Viëtnam. Op die wêreldkaart lê dié S-vormige land knus teen die Suid-Chinese See. Dit word begrens deur China na die noorde, en Kambodja en Laos na die weste.

Ons het uit Denpasar in Bali (sien Weg #191 vir dié deel van ons toer) tot in Ho Chi Minh City gevlieg. Met ons eerste tree uit die lugverkoelde Tan Son Nhat- internasionale lughawe tref die humiditeit ons – dit voel asof ons in ’n sauna instap! Dis laat in September, die natste, drukkendste maand in Ho Chi Minh City.

Ons neem ’n bus van die lughawe tot in die middestad en die eerste ding wat jou opval, is die aantal motorfietse en bromponies op die paaie. Dis bedrywig! Volgens statistiek is hier meer as 8 miljoen motorfietse in Ho Chi Minh City se strate – verbeel jou die chaos! Motorfietse is die algemeenste vervoermiddel. Dis vermaaklik én indrukwekkend om te sien wat alles op twee wiele vervoer kan word: honde, hoenders, vragte groente, vrugte, kinders (soms tot vyf op ’n slag!)...

Ho Chi Minh City, voorheen bekend as Saigon, is Viëtnam se grootste stad en in die suide (Hanoi in die noorde is die hoofstad). Ho Chi Minh City was ná afloop van die Viëtnam-oorlog in 1975 herdoop en genoem na die Viëtnamese rewolusionêre leier Ho Chi Minh. Vandag is dit ’n bedrywige metropool en die ekonomiese hartklop van die land. Wat argitektuur betref, spog dit met moderne wolkekrabbers én geskiedkundige Franse koloniale geboue soos die pienk Saigon Notré Dame-katedraal en die Museum vir Beeldende Kunste.

By ons Airbnb-woonstel laai ons ons rugsakke af en ná ’n vinnige stort vaar ons die strate in. Talle van die toeriste-attraksies is redelik na aan mekaar en ons verken ’n groot deel van die stad te voet.

Ons besoek eers die War Remnants-museum. By die ingang staan ’n arsenaal van militêre toerusting, onder meer ’n Amerikaanse M48 Patton-tenk, en ’n Bell UH-1 Iroquois-helikopter (die befaamde “Huey” van die Viëtnam-oorlog). Binne die gebou is drie verdiepings waar foto’s, anti-oorlogsplakkate, vuurwapens en artefakte uitgestal word.

Voor ons besoek aan Viëtnam was ons kennis van die oorlog beperk tot Hollywood-rolprente soos We Were Soldiers en Good Morning, Vietnam.

Dit was insiggewend om die gebeure uit die Viëtnamese perspektief te sien, veral die langdurige impak van iets soos Agent Orange, die gifstof wat deur die Amerikaners wyd oor landbougrond en woude gespuit is, maar ook mense affekteer het.

Handgemaakte lanterns in Hoi An.
Die besige strate van Ho Chi Minh City, voorheen bekend as Saigon.
Shivani en Joubert geniet die straatkos by die in Co Giang Quan-straatmark in Ho Chi Minh City. Almal sit op klein plastiekstoele en -tafels en kos word vars bedien.

Hou koers in Ho Chi Minh

Later wandel ons in die strate verby neonverligte geboue en winkels. Ho Chi Minh City oorweldig jou sintuie met kleure, reuke en geluide. Op sypaadjies word kos gemaak met die gezoem van motorfietse ’n konstante geluid in die agtergrond.

Ons koop middagete by ’n kostrolletjie, waarop groot gekryf staan: Banh Mi. Dié is ’n Viëtnamese toebroodjie. Agter die glasskerm van die trollie lê ’n hoop broodrolletjies wat lyk soos baguettes, ’n bak vol eiers en in plastiekbakkies bestanddele soos gepiekelde witradys en wortels, komkommer, koljander en verskillende vleise.

Die tannie wat die stalletjie bedryf, kan nie ’n woord Engels praat of verstaan nie, maar sy kon sien ons is rasend honger. Sy vat haar spaan en wys na elke bestanddeel en vra in Viëtnamees of ons dit op die rolletjie wil hê of nie. Ons verstaan haar plan, en soos ons ons koppe knik, gooi sy die bestanddele in ’n wok en braai als gaar voor sy dit op ’n broodjierolletjie pak en afrond met ’n bietjie rissiesous. Net daar op die besige straathoek eet ons die lekkerste toebroodjie van ons lewe!

Dis bekostigbaar, want ’n Banh Mi kos tussen VND10 000 en VND30 000 (R7 tot R22; VND staan vir Vietnamese Dong).

Vir die volgende deel van ons toer sluit Wessel van Wyk, ’n boesemvriend van Joubert, en sy verloofde, Shivani Ghai, by ons aan. Wessel se vlug uit Suid-Afrika is egter met ’n dag vertraag, maar ons ontmoet vanaand solank vir Shivani, wat al ’n week vantevore na Viëtnam gevlieg het.

Sy is ’n gesoute reisiger en stel voor ons besoek die nagkosmarkte van Ho Chi Minh City. In Viëtnam is die straatkos koningskos! Pleks van die byderwetse Ben Thanh-kosmark, besoek ons die Co Giang Quan-straatkos-mark in die agterwyke van Distrik 1. Hier proe ons tradisionele disse soos Oc (seeslakke), Goi Cuon (springrolls) en Ba La Lot (maalvleis toegedraai in pienangneutblare gebraai op die vuur). Die kos is lekker, die bier koud en ons kuier gesellig saam met ’n paar locals terwyl daar elke nou en dan ’n reënbui oor die rumoerige stad uitsak.

In Viëtnam is die straatkos koningskos!

Wessel land die volgende dag en ons vaar weer die strate van Ho Chi Minh City in. Ons besoek die Ben Thanh-kosmark en drink Ca Phe Da (Viëtnamese yskoffie) in een van die kafees. Dié koffie is sterk en geurig en word bedien met ys en kondensmelk.

Joubert koop Banh Mi-toebroodjies by ’n kosstalletjie langs die pad.

Ons eerste groot daguitstappie is na die Cu Chi-tonnels en Mekongdelta. Ons het vriende gemaak met ons Grab-drywer (hulle weergawe van Uber) van die vorige aand en hy het aangebied om ons gids vir die dag te wees.

Ons stop eers by die Cu Chi-tonnels sowat ’n uur buite die stad. Dié tonnels is tydens die oorlog gebruik as verspreidingsnetwerk vir medisyne, kos en ammunisie en het ook gedien as skuiling vir Viet Cong-vegters (die Viet Cong was die kommunistiese versetbeweging wat teen die Amerikaners geveg het).

Op die begeleide toer is daar ’n geleentheid om ’n paar meter deur die beknopte tonnels te kruip – dis beslis ’n uitdaging vir mense met engtevrees, en lang of groterige mense sal sukkel om deur die smal tonnels te wriemel. Jy kan selfs ’n bietjie teiken skiet met ’n AK47 as jy lus is! Wessel en Joubert het van die kans gebruik gemaak – jy moet fyn korrel om die teikens 30 m verder te tref!

Die Mekongrivier is die 12de langste rivier in die wêreld. Dit ontspring in die Himalajas in Tibet en vloei deur vyf lande voor dit Viëtnam bereik. Ons neem ’n bootreis deur die kanale wat kronkel deur digte palmwoude en besoek verskeie eilande in die uitgestrekte delta. Verder proe ons kokosneut-lekkers en kyk ’n musiekkonsert.

Ons is eers ná donker terug in Ho Chi Minh City en klim vroeg in die bed. In Viëtnam kom jy nie vakansie hou om te rus nie – jy is die hele dag aan die gang en op jou voete.

Jacqueli bekyk ’n vegvliegtuig in die War Remnants-museum.
Jacqueli en Joubert (voor) en Wessel en Shivani (agter) elk met ’n Viëtnamese hoed (non la) geniet die bootreis in die Mekongdelta.

Hokaai in Hoi An

Die lanterns in die strate van Hoi An se ou dorp skep ’n romantiese atmosfeer.

Die geskiedkundige rivierstad Hoi An is rofweg halfpad tussen Ho Chi Minh City en Hanoi. Ons vlieg twee uur van Ho Chi Minh noord na Da Nang met die laekostelugredery VietJet Air.

Van die lughawe is dit nog sowat ’n uur met ’n taxi tot by ons gastehuis, Green World Hoi An Villa.

Hoi An was ’n belangrike hawe van die 15de tot 19de eeu en het oorsese invloede van onder meer Japan en China, maar ook Europa. Die geboue in die ou deel van die stad (Old Town), is só goed bewaar dat dit in 1999 as ’n Unesco-wêrelderfenisterrein aangewys is.

Die karaktervolle Old Town is gewild onder toeriste en het klerewinkels, restaurante en straatmarkte. Hoi An is ook bekend as die “lanternstad”: Saans word die strate verhelder met kleurryke, handgemaakte lanterns en al die liggies wat op die rivier weerkaats skep ’n romantiese atmosfeer.

Ons maak ’n draai by Hoi An se bekendste baken, die Japannese brug. Hierdie 18 m lange houtbrug, kompleet met ’n Japannese teëldak, is in 1590 gebou. Ons wandel in die steenstrate tot by die Hoi An-aandmark waar Joubert die enigste dapper een is en proe aan padda, seekat en krap. Die padda word op ’n sosatiestok ingeryg en oor die kole gebraai. Dit proe nes hoender, reken Joubert. Wessel en Shivani is albei veganiste en vermy dus die vleis en seekos, en smul eerder aan gebraaide mielies.

Vissersbote lê geanker op Cham-eiland.
Straatkos en yskoue bier in Ho Chi Minh City.
Joubert ná die bromponie-ongeluk naby die My Son-tempels; wonde versorg en reg vir nóg avontuur.

Die Cham-eilande is ’n groep van agt granieteilande waar snorkel gewild is. Van Hoi An vaar ons die volgende dag uit met ’n motorboot – dit is sowat 14 km en 30 minute se gehop en vasklou oor die see tot ons die enigste bewoonde eiland, Hon Loa, bereik.

Die Cham-eilande is ’n groep van agt granieteilande waar snorkel gewild is.

Ná ’n stappie deur die vissersdorpie klim ons in die turkoois water waar mooi koraalriwwe wag. Ongelukkig duur die snorkelsessie nie lank nie, want hier’s iets onsigbaars in die water wat ons steek: klein, deurskynende jellievisse!

Ons klim maar terug op die bote, en bewonder die koraal van bo. Die uitstappie word afgesluit met ’n seekosfeesmaal op die strand voor ons teen drieuur die middag terugvaar na Hoi An.

Die volgende dag besoek ons nóg ’n wêrelderfenisterrein, die My Son-tempels. Ons huur bromponies by die gastehuis en ry vroegdag die 40 km soontoe. Die eerste 25 km van die rit is op ’n hoofweg – dis ’n mooi teerpad, maar daar is baie vragmotors. Nadat ons die Thu Bon-rivier kruis, raak die pad smaller en die landskap meer landelik.

By My Son lê vervalle Hindoe-tempels en grafkelders versteek in ’n bergagtige vallei. Die tempels is tussen die 4de en 13de eeu deur die Champa-beskawing opgerig. Meer as 70 tempels is gebou en My Son was die godsdienstige middelpunt van die Champa-koninkryk. Baie van die tempels is deur Amerikaanse bomme beskadig tydens die oorlog.

Op pad terug na Hoi An trek ons af vir brandstof. Soos ons indraai na die vulstasie, gee die bromponie onder ons mee en ons tref die teer. Joubert se elmboog, knie én voet is gesny en die bloed tap. ’n Vrou probeer help, maar kommunikasie is ’n uitdaging. Ons besef egter mettertyd sy wil ons na die naaste kliniek begelei. Sy ry toe vooruit op haar bromponie met Joubert en Wessel agterna op ’n ander bromponie.

’n Verpleegster by die kliniek maak die wonde skoon en verbind dit netjies. Skaars 20 minute later klim ons weer op die bromponie en ry sonder verdere voorval terug na Hoi An. Ons moes wel later die aand weer hospitaal toe gaan om steke te laat insit – hier word steke sommer sonder lokale verdowing ingesit!

Jacqueli verwonder haar aan een van die vervalle My Son-tempels.

Die hoogtes in by Hai Van

’n Plaaslike inwoner ry die mistige Hai Van-pas

Vroegoggend pak ons ons rugsakke en reis terug na Da Nang. Ons moet vanaand ’n trein haal na ons volgende bestemming, maar daar’s nog ’n plek wat ons wil sien voor ons die omgewing verlaat – die Hai Van-bergpas.

Hai Van is ’n 21 km lange pas net noord van Da Nang. In 2008 het die ouens van die TV-program Top Gear die pas aangewys as een van die beste kusroetes in die wêreld.

Ons huur weer bromponies by ’n winkel in die stad en los sommer ons rugsakke daar.

Hai Van laat jou dink aan Chapmanspiekrylaan in die Kaap, maar dit styg hoër uit – tot op 500 m bo seevlak. Die pad kronkel al langs die kus met asemrowende uitsigte van die Suid-Chinese See.

