Vir Esma Marnewick se storie oor die Kruger se bosveldkampe moes sy verskeie lang vingers afweer. Sy vertel:

"Ons het ons laaste aand by die Punda Maria-ruskamp in safaritente deurgebring. By van die bosveldkampe is die blouapies en bobbejane ’n groot pes.

Daar is heeltyd ’n stryd tussen mens en primaat. As jy ’n sekonde lank wegkyk, vat hulle die kans en gaps jou brood (twee keer!) of ’n avokadopeer.

In die algemeen is die blouapies skugter, en hulle hou darem ’n afstand as hulle sien jy hou hulle dop. Maar by Punda het ons ’n heel ander ervaring gehad.

Laatmiddag het ’n bosnagapie windmakerig soos John Travolta oor die houtdek aangestap gekom, amper asof hy wou sê “o, so julle is ook hier” en toe stadig weggestap.

’n Lekkerte daarvan om in die Kruger oor te bly, is dat iemand elke oggend jou skottelgoed was, dus het ons gou lui geraak. Dié aand het ons steak geëet met van daai kitspoeiersouse, en van die sous het in ’n koppie oorgebly.

Later die aand hoor ons ’n geklingel van breekware. En daar staan die bosnagapie bo-op die wasbak, besig om die sous uit te lek asof dit moedersmelk is!

Hy was nie veel gepla met ons pogings om hom weg te sjoe nie. My man het toe al hoe harder begin praat en hy’s uiteindelik (stadig) vort.

Hy het wel twee keer teruggekeer, een keer selfs met nog ’n trawant! Teen 9 nm. (onthou, in die wildtuin slaap ’n mens vroeg) moes ons noodgedwonge die skottelgoed in die kas toesluit.

Wat het ons geleer? Bosnagapies vreet nie net vrugte en akasiagom nie. En as jy rustig wil slaap in die wildtuin... was jou skottelgoed!"


Lees Esma Marnewick se volledige storie oor die Kruger se vyf bosveldkampe hier!