Die Noord-Kaap het meer om te bied as net veldblomme in die lente. In die Goegap-natuurreservaat net buite Springbok kan stappers die ruwe landskap, uitsigte en taai vetplante heeljaar geniet.

Met twee staproetes wat op en om granietkoppies kronkel, ’n selfry-toeristeroete en 60 km se 4x4-paadjies sal jy wonder hoekom jy nog nie van die plek gehoor het nie.

En die beste van alles? Buite die blommemaande Augustus en September sal jy selde iemand anders hier raakloop.

Die Agterlos-staproete begin agter die reservaat-kantoor, sowat 6 km van die ingangshek af. Dis ’n goeie teerpad, maar begroot minstens ’n halfuur vir dié stuk, want jy sal waarskynlik wil stilhou om na gemsbokke en ander vlaktewild te kyk. As jy wel in die lente hier kom draai, is dit ook hier waar jy tapyte kleurryke gousblomme en ander blomme te siene kan kry.

Shaen Adey

Kry voordat jy in die pad val, ’n kaart en brosjure by die kantoor en raak vertroud met van die reservaat se vetplante, bolplante en blomstruike wat in die nabygeleë Hester Malan-veldblomtuin uitgestal word.

’n Kort stukkie grondpad lei jou na ’n klipperige paadjie teen ’n heuwel op. As jy oor die eerste rant is, vurk die pad. Die linkerkantste paadjie (gemerk in geel) is die “lang” maar makliker 6 km-roete. Die “kort” 4 km-roete (gemerk in groen) klim steil met ’n standhoudende stroompie langs tot by ’n waterval. (Tensy jy ná ’n skaars somerdonderstorm of in ’n nat wintertydperk hier uitkom, is jou kanse skraal om die waterval te sien loop.)

Elmarie Heyns

Ons stap egter die langer geel roete en hy klim geleidelik na die weste. Kyk vir ’n oomblik terug oor die reservaat na Ribbokkop en ander veraf koppies. Ná sowat ’n kilometer is ’n afdraaipad na ’n uitkykpunt oor die sanderige vlaktes na die suide, en dan raak die gradiënt makliker soos die smal maar goedgemerkte paadjie eers na noord swenk en dan weer ’n lus maak na die suide en geleidelik tot op die koppie klim. Hou jou oë oop vir rooiborsjakkalsvoëls, witkruisarende, dassierotte, rondeoorklaasneuse en bloukopsalamanders.

Shaen Adey

Naby die spits kom die geel en groen paadjies bymekaar – dis min of meer halfpad en ’n goeie plek vir ’n blaaskans. Van hier af is dit tyd om weer af te daal. Die eerste kilometer of wat is klipperig en steil – kyk of jy ’n klipspringer hier rond sien – en dan loop die paadjie deur ’n sanderige rivierbedding en met ’n tweespoorpad langs terug tot by die beginpunt.

Wenk
Loop oor na die verste punt van die parkeerterrein voor julle ry: Hier sien ’n mens al drie Suider-Afrika se kokerboomspesies, ’n paar halfmense en klein bokkloutjies.

Al kan die blomme langs die paadjie nie met dié op die vlaktes meeding nie, is dit steeds die moeite werd om elke nou en dan op jou hurke te gaan sit – ’n mens sien allerlei vetplante en eendagspesies. (Hier is 581 opgetekende plantspesies in die reservaat.) Jy sal plante soos die verneuk-halfmens tussen die rotse sien wegkruip – dié spesie lyk soos ’n halfmens in die kleine, veral in die droë maande – asook die parasitiese katnaels, wat homself aan die wortels van ’n ander plant vasmaak om water en voedingstowwe by dié gasheer te kry.

Soek langs die rivierbedding vir die heldergeel blomme van die doringryke slaaibos, wit sporries en pers hongerblomme.

Elmarie Heyns
Elmarie Heyns

Buiten die plante huisves die 15 000 ha-reservaat ook 46 soogdier-, 88 voël-, 38 reptiel- en 3 amfibiese spesies.

Voëlkykers kan hulle verkyker reghou vir spesies soos die Kaapse ooruil, swerfvalk, Ludwigse pou, grondspeg, kaneelborssanger, bontkopkanarie, groenbossanger en Namakwa-suikerbekkie, en ’n mens sien gereeld springbokke, gemsbokke en Hartmannse bergkwaggas wei op die sanderige vlaktes.

Elmarie Heyns
Shaen Adey
Weet voor jy waai

Hoe ver stap ek? Die Agterlos is ’n sirkelroete en hier is twee afstandopsies: die 6 km lange geel roete en die 4 km lange groen roete. Al twee is relatief maklik en geskik vir kinders. Laat twee tot drie uur toe. ’n Ander opsie is die maklike Ian Meyer-staproete, ook ’n sirkelroete, wat by die kampplek naby die ingangshek begin en drie afstandopsies het: die 7,5 km lange rooi roete (± 3 uur); die 6 km lange geel roete, en die 5 km lange groen roete.

Water? Geen water is beskikbaar op die roete nie. Maak jou bottel by die kantoor vol voordat jy begin stap.

Waar? Die ingang na die reservaat is 10 km suidoos van Springbok met die R355 langs.

Toegangstarief R30 per volwassene; R18 per pensioentrekker; gratis vir kinders jonger as ses.

Oop Elke dag van 7.30 vm. tot 4 nm.

Die beste tyd om te stap? Augustus en September is blommaande, maar elke seisoen het sy eie aantrekkingskrag – buiten die somer dalk, wat baie warm en droog kan wees vir stap.

Van Februarie tot Mei sien ’n mens rooikwasse, Maartlelies en koekemakrankas blom in die Hester Malan-veldblomtuin. ’n Verskeidenheid aalwynspesies blom in Junie en Julie, en die basterkokerboom in Oktober.

Nog inligting 027 718 9906; goegap@outlook.com; “Goegap Natuurreservaat” op Facebook.