Al die sigsag- en haarnaalddraaie maak dit ’n opwindende rit op ’n bromponie, maar by tye ook senutergend: Jy moet ’n bekwame bestuurder wees as jy die roete wil aanpak. Ons hou kort-kort stil om foto’s te neem en die uitsig te bewonder. Joubert het ’n GoPro bo-op sy valhelm om die aksie te verfilm.

Dit raak mistiger hoe hoër ons met die pas klim en bo is dit koud. By ’n padstalletjie eet ons noedels en drink kokosneutwater voordat ons terug ry tot by Da Nang.

Terug in Da Nang tel ons weer ons rugsakke op en ontspan dan op plastiekstoele in ’n kafee oorkant die treinstasie. Ons het sowat twee uur voor ons trein vertrek en ons speel solank ’n paar rondes Monopoly en drink bier.

Vanaand neem ons die oornagtrein van Da Nang na Ninh Binh, 670 km verder noord. Dis die enigste trein wat oornag van suid na noord deur Viëtnam loop en sowat 30 ander reisigers klim later saam met ons op.

Die proses is vinnig en maklik: Ons wys ons kaartjies op ons fone, en maak onsself dan tuis in ons kompartement met vier beddens, elkeen met ’n dunnerige kombers en ’n kussing.

’n Kondukteur kom kyk weer na ons kaartjies voor die trein om 6.45 nm. vertrek. Joubert en Wessel het ’n paar koue biere (wat ons by die kafee gekoop het) ingepak en ons sit die Monopoly-spel voort. Ons het 14 uur om te verwyl voor ons Ninh Binh bereik.

Viëtnam het ons tot dusver aangenaam verras: Die mense is vriendelik en gasvry en die reiservaring is kultureel verrykend. Ons kan nie wag om die res van die land te verken nie! Volgende maand toer die Tullekens verder deur Viëtnam.

’n Haarnaalddraai op die Hai Van-Pas.

Joubert en Jacqueli

Tulleken Jacqueli (bekend as Jackie) is ’n digitale bemarker en Joubert (bekend as Juba) is ’n siviele ingenieur. Hulle reis deur Suidoos-Asië was deel van ’n jaar lange reis wat hulle in 2019 aangepak het.

Hierdie droomreis het in Suider-Afrika begin waar hulle ses maande lank ’n kamptoer onderneem het in hulle Land Rover (genaamd Mkulu). Daarna is hulle vir twee maande na Suidoos-Asië. Hulle het vooraf drie jaar lank gespaar en beplan aan die groot avontuur.

Volg hulle op Instagram by @jubasjourney en @jackienotinthecity en kyk hulle reisvideo’s op YouTube by youtube.com/jubasjourney

Wessel, Shivani en Jacqueli speel Monopoly terwyl hulle wag vir die oornagtrein na Da Nang.
Vinnige feite

VISUMS

Ons het vooraf deur vietnam visa.com gereël sodat ons met ons aankoms in die land visums by die lughawe kon kry. Dié is egter net van toepassing by spesifieke lughawens. Dit het sowat R300 p.p. gekos en is geldig vir 30 dae.

By die doeanekantoor betaal jy ook sowat R415 p.p. vir die regte stempels op jou visum. Jy kan jou visum ook in Suid-Afrika kry deur die Viëtnamese ambassade in Pretoria.

VERVOER

Vlugte Ons het met Jetstar van Bali via Singapoer tot in Viëtnam gevlieg teen sowat R2 683 p.p., eenrigting. Daar is ook direkte vlugte uit Bali na Viëtnam, maar dit was goedkoper om via Singapoer vlieg.

Binnelands het ons met VietJet Air gevlieg van Ho Chi Minh City na Da Nang.

Dit was ongeveer R660 p.p. vir ’n eenrigtingkaartjie.

Treinrit: Die Vietnam Railways-oornagtrein van Da Nang na Ninh Binh het sowat R520 p.p. gekos, in ’n eersteklaskompartement met vier beddens. Bespreek by 12go.asia Bromponie Die huur kos sowat R80 per dag.

BLYPLEK

Die Airbnb in Ho Chi Minh City het sowat R393 p.n. gekos vir twee mense, en die Green World Hoi An Villa R830 p.n. vir twee mense (booking.com). Ons ander verblyf was oral in dieselfde prysklas.

UITSTAPPIES

War Remnant-museum: Toegang kos R30 p.p.

Cham-eiland-uitstappie: R575 p.p.

My Son-tempels: Toegang kos R110 p.p.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook