
Dis altyd opwindend om vir die eerste keer by ’n plek aan te kom. ’n Stukkie wêreld wat jy nog net op foto’s gesien het, kry skielik gestalte.
Ek stop by die intrapslag by die Manyaneruskamp en slaan my tent op onder ’n staning doringbome.
Vroeg die volgende oggend klim ek op die Tshwene-teerpad en mik na die suidooste van die park op die Tshepe-roete.
Manyane is omring deur skouspelagtige berge. Dié berge word meer as 1 000 miljoen jaar gelede gevorm. Lang storie kort: ’n Vulkaan het oor eeue heen verskeie kere hier uitgebars en ingeplof en só die berge en valleie in konsentriese sirkels gevorm. Trouens, geoloë is dol op Pilanesberg en dis een van die besbewaarde voorbeelde van ’n alkaliese kringgangkompleks ter wêreld... Maar dit daar gelaat.
Dis hoogsomer en die berge is toegegroei onder welige bosse. Groot lowergroen bome troon bo die hange uit. Dit lyk asof ’n yslike luiperd in elke skadukol skuil. Ek bekyk elke tak totdat my oë traan, maar die donker klowe en koel rotse verklap niks nie. En so byna ry ek om ’n skerp draai in ’n alleenloper-olifant vas omdat ek die omgewing vir ’n kolkat fynkam.
Die grootvoet lyk nie lus vir gesels nie en ek moet ’n ent agteruit ry voordat hy weer rustig aanstap in die ander rigting.
Dis my stil kind daai...
Later die middag mik ek vir die Bakgatlaruskamp in die noordooste van die park. Eers gaan draai ek op die Moloto-roete. Hier sien ’n mens ve-e-er. Troppe wildebeeste en sebras wei spekvet in die groen gras. Olifante staan soos massiewe standbeelde teen die landskap.
’n Miskruier kruiwa sy bal oor die grondpad. Voertuie word al hoe minder terwyl ek verder noord ry. Die meeste besoekers en wildkykvoertuie ry heeldag om en om die mensgemaakte Mankwedam rofweg in die middel van die park waar ’n mens die meeste wild teëkom.
Die noorde raak gou my gunsteling-deel van die park. Teen sowat 550 km² is Pilanesberg nie vreeslik groot nie, maar tog voel jy in hierdie deel ver verwyder van die nuusgebeure.
Ek kap my tentpenne in by die Bakgatlaruskamp.
Die volgende oggend pak ek die luiperdmissie met hernude ywer aan. Vergeefs. Olifante, wildebeeste, sebras, kameelperde en rooibokke is wel volop. ’n Mens kan skaars glo dat hier op ’n tyd bittermin wild was.
Dié park is gestig in 1979 en tydens Operasie Genesis, toe een van die grootste wildskuifoperasies van sy tyd, is sowat 6 000 diere hierheen gebring – selfs leeus van die Etosha- nasionale park af!
Teen die middag se kant hoor ek via die riemtelegram van ’n troppie leeus wat by die Mankwedam rondlê. Ek gaan kyk of ek hulle te siene kry. ’n Klompie voertuie dui gou aan waar die aksie is. Maar genade, die leeus is ver en lê plat op hulle sy. Ek wag. Die trop van ses kom later lui op die been en begin stadig al langs die waterrand stap.
En toe is dit asof al wat mens is in Noordwes, op die toneel toesak. Dit raak ’n gespook om iets te sien. Van die mense klim uit hulle voertuie en tel hulle kinders op die dak, met ’n wie-weet-hoe-honger leeu wat sowat 50 km van ons af verby stap. Nee, man!
Dis my laaste oggend in die park en ek ry al die afdraaipaadjies om die dam. Op die Mankwepad beduie ’n vriendelike ou daar het pas ’n luiperd oor die pad en in die klipperige koppie ingedraf.
Daar kry ek ’n enkele voertuig met mense wat die bosse en klippe bespied asof Charlize Theron met ’n tas vol Lotto-geld haar opwagting gaan maak. Ek neem stelling in.
Soos Die Skim van ouds verskyn die luiperd skielik op ’n rots onder die skadu van ’n bos. Skaars 30 m van my af! Ta gee’n paar warm kyke met sy geel oë, stap teen die rots af en verdwyn weer veld-in. Dit gebeur so vinnig dat ek wonder of dit my verbeelding was. Maar daar is hy op my kameraskerm – een van die mooiste katte op die aardbol.
Gaan sit in dié skuilings
Pilanesberg het ’n hele paar skuilings (met badkamers) waar jy en jou mik-en-druk kan wag vir daai wenfoto.
