Op die suidwestelike uithoek van St. Helena voel ’n mens werklik op jou eentjie, heeltemal omring deur water so ver soos die oog kan sien.

SATERDAG

’n Paar van ons wag in die O.R. Tambo-lughawe se vertreksaal – meestal Saints (dis hoe St. Helena se inwoners na hulleself verwys) wat terugvlieg huis toe, maar ook ’n Franse paartjie, ’n vrou van Pretoria, Hester Pretorius, en haar ma, ook Hester, ’n Britse stapboekskrywer, Will Atkins, en ’n stil man wat aandagtig blaai deur Gerald Hoberman se boek Lighthouses of Southern Africa.

’n Ware motley crew. St. Helena is ook net só groot – ek vermoed ons gaan mekaar in die komende week nog baie sien.

Die vliegtuig land in Windhoek vir brandstof (daar moet genoeg in die tenk wees ingeval ons nie anderkant kan land nie en óf na Ascension-eiland óf terug moet vlieg).

Vir vyf uur daarna sien ek net ’n digte wolkbank en naderhand die eindelose blou Atlantiese Oseaan. En toe is daar skielik iets anders... St. Helena-eiland rys uit die see.

Met ’n wye draai nader ons die weste waar die lughawe lê wat die Suid-Afrikaanse ingenieursfirma Basil Read gebou het – ’n enorme projek vir só ’n brokkie infrastruktuur.

Die Saints droom al dekades lank van ’n lughawe. (Buiten Ascension-eiland is die naaste stuk land die Kuneneriviermond, soos die kraai vlieg 1 950 km oos, met Rio de Janeiro 4 000 km in die teenoorgestelde rigting).

En toe is daar skielik iets anders... St. Helena-eiland rys uit die see.

Tenderprosesse, logistiek en politiekery het dinge onnodig laat sloer, maar hier is hy nou uiteindelik – nadat hulle eers ’n nuwe kaai én ’n 14 km lange pad moes bou om die konstruksievoertuie en -gereedskap op die bouperseel te kry, drie jaar lank ’n kloof van sowat 100 m diep moes vul om ’n lang genoeg gelyk stuk grond te kry en tóé eers die aanloopbaan van kort duskant die 2 km kon bou.

Net om daarna te besef die turbulensie en daalwinde is só kwaai, dis te gevaarlik om ’n groot passasiersvliegtuig hier te land!

Ek vóél die ferm hand van daardie daalwinde soos wat ons honderdsitplektuigie die landingstrook – wat alkant ’n loodregte krans tot in die see het! – nader. Uit die hoek van my oog sien ek ’n seereddingsbootjie dobber. Die spanning in die kajuit is tasbaar, almal hou asem op. Die landing is toe glad nie so erg nie.


’n Paar benoude oomblikke se gewaggel, maar toe trek die vlieënier die handrem op en bring ons veilig tot stilstand. Sjoe, uit pure verligting bedank ons die vlieënier met ’n luide applous!

Ek gaan vir ’n paar aande by Derek en Linda Richards se Travel Lodge in die St. Paul’s-distrik tuis. Dit lê op ’n kruin bo die hoofdorp, Jamestown, en is een van agt distrikte wat met die eiland se hoofpaaie verbind is.

’n “Distrik” is eintlik ’n buurt van huise wat saamgegroepeer staan op ’n knol of teen ’n berghelling waar die Saints kans gesien het om te bou. Want al is die eiland (121 km²) net so groot soos ’n halwe Bloemfontein, is dit allermins Vrystaat-plat!

’n Mens sien dié fairy terns oral. Dis ’n soort sterretjie – heeltemal wit behalwe vir daai groot swart oë waarmee hulle jou dophou sonder dat jy weet.

Die kombuisradio speel country-musiek en Linda sing saggies saam terwyl sy aandete maak. Derek skink drankies – St. Helena spog met KWV-witwyn! Hulle negejarige kleindogter, Jordyn, sit en wiskundehuiswerk doen en ek vra Derek uit oor die skoolstelsel: Hier’s drie laerskole en een hoërskool en St. Helena volg die Britse leerplan.

As jy ná skool wil studeer, is dit Kaapstad of Londen toe vir ’n paar jaar. ’n Mens sou dink die jongmense kom nie weer terug nie, maar die Saints verlang na hulle eiland se ooptes en rustiger pas. Ja, baie werk wel in die buiteland, maar kom kuier gereeld. Noudat die lughawe geopen is, hopelik selfs meer!

Toeval dat die boekwinkel op O.R. Tambo- internasionale lughawe juis dié tydskrif met Napoleon op die voorblad te koop gehad het? Ek dink nie so nie!
St. Helena se vlasplantasies het op ’n tyd die ganse Britse Ryk van winkeltou en goiingsakke voorsien – tot rubberrekkies en plastiek uitgevind is. Nou groei die vlasbosse wild en welig.

Die Saints is gemaklike, warm mense. Op pad hierheen het elke motorbestuurder vir ons gewuif of gou deur afgedraaide ruite ’n woordjie gewissel.

Dis ’n klein, hegte gemeenskap met ’n positiewe energie wat jy sommer dadelik opmerk. Hier’s beperkte werksgeleenthede, maar die Saints maak ’n plan: Derek is opgelei as brandweerman en hy was ook al ’n nuusleser op die plaaslike radiostasie, sowel as die eiland se lykbesorger.

Dis ’n klein, hegte gemeenskap met ’n positiewe energie wat jy sommer dadelik opmerk

Deesdae is hy ’n gastehuiseienaar, byeboer, paaltjiewagter en ook die voorsitter van die eiland se toerismevereniging. Hy dra ’n T-hemp waarop staan “Legalised Pot,” met ’n groot geel driepootpotjie daarby. Die fynskrif sê “Nou gaan ons braai.”

Ek voel bitterver van die huis, maar terselfdertyd heel tuis.

SONDAG

Ek kry nie die glimlag van my gesig af nie. Dit was wonderlik om netnou in Jamesbaai saam met ’n walvishaai te swem: Dié geheimsinnige dier met sy kolossale lyf oortrek met mooi patrone (glo so uniek soos ’n vingerafdruk!), en grasieuse, moeitelose gang.

Dié haaie hou in die trope se warmer water en kom tussen November en April op hulle migrasieroetes hierlangs verby. Ek het nou met my Nissan Note-huurmotor ’n koers berg-op ingeslaan.

Dit begin saggies reën. Ek hou stil en klim uit – dis steeds warm, soel. Paddas lawaai en die druppels slaan trom op breëblaarplante. Onder die digte groenigheid murmel waterstrome.

Onder in Jamestown skyn die son seker nog, en vorentoe sien ek ’n mistigheid – elke paar meter hoër bo seevlak betree jy ’n nuwe mini-klimaat. Ek is een vir ooptes soos die Karoo en die Kalahari. Ek raak benoud in boskasies. Maar St. Helena het my van meet af aan bekoor: ruigtes vol eksotiese plante wat ’n mens vrylik kan verken.

Hoewel die meeste produkte van Engeland en Suid-Afrika ingevoer word, is daar wel ’n paar plasies op St. Helena.

Die eiland het nie roofdiere of slange nie. Hier’s wel verskeie seevoëlspesies soos brilmalgasse, witsterretjies en grysrugstormswaels. Dit bly onwerklik. Is ek regtig op St. Helena? Selfs die nuus op gisteraand se BBC-uitsending het onbenullig ver gevoel, asof wêrelddramas ons nie hier kan bykom nie.

Die restaurant Anne’s Place met al sy landsvlae is ’n gewilde kuierplek onder die yachties wat net ’n paar dae vertoef voordat hulle aanseil Ascension en daarvandaan Suid-Amerika toe.

MAANDAG

Gedurende die Anglo-Boereoorlog is Boere in hulle honderde met skepe na St. Helena gebring totdat die twee konsentrasiekampe – Deadwood en Broadbottom – uiteindelik 5 865 in totaal gehuisves het.

Ná die oorlog is alle oorlewendes weer huis toe, buiten vyf wat op inwoners verlief geraak het en gekies het om te bly. Hier waar ek nou alleen in die Boere-begraafplaas langs die Knollcombes-kerkie sit, voel ek skoon emosioneel.

Nie soseer oor die lot van die Boere nie, eerder oor die mense wat in ’n oorlog by herhaling verlies moet beleef. Neem byvoorbeeld die man wat neffens my in graf nommer 34 lê.

