
Daar is sekerlik êrens in die wêreld ’n tekort aan eiers, omdat hulle in hierdie stadium waarskynlik almal teen Toyota se mure beland het.
Dit is ongelukkig die werklikheid wanneer iets skeef loop vir ’n vervaardiger met ’n reputasie vir betroubaarheid. Mense, en veral diegene wat nou maar net nie van die handelsnaam hou nie, is vinnig om enige klein probleem onder die vergrootglas te plaas.
As jy hierdie rubriek gereeld lees, sal jy weet hoe ek oor Toyota voel. Ek sal nie maklik iets anders koop met my eie geld nie. Ek is versot op die Hilux – sy enjin, ratkas, hoe hy lyk, die onbetwiste betrouaarheid en die potensiële herverkoopwaarde is myns insiens onverbeterlik.
Daar is egter ’n keersy van die munt. Hy ry nie gemaklik nie en daar is heeltemal te min luukshede wat standaard is. Daarom is my werkbakkie ’n Ford Ranger Wildtrak. Dis ’n wonderlike trokkie vol luukshede en hy sorg vir ’n heerlike rit. Die enjin is wel effe grof en die ratkas voel of hy uit die jare sewentig dateer.
Ek weet ook ek gaan nie baie vir hom kry wanneer ek hom oor drie jaar moet vervang nie, maar dis ’n maatskappymotor; dus kan ek my skouers optrek. Hy het maar 33 000 km op die klok, maar ek moes hom al ’n keer of wat na Ford toe terugneem omdat daar fout is met ’n sensor.
Omdat ek voorheen net met Toyotas gery het, is dit ’n nuwe ervaring vir my om só te sukkel met ’n nuwe voertuig.
Ek is bevrees die kritiek teen Toyota het dié slag meriete, want dit wil voorkom of ’n aantal Hilux’e, Fortuners en Prado’s probleme het met stof wat die lugfilterboks binnedring.
Dit lyk of die lugfilterboks vervorm, en dit laat ongefiltreerde lug toe om verby die filter tot in die enjin te vloei. As dié lug skoon is, is dit nie ’n probleem nie, maar as jy in ’n stowwerige konvooi op ’n grondpad ry, is die kans goed dat jou ryding se luginlaat ’n sterk dosis stof insuig.
As die lugfilter nie hierdie stof keer nie, gaan dit reguit na jou enjin toe. Stof is ’n harde materiaal, en wanneer dit met olie en brandstofgasse meng, vorm dit ’n soort skuurpasta wat tot vroeë enjinslytasie lei.
Die meeste dieselaangedrewe 4x4-voertuie het turboaanjaers en hulle is die grootste slagoffers van stof wat die enjin binnedring. Turbo-rotorblaaie kan teen tot 250 000 r.p.m. draai – teen dié spoed kan mikoskopiese stofdeeltjies groot skade aanrig aan die materiaal waarvan die rotorblad vervaardig is.
Mettertyd verweer die blaaie in só ’n mate dat daar ’n afname in die turbo se werkverrigting is. In uiterste gevalle kan verweerde rotorblaaie daartoe lei dat die besigheid van balans af raak. Die nagevolge kan katastrofies wees, met jou turboaanjaer wat geheel en al onklaar raak.
Die luginlaatstelsel in baie moderne voertuie is met elektroniese sensors toegerus wat inligting soos die lugtemperatuur en spoed aan die motor se blikbrein deurgee. As hierdie sensors met stof bedek word, kan dit verkeerde inligting weergee, en dit kan veroorsaak dat die motor oorskakel na die “limp”-modus.
Dis nie ’n algemene probleem nie en dit raak nie alle Toyotas nie. Maar dit kan enige voertuig raak. Ek raai eienaars van turbodiesels aan om hulle enjin se filtreringstelsel van die inlaattuit regdeur tot by die spruitpyp na te gaan.
Maak seker die filter is skoon en dat die omhulsel behoorlik seël. Kyk ook vir enige skade en let veral op lekplekke. Dit beteken gewoonlik probleme. ’n Baie goeie voorkomende stap is om die punt waarvan die lug ingelaat word te verskuif van die enjin of stowwerige wielboog.
Dit doen ’n mens met ’n snorkel van ’n goeie gehalte. Skoon, koel lug is stukke beter as warm, stowwerige lug... selfs al werk jou ryding se filtreringstelsel perfek.