Die handjie vol uitgesoekte deelnemers aan die jaarlikse King Price Extreme Ultimate 4WD Adventure (U4A) is van ’n klompie dinge seker: Hulle weet byvoorbeeld jy moet minstens 35”-bande op jou ryding hê en dat ’n wenas én voorste en agterste ewenaarslot verpligtend is.
Hulle weet ook dat hulle oor die volgende klompie dae tot die uiterste beproef gaan word. Wat hulle nié weet nie, is waarheen hulle op pad is en wat presies op hulle wag.
Vir die laaste jaar is Nicholas Harris, die organiseerder van die U4A, besig om die avontuur te beplan, borge aan boord te kry en deur aansoeke te sif om op die finale groep te besluit. Die deelnemers moet vir die volle duur van die avontuur heeltemal selfonderhoudend wees, ’n geldige paspoort hê en alle noodonderdele en gereedskap wat jy dalk kan nodig kry, self saamry.