As jy voete het, móét jy eenvoudig “die Vis” aanpak. Die goeie nuus is dis meestal plat en hier is oorgenoeg water.

Die grootste uitdaging is om tot onder in die canyon te kom. Dis ’n hengse afdraande, en op die eerste dag stap jy oor groot ronde rotse wat jou enkels kan laat les opsê – en dis vrekwarm. Maar dae aaneen sien jy hoe die son die hoë kranse van die canyon in verskillende kleure verf, en jy is heeldag omring deur klip en water en sand.

Dié eenvoud maak jou kop oop, en jy skrik skoon vir die haardroërs en gelaaide 4x4’s as jy ná ses dae in die wildernis by Ai-Ais aankom. G’n wonder daar is mense wat dit al tien keer gestap het nie!


Wanneer kan ek stap? Dit wissel van jaar tot jaar – afhangende van die reënval – maar dis gewoonlik oop van 1 Mei tot 15 September. Dis baie gewild; bespreek dus vroegtydig.

Hoe ver stap ek? Die roete van sowat 80 km begin by Hobas en eindig by Ai-Ais. Die meeste mense stap dit oor 5 dae.

Prys: R300 p.p. vir die roete; R60 p.p. parktarief by Hobas en R10 per voertuig.

Kontak: 021 422 3761 of stuur ’n epos na ct.bookings@nwr.com.na


Hardebaardgraad 6/10

Hierdie is een van die “makliker” roetes – as jy onder in die canyon is, is dit meestal gelyk. Dit gaan waarskynlik nie reën nie, en daarom hoef jy nie ’n tent saam te dra nie.


– Esma Marnewick