Op die Vis stap jy die eerste paar dae in ’n diep keep in die aarde; op dié roete stap jy hoog bo in die wolke!

Die enigste rigtingwysers wat stappers hierbo het, is die rand van die platorand en bekende rotsformasies soos die Ifidi-bergkaap, Inner Mweni-naald en Oostelike bergkaap. Verder moet ’n mens maar staatmaak op die Geomap-kaarte wat jy by KZN Wildlife se kantoor doer onder gekoop het. 

Hier is grotte waarin ’n mens kan oornag, maar diegene wat eerste opdaag, mag slaap. Dus moet jy maar soos ’n skilpad jou huisie op jou rug dra.

Ná ’n paar dae van vroeg opstaan, tent afslaan, uit strome drink, en wye, wye grasvlaktes voel ’n mens lus om net aan te hou stap – sommer al die pad tot in Lesotho.


Wanneer kan ek stap? In die somer is daar omtrent elke dag reën en donderweer, en in die winter sneeu dit. Stap dus liefs in die herfs of lente. Maar selfs dan moet jy gereed wees vir enige weerstoestande.

Hoe ver stap ek? Jy kan besluit hoe ver, maar ’n gewilde roete is om by die kettinglere by die Sentinel op te klim en dan sowat 60 km tot by die uMlambonja-pas te stap wat uiteindelik by die Cathedral Peak-hotel uitkom. Dit neem sowat 6 dae. Ná onlangse aanvalle word die kettingleerroete nou vir veiligheid oor naweke deur weermaglede gepatrolleer. Beplan jou stap liefs hier rondom.

Prys: R60 p.p.p.n.

Besoek: www.kznwildlife.com


Hardebaardgraad 8/10

Jy hoef nie noodwendig topfiks te wees nie, maar jy dra swaar: ’n tent én klere vir alle weersomstandighede. En as jy dit sleg tref met die weer, gaan jy baie aan jou karakter moet skaaf...


– Esma Marnewick