Hier rus die 180 Boerekrygers wat in aanhouding op St. Helena gesterf het.

Volgens die lys name van die gestorwenes op die gedenknaald is dit M.J.H. Boshoff. Hy was van Potchefstroom se distrik, waaruit ’n mens kan aflei dat sy kommando by die Slag van Paardeberg saam met generaal Piet Cronjé oorrompel en gevange geneem is.

’n Maand later staan hy op die agterskip van die Milwaukee en kyk hoe Tafelberg krimp. Wat gaan dan deur jou gedagtes? Is jy, ’n gebore binnelander, paniekerig oor al die water en skip se gewieg? Wonder jy hoe lank die Boeremagte nog kan walgooi? Want Ladysmith het intussen geval, Bloemfontein ook… Die oorlog kan nie vir altyd duur nie, een van die dae sal ek my vrou, ons kinders en die plaas weer sien. Net kophou nou. En vasbyt.

Een jaar, een maand en ’n week – dís hoe lank Boshoff op St. Helena kon uithou. Hy’ t as 30-jarige jong man in hierdie ewigdurige klammigheid aan ’n longkwaal gesterf.

Ek herken Will voor in die pad aan sy rooi rugsakkie en hou stil. Hy’s op pad na die murasie van Edmond Halley se sterrewag (dié het in 1676 hier kom draai om die Suidelike Halfrond se sterrehemel te dokumenteer).

Ek gee hom ’n lift tot waar die voetpad na die sterrewag begin en terwyl Will die heuwel uitklim, dwaal ek deur ’n kerkhoffie daar naby. Toe Will terugkom (daar is net kuithoogte muurtjies van die sterrewag oor), sit ons tussen die ou, handgekerfte grafstene oortrek met mosbaarde en deel in stilte ’n Crunchie.

In die talle kerkhoffies op die eiland leer ’n mens baie van die gevestigde familiename.

In die vars ruikers op van die grafte tref ek ’n alledaagsheid aan wat my verras. St. Helena ís afgesonder en het baie dinge nie: ’n winkelsentrum, bioskoop… Maar wat het ek verwag? Die mense lei gewone lewens, nes ek en Will.

Toe ek gisteraand heel verleë dié insig met Derek deel, het hy laggend geantwoord: “Nee, jy’s verkeerd! Ons wag net totdat julle spul toeriste op daardie vliegtuig klim, dan trek ons weer ons grasrompies aan!”

Will Atkins van Engeland het St. Helena kom platstap en beoog om ’n boek oor sy ervaring te skryf.

DINSDAG

Ek het van St. Paul’s na Jamestown versit en bly nou in die Blue Lantern-gastehuis aan die onderpunt van Jacob’s Ladder.

Wanneer ek by my venster uitkyk, sien ek dié formidabele stel trappe wat vroeër die basis was van ’n sweefspoor tussen die dorp en die fort aan die bopunt. Ek sien ook die stoorkamer waar beendere bewaar word wat sowat ’n dekade gelede met grondverskuiwing in massagrafte ontdek is. Albei pla my.

Die trap omdat ek byna verplig voel om dit uit te klim; die beendere omdat dit sowat 25 000 naamlose slawe uit Afrika verteenwoordig wat ná die afskaffing van slawehandel in 1807 deur die Britse Vloot van skepe onderweg na Amerika “gered” en hier afgelaai is.

G’n plek op aarde se geskiedenis is sonder vlekke nie. Vir die sowat 4 500 permanente inwoners is dié slawestorie ’n teer punt. Maar dit is ook ineengevleg by sommige se herkoms – net soos die sterk lyn van die groot Chinese arbeiderskorps wat vroeër hier was, en die Franse, Nederlandse en Portugese invloede.

Die Saints is nou hulle eie volk, met ’n dialek van die koningin se Ingels wat van hulle tonge af rol. 

G’n plek op aarde se geskiedenis is sonder vlekke nie. Vir die sowat 4 500 permanente inwoners is dié slawestorie ’n teer punt.

Vanaand bederf ek my met dinner for one by die deftige Mantis Hotel.Dit voel roekeloos om vroualleen deur die donker strate te loop, maar die Saints verseker my weer en weer: dis veilig. Kyk, die motors staan dan met oop vensters en die sleutel nog ingesteek.

