Deel

Rubriek: Sout van die aarde

akkreditasie
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton
Uit die argef: Wanneer jy die pad na die Kalahari vat, berei jy jou voor op die woestyn – jy pak sonskerm en ’n breërandhoed in. Maar hoe gemaak as dit skielik reën en die Kalahari se gewoonlik droë panne vol water staan?

Dié rubriek is ook beskikbaar as podcast. Luister hier daarna:

Vat baie drinkwater saam, want niemand gaan jou kry as jy iewers vasval nie.” Dít is my redakteur se laaste woorde aan my voordat ek die kantoor verlaat. Dis my eerste besoek aan die Kalahari, en my redakteur se bangpraat laat die Kalahari soos ’n apokaliptiese woestynwêreld uit ’n Mad Max-fliek klink.

Net voordat ek die Weg-Condor se neus Noord-Kaap toe draai, keer my kollega Toast Coetzer my voor. Hy vra dat ek vir hom growwesout by Askham se koöperasie koop. Hy het jare gelede ’n sakkie daar gekoop vir sowat R10; en dis nou gedaan.

Met 20 liter mineraalwater in die kattebak én ’n inkopielys ry ek noordwaarts uit Kaapstad.

’n Dagreis later, net anderkant Upington, kom ek iets teë wat ek die minste verwag het: reën. Nie net ’n verbygaande donderstorm nie, maar kouefrontreën – hard en aanhoudend.

Langs die R360 tussen Upington en Askham sien ek ’n paar soutmyne op van die panne, en ek stop op Askham om Toast se sakkie sout te koop.

“Het julle growwesout?” vra ek die vrou agter die toonbank.

 “Ja, R27 elk,” kom die antwoord vriendelik maar saaklik.

“Dis ’n bargain, ek soek twee, asseblief.”

“Jy betaal hier, iemand buite by die hek sal dit vir jou bring.”

Dit word gou duidelik hoekom die vrou nie die sout oor die toonbank gee nie. Dis 50 kg-sakke! So ry ek uit Askham met twee 50 kg-sakke sout in die Condor se kattebak.

Ek volg die R360 in die rigting van die Kgalagadi-oorgrenspark se Twee Rivieren-hek. Maar voor dit draai ek wes met die R31 na Rietfontein en ry deur plekkies met name soos Welkom, Groot-Mier, Klein-Mier, Andrieskraal en Loubos City.

Die enigste ander bakens in hierdie plat wêreld is panne: Hakskeenpan, Koopan, Klein-Mierpan, Koppieskraalpan. Met die reën staan almal nou vol water.

Die pad is skaars ’n meter bo die vloer van die panne, en die water lek aan die rande van die teer.

Net voor Rietfontein se grenspos draai ek suid.

Hier het die water van die Hakskeenpan opgestoot tot bo-oor die pad, en my enigste opsie is ’n ompad van byna 150 km oor die Koppieskraalpan. Drie uur later is ek aan die ander kant van Hakskeenpan en ek ry verder suid tot by Uitsakpan.

Dis eintlik die eerste grondpad waarop ek tydens my toer ry. Dinge vorder vlot tot net buite Philandersbron.

Hier het die water van die Hakskeenpan opgestoot tot bo-oor die pad, en my enigste opsie is ’n ompad van byna 150 km oor die Koppieskraalpan. Drie uur later is ek aan die ander kant van Hakskeenpan en ek ry verder suid tot by Uitsakpan.

Uitsakpan is een van die kleiner panne in die Kalahari. Dis egter ook vandag vol, met die water wat oor die pad gestoot het – en hierdie slag is daar nie ’n ompad nie.

Maar die water lyk ’n bietjie vlakker as by Hakskeenpan, sê ek vir myself.

Ek skat daar is sowat 200 m se water om deur te ry en ek sien spore van ander karre wat die hindernis suksesvol aangedurf het. Ek skep moed en besluit die Condor sal dit maak; en laat waai.

Sowat 50 m in is die grond onder die wiele nog hard en die water raak net-net aan die kar se pens. Sake lyk goed.

Teen 100 m het ek al ’n paar dieper plekke geslaan, maar die Condor skrik nie. Nog net 100 m – byna daar!

Net toe ek wil begin feesvier, tol die wiele in ’n sagte kol modder en sand en die Condor kom tot ’n onwillekeurige stilstand, net 15 m van die droë grond af.

Die Condor en my moed sink tesame. Met die ekstra gewig van 100 kg sout in die kattebak begin die motor in Uitsakpan ínsak. Die uitlaatpyp maak slurpgeluide en water stroom die kajuit binne.

Daar is ’n kans dat die Condor soos die Titanic in twee gaan breek, sy kopligte na bo wend en dan in ’n maalkolk die dieptes in gaan verdwyn. Ek klim by die venster uit om te keer dat daar nóg water by die deur instroom, maar geleidelik raak die watervlak binne en buite die kar tog dieselfde – net so onder die asbak.

Hier’s my penarie: dis tienuur die oggend en dié pad kry nie veel verkeer nie. Met al die water gaan nóg minder karre kom vandag hierlangs. Aan die Namibiese kant van die grens sak die reën steeds uit: Die pan loop ál voller.

Ná ’n ruk se gespook in die heupdiepte modderwater om klippe onder die wiele in te kry, gee ek op en kies koers na die naaste plaashuis. ’n Uur se stap later kry ek ’n opstal, maar daar’s niemand tuis nie. Ek besluit om by die Condor te wag.

Teen omtrent eenuur die middag verskyn stof op die horison.

Dis twee plaaswerkers in ’n bakkie. Met baie simpatie vir my situasie beloof hulle om my te help, maar hulle moet eers ’n tou gaan haal. Die stofstreep verdwyn oor die horison – en kom nooit weer terug nie.

’n Uur later stop ’n Land Cruiser (met ’n wenas vooraan) langs die Condor in die water. Die boer agter die stuurwiel praat in ’n sterk Duitse aksent.

“Jy moes ’n bietjie meer in die middel gery het, Mannetjie.”

“Ek kom so agter,” sê ek. “Kan Oom my gou hier uittrek?”

“Nee, dankie,” antwoord hy, en ry sonder enige verdere verduideliking. Asof ek hom gevra het of ek gou sy ruit by ’n rooi verkeerslig kan was.

Die water trek nou al tussen die asbak en die radio.

Teen vieruur se koers kom nog ’n bakkie aan.

Dis ’n blougroen Isuzu, geroes en vol duike.

Dawid Afrikaner, Toelie Steenkamp en oom Paultjie Rooi is gospelsangers van Rietfontein op pad na Noenieput. Dié keer hoef ek nie te vra vir hulp nie. Dit word aangebied.

“Moenie worry nie, ons sal jou nie hier los nie.”

Dis nie die Christelike ding om te doen nie,” sê Dawid toe die gospelsangers hulle langbroeke oor die grensdraad hang. Hiervandaan gebeur alles in boxer shorts...

Selfs ná twee uur se gespook in die stygende water – stoot en trek, klippe en takke onder die wiele indruk, ensovoorts – knak die trio nie. As een ding nie werk nie, word daar nog ’n plan gemaak.

Uiteindelik stel iemand voor ons knip ’n ou grensdraad, vleg dit dubbel en sleep die Condor daarmee uit.

Daar is min dinge wat so goed voel soos daai eerste liniaallengte wat ’n kar beweeg ná ’n lang vassit.

Ons kry die Condor op droë grond. Hy wil natuurlik nie vat nie, maar gelukkig is oom Paultjie ook ietwat van ’n motorwerktuigkundige.

Soos ’n Kalahari-MacGyver gewapen met net ’n skroewedraaier en ’n sakdoek haal hy die verspreider uit, droog dit uit, sit dit terug en... daar vat die Condor!

Dawid klim by my in.

“Ons ry saam tot in Noenieput, want netnou gaan staan hy weer,” sê hy.

Vir die volgende 40 km praat ons SuperRugby, en oor my toekoms as ’n moontlike soutsmous in die Kaap. Die sout sal net eers moet droog word.

Die Condor se bene hou. Die drie Samaritane weier enige vorm van vergoeding – hulle is net bly hulle kon help.

Teen sononder vertrek ek uit Noenieput – ironies genoeg stééds met 20 liter mineraalwater in die kar. Maar nou het ek ook ’n asbakkie halfvol modder, en ’n nuwe waardering vir die mense in hierdie verste hoekie van ons land.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #137 (Maart 2016) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.