wat vroeg in 2021 bekend gemaak is, stel dit egter duidelik dat strande, damme, mere en riviere en alle gekoppelde ontspanningsgeriewe gesluit moet word.

Ons “hoor” dat ons “pret en plesier” ingeperk word, maar ons “hoor” nie dat die verspreiding van die virus op ’n voorkomende wyse gestuit moet word nie – selfs in streke wat (nog) nie tot brandpunt verklaar is nie.

Ek gee volpunte aan eienaars en bestuurders van kampterreine wat krediete toegestaan het aan kampeerders wat hulle kampverblyf verkort en hulle webtuistes in ’n baie doeltreffende kommunikasiekanaal omskep het.

Alle kampgerigte sosiale media het ’n reuse-verpligting om die verspreiding van fopnuus stop te sit. Ons het almal ’n groot verantwoordelikheid om ons luistervaardighede só op te skerp dat ons die koring van die kaf kan skei wanneer ons video’s ontvang wat onsin versprei. Goeie luistervaardighede is ’n bate en ’n interne “onsinverklikker” ’n moet.

Kampgerigte sosiale media het ’n reuse-verpligting om die verspreiding van fopnuus stop te sit.