Hier’s wel ’n polisiekantoor en ’n tronk met tans twee agter tralies. Maar hulle oortredings is skynbaar só gering, niemand kan met sekerheid sê wat hulle gesondig het nie. Ek tref die Franse paartjie in die eetkamer aan.

Dit raak ’n jolige aand saam met Marc Boré en Diane de Selliers van Parys. Die kos is geurig en die diens skaflik.

Die kelnerin se ywer om ons tevrede te hou spreek van die eiland se wil om toerisme te laat werk. Ná ete dwaal ek deur die smal straatjies op soek na die bron van musiek wat ek van ver af hoor.

A, dit kom uit daardie woonstelletjie! “Won’t somebody come and rescue me? I am stranded, caught in the crossfire!”

Die sanger se rasperstem klink nés Stevie Ray Vaughan s’n en in die agtergrond looi ’n begeesterde pianis die keyboard-klawers.

Toe hulle klaar is, roep ek onder van die sypaadjie af vir ’n encore en twee ouens loer by die skuifraamvenster uit. Só ontmoet ek vir Matthew Williams en Hansel Bennett, oftewel Square en Seabird.

Hulle oefen vir Donderdagaand se gig by die Wicked Wahoo-restaurant. “Hi ya, luv! We be havin’ a fish fry. Come on ova!”

Dankie! Maar wat’s die geleentheid?

“Why, it’s Maundy Thursday!”

A, die Donderdag voor Paasnaweek, tref dit my op pad gastehuis toe. Buite die Blue Lantern steek ek vas – daardie stoorkamertjie spook by my.

Ek gaan staan voor die houtdeur waaraan ’n groot slot en twee stringe gebedskrale hang, onder ’n plakkaatjie met ’n aanhaling van Madiba: “For to be free is not merely to cast off one’s chains, but to live in a way that respects and enhances the freedom of others.”

Toe konstruksiewerkers die pad uit Rupertsbaai begin bou het na waar die lughawe vandag lê, het hulle op ’n massagraf van Afrika-slawe afgekom. Dié beendere word nou in hierdie stoorkamer bewaar.

Navorsers probeer nou met DNS-toetse vasstel waarvandaan die slawe was en dit lewer ook ander bevindings: Die grootste aantal was kinders jonger as 12 en só siek en swak dat hulle in die eerste paar jaar omgekom het.

’n Klomp is as “kontrakarbeiders” na Britse kolonies geneem om op suikerplantasies te werk. Maar vir Ghana, Nigerië en Kameroen sou hulle nooit weer sien nie.

WOENSDAG

Jacob’s Ladder se 699 trappies is toe voor ontbyt uitgeklim. Ek gaan jok as ek sê dit was lekker.

My bene voel soos ná my eerste (en enigste!) halfmarathon. Tannie Hazel Wilmot, eienaar van die Consulate Hotel, het my so jammer gekry toe ek daar inhink vir koffie, sy’ t summier ’n fles perdesalf loop haal waarmee ek my ooreiste kuite moes insmeer.

Daar is geen fout met die puik oudiotoer van die Longwood House, waar Napoleon gebly het van 1815 tot met sy dood in 1821 nie, maar dit het my koudgelaat.

Napoleon het my nog altyd opgeval as ’n kordate selfvoldane mannetjie – dis seker maar die rede. Dit was wel komies hoe die personeel besoekers ongemerk probeer rondvolg om te verseker dat ons nie foto’s binne-in die huis neem nie.

En nóg snaakser om te sien hoe Diane en Marc hulle in dié Klein-Frankryk inleef, en sy wel selfoonsteelfoto’s neem van hom wat oral soos Napoleon poseer, ewe met sy regterhand voor by sy hemp ingesteek!

Op Woensdae is winkels en besighede slegs halfdag oop. Só lyk die atmosfeer in Jamestown dan vir die res van die dag.

DONDERDAG

Laatmiddag sit ek met ’n Steri Stumpie op ’n klipmuurtjie bo Jamestown. Ek hoor ’n koor oefen: “Who’s that young girl dressed in red? Wade in the water!”

Dit kom uit die St. Johns-kerk hier naby. Hier’s agt denominasies en verskeie kerke, waaronder St. James – die oudste Anglikaanse kerkgebou in die Suidelike Halfrond. Agter my klink ’n gerammel op en rotse en los klip kom teen die hang af gebokspring.

St. Helena is ’n vulkaanberg en waar daar nie plante groei nie, spoel die bolaag en gebreekte rots gereeld ná kwaai reën af. Dit voel soos chicken speel om nie pad te gee nie, maar gelukkig is hier oral teen die kranse net van dik geweefde kabels gespan. “God’s gonna trouble the water…”

Maundy Thursday – volgens die Anglikaanse Kerk-tradisie is dit die dag waarop mense gaan vis koop of vang om in plaas van vleis (uit respek vir die gebroke liggaam van Christus) oor die Paasnaweek te eet.

Met sy warm waters is St. Helena ’n hengelaarsparadys. Die Saints is al van kindsbeen af bedrewe, en op dae soos Maundy Thursday is visvang ’n gesinsuitstappie.

Die gesoute vissermanne is almal vanoggend reeds op rotse rondom die eiland afgelaai en hulle word later vanaand weer deur bootjies opgepik – dan is daar verskeie partytjies op die eiland waar die vars vis in skottels olie oor vure gebraai word.

Ek en Will het afgespreek om die man met die vuurtoringboek, ’n Fin genaamd Jussi Touvinen, by die Wicked Wahoo te ontmoet en ons kry sitplek nes Square en Seabird hulle klank begin toets.

Ganz Benjamin (met die rooi voorskoot) en Leon Thompson voor die vispotte by die Wicked Wahoo.

Die restaurantjie het reeds ’n vrag vis ingekry en Ganz Benjamin en Leon Thompson behartig die fish fry oor hitsige vlamme.

Square kom groet en ons vra hom uit na sy lewe hier op St. Helena. ’n Voltydse Stevie Ray Vaughan-nabootser? Nee, hy doen instandhoudingswerk op daardie nette wat die rotsstortings vang.

En voor dit was hy 13 jaar in Engeland – eers het hy hologramme op geldnote en sokkerkaartjies aangebring en later prosteses gebou. Maar nou’s hy permanent terug. “No other place like this, luv, nowhere.”

Seabird kry sy orrel op dreef en Square haas hom terug na die mikrofoon.

Hulle vertoning sorg vir luidrugtige kommentaar, want weinige liedjie se verse word enduit in die regte volgorde gesing. Maar hulle entoesiasme vergoed daarvoor.

VRYDAG

Anders as tipiese eilande het St. Helena nie wit swemstrande met palmbome nie, en die seestrome is sterk. Maar vanoggend het Derek vir my en Will aan die suidekant lieflike getypoele gaan wys waar jy veilig kan swem: Lot’s Wife’s Ponds.

Dié foto is met laagwater by Lot’s Wife’s Ponds geneem en steeds was die getypoele só diep dat ek nie kon staan nie.

Die voetpad soontoe slinger oor vulkaankranse en verby neste van brilmalgasse wat nog nie vir die mens leer skrik het nie. Weer eens het St. Helena ’n oormaat avontuur opgedis en ek het gedink: Dít is seker hoe sir David Attenborough op elke ekspedisie voel.

Die brilmalgas (Sula dactylatra) was eeue gelede volop, maar het weens die mens se toename die trekpas geneem. ’n Klein kolonie het in 1988 weer aan die suidekant van St. Helena begin broei en word streng gemonitor. Hierdie is nog ’n jong voël.

Maar hier waar ons drie en Linda nou op ’n uithoekie van die eiland staan en skemerkelkies drink, begin my hart sink. Dié suidwestelike puntjie van St. Helena is uitsonderlik afgeleë.

Van al die dramatiese uitsigte oor see, valleie en wolkwoude, is dit dié een wat my sal bybly. Maar daar’s nóg iets wat my oë wil-wil wasig maak: Hierdie mense wat my so sonder skroom in hulle wêreld betrek het.

Dít is ook die bekoring van St. Helena.


Sophia het as gas van St. Helena-toerisme ( sthelenatourism.com) gereis. Vir ’n volledige gids van die doendinge op St. Helena-eiland, en hoe om op die eiland te kom, sien Weg #165.