Kyk, ek het al in ’n paar bergpoele geswem, en kan met vrymoedigheid sê die heel beste een in die Suidelike Halfrond is in die Malolotja-natuurreservaat.

Dié Lower Potholes-poel by die Lower Mahulungwa-kampkol is omtrent 50 m in deursnee, en as jy langs die waterval opklim, is daar nóg ’n mooi poel. Dit lyk kompleet nes ’n plek waar seerowers ’n skat sou kom wegsteek.

Die Lower Mahulunga-kampkol is een van 17 in die reservaat – die meeste van hulle is langs ’n stroompie. Dis eintlik net ’n ooptetjie met genoeg plek vir agt stappers. (’n Ander lekker poel is by die Maphandakazi-kampkol.)

Hier’s ’n netwerk van paadjies, en stappers kan self besluit hoe ver en wyd hulle wil stap. Die paadjies kronkel tussen en oor die berge, maar elke geswoeg na bo word beloon met ’n mooi uitsig en ’n gevoel van genoegdoening.


Wanneer kan ek stap? Enige tyd van die jaar – daar is altyd water in die hoofriviere. 

Hoe ver stap ek? Hier is sowat 200 km se paadjies en 17 oornagkolle – besluit self – 2 dae of 8 dae (wie’s dan bang?).

Hoe kom ek daar? Die Malolotja-natuurrreservaat is in Swaziland, sowat 365 km oos van Johannesburg.

Besoek: www.sntc.org


Hardebaardfaktor 5/10

Hier is ’n paar stywe opdraandes, maar die afstande is kort. 


– Sonja Hofmann