Die wintermaande is sinoniem met ’n paar dinge: Die aalwyne blom dat die biesies bewe, en as jy wil biltong maak, is dit nóú die tyd... Maar as jy kamp, sit jy m et die hande in die hare.

In die binneland vries die water in die krane en in die Kaap is dit reënseisoen. Die Krugerwildtuin is ’n gawe opsie omdat die bos dan yler is en diere watergate toe mik, maar dit is ook die besigste seisoen en daar’s ook net soveel plek.

Vir ’n aangenamer klimaat in die kouer maande klop min plekke die KwaZulu-Natalse Suidkus.

Dis net sewe uur se ry van Gauteng en Bloemfontein af, en jy kan binne ’n dag weg wees uit die winterwêreld.

Natuurlik is hier ’n ooraanbod van kampplekke. In die 150 km of wat tussen Durban en die Wildekus is hier maklik 35 woonwaparke waaruit jy kan kies.

Skaars ’n uur suid van Durban loop jy ou bekendes raak. Ons trek af by Mac Nicol’s- en die Scottburgh-woonwapark.

’N DORP OP SY EIE. Al is die naaste groter winkels omtrent 30 km hiervandaan in Scottburgh, het jy geen rede om soontoe te ry nie. Mac Nicol’s se winkel is goed toegerus vir seevakansiegangers, en op die stoep is daar selfs gratis wifi. As jy ’n private badkamer verkies bo gedeelde geriewe, moet jy vroegtydig bespreek, want net agt van die staanplekke beskik oor dié luukse. Maar met die res van die staanplekke skort niks nie, want jy kamp in ’n paradys.

MAC NICOL’S-WOONWAPARK

Goue bruilof Vakansieoorde teen hierdie kus word in twee groepe verdeel deur die bekende treinspoor van 111 km tussen Durban en Port Shepstone wat in 1907 voltooi is: Daar’s dié teenaan die see en die res anderkant die treinspoor, binneland toe.

Mac Nicol’s se hek is 130 m van die strand af, en die treinspoor loop tussen die hek en die strand deur. Vanjaar is ’n spesiale jaar vir die Mac Nicol-familie, want hulle is nou 50 jaar in die kampbedryf nadat hulle hulle eerste kampplek, die Ifafa-woonwapark, gekoop het. Volgende was Mac Nicol’s.

Die oord was boonop een van die baanbrekers wat uitleg betref, want toe die familie dit in 1983 gekoop het – tot in daardie stadium was die plek bekend as Hi-Lee – was hier reeds private badkamers op van die staanplekke.

Vandag bou al hoe meer kampplekke private geriewe op staanplekke. Hier is ’n raps meer as 120 staanplekke wat in nege groepe verdeel is.

Maak gerus ’n draai op hulle webwerf waar jy kan sien hoe elk van die groepe lyk.

Dit sluit in ’n kaart van die oord wat wys waar die groep staanplekke in die groter oord inpas, plus ’n beskrywing van die staanplekke én ’n opsomming van die naaste badkamers. Goed agtermekaar.

Die ontvangskantoor en winkel is direk ná die hek langs mekaar, en van hier af loop die oord links om ’n kop tot teenaan die Ifafa-strandmeer.

Die winkel is tipies wat ’n mens van ’n seevakansieoord verwag: Hier kry jy enigiets van algemene kruideniersware soos rys, tamatiesous, eiers en aanmaakkoeldrank tot roomys, lekkergoed en strandballe. Ook drank – en selfs hardehout – is hier te koop.

Die eerste groep van agt staanplekke is net verby die kantoor. Hulle is rug aan rug uitgelê en spog met die private geriewe.

Die staanplekke is afgebaken met hoë struikheinings wat dit redelik privaat maak, al is jou bure naby.

Vergeleke met die res van die oord se staanplekke is hierdie van die kleinstes, maar dis steeds ruim genoeg vir ’n sleepvoertuig en middelslag-woonwa met sy tent.

Mac Nicol’s is omtrent toegegroei onder die koeltebome, maar dié staanplekke se bome is yl. Sorg dus vir jou eie koelte.

Jou badkamergebou het twee vertrekke: Die storthokkie, toilet en wasbak is in die een vertrek, met die wasbak vir skottelgoed langsaan.

Die warm water word deur ’n gasgeiser verskaf. Die kragpunt is agter in die hoek van die staanplek en gebruik ’n gewone driepunthuisprop.

Verby die private staanplekke swenk die pad na regs, met die res van die staanplekke wat van hier af volg.

Die eerstes is op verskeie terrasse uitgelê met die lieflikste koeltebome wat herinner aan ’n tropiese tuin. Van die staanplekke het ook struikheinings.

