Toe die inperkingsregulasies ons weer toegelaat het om te reis, het ek en my vrou, Marelize, besluit om saam met ons twee seuns, Jesse (5) en Jamie (3), én ons hond, Juno, te gaan kamp. Ons het op die internet gaan soek vir troeteldiervriendelike kampplekke en op Kleine Eike buite Greyton afgekom. Dié uitstekende kampplek het ons aangenaam verras.
Hoe lyk die kampterrein?
Die hele kampterrein is langs die Riviersonderend uitgelê en die lekker ding is almal kamp langs die water. Hier is 14 staanplekke van wisselende groottes, elkeen met ’n kragpunt, kraan, piekniekbankie en braaiplek. Hier kan sowat 120 mense inpas en die kampterrein is só uitgelê dat niemand voor iemand kamp nie. Die ding wat egter vir ons belangrik is, is die feit dat ons hond, Juno, mag saamkom. Jy moet net die oordmense vooraf laat weet.
Was julle tevrede met Kleine Eike se ablusiegeriewe?
Omdat die kampterrein so te sê nog splinternuut is, is die ablusieblok ook.
Dis ’n groot en moderne gebou van klip, beton en sinkplaat met aparte geriewe vir mans en vroue. Elk het vier stortkamertjies met genoeg pakplek en hakkies vir jou droë goed. Hier is ook opwasgeriewe. Die ablusiegeriewe word oor naweke drie keer per dag skoongemaak. Hier is dus niks om oor te kla nie.
Watter aktiwiteite is hier om jou besig te hou?
Hier is nie ’n swembad en waterwurm en dié klas van dinge nie, maar dit beteken nie die kinders gaan sit en tone tel nie. Soos ek vroeër gesê het, kamp jy teen die rivier, dus kan jy in die heerlike rivierwater afkoel of roei. Bring natuurlik ook jou hengelgerei saam. Hier is onder meer baars, karp en baber.
Jy kamp op die plaas waar hulle hoofsaaklik met uitvoervrugte boer, maar hier is ook perde, beeste en skape. Solank jy jou gedra het jy toegang tot die hele plaas en jy kan met die oordmense reël as jy die kinders ’n bietjie perd wil laat ry. Dan is hier ook heelwat stap-, draf- en fietsroetes en jy is natuurlik naby aan Greyton, ’n dorpie wat beslis ’n dagbesoek werd is.
Is hier ’n oordwinkel?
Nee, maar Greyton is nie te ver nie. Wanneer jy egter hout of ys kort, kan jy met die eienaar, Nic Scholtz, reël en dan kom lewer hy dit sommer by jou staanplek af.
Nico wen ’n Camp Cover Bundu-sak van R500. Gaan kyk na hulle puik beskermende oortreksels op die webwerf campcover.co.za
082 809 9896; info@kleineeike.com; kleineeike.com
GPS S34.102617 E19.669205
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET