Die Sederberg is besaai met rotsformasies en voetpaadjies, en jy kan maklik ’n roete uitwerk wat al die bekendes insluit.

Die hardebaard-ouens kan elke aand in die veld slaap, maar as jy nie daarvoor kans sien nie, maar ook nie lus is om jou tent saam te sleep nie, kan jy jou roete só beplan dat jy in ’n grot of ’n skuiling oornag – dis basies ’n kamertjie (en dis al; geen elektrisiteit of ablusies nie). Dis darem gewoonlik langs ’n stroompie.

Ons het oor vyf dae ’n sirkelroete gestap wat begin op die plaas Driehoek, sowat 20 km van die Algeria-kampplek af. Die eerste aand het ons tente opgeslaan in ’n woudjie aan die onderpunt van die Gabrielspas. Hiervandaan het ons dagstappe gedoen na die Wolfbergboog en Wolfbergskeure. Ons volgende slaapplek was die Welbedachtgrot. Die plat Tafelberg (1 968 m) is net om die draai, en hier kry jy ongelooflike uitsigte. Op die derde dag het ons gestap na die Sneeuberghut, en van daar af die Maltese Kruis verken en die Sneeubergpiek (2 026 m) uitgeklim.


Wanneer kan ek stap? In die winter is ysig koud (dit kan sneeu) en in die somer bloedig warm en droog. In die lente steek die blomme oral kop uit en die stroompies bruis. Lekker.

Hoe ver stap ek? Dit hang van jou af. Kry Peter Slingsby se kaart van die Sederberg (R130 by www.slingsbymaps.com) en werk jou eie roete uit na gelang van jou fiksheidsvlak en verlofdae.

Prys: R90 p.p.p.d., asook ’n eenmalige bewaringstarief van R60 (gratis as jy ’n Wild Card het).

Kontak: Kry jou oornagpermit en ’n kaart van die omgewing in die kantoor by Algeria (027 482 2403) of by die Kaapse Natuurbewaring se kantoor in Kaapstad (021 483 0190). 


Hardebaardgraad 6/10

Jy moet wel berge op en af klim, maar met ’n bietjie beplanning kan jy jou tent tuis los. Dié berge is ’n goeie oefenslag voordat jy die grotes van die Draak aandurf.


– Sonja Hofmann