Hentiesbaai is bekend vir sy viswaters wat hengelaars van reg oor Suider-Afrika lok.

Die eerste ou wat besluit het híér wil ek vir my ’n huisie bou, het hier opgedaag omdat hy dors was.

In 1929 was Hendrik Stefanus van der Merwe, oftewel Hentie, aan die jag in die aangrensende binneland.

Hy was op soek na ’n renoster, want ’n Amerikaanse museum het ’n groot beloning aangebied vir die volledige skelet.

Nadat hulle die renoster gevind, geskiet en die bene afgekook het, het Hentie en sy geselskap se water begin opraak.

Hulle is kuslyn toe en het suidwaarts begin beweeg tot hulle naby die monding van die Omarururivier drinkwater gekry het.

Nadat Hentie sy renosterbene verkoop het, het hy die volgende Kersfees teruggekeer na dié plek en vir hom ’n huisie gebou.

En algaande het meer mense by “Hentie se baai” kom vakansie hou om weg te kom van die binnelandse bakoond.

Vandag is Henties oor somervakansies bedrywig, maar andersins is dit ’n rustige plekkie.

Huisname soos DankiePa, Ougat en Hinderlaag getuig van ’n plek waar ’n Namibiese boer kan kom aftree, families saam kuier of, wel, mense dors raak vir meer as net water.

Dit is ook jou basis vir hengel verder teen die kus op, want dit is die laaste dorp waar jy voorrade kan aankoop.

Maar wat van daardie dae wanneer die galjoen jou aas blykbaar aspris ignoreer?

Of dalk begin die kusstrook se mistigheid jou onderkry, en jy’s nie ’n binnesit-en-blokraai-mens nie.

Hierdie 478 km lange roete oor drie dae is vir die tye wanneer Henties effens vaal raak vir jou.

Kry ’n bietjie kleur terug in julle kiewe deur binneland toe te ry!

Maak jou brandstoftenk vol op Henties – jou volgende brandstofpunt is eers op Uis, 354 km verder.

En onthou, op dag een ry jy deur die Dorob- nasionale park, wat beteken jy moet ’n permit koop om in te gaan.

Tans is daar padwerk rondom Henties; gebruik dus die aansluiting van die C35 (die pad wat van Uis af kom) by die C34-soutpad (wat noordwaarts uit die dorp loop in die rigting van Kaap Kruis) as die beginpunt van jou roete.

Druk jou metertjie sodat die 0 km-merk hier begin (S22.06678 E14.25713).

Die soutpad se oppervlak is so goed soos dié van ’n teerpad en die kilometers sing verby.

Padlangs sien jy afdraaie na visvangplekke soos Trappies, Popeye, Sarah se Gat en Myl 72.

Jy sien soutwerke en klein stalletjies langs die pad waar jy kwartskristalle kan koop.

Die stalletjies is onbeman, want wie sal nou hier in die ooptes wil sit en wag vir ’n toeris?

Indien jy by een stop en ’n kristal wil koop, gooi R50 of wat in die blikkie.

Ná 47 km, net verby die afdraai na Kaap Kruis, bereik jy die punt (S21.73393 E13.98764) waar jy regs draai, woestyn in.

Stop hier en blaas bande af, want daar wag slegte sinkplaat... en later sand en klipperigheid.

Ry ’n paar kilometer en hou stil. Klim uit en voel die ooptes om jou.

Hurk af en kyk na die ligene wat die klipperige grond soos ’n wollerige oranje tapyt bedek.

Ligene gedy hier danksy die vogtigheid wat van die Atlantiese Oseaan af indryf.

Hoewel hulle fotosinteer, is ligene glad nie plante nie.

Dis ’n saamgestelde organisme wat bestaan uit swamme wat simbioties leef saam met alge of cyanobakterieë, en hulle absorbeer koolstofdioksied, breek stikstof af en sommige soorte word deur wildsbokke gevreet.

Die berg wat jy in die verte voor jou sien uitstyg, is Brandberg, die hoogste in die land.

Die kleiner reeks links daarvan is die Gobobosebberg.

Hierdie roete vat jou oor die volgende paar dae met ’n lang ompad om die noordekant van Brandberg.

Sowat 24 km nadat jy van die soutpad afgedraai het, kry jy die eerste welwitschias aan die voet van ’n koppie (S21.57155 E14.13694).

Welwitschia mirabilis is unieke plante wat tot 2 000 jaar oud kan word.

Haal jou hoed af en knik respekvol.

Skaars 5 km verder vurk die pad (S21.53665 E14.16953).

Hou hier regs; indien jy links hou, loop die pad verby die piramidevormige koppie genaamd Koppiealleen wat links van jou lê.

As jy wil, kan jy nader ry, want die pad sluit weer by jou roete aan. Die beste navigasiemiddel vir hierdie toer is natuurlik ’n GPS met Tracks4Africa se roetekaarte.

Die aard van die paaie is só dat jy soms nie seker is wat die hoofroete is en wat eintlik net ’n sypaadjie nie.

Met Tracks4Africa het jy gemoedsrus.

Sowat 7 km verder swenk die pad effens noord; die berge rondom jou is die suidelike rand van die Messumkrater (S21.49288 E14.20455).

Dié krater is ongeveer 20 km in deursnee en die gevolg van ’n vulkaan wat 130 miljoen jaar gelede uitgebars het, min of meer toe Brandberg gevorm is.

In daardie voortyd was die supervasteland Gondwana besig om in stukke te breek.

Afrika en Suid-Amerika se skeurlyn was hier naby en die vulkaniese aksie het behoorlik gesorg vir apokaliptiese vuurwerk.

Volg die pad vir ’n paar kilometer tot jy iets ongewoons sien: ’n piekniektafel!

 

Trek af en haal jou fles koffie uit, want dié uitkykpunt (S21.47669 E14.20651) gee jou ’n wye blik oor die krater.

By 92 km vurk die pad (S21.41891 E14.18894) – hou regs en ry 3 km tot jy Bakkrans (S21.39432 E14.20303) bereik.

Hier is lae klipmure – oorblyfsels van skuilings wat deur die nomadiese Damaras gebou is.

Draai om in jou spore en ry weswaarts.

Die pad loop later verby ’n paar welwitschias wat wraggies so groot is soos ’n tiener-olifant!

Ná 22 km bereik jy die droë Messumrivier (S21.39208 E14.02337) waar jy noord draai.

Ry nou tot jy die D2303 bereik (S21.30053 E14.04168) – dit is die “grootpad” wat direk van die kuslyn af na die Ugab Rhino Camp loop. (Indien jy laat wegspring uit Henties en nie tyd kry om die draai deur die Messumkrater te ry nie, kan jy van die soutpad af direk op die D2303 afdraai en sodoende vinniger by Ugab uitkom.)

Die laaste 13 km voor Ugab ry jy ruwe rante binne.

Jy is nou buite die grense van die Dorob- nasionale park, en dít is hoekom jy net ’n parkpermit vir een dag nodig het – die res van die roete loop nie deur die park nie.

Die landskap daal skielik en jy val meer as 200 m tot jy uiteindelik die Ugabrivier bereik waar die Rhino Camp geleë is.

Jy het vandag sowat 168 km gery en dit is tyd om kamp op te slaan en ’n koue bier te geniet. Ugab (S20.96290 E14.13371) is ’n gemeenskapskamp wat ook as basis dien vir die Red die Renoster-trust, ’n organisasie wat hom beywer vir die beskerming van Namibië se swartrenosters.

Die kans is skraal dat jy ’n swartrenoster sal sien op hierdie toer, maar indien wel, handhaaf ’n goeie afstand en neem jou foto van ver af. En bly in jou voertuig.

Hierdie is ook leeuwêreld – kyk of daar vars spore in die sand lê.

Maar wees versigtig: Onlangs is iemand in die gebied aangeval – gelukkig nie noodlottig nie.

Dit is regtig wild hier; moenie dat die oënskynlik verlate landskap jou mislei nie.

Op dag twee gaan jy 107 km ry, maar dit is ’n lang dag omdat jy op plekke oor baie klipperige terrein ry en dus stadig vorder.

Ry eers 7 km terug op die pad waarmee jy gistermiddag ingery het, draai dan links (S21.01512 E14.15701) en ry teen ’n kort opdraande uit tot by die fondamente van ’n myngebou.

Hiervandaan sien jy die Brandberg-Wes-myn waar tin en tungsten van 1946 tot 1980 gemyn is.

Johannes Ndumba is al 22 jaar opsigter by die Ugab Rhino Camp. “Die Ugabrivier het die afgelope somer twee keer geloop, maar nie baie sterk nie. Die olifante is tans nie in die omgewing nie, maar leeus kom soms verby. Enkele jare gelede was hier een slag vier leeus wat teen die muur van my toiletgebou gelê het. Daai dag was ek nie badkamer toe nie...”

Die Ugabrivier se leeus

Skaars twee weke ná ons besoek aan die gebied in April vanjaar het ’n leeu die 72-jarige Charlie Ward aangeval terwyl hy en sy seun, David, teen die Egskeidingpas uitgestap het. David vertel:

Dit was kort voor sonsondergang en ons plan was om die volgende oggend teen die pas uit te ry. Intussen wou ons solank klippe pak op die eerste draai van die pas waar dit sleg uitgeskop is. Terwyl ons daar staan, hoor ons iets grom agter ons – ons het instinktief geweet hier’s moeilikheid!

Teen die tyd dat ek oor my skouer gekyk het, het die leeu reeds met sy regterpoot gekap na my pa, wat die naaste aan hom was. Ek kon dit nie glo nie! Nou’s ons dood, het ek gedink, want die leeu was gróót.

Ek het ’n klip opgetel, omtrent so groot soos my vuis, ’n brul van my eie laat hoor en hom met alle mag in die sy gegooi. Hy was skaars 1 m weg en het klaar oor my pa gestaan. Die leeu het ’n paar meter terug­gespring, en teen die tyd dat hy omgedraai het, was my pa al op, ook met ’n klip in die hand. Ons het laat waai. Die leeu het 20 m geretireer en grommend op ’n kliplys gaan lê.

Ons het stadig agteruitgestap terwyl ons aanhou skree en klippe gooi en hom in die oog hou. Ek het gesien my pa se been bloei. By die Landie het ek die wond skoongemaak en verbind, en ons het vinnig opgepak en omgedraai. Ek het deur die nag gery tot in Windhoek, maar gelukkig het die bloeding gestop. Om 07:00 die volgende oggend was ek by die Mediclinic waar my pa 20 steke moes kry. Hy het goed herstel.

Volgens Andrew Malherbe, bedryfsbestuurder van die Red die Renoster-trust, het dieselfde leeumannetjie kort tevore vir Johannes Ndumba, opsigter by die Ugab Rhino Camp, drie dae lank in sy huis vasgekeer. Toe Johannes uiteindelik daarin kon slaag om weg te kom, moes hy padlangs die woestyn instap om hulp te soek, want daar’s geen selfoonontvangs by die kamp nie.

Kort ná die Egskeidingpas-voorval is twee ander kampeerders, Helge en Irene Denker, in die Numasrivier naby die Brandberg aangeval, maar hulle is nie beseer nie. Die leeu is sedertdien opgespoor, verdoof en na N/a’ankusê oos van Windhoek verskuif.

“Ons weet nie of ander leeus in die Ugab­rivier dalk dieselfde gedrag kan toon nie,” sê Andrew. “Ons vermoed iemand het iewers vir hulle kos uitgesit en nou vereenselwig hulle voertuie en mense met kos. Dit is hoekom dié leeu nie bang was vir mense nie.

“Die Ugab Rhino Camp bly toe omdat ons personeel nie veilig voel daar nie. Toeriste besoek dus die kamp op eie risiko, en daar is ook geen personeel wat enige dienste kan lewer nie.”

Volg David Ward op Facebook by “Road Trip Namibia”. Vir meer inligting oor woestynleeus sien desertlion.info, volg nuus oor die Red die Renoster-trust by  savetherhinotrust.org en Helge Denker vertel sy storie by conservationnamibia.com.


Ry deur die myngebied waar murasies van werkershuise en ou bande te sien is – en palmbome wat beter dae geken het – tot jy in die oopgroefmyn kan afkyk (S20.99854 E14.15673).

Jy kan met die kronkelpad afry tot by die poel blougroen water wat daar wink.

As jy gaan swem, moenie water sluk nie, beskerm jou oë en spoel jou agterna met vars water af.

Ry tot by S21.00834 E14.15837 en draai oos in ’n rivierbedding op, weg van die myngebied af.

’n Kilometer verder swenk die pad na links (noord, S21.01017 E14.16766) – binnekort sal jy ’n karwrak gewaar (S21.00696 E14.16972).

Die klipperige pad is redelik maklik om te ry en vat jou stadig tot bo-op ’n skurwe bergrug wat direk noord loop in die rigting van die Ugabrivier.

Sodra die pad begin afdaal na die rivier, is dit tyd vir jou laestrekratte.

By hierdie punt is veral ’n slegte trappie: S20.95760 E14.20004.

Wanneer jy die Ugabrivier bereik, draai regs (oos) en stop ’n kilometer of wat verder om na die indrukwekkende rotsformasies te kyk (S20.96308 E14.21183).

Hou jou verkyker byderhand, want dalk gewaar jy ’n skaars witborsjakkalsvoël.

Net 1 km verder draai jy links uit die rivier (S20.95850 E14.21629). Dit is die begin van die Egskeidingpas en die enigste tegniese deel van die roete.

Ry in laestrek, maar stap eers deur die moeilikste deel van die roete – die paar honderd meter aan die begin daarvan – en kyk of daar gate is wat jy met klippe moet toepak.

Laat die karre in jou konvooi een vir een deur die rowwe dele ry.

Onthou, daar’s geen omdraaiplek nie!

Wanneer jy deur die ergste is, stop om te kyk na die ou klipmure van Damarahuisies (S20.94675 E14.21675).

Die tweespoor vat jou nou stadig maar seker dieper Damaraland in.

Die rywerk raak makliker, maar plek-plek het jy weer laestrek nodig.

Jy kruis die Goantagabrivier (S20.82371 E14.32194), ’n sytak van die Ugab wat sy water uit die berge suid van Khorixas kry.

Jy is amper halfpad vir die dag, maar die rywerk gaan nou vinniger.

Die veld maak oop en die roete is ’n kombinasie van sanderige vlaktes en droë rivierbeddings, terwyl die rante noordwes van die pad die Doroskrater verskuil. (Ons roete draai nie af na die Doroskrater nie, maar jy is welkom om ’n paadjie soontoe te soek as jy wil gaan kyk.)

Wanneer jy ’n T-aansluiting bereik (S20.72891 E14.34694), draai jy regs.

In hierdie deel van Damaraland word in goeie jare geboer, en jy ry soms verby (meestal) verlate veeposte, soos by S20.74827 E14.37992.

Moenie staatmaak op hierdie punte as waterbronne nie; ’n sonpomp beteken nie noodwendig die boorgat het water nie.

By S20.75234 E14.39834 is jy terug in die loop van die Goantagab.

Die pad loop ongeveer 7 km al in die sanderige rivierbedding voor jy links uitdraai (S20.76779 E14.44426) en die loop weer verlaat.

Nou is dit 21 km tot by die D2612-grondpad (S20.65797 E14.56755), waar jy regs draai.

Hierdie is die noordelikste punt op die roete. Ry 15 km met die D2612 tot jy die afdraai na die Madisa-kamp regs sien – dis waar jy slaap vanaand (S20.72484 E14.68068).

Op dag drie kan jy maklik van Madisa af terug Hentiesbaai toe ry en dan op Uis bene rek of brandstof ingooi.

Maar as jy nou eers lekker begin kuier in Damaraland, kan jy nog ’n aand oorslaap – die Brandberg White Lady-lodge is op jou pad en jy kan daar tentpenne inkap.

Soek die paadjie wat suid wegdraai (S20.72970 E14.68457) van die Madisa-kamp af.

Ná ’n rukkie laat jy die granietkoppies en mopanieveld agter en ry ’n oop woestynlandskap binne – dié plaas se naam is hoeka Duineveld.

Wanneer dit goed gereën het in die somer, sal hier gras staan, maar andersins lyk dit soos die Kalahari.

Ná 14 km bereik jy ’n veepos (S20.84464 E14.66254) waar ’n enkele boom bo-op ’n duin staan.

Dit is die enigste ordentlike duin op jou roete, maar as jou bande lekker sag is, behoort jy dit maklik uit te ry.

Vir die volgende 12 km loop die pad pylreguit. Jy laat die sandveld agter en ry teen ’n geleidelike afdraande na die Ugabrivier.

Die Brandberg doem dramaties voor jou op. By die plaas Saulstraat staan ’n fotogeniese rooi huisie (S20.93793 E14.72065); hier maak die pad ’n effense kinkel voordat dit vir nóg 9 km daal tot by die Ugab, waar jy by die kampterrein van die Brandberg White Lady-lodge inry.

Volg die pad deur die terrein tot by die ontvangskantoor (S21.01347 E14.68653) waar jy ’n yskoue Coke by die restaurant kan bestel.

As jy wil swem, moet jy vanaand oorbly, want dagbesoekers mag nie die swembad gebruik nie. Brandberg White Lady is gewild omdat dit as basis dien vir toeriste wat met die hoofroetes deur Damaraland toer.

Hiervandaan kan jy 10 km uitry om die Wit Vrou-rotstekening te besigtig – die parkeerplek is by S21.09373 E14.67625 en toegang is R80 p.p. – óf in die Ugabrivier afry om na rotsformasies te kyk (S21.00842 E14.73215) wat kompleet lyk soos die borrels van ’n Aero-sjokolade.

Olifante wat aangepas is vir die woestyn, trek ook soms hier verby – dalk is jy gelukkig.

Maar weer eens: Pasop vir die leeus.

Indien jy haastig begin raak, druk deur Uis toe.

Van die Brandberg White Lady-lodge af volg jy die D2359 tot jy by die C35 kom – draai regs na Uis, wat 15 km verder lê.

Gaan maak tenk vol by die Engen (S21.21944 E14.86927) en saal dan af vir iets te ete by die Brandberg-ruskamp (S21.21932 E14.86761) af in die straat óf by Cactus & Coffee (S21.21631 E14.86305) aan die noordwestelike hoek van die dorp.

Dit is 123 km van Uis af terug Hentiesbaai toe met die C35... Wie weet, dalk byt die vis weer!

Permitte vir die park

Die Dorob- nasionale park is in 2010 geproklameer om die sensitiewe kuslyn en aangrensende woestyngebied van Walvisbaai tot teen die Ugabrivier te beskerm.

Permitte is te kry by die kantoor van die departement van omgewing, bosbou en toerisme (kortweg die MET) op Swakopmund of Walvisbaai.

Dagtariewe vir SAOG-burgers R100 p.p. (R50 vir kinders van 9-16 jaar; gratis vir o.8’s.) Namibiërs betaal minder; oorsese toeriste meer.

Waar is die kantore?

Swakopmund Hoek van Sam Nujomalaan en Bismarckstraat (S22.67860 E14.52395) 00 264 6 440 4576

Walvisbaai In die mees noordoostelike straatjie wat Eerste en Tweede Straat verbind (S22.94498 E14.50492). Die gebou is gehawend en ’n mens dink dis ’n verlate plek. Ry in by die erf en parkeer agter – die ingang is daar. 00 264 6 420 5971

Ek wil ook gaan!

Kan ek op my eie ry? Ry vir jou eie veiligheid in ’n konvooi van minstens 2-3 voertuie. Dele van die roete is erg afgesonder – vernaam dag 2. Jy moet selfversorgend wees wat kos én drinkwater betref.

Hoe lank? Die roete is 478 km, maar dit raak maklik langer as jy ekstra draaie bysit. Jy kan dit binne drie dae doen, maar vier is beter – dan kry jy kans vir rus!

Waarmee moet ek ry? Jy het ’n 4x4 nodig met ’n laestrekratkas. Moenie in ’n kar ry met goetertjies wat kan vashaak of afval nie.

Hoeveel brandstof het ek nodig? As jy op Henties volmaak, behoort jy Uis te haal – maar neem tog ’n ekstra kan of twee saam.

Watter noodtoerusting moet ek pak? Alles van ’n sleeptou tot iets waarmee jy ’n lekkende band kan regmaak. Sorg dat daar minstens een pomp tussen die voertuie is sodat julle banddruk kan verlaag en verhoog soos nodig.

Mag ek sleep? Ons het nie met ’n sleepding gery nie. Die grootste deel van die roete is geskik vir boswaens, maar die Egskeidingpas is nie enigiemand se maat nie – ry dus liefs sonder iets op die haak. Jy kan maklik al die oornagplekke met distriksgrondpaaie ook bereik, en op dié paaie kan jy ’n boswoonwa sleep.

Goeie hulpbronne Bestel Johan Snyman se Damaraland-gids (R350) by johans@iway.na. InfoMap se Damaraland-Wes-Namibië-kaart gee ’n goeie oorsig van die streek (R138 by infomap.co.za).

Plaaslike noodnommers 085 900 of 00 64 500 346 (Hentiesbaai)

Covid-dinge Teen druktyd het Namibië erg deurgeloop onder Covid-19. Volg die nuus om te sien wat die jongste grensmaatreëls vir besoeke aan die land geld – jy gaan beslis ’n negatiewe Covid-uitslag nodig hê wat vir 7 dae geldig is.


Hier het ons gebly

Ugab Rhino Camp

Hier is geen krag nie, maar kouewaterstorte en puttoilette. Bring jou eie drinkwater.

Let wel Dié kamp is tans gesluit weens leeu-aanvalle.

Prys Jy betaal ’n donasie wat gaan na die Namibiese Red die Renoster-trust. R100-R150 p.p.p.n. word voorgestel – bring kontant saam daarvoor.

Kontak Hulle het nie selfoonsein of internet nie, en daarom kan jy nie bespreek nie – daag maar net op. Madisa-kamp Die private kampplekke is ruim en elkeen het ’n afdak met ’n tafel en sitplek.

Jy het jou eie badkamer met ’n spoeltoilet en stort met warm water. Groter groepe kan goedkoper kamp op die staanplek vir oorlandreisigers, maar dan deel jy ’n badkamer.

Prys R240 p.p. wat deel op ’n private staanplek (maksimum 6 mense) en R180 p.p. wat deel op die overlander-staanplek (maksimum 10).

Of slaap oor in een van hulle koepeltente (R300 p.p. wat deel) of baie netjiese safaritente (vanaf R500 p.p. wat deel).

Kontak 00 264 81 698 2908; madisacamp.com

Brandberg White Lady-lodge

Die kampeerterrein is op die oewer van die Ugabrivier onder groot ana-, kameeldoring- en hardekoolbome.

Jy deel ’n badkamer met jou buurman – die kampopsigter stook soggens en saans jou donkie sodat jy warm water het.

Hier’s geen krag nie, maar jy kan selfone en batterye laai by ontvangs.

Etes is beskikbaar in die restaurant. Prys R150 p.p.p.n. en R50 per voertuig (eenmalig).

Hulle het ook luukse lodgeverblyf – sien die webwerf.

Kontak 00 264 6 468 4004; brandbergwllodge.com

Brandberg-ruskamp

Basil Calitz-hulle se plek in Uis se hoofstraat het een van daardie stoepe waar jy tot ounag wil sit en stories luister.

Hier is kampeerplek met krag, netjiese kamers, ’n restaurant en ’n swembad so groot soos ’n halwe Olimpiese swembad! (Die myn gebruik dit tans as ’n reservoir en pomp dit soms leeg.)

Prys R150 p.p. wat deel vir kampering; vanaf R500 p.p. wat deel vir kamers.

Kontak 00 264 6 450 4038; brandbergrestcamp.com

Dankie aan Fujifilm vir die X-S10-kamera wat ons vir hierdie toer kon leen.

Kontak myfujifilm.co.za