Hierdie 40 of wat staanplekke is deel van die oorspronklike woonwapark wat die Mac Nicol-familie gekoop het.

Waar die bome nie te veel skaduwee gooi nie, is die gras welig, maar uiteraard is dit yler in die dele wat minder son kry.

Die Lagoon- en Froggy Pond-staanplekke is skuins agter die tweede groep staanplekke en is meer in die oopte. Hier is ook terrasse, gras en bome, en jou kragpunt (wat lyk of dit 2-4 staanplekke bedien) met die vullisdrom is digby.

Die krane is maar min, maar dit het ’n trog van 1 x 1 m om ’n modderspul te keer. As jy van die hek af reguitaan ry, kry jy net voor die parkie met sy twee trampoliens en ’n pypraamklouterplek, swaaie en ’n glyplank ses groot staanplekke.

Dis die Mango Valley- en Stream-staanplekke se ses kampgedeeltes. Volg die pad verder en dit loop aan die rugkant van die Lagoon-staanplekke verby tot by die strandmeer.

Hier is nog speelplek: ’n houtklouterraam en ’n vlugbalbaan op sand. En dan lê daar ’n hele paar kano’s op die wal wat jy kan gebruik – jy betaal R20 vir roeispane by die sekerheidswag.

Die agt staanplekke van River View is naas die Lagoon-staanplekke uitgelê. Ná die trampoliens loop ’n pad regs die bult op na die verste staanplekke toe. Dit is die Fish Eagle-staanplekke, die nuutstes wat in 2000 uitgelê is op hoë terrasse.

Dit lyk of die meeste van hulle die blou woonwasok vir elektrisiteit gebruik. Die staanplekke hoër op het minder koeltebome en die gras groei lieflik welig.

Hier het die krane nie ’n betontrog nie, maar die gras is só dig dit behoort nie ’n plas te vorm nie.

Die onderste staanplekke nader aan die water het meer koeltebome, en net verby die onderste punt is ’n houtdek teenaan die water. Dit sluit in ’n paar gemesselde braaiplekke met roosters as jy digby die water wil staan en kuier.

Mac Nicols het ’n klompie badkamergeboue wat deur die oord versprei staan – by die Fish Eagle-staanplekke is twee. Die storthokkies is enorm en jy het ’n bankie om goed neer te sit.

Die wasbakke se blad is effens laag – so in die middel van jou bobeen – maar jy’t baie pakplek. Die wassery met sy wasmasjien en tuimeldroër is in die middel van die gebou en werk met ruilmunte wat teen R20 by die winkel beskikbaar is.

Die badkamers by Lagoon is groter, met meer geriewe wat die waskamer insluit. Nog ’n entjie verder is ’n gebou met twee deure wat gemerk is vir mans en vroue.

Die een het ’n bad en die ander ’n stort, en hier is ook ’n waskamer.

Die ou deel het die grootste geriewe.

Die twee swembaddens is tussen die oorspronklike staanplekke en die Lagoon-kamp. Een van hulle is vlak genoeg vir kinders en die dieper een word selfs dié tyd van die jaar verhit.

Hier is ook ’n lapa en braaiplekke as jy lus voel om saam met vriende te kuier en ontspan.

Die groot hek voor Mac Nicol’s staan toe, maar as jy see toe wil stap, gebruik jy die klein hekkie in die groter hek. Dié staan ook toe, maar is nie gesluit nie.

Maar jy kan gerus wees, want die sekerheidsmense hou wel ’n ogie daar. Met ons besoek was daar menseredders op die strand aan diens.

Kortliks

Mac Nicol’s Kampplek 121 staanplekke wat wissel van afgebaken tot in die oopte. Die meeste van hulle het gras en bome.

Ablusiegeriewe ’n Paar badkamer- geboue wat deur die oord versprei staan plus ’n groep staanplekke met eie geriewe.

Prys Vir die gewone staanplekke kos dit R200-R450 p.p.p.n. (kinders R100-R225), afhangende van die seisoen, plus R85-R230 p.n. vir die private staanplekke. Vir ’n hond betaal jy R35 p.n. maar hulle word net in die stil tye toegelaat.

Aankoms- en vertrektyd 14:00 en 10:30.

Kontak 039 977 8863 of 073 153 0818; macnicol@scottburgh.co.zamacnicol.co.za

Naaste dorp Scottburgh 27 km

Hoe lyk die pad? Teer tot in die oord.

GPS S30.451379 E30.654005

Ry & Sleep sê Gratis wifi is beskikbaar in die deel voor die winkel.