
Klik op die ikoon om die besonderhede van elke besienswaardigheid, doending, eet- en slaapplek te sien.
Woorde en foto's: Marijcke Dodds; Marcelle van Niekerk; Shelley Christians; Esma Marnewick, Ilse Oberholzer; Sophia van Taak
Kaart: Francois Haasbroek
Die Sederberg se kreukellandskap is uitsonderlik. Hier tref ’n mens uitsigte én insigte aan – eersgenoemde omtrent elke keer wanneer jy jou stewels se veters knoop en ’n ent stap; laasgenoemde wanneer jy met gevestigde boere-families gesels, rotskuns van derduisende jare gelede bekyk en rooibosteestingels oor jou palms voel.
Groot dele van die Suidelike Sederberg is in 2016 beskadig in ’n veldbrand, onder meer die Wolfbergskeure en -boog, Tafelberg en Welbedacht. Maar hier is nog genoeg mooi plekke en afdraaipaadjies om te verken.
Dis ’n wêreld wat wýd lê, met (indien jy nie ’n 4x4 of ’n motorfiets ry nie) slegs twee behoorlike toegangspaaie: Ten suide van die berg kan jy van die N7 anderkant Citrusdal af al die pad deurry tot by Op-die-Berg noord van Ceres (of anderkant toe!); die Noordelike Sederberg is weer van Clanwilliam of Nieuwoudtville af bereikbaar.
Ons het albei dié hoofpaaie gery en die lekkerste blyplekke, mooiste staproetes en top-aftrekplekke uitgesnuffel. Waarvoor wag jy? Kies jou kol en ry!
DIE SUIDE
Algeria
Die oomblik as jy by dié ruskamp van Kaapse Natuurbewaring uitry, verlang jy reeds terug. Hierdie plekkie aan die voet van die Middelberg verdien al sy regmerkies: Die kampterrein is ruim met koeltebome; hier’s alkant uitsigte oor die berge; en die Rondegatrivier kabbel langs jou tentpenne verby.
Heng, soms kom wei ’n paar vaalribbokke op die gras! O, ja: én jy ry met ’n steil, kronkelende bergpas langs om hier te kom. Die bobbejane hou ook báie van Algeria se ruskamp. Hier is elke dag “bobbejaanpolisie” aan diens, maar wees elk geval bedag. Algeria se ses selfsorghuisies is rondom die uitsigte gebou.
Die hoofslaapkamer het groot ruite met ’n ingeboude rusbed waar jy in die namiddagson kan indommel. Die stoep en braaiplek spog met dieselfde vista. Die moderne huisies is ten volle toegerus en het ’n kaggel. Dis ’n puik heeljaar bestemming: Somermaande swem en stap jy en wintermaande lees jy en tuur vir Daggavlei se Kop.
As stilte en afsondering vir jou ononderhandelbaar is, bly eerder by Uitkyk , sowat 4 km van die Algeria-ruskamp af. Hier’s net vyf selfsorghuise wat ver weg van mekaar staan. Prik se Werf, Uitkyk en Waenhuis het puik uitsigte oor die vallei terwyl Sas se Werf en Peerboom langs die Rondegatrivier is.
Kamp: Vanaf R180 p.n. vir 2 mense en R40 per ekstra persoon (maksimum 6 by staning).
Selfsorg: Vanaf R990 p.n. vir 2 mense, R200 per ekstra persoon (slaapplek vir 6 in twee kamers en op ’n slaapbank). Waenhuis het slaapplek vir 4 mense, Uitkyk vir 8 mense, die res vir 6 mense. Uitkyk se huise kos vanaf R580 p.n. vir 2 mense, R180 p.p. ekstra. Dagbesoekers betaal R60 p.p. en R35 per kind jonger as 12. Kaapse Natuurbewaring bied tot 31 Augustus 40% afslag op alle blyplek, waarna die tariewe in September styg.
Middelberg-watervalroete
Jy kan van jou kampplek af op stap of dagbesoekers kan by die Algeria-ontvangskantoor stilhou. Volg die pad deur die kampterrein tot by staanplek 23 van waar die voetpad kort hierna ’n houtbruggie na regs oorsteek en dan teen ’n makkerige helling uitslinger.
Hier’s mooi protea- en fynbosspesies langs die pad, maar nie skadubome nie. En die Sederberg kan wárm word – somermaande moet julle dus vroeg die oggend begin stap. Ná sowat 1,5 km kom jy by ’n vurk in die pad, maar hou reguit aan.