1. RATLHOGO-SKUILING
Dié skuiling is teenaan die water. Dis net sowat 2,5 km van Bakgatla af; dus kan jy douvoordag kom koffie drink – dis ook die beste tyd om foto’s te neem. Die skuiling kyk reg wes; teen laatmiddag is die son dus in jou oë.
2. MALATSE-SKUILING
Die dam is ook redelik naby aan Bakgatla (8 km) en Manyane (10 km). Dis basies teenaan die water, met mooi uitsigte na alle kante toe. Jy kan vroegoggend en laatmiddag mooi foto’s neem. Iemand het hier al ’n leeuwyfie afgeneem wat ’n waterbok plattrek!
Selfs al kom geen diere nie, sorg ’n spannetjie seekoeie vir vermaak.
3. MANKWEDAM-SKUILING
Die skuiling is aan die westekant van die dam met ’n mooi uitsig oor ’n groot deel van die water. Dis die bedrywigste skuiling, want die meeste wild (en toeriste) hou in die omgewing.
Dis ’n gróót dam, en daarom is die kanse skraal dat ’n vuilbaard neffens jou gaan kom suip. En as die dam aan die leë kant is, is die skuiling ver van die water af. Ná die somerreën spoel die water weer onderdeur die skuiling. Naby die skuiling is droë bome in die water waar visvangers en witbors- en rietduikers gereeld kom rus.
As jy gelukkig is, kom sit ’n visarend ook hier en loer vir jou. Jy kan vroegoggend en laatmiddag mooi foto’s neem. Hou in gedagte dat die grootste deel van die dam oos van jou lê; dus skyn die son vroegoggend van daardie kant af effens in jou oë.
4 & 5. MAKORWANE- EN BATLHAKO-SKUILING
Die skuilings by die Makorwane- en Batlhakodam is teenaan die water, maar dis oper rondom Batlhako met beter kanse om diere te sien water toe kom. By Batlhako kan jy vroegoggend en laatmiddag foto’s neem. By albei damme is heelwat voëllewe (verwag slanghalsvoëls, hamerkoppe, rooivinke...), en jy behoort ’n paar inwonende seekoeie en ’n waterbok of twee te gewaar.
6. RUIGHOEKDAM-SKUILING
Die skuiling is nie langs ’n hoofroete nie; jy ry spesiaal soontoe. Jy gaan nie soos ’n spul sardientjies die skuiling met ’n klompie toeriste deel nie. Dis teenaan ’n groot watergat met goeie uitsigte na alle kante toe. Hy sit wel effens te hoog vir daardie reg-in-die-oë foto van die leeu wat water drink.
Waar bly ek?
Jy kan kies uit kampplekke, woonwastaanplekke, selfsorghuise, safaritent en luukse akkommodasie. Die Manyanekamp is by die hoofhek van die park, en daarom is dinge bedrywiger hier as by Bakgatla. Die dorpie Mogwase is sowat 4 km van die ruskamp af. In die aande wedywer die Bosveldgeluide met dié van die plaaslike kuierplekke.
Hoe kom ek daar? Pilanesberg is sowat 200 km noordwes van Johannesburg.
Beste tyd om te gaan? Dis ’n somerreënvalstreek. Wintertyd is dus dierekyktyd: Die veld is minder ruig en die watergate bedrywig. In die somer raak dit snikwarm en ná goeie reëns kry die omgewing ’n boskasie. Maar ’n lowergroen Pilanesberg is ’n fantastiese gesig. Oorweeg ook die herfsmaande – die temperatuur is matig en die veld nog mooi.
Wat kan ek hier doen? ’n Wildrit deur die park duur sowat drie uur. Of gaan stap saam met ’n gids deur die veld en kyk die diere vierkant in die oë. Die staptogte word nie heeljaar aangebied nie – vra by die ontvangskantoor.
Indien jy die begroting het vir ’n groot bederf, kan jy in ’n warmlugballon oor die park sweef. Dit duur sowat ’n uur. Daarna sit jy aan vir ontbyt (R5 000 p.p.).
Toegang: R80 vir volwassenes, R30 vir kinders en R40 vir pensioentrekkers.
Hektye: November tot Februarie: 5.30 vm. tot 7 nm.; Maart en April: 6 vm. tot 6.30 nm.; Mei tot Augustus: 6.30 vm. tot 6 nm.; September en Oktober: 6 vm. tot 6.30 nm.
Kontak: www.goldenleopardresorts.co.za; www.pilanesbergnationalpark.org/accommodation
* Golden Leopard Resorts het sekere tye van die jaar spesiale aanbiedinge – gaan na hulle webtuiste vir meer inligting.
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #154 (Augustus 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.