Die Wolkberg is die wilde broer van Magoebaskloof. Jy weet, die een wat nooit skool klaargemaak het nie... Hier’s enkele tweespoorpaadjies in die reservaat, maar die beste manier om die berge, klowe en watervalle te ontdek, bly maar met dapper en stapper.

Die paadjies word nie juis in stand gehou nie en jy soek-soek maar na ander stappers se kliphopies. Maar sjoe, die uitsigte, swempoele en riviere maak elke amperse verdwaal die moeite werd.

’n Goeie kaart is onontbeerlik, maar hulle is ongelukkig so skaars soos hoendertande. Ons het ’n kaart (1:50 000) van die omgewing by die Staatsdrukkery (2430AA Serala) gekry – dit dui die kontoere en tweespoorpaaie aan. ’n Mens kry wel ’n klein, handgetekende kaart by kantoor wat die “paadjies” aandui, verder maak jy maar staat op die Voortrekker in jou groep.

Jy stap onder meer tot by die Klipdraairivier en langs die Mohlapitse- en Shobwerivier. Jy kan enige plek slaap, maar in die ruie bosse is dit die maklikste om by die plekke te slaap waar ander stappers voorheen nes geskop het.

Hier is ook ’n klein kampterrein by die ingang met spoeltoilette en ’n donkie vir warm water – dis nou as jy eerder net dagstappe wil doen.


Wanneer kan ek stap? Jy kan heeljaar stap, maar in die lente en herfs is die weer die matigste.

Hoe ver stap ek? Dis weer eens jou keuse. Ons het ’n sirkelroete van sowat 40 km in vier dae gestap, maar jy kan byvoorbeeld ook die Seralapiek (2 024 m) uitklim; dis nog ’n dag ekstra.

Prys: Toegangstarief R20 p.p. plus R5 p.p.p.d. om te stap; R20 per kar en R50 per tent as jy in die kampterrein kamp.

Hoe kom ek daar? Die Wolkberg-wildernisgebied is sowat 45 km suidoos van Haenertsburg.

GPS S24.04873 E30.00561

Kontak: 015 276 1303 (besprekings deur Limpopo se toerismekantoor)


Hardebaardgraad 7/10 

Dis nie fisiek so uitdagend nie, maar jy moet ken van kaartlees en padsoek.


– Sonja Hofman