Die klim raak nou klipperig en al hoe meer steil. Plek-plek sien ’n mens die inheemse sederbome, maar ongelukkig het ’n veldbrand heelwat van hulle beskadig. Byna bo gekom, is hier nóg ’n vurk in die pad; hou hier links (al twee vurke het aanwysers).
Jy weet jy is naby die waterval wanneer jy groot rotsblokke bereik. Skep diep asem en klouter op en oor – jou beloning lê aan die ander kant! Die bergstroom vloei sterk en onder die waterval is ’n helder poel yskoue water. Kyk stroomaf vir platter rotsbanke waarop jy ’n piekniekkombersie kan oopsprei en jou uitstrek.
Jy mag nie in die poel swem nie, maar jy kan jou waterbottel hier volmaak voordat jy dieselfde roete terug ondertoe volg. Dit duur sowat drie uur uit en tuis.
Koste: ’n Permit kos R60 p.p. en R35 per kind by die Kaapse Natuurbewaring.
Kontak: 027 482 2403 (Algeria); 027 482 9922 (Matjiesrivier); capenature.co.za
Driehoek-gasteplaas
Jou kinders sal mal wees oor Driehoek. Die gasteplaas het tjoeps op die Driehoekrivier, ’n glyplank en ’n Tarzan-tou waaraan hulle oor die water kan uitswaai. As die swemgat te bedrywig raak in seisoentyd, is hier ’n tweede, stiller swemgat, sowat vyf minute se stap stroomop.
Die plaas het ook bokke, hase en hoenders wat op pad kafee toe gevoer kan word. Hier is twee perde en ’n ponie vir pretritte (R35 per rit – reël by die kantoor).
Die kampterrein is redelik klein. Hier’s net 25 staanplekke – dus voel dit nie asof jy en die kerkbasaar kom kamp het nie. Staanplek no. 15 is privaat – jy het ’n uitsig oor die veld en Tafelberg (ja, die Sederberg het ook een!) en dis diep in die bos – jy weet skaars van jou buurman. Die ablusie is netjies.
Die vriendelike personeel verkoop op somersdae roomys en kom saans verby met varsgebakte brood. Driehoek het twee selfsorghuise meer na die berg se kant met slaapplek vir 6 (die Kothuis) en 12 (die Groothuis). Bring jou eie beddegoed. Die ses basiese hutte by die kampplek is ’n billike opsie – party het hulle eie badkamer, ander deel ablusie met die kampeerders.
Kamp: Vanaf R320 p.n. vir 4 mense en R90 per ekstra persoon (maksimum 6 mense).
Selfsorghuise: Vanaf R800 vir 2 mense tot R2 200 vir 12 (R90 per kind jonger as 12). Houthutte: Vanaf R470 vir 2 mense of vanaf R610 vir 2 mense met eie badkamer.
Stap na die Sneeuberghut
Driehoek het verskeie staproetes en die naaste rotstekeninge is skaars 20 minute se voetslaan veld-in. Die roete tot by die Sneeuberghut en terug behoort jou sowat 2½ uur te neem en langs die pad sien ’n mens nog een van die ou “tierhokke” waarin ondiere in die ou dae gevang is.
Nóg ’n mooi Driehoek-roete is die een na die Welbedachtgrot – sowat 1½ uur uit en tuis. Loer aanlyn vir goeie reliëfkaarte van die roetes.
Kontak: 027 482 2828; cederberg-accommodation.co.za
Sanddrif-vakansie-oord, Dwarsrivier
Dié gewilde vakansieoord is dikwels lank voor langnaweke en vakansies volbespreek. Maar doen die moeite om vroegtydig hier blyplek te kry: die variasie van selfsorgopsies (16 huise met slaapplek vir 4 tot 8 mense) en lowergroen kampterrein met die Dwarsrivier wat salig verbykronkel, is nie om dowe neute ’n plek waarheen gesinne jaar na jaar terugkeer nie: Dis veilig, kinders skiet jillend op fietse verby, speel krieket of rugby op die groot grasperke of swem in die stroom.
Klink dit te woelig? Bespreek dan een van die 10 staanplekke (met elektrisiteit) by die Kliphuis-kampterrein sowat 10 minute se ry van die hoofkampterrein af. Hier’s ’n swemkuil en stilte.
