Op die Naukluftroete stap jy oor omtrent elke liewe berg in die gelyknamige bergreeks (in die Namib-Naukluft- nasionale park). Dis woes, maar tussen die klim het jy myle lange uitsigte oor die droë woestynlandskap.

Nou en dan beland jy in ’n kloof met skaduwee, en, as jy gelukkig is, ’n stroompie water. Van die klowe is só steil dat jy jou met kettings moet optrek. Jou bene is lam en jou kop duisel, maar dis opwindend!

Saans slaap jy in ’n skuiling (dis net ’n dak met heuphoogte mure) met ’n vuurmaakplek, long drop en water (wat jy meestal moet pomp).

As jy die roete klaar gestap het, sien jy kans vir enigiets – behalwe om wéér die Naukluft te stap.


Wanneer kan ek stap? Die roete is net oop van 1 Maart tot die derde Vrydag in Oktober. 

Hoe ver stap ek? Die hele sirkelroete is 120 km. Halfpad – op dag 4 – is daar ’n ontsnaproete. Jy kan ook jou sake só reël dat julle vooraf kos los by dag 4 se skuiling. Dis ’n vet ompad se ry soontoe, maar glo my, jy gaan nooit weer in jou lewe so bly wees om ’n paar lemoene en ’n plak sjokolade te sien nie.

Prys: R100 vir die roete en ’n parktarief van R40 p.p.p.d.

Besoek www.namibian.org en bespreek hier www.nwr.com.na


Hardebaardfaktor 9/10 

Die roete is beslis nie vir sissies nie. Jy moet fiks en jou stapstewels goed ingeloop wees. Daarby is agt dae van Smash en Toppers eet nie ’n grap nie.


– Sonja Hofmann