In die jare vyftig pak die Overbergse boer Jannie Willemse elke Saterdag douvoordag sy haarknipgoete in ’n sakkie. Hy groet sy mense en stap van die plaas Hartebeesrivier op die dorpie Tesselaarsdal oor die Kleinriviersberg tot op Stanford. Volgens Die Transvaler van 31 Maart 1950 doen hy dit om “...die Stanfordiete se hare te gaan bewerk teen een sjieling per kop.”

Ná ’n dag van haarsny stap hy die aand huis toe; dis sowat 40 km altesaam. In daardie stadium het hy dit reeds 24 jaar lank gedoen - sowat 30 000 myl; dus 48 000 km!

Op ’n koel Saterdagoggend teken ons die stapregister vir die Haarkapperroete by die Phillipskop-bergreservaat sowat 12 km oos van Stanford.

Chris Whitehouse, die eienaar van die reservaat, het kragte saamgespan met Johan en Elsa van Zyl van die buurplaas Elzaksa. Johan het roetes vir die 2017 Cape Epic-fietstoer uitgelê aan die Tesselaarsdal-kant van die berg. Ná die Cape Epic het hulle van dié roetes saamgesnoer met die bestaande roetes op Phillipskop en die Haarkapperroete is gebore.

Ons stap “Jannie se roete” van Stanford se kant af, want ons wil middagete eet by De Postkantoor-restaurant op Tesselaarsdal. Teen 8.20 vm. stap ons gesels-gesels al langs die Phillipskop se ooskant. Rondom ons is dit nog effe donker en die wind stoot slierte mis teen die heuwels af.

Dis Septembermaand en die veld is vrolik. Die velde geelgroen tolbosse is gestip met pienk en wit heide, ligtepienk sewejaartjies, grys vaalstompies en wit vleiknoppiesbos.

Ná sowat ’n halfuur se stap vou die Hidden Valley oop anderkant die skouer van die berg. Ons begin soek na die David and Goliath Rock Stacks. Twee netjiese natuurlike rotstorings staan oorkant mekaar in die klofie regs van ons asof hulle gereed maak vir ’n tweegeveg; die een strek twee keer hoër as die ander een.

Die paadjie daal verder af in die vallei neffens David verby tot by ’n stroom. Dis ’n mooi kol tussen digte fynbos – ons deel droëvrugte en neute en maak waterbottels vol bergwater.

Aan die ander kant van die stroom klim die paadjie weer stelselmatig uit die vallei. Teen dié tyd bak die sonnetjie warm op my, en ná ’n driekwartier van stap, hyg, rus, stap, hyg, rus... staan ons bo-op die rug van die berg en kyk terug.

Voor jou lê die Hidden Valley nou in al sy groen-en-geel glorie! Soek die Giant’s Football en Snail’s Rock regs van jou, en die Haarkapperpiek (575 m) waarheen julle op pad is op linkerhand.

In die verte sien jy die Akkedisbergpas waarmee julle vanoggend gery het. Rondom jou staan die fynbos plek-plek kophoogte met spatsels skelpienk sewejaartjies tussenin.

Voor jou lê die Hidden Valley nou in al sy groen-en-geel glorie!

Die mooi uitsigte hou net nie op nie! Van hier af stap jy op ’n plat stuk totdat jy die eerste keer die Tesselaarsdal-kant sien.

Op ’n helder dag sien jy Babilonstoringberg doer links, en tot sover as Hans se Kop in die Hottentots-Hollandberg!

Volgens Chris is niemand presies seker hoe “Jannie se roete” geloop het nie. Maar hierdie punt is teen 490 m die laagste punt op die rug van die Kleinriviersberg. “

’n Mens sou dus kon redeneer dat Jannie vir dié punt gemik het, maar die bestaande paadjies in daardie tyd sou waarskynlik sy roete bepaal het,” verduidelik Chris.

Op die oorspronklike tekening van die landmeter-generaal van 1870 en op ’n latere tekening in 1951 van Phillipskop is daar wel aantekeninge van voetpaadjies wat hierdie punt oorsteek.

“David”gesien van naby af.
Die uitsig oor die Hidden Valley.

Van hier af swenk die pad na regs tot by ’n kruising. Ons hou reguit aan vir ongeveer tien minute tot by die afdraaipaadjie na Haar-kapperpiek. ’n Paar nuuskieriges stap die vyf minute tot op die piek, maar die res van ons is tevrede om op die rotse uit te span en die reeds mooi uitsigte oor die Overberg te geniet – daar is berge, koring- en canolavelde net waar jy kyk!

Nou is dit al die pad afdraande – die voorste stappers raak klein in ’n geel see van tolbosse al langs die skouer van die berg. Namate jy daal, sien jy weer die Hidden Valley; nou aan jou regterkant doer onder, voor die paadjie weer links swenk en julle in ’n reeks sigsagpaadjies berg af loop.

Die paadjie kruis ’n stroom en mettertyd word die fynbos deurspek met helder oranje speldekussings (op hulle mooiste in Oktober).

Teen 11 vm. bereik ons ’n grondpad wat ons al hoe nader aan die dorp bring, verby mense se agterplase tot by ’n hek; deur ’n bos met wattel- en bloekombome, weer op ’n grondpad tot uiteindelik op die enigste teerpad deur die dorpie.

Ons draai links – almal is nou al goed honger en ons is dankbaar om De Postkantoor se rooi dak te gewaar. Ons span uit op die gras in die skaduwee van die geboutjie. Tyd vir koue bier en Coke!

Toe ons kos (quiche en tjips en Engelse ontbyte) uiteindelik opdaag, sluk ons dit vinnig af, want ons moet huis kry.

’n Mens stap dieselfde pad terug tot by die hekkie op die randjie van die dorp – hier draai ons nou regs bergop. Die klim tot weer op die rug van die Kleinriviersberg is ’n pyniging – dit het seker iets te make met die quiche en bier in my maag en die son wat soos ’n verhooglig op my kop brand.

Een voet voor die ander op die klipperige paadjie kom ons ’n driekwartier later bo.

Kort voor lank staan ons weer by die mooi uitsigpunt oor die Hidden Valley. Ons is verheug, want van hier af is dit net afdraand terug tot by die voertuie!

Terwyl ek afstap, onthou ek woorde uit ’n ander berig: “Sonder om een enkele dag afwesig te wees, het mnr. Willemse elke Saterdag in die afgelope twintig jaar die vyf-en-twintig myl te voet afgelê om die publiek sy onmiskenbare diens te kom lewer. Sodoende het hy reeds 26 000 myl, ’n afstand om die aardbol, deur weer en wind, nat paaie en vol riviere, winter en somer, dag en nag afgelê.”

Die berig in Die Transvaler lui: “Die haarkappery is vir mnr. Willemse ’n liefhebbery: Hy wou van kindsbeen af graag haarkapper word.” Nadat ek die roete gestap het, wonder ek egter of mnr. Willemse bloot ’n verskoning gesoek het om meer tyd in die berge deur te bring...

Van dié kruising af stap ’n mens afdraande tot by Phillipskop se ontvangs.
Doer onder staan die David and Goliath Rock Stacks.
Speldekussings en sewejaartjies is volop langs die roete.
De Postkantoor het ’n lekker kuierstoep.
Kyk die oulike roete-aanwysers!
Weet voor jy waai

Afstand

Dis sowat 9,5 km se stap tot op Tesselaarsdal. Indien jy die sirkelroete stap en middagete by De Postkantoor eet, is dit sowat 17 km. Die roete loop in die vorm van ’n 8. Jy kan self besluit hoe om dit aan te pak. Die kaart beveel aan om die “korter” kant (wes van Phillipskop en Haarkapperpiek) eerste te stap, want dan stap jy die steilste deel van die roete afdraande.

Ons wou die langer deel (oos van Phillipskop en Haarkapperpiek) eerste in die koelte van die oggend stap en middagete eet op Tesselaarsdal.

Jy kan van Tesselaarsdal af stap, maar hou in gedagte dat die roete op Phillipskop-bergreservaat eindig – dis nog ’n goeie 6 km tot by Klein River Cheese-plaas ( 063 266 8030; kleinrivercheese.co.za) en 12 km tot op Stanford.

Verblyf

Phillipskop se vyf netjiese selfsorghuise het ’n puik uitsig oor die Overberg. Dit kos vanaf R1 500 p.n. vir 4 mense, R220 per ekstra persoon, R110 per ekstra kind (slaapplek vir 6 mense).

Waar?

Die afdraai na die Phillipskop-bergreservaat is sowat 7 km oos van Stanford op die R326. Daar is goeie aanwysings op die webruimte. Van die Kaap af is dit vinniger om met die N2 en R316 soontoe te ry.

Koste

Koop ’n permit op die webwerf (R70 p.p. en R50 per kind) en laai ’n roetekaart af.

Middagete

De Postkantoor is ’n klein restaurant en ook gewild onder fietsryers. Bespreek vroeg as julle ’n groot groep is. Kontak hulle by 084 583 7095 of soek na “De Postkantoor Tesselaarsdal” op Facebook.

Ons het bespreek en steeds twee uur vir ons kos gewag, maar die eienaar het om verskoning gevra – daar was ’n misverstand in die kombuis. Daar is ook ’n kafee of twee op Tesselaarsdal waar julle koue koeldrank en skyfies kan koop.

Kontak

073 621 1808; phillipskop.co.za

Lees die koerantberigte oor Jannie Willemse op phillipskop.co.za

Neem ’n foto van die Steenboksberg.