Nóg ’n rede vir Sanddrif se gewildheid is sy ligging – dis die naaste blyplek aan een van die Sederberg se mooiste staproetes, die avontuurlike een deur die Wolfbergskeure tot by die Wolfbergboog (nou gesluit).
Alle fietsryroetes op Sanddrif is steeds oop en jy kan ook rotsklim by die Sanddrifkrans. Kry aanwysings en permitte by ontvangs. Die plaaswinkel verkoop noodsaaklikhede, koeldrank en peuselgoed.
Oor Paasnaweek en gedurende die Desembervakansie kan ’n mens varsgebakte brood bestel. Sanddrif het nie selfoonontvangs nie; hier’s wel Wi-Fi by die ontvangskantoor op Dwarsrivier. Maak jou tent of huisie se deure en vensters dig toe wanneer jy ’n draai wil gaan stap of ry – die bobbejane is nie skaam om jou aand se braaivleis te gaps nie.
Teen druktyd was hierdie staproetes gesluit weens ’n veldbrand in 2016. Dit sal oopgestel word sodra die plantegroei genoegsaam herstel het. Kontak Kaapse Natuurbewaring om te hoor hoe sake staan.
Wolfbergboog
Wolfbergskeure
Filander se Werf
Middelberg
Grootlandskop
Uilsgat
Die Gat
Crystal Pool
Engelsmanskloof
Sneeukop
Sleeppad
Welbedacht
Tafelberg
De Rif
Gabrielspas
Agter-Tafelberg
Kamp: R280 p.n. vir 4 en R70 per ekstra persoon (maksimum van 8 mense per staanplek). Elke staning het sy eie braaiplek (bring jou eie braairooster), en deel kragpunte.
Hier is twee netjiese ablusiegeriewe by die hoofkampterrein en een by Kliphuis. Selfsorg: R1 200 p.n. vir 4, R300 per ekstra persoon en R200 per ekstra kind (tussen 2 en 10 jaar oud).
Sanddrif en Cederberg- private wynkelder
Kontak 027 482 2825/27; 044 004 0060; sanddrif.com; cederbergwine.com
Maltese Kruis-roete
Spring vroeg weg om die ergste hitte (en ander groot groepe wat stap) te vermy.
Die stap neem sowat vier uur heen en weer (nagenoeg 6,5 km), en oop gelyktes wissel darem die steilte kort-kort af sodat jy kan asem skep en ’n slag terugkyk waarlangs julle gekom het – ’n mooi kronkelpaadjie wat in die skynbaar eindelose klowe en kinkels agter jou verdwyn.
Dis tradisie om aan die voet van die Maltese Kruis-rotsformasie piekniek te hou voordat ’n mens terugdraai. Hardebaard stappers kan ook hiervandaan aanstoot Sneeubergpiek toe.
Lot se Vrou-roete
Indien die Maltese Kruis na net te veel moeite klink, maar jy darem steeds ’n bietjie wil bene rek, is dié gratis roete ’n goeie keuse.
Dis ’n rustige drentelstap van sowat ’n uur en ’n half tot by die majestueuse Vensterklippe, en buiten Lot se Vrou – ’n besonderse klein “klipvroutjie” aan die begin van die staproete – sien jy boonop talle eienaardige rotsformasies langs die pad. Kyk of jy ’n seeperdjie of ’n arend in vlug kan sien...
Cederberg- private wynkelder, Dwarsrivier
Die proelokaal is langs die plaaswinkel en ontvangs op Dwarsrivier geleë. Dié wynplaas is die hoogste bo seespieël in die Wes-Kaap en gesoute wynkenners sal die unieke terroir in die vlagskipreeks proe.
David Nieuwoudt is ’n derde generasie wynboer en hy en sy span het al ’n rits toekennings op hulle kerfstok. As jy gelukkig is, bied David self die proe aan. Buiten wyn van plaaslike druiwe, stel hulle jou ook bekend aan die Ghost Corner-wynreeks (die druiwe kom van die Kaap Agulhas-omgewing), en die Longaví-reeks, wat in Chili gemaak word!
Probeer die shiraz, die sauvignon blanc en die sonderlinge witwyn-kultivar, bukettraube. Hier’s ook iets vir bierliefhebbers. Die Cederberg-brouery, reg langs die wynproelokaal, het sy deure in 2009 oopgemaak. Hoewel jy nie kan bier proe nie, kan jy Boggom & Voertsek-biere sowel as die Cederberg Original Lager koop.
Koste: ’n Wynproe kos R40 p.p. Oop Ma.-Sa. van 9 vm.-12 nm. en 2 nm.-4.30 nm. Openbare vakansiedae: 9 vm.-11.30 vm. en 4 nm.-5.30 nm. Gesluit op Sondae, Goeie Vrydag en Kersdag.
Kromrivier Cederberg Park
Dié plaas is al sewe generasies in die Nieuwoudt-familie en een van die oudste plase in die Sederberg. Bring jou fiets én stapskoene. Die blyplek is onlangs opgeknap en jy’t nou ’n keuse tussen kampstaanplekke langs die Kromrivier (elke staning het ’n kragpunt en private ablusiegeriewe) of basiese of luukse selfsorghuise.
Die huise het slaapplek vir 4-6 mense. Die ontvangslokaal het ook ’n fênsie restaurant bygekry waar tot hipsters tuis sal voel. Swaai in vir middagete of net ’n melkskommel. Die restaurant bedien ligte etes. Ontbyt, middagete en aandete moet vooraf bespreek word, so ook hulle varsgebakte plaasbrood.
Die winkel hou die nodigste aan. Jy kan ook melk, konfyt, heuning en plaasbotter aanskaf. Hulle verkoop ook die plaas se eie reeks boetiekbier, Nieuw Brew, met name soos die Jan Pampoen Ale, die Sarie Marais Cherry Blonde en die Yellowfish Lager. By aanskoue van ’n kaggel in jou huisie draai ’n mens sommer in jou spore om en gaan koop gou ’n paar sakkies hout by ontvangs.
Vanaand gaan hier malvalekkers gebraai word! Elke huisie het ook ’n braaiplek langsaan, en die basies toegeruste kombuis het ’n oondjie, ’n tweeplaatstoof en ’n yskas. Genoeg gepraat – knak ’n Sarie, skuif langs die vuur in en luister hoe die dag verstil en die droë hout knetter.
Kamp: Vanaf R250 p.n. vir 2 mense en R100 per ekstra persoon (maksimum 8 per staanplek).
Ouer selfsorghuise: Vanaf R660 p.n. vir 3-4 tot R900 vir 4 en R100 per ekstra persoon (maksimum 6 per huisie). Nuwe eenhede: vanaf R1 800 vir 2 en R2 640 vir 4 mense.
Kromrivier: Kontak 027 482 2807; cederbergpark.com
Disapoel-staproete
Die staproete op Kromrivier is net reg vir die gesin: Nie te lank nie (dit sal jou hoogstens twee uur soontoe neem), die terrein is maklik genoeg vir kinders, en die vooruitsig van ’n swempoel aan die eindpunt is ’n goeie wortel voor selfs die traagste stapper se neus.
En die bonus: Indien julle tussen Desember en Februarie kom stap, staan die disas in blom. Die roete begin 4 km se ry van die ontvangs af (jy kan natuurlik van jou blyplek af ook stap!) en volg die rivierloop – eers oor sagte sand, naderhand oor rivierklippe.
Onderweg word die mooi vorms van die Sederberg se kliplae met ’n bietjie verbeelding ’n lekker speletjie: Kyk, daai een wat so teen die blou lug uitstaan, lyk net soos Thor se hamer! Die Disapoel is ’n verrassing: Buiten die poel kabbel hier jou waarlik ’n waterval oor die rotskransie af – die droogte ten spyt. Die water is glashelder en die poel breed – hiér saal ’n mens sommer vir die hele dag af.
Stadsaalgrotte
Kruip onder die Stadsaalgrotte se rotskoepels in, soek ’n stil hoekie waar jy op jou rug kan lê en kyk op: ’n Mens kry nuwe waardering vir die aarde se wonders. Jy sien dit in die sierlike draaipatrone wat op die rotse geëts is, ruik dit in die stof: Dis óú wêreld dié.
Die San het meer as 2 500 rotstekeningpanele in die Sederberg nagelaat en die tekeninge rondom die grotte (waaronder die bekende olifantpaneel langs die tweespoor op pad hierheen) is na raming 1 000 jaar oud!
Die grotte het hulle naam gekry nadat die voormalige Nasionale Party se groot kokkedore in 1948 hier vergader het. Maar die skuilte is lank voor dit reeds vir byeenkomste gebruik – vandaar die graffiti van bekende Sederberg-families en manne soos dr. D.F. Malan.
Neem ’n piekniekmandjie saam en gun jouself ’n paar uur om elke kraak en holte van die reeks grotte en rotsformasies te verken. Skuur deur die tonnels, klim tot heel bo-op die rotse wat bo jou uittoring, en word beloon met ’n uitsig oor die ganse bergreeks en die groen lappieskombers van die nabye wynplase.
Truitjieskraal
In die ou dae het veeboere met hulle kuddes tussen die weiveld in die ooste en dié in die Breekkransriviervallei in die weste verby Truitjieskraal getrek. Volgens oorlewering is “truitjie” afkomstig van Gertruida, die naam van een van die veeboere se vrou of nooientjie. Terwyl ’n mens na dié rotsformasie ry, lyk dit byna soos die ruïnes van ’n antieke Griekse stad op die effense hoogtetjie. Die yslike klippe vorm opvallende pilare.
’n Mens kan Truitjieskraal van drie parkeerplekke af benader. Die mooiste rotstekeninge van sewe duidelike figure is in ’n grot net bo die tweede parkeerterrein waar die 1,4 km lange staproete begin. Inligtingsbordjies vertel van die fynbos (die sandolienbos help vir koors), geologie (dié sandsteen behoort tot die Kaapse Supergroep... nee, dis nie ’n band nie) en dat die San en later die Khoi die eerste inwoners hier was. Hier’s ook verskeie amptelike rotsklimroetes, maar Truitjieskraal is ’n lekker klouterplek vir oud en jonk.
Pak toebroodjies en kom verken die wêreld – hier’s ’n hele paar hoekies en draaitjies en hoogtes van waar jy die landskap rondom jou kan besigtig vir ’n eland of ’n rivierlopie – net soos die San eeue gelede.
Nuwerust-gasteplaas
Nuwerust is ’n joviale plek – hier’s ’n effens afgeleefde speelplek vir die kleintjies, grondpaadjies waarop hulle kan kom fietsry, ’n koppie om uit te klim en ’n hele stuk rivier om te verken.
Dit voel meer asof jy op ’n plaas kuier as wat jy diep in die berge kamp. Die kampterrein is losweg in twee verdeel: Die eerste kampterrein naby die ingang het groen gras en ’n uitsig oor die Rooiberg, maar hier’s net ’n paar jong bome.
Die beste en uiters gewilde Grootklip-staanplek het wel twee akkerbome. Die tweede terrein is meestal op sand onder akkerbome wat skaduwee gee, maar ongelukkig plek-plek die uitsig belemmer. No. 32 (lekker privaat) en 23 het wel ’n mooi uitsig van die berge.
Hier is ’n stukkie oop gras tussen no. 19 en die ablusieblok – ’n lekker kampkol vir ’n groep vriende met jong kinders. Al die staanplekke het krag. Die kampplekke is nou wel nie téén die water nie – daar is bosse en ’n draad-heining tussenin.
Drie van die selfsorghuise – Lemoenkloof, Kommaweer en Vergenoeg – is redelik privaat, terwyl Oom Willem se Huis en Rietdak naby mekaar staan. Die winkeltjie verkoop die basiese en oor naweke kan jy Saterdag se sport op die televisie in die lapa volg.
Kamp: Vanaf R300 p.n. vir 4 mense, R50 p.p. ekstra (maksimum 5 per staning).
Selfsorg: Vanaf R600 vir 4 mense, R150 p.p. ekstra. (slaapplek vir 4 tot 8 mense). Beddegoed: R50 p.p. ekstra en jy betaal ’n eenmalige bewaringstarief van R25 per voertuig.
Watervalsirkelroete
Dié 6 km lange roete is ’n ou gunsteling op die Nuwerust-plaas, maar moenie die Victoria-waterval verwag nie: Hier’s meestal net ná goeie reën ’n noemenswaardige straal. Maar dis nogtans ’n mooi stap wat jou in die Kokersrivierkloof kruis en dwars deur die droë rivierbedding en verby aalwyne en botterbome neem.
Doen jouself ’n guns en gaan staan vir vyf minute – jy hóór die stilte... tot die getjirp van ’n suikerbekkie dit onderbreek. By die “waterval” aangekom, kan jy op die groot rotsblokke in die skaduwee rus voor jy terugstap.
Mount Ceder
Ongeag of jy oor die Grootrivierpas van Algeria se kant of oor die Blinkbergpas van Op-die-Berg af kom, lê Mount Ceder soos ’n welkome oase onder in die Groot-riviervallei (net met olyfbome pleks van palmbome).
Sodra jy stilhou, hoor jy die tjie-tjie-tjie van sproeiers op die netjiese grasperke. Die middagetes by die Old Millhouse-restaurant (toebroodjies, lasagne, quiche...) is skaflik, die plaaslike vatbier is koud en jou stoeptafel het ’n uitsig oor Klipbokberg, met perde wat in die voorgrond wei.
Bespreek vooruit vir aandete (R200 p.p. vir ’n driegang) en ontbyt (R95 p.p.) – onthou, hulle is ver van winkels af! Loer ook na die olyfprodukte (soos 2 liter olyfolie vir R200) op die rak langs ontvangs.
Mount Ceder se selfsorghuise is van die ghrênder (en duurder) blyplek in die Sederberg, maar die huise is privaat met mooi uitsigte en van hulle het wraggies jacuzzi’s! Dis ook van die min plekke in die Sederberg met afgesonderde kampplekke. Die drie staanplekke is ver weg van mekaar af met eie ablusies, ’n afdak en ’n uitsig oor die Grootrivier.
Kamp: Vanaf R350 p.n. vir 4 mense, R75 p.p. ekstra (maksimum 6 per staning). Selfsorg: Vanaf R850 p.n. vir 2 mense tot R4 420 p.n. vir 6 mense in ’n huis met ’n jacuzzi en verhitte handdoekrelings.
Kontak: 023 317 0848; mountceder.co.za
DIE NOORDE
Alpha Excelsior
Wanneer die honde en die hoenders jou op die werf kom groet, voel ’n mens sommer tuis. En sodra jy die eienaars, Lizzie en Connie du Toit, ontmoet, weet jy: hiér gaan dit lekker wees.
Die Du Toits het die plaas in 2003 gekoop en saam met hulle dogter, Becky, en haar man, James Cooper, dit omskep in ’n huislike blyplek wat gewild is onder die rotsklimmers maar ook enigeen wat free range wil gaan.
Hier is twee staanplekke met netjiese ablusie en ’n gemeenskaplike kuierlapa met ’n kombuis, twee mooi ingerigte plaashuise – die Old Farmhouse en die Homestead, elk met slaapplek vir 9 – en twee kothuise (slaapplek vir 3 of 4).
Maar die troefkaart is sewe retro-woonwaens. Die beddegoed en sithoekie se stoffering is die vrolikheid self. Elke woonwa het binne-in ’n kombuisie en buite ’n yskas, tafeltjie en stoele waarby jy soggens met ’n beker koffie kan sit en uittuur oor die berge.
Elke woonwa het ’n dubbelbed, maar die sithoekie se banke kan ook afslaan as lêplek vir kinders. Die plaas het verskeie staproetes en ook ’n ordentlike dam om somertyd in af te koel.
Kamp: R100 p.p.p.n. Woonwa: R350 p.n. vir 2. Plaashuise: Vanaf R800 p.n. vir 2 mense tot R1 800 p.n. vir 9 mense.
Riverside Cottage: R700 p.p. vir 2 volwassenes en ’n kind. Weaver’s Cottage: R800 vir 2.
The Hen House
Die Alpha Excelsior-plaas se knus koffiewinkel het vir die bergklimseisoen van middel Mei tot vroeg Oktober ontbyt, koek en Wi-Fi op die spyskaart. En Sondagaande is pizzatyd! Hoe klink een met spek, vye, roketblare en brie? (Pizzas kos tussen R80 en R130; bespreek vooraf.).
Hier is drie rooiwyne – ’n pinotage, ’n shiraz en ’n cabernet sauvignon – wat op klein skaal met die hand gemaak word. Verder verwerk Becky en James ook die sowat 6,5 hektaar olyfboorde se oes – koop gerus ’n bottel olie (R70) of ’n fles ingelegde olywe (R30). Die wyn is ook op die plaas te koop teen sowat R70 per bottel.
Donkiekarrit
’n Donkiekarrit saam met een van die Heuningvlei-sendinggemeenskap se drywers is ’n plesierige manier om die Agter-Pakhuis te verken.
Die klein Heuningvlei-sendinggemeenskap is deesdae per motor slegs van Wupperthal se kant af met ’n grondpad bereikbaar. Maar toe Thomas Bain destyds die Pakhuispas gebou het, het hy van die pas se kruin af ’n tweespoorpad gebou en dis hierlangs wat die donkiekar ry. Die pad kronkel deur ’n mooi deel waar min mense kom.
Hier en daar hoor jy rotsklimmers teen die kranse gesels; verder is dit net die drywer Dawid Swartz wat met begeesterde vermanings en sweepklappe vir Bedford, Gaddhafi, De Wet, Senter, Procter en Stanford aanpor.
Maar ’n donkie bly steeks en die onverwagte stoppe en sporadiese versnellings is deel van die sports! Die rit neem jou nie al die pad tot by Heuningvlei nie, maar onthou gerus dié naam vir ’n volgende besoek.
Die sendingdorp het ’n backpackers waar jy ver weg van alles en almal kan kom afskakel. Selfsorgverblyf kos R140 p.p.p.n., maar jy kan jou etes ook vooraf bespreek (pryse wissel tussen R70 en R130 per maaltyd).
Koste: R170 p.p. ’n Rit duur sowat twee uur.
Kontak: 027 492 3070 (Daleen of Hennie van der Westhuizen)
Traveller’s Rest
Traveller’s Rest aan die Brandewynrivier is ’n instelling in die Agter-Pakhuis en die einste plek waar die huidige boer, Jas Strauss, se oupagrootjie, dr. Le Fras Nortier, uitgepluis het hoe om rooibostee as landbougewas te verbou.
Vra maar vir Jas se ma, Haffie – sy sal jou vertel hoe die rooibosteesaad se geheim ontrafel is. Die selfsorgverblyf is meestal ou werkershuisies van klip wat opgeknap is. Die gewildste vier is in ’n stil klofie ver van die pad en staan só gespasieer dat elkeen se braaistoep privaat is.
Die huise wissel in grootte wat slaapkamers en gedeelde of en suite-badkamers betref en elkeen het ’n toegeruste kombuis en ’n sitkamer met ’n moewiese kaggel. Die dekor is ’n mengelmoes van meubels en voel soos ’n ingeleefde gesinstrandhuis.
Koste: Vanaf R550 p.n. vir 3 mense tot R1 200 p.n. vir 9.
Traveller’s Rest-padstal
Traveller’s Rest se padstal en restaurant is ’n gewilde aftrekplek. Jas se suster, Charité, en haar man, Edu van Rijswijk, staan aan die stuur van sake en hier word gewoeker.
Die padstal bars uit sy nate met geskenke, peuselgoed en leesstof, en etenstyd is die personeel pal op ’n drafstap tussen die kombuis en die stoep. Die spyskaart lees vol lekkertes soos ’n elandburger met bloukaas, tjips en slaai (R90), pannekoek (R15), Amarula-koek (R20) en ’n goeie ou rock shandy (R25).
Dis die soort kuierplek waar jy wíl vashaak en vriende maak. (En hier is ook Wi-Fi en ’n groot poel in die rivier waar jy kan inplons.) Oop Die padstal is elke dag oop van 8 vm.-5 nm. Jy kan vooraf aandete bespreek, mits dit vir ’n groep van 10 of meer is.
Sevilla-rotskunsroete
Die Sevilla-rotskunsroete se nege panele lê binne ’n kort 1,5 km ingeryg, stapafstand van die Traveller’s Rest-padstal af. Terwyl jy van die een na die volgende verken, raak dit duidelik hoekom die Boesmans juis hiér so lank vertoef het: Die rotsklofies bied genoeg skuiling, hier’s hoogtetjies van waar jy die veld vir wild kan bespied, en die Brandewynrivier is net ’n klipgooi ver.
Langs die roete sien jy sjamaans, drogbeelde, kwaggas en delikate stokfiguurtjies. Manne met pyl-en-boog in die hand en ’n velsak oor die skouer draf jagveld toe en ’n groepie vroue dans op ’n streep, hulle hande omhoog – dit verg nie veel verbeelding om ’n stoffie rondom die skuifelende voete te sien opslaan nie! Kyk ook uit vir die skatlike vulletjie – hy’s die ene snoet en kniekoppe!
Koste: R40 p.p. en R20 per kind by die Traveller’s Rest-padstal.
Salmanslaagte-rotskunsroete
Wanneer jy by Salmanslaagte se klofie inswenk, vóél dit anders, byna gewyd, asof jy hier met iets selfs meer geheimsinnigs as by Sevilla te doene het. Die kloof het nie ’n duidelik uitgetrapte voetpaadjie nie – jy klouter so soek-soek oor die rotse, jou oë wat onder die oorhange rondvoel vir ’n mensfiguurtjie of ’n bokkie.
En nes jy dink jy’ t dalk al verbygeloop, tref dit jou: ’n reuse-uitbeelding van ’n drietal vroue – hulle kuite, boesems en boude prominent. Hulle is só groot geteken, jy’t dit heeltyd misgekyk!
En wag, hier’s nog van hulle na links, ’n goeie dosyn. En wat is die geler prent wat ágter die vroue deurskemer? Staan ’n ent terug, kyk nóg wyer. My magtig ... dis dan ’n olifant! Twéé olifante.
Nee, drié! En elkeen byna ’n meter wyd. Gaan nou op jou hurke en kyk alkant: Hier’s nog figuurtjies, sommige aan ’ t dans, ander het ’n sekel op die kop. Wat beteken dit alles? En hierdie uitbeeldings wat soos galeie lyk? Is dit werklik skepe, of is die kenners reg wat beweer dit beeld ’n beswyming uit? Só voer Salmanslaagte jou mee. En dit is maar nog net die eerste van drie panele in die klofie.
Koste: R40 p.p. en R20 per kind by die Traveller’s Rest-padstal. Jy mag slegs saam met ’n gids gaan – reël vooraf.
Wupperthal
C. Louis Leipoldt se oupa, eerwaarde Johann Gottlieb Leipoldt, en sy kollega, Theobald von Wurmb, het die plaas Rietmond in 1830 gekoop en ’n Rynse sendingstasie gestig. Dis genoem na ’n rivier in Elberfeld, Duitsland, waar die sendinggenootskap se hoofkantoor was.
Vir mense van die inheemse stamme wat toe pas uit slawerny ontslaan is, was sulke sendingstasies ’n uitkoms en bron van inkomste – selfs al het dit hulle aan streng reëls en ’n vreemde geloof onderwerp.
Toe ’n Duitse skoenmaker, Christian Häfele, vier jaar later hier aanland, het ’n klein skoenfabriek ontstaan. Die gemeenskap het gegroei, vakmanskap is aangeleer en die stasie het voortbestaan totdat die Rynse Sendinggenootskap in 1965 uit Suid-Afrika onttrek het.
Daarna is Wupperthal by die Morawiese Sendinggenootskap ingelyf en ’n bietjie boerdery, ’n rooibosteeseepfabriek, gemeenskapsprojekte, toerisme, asook die velskoenfabriek (heelwat kleiner sedert die groot operasie in die 1950’s onder die Strassberger-naam op Clanwilliam geopen is), hou die mense aan die gang.
Dagbesoekers kan maklik ’n oggend hier besig bly: Gesels met die inwoners – heelwat se families strek generasies terug en hulle ken die ou dae se stories; ondersteun die Red Cedar-seepwinkeltjie ( 027 492 3013; redcedar.co.za) en die velskoenfabriek ( 027 492 3017 vir bestellings, ’n paar vellies kos sowat R500) en eet ’n stuk hoenderpastei by die Lekkerbekkie-koffiewinkel.
Kontak: Wupperthal-toerisme; 027 482 2024
Stadsaalgrotte en Truitjieskraal
R40p.p. en R20 per kind by Kaapse Natuurbewaring en die meeste van die gasteplase.
Maltese Kruis-roete
R60 p.p. en R35 per kind by Kaapse Natuurbewaring, Dwarsrivier (dis die plaas waar Sanddrif se ontvangs is), Kromrivier en Driehoek (dan stap jy via Eikeboom).
Toegang tot die gasteplase se staproetes is gratis vir gaste. Dagbesoekers betaal R40p.p. en R20 per kind. Driehoek se staproetes kos R60p.p. en R35 per kind.
Wolfbergboog:
R60p.p. en R35 per kind by Kaapse Natuurbewaring, Driehoek en Dwarsrivier (hier kos dit R100p.p. en R60 per kind, want jy stap deur die skeure tot by die boog). Wolfbergskeure: R50p.p. en R30 per kind slegs by Dwarsrivier, want dis op hulle grond.