Een van my gunstelingplekke is die Karkloof se misgordelwoud sowat 20 km noord van Howick in KwaZulu-Natal.

Die Middelland se misgordelwoude staan gewoonlik aan die streek se koeler, suidelike berghange en is gewild onder natuurliefhebbers, veral voël- en boomkykers.

Karkloof het ’n hand vol staproetes wat almal by die Canopy Tours-kantoor begin.

Ek is hier saam met my gesin en ons besluit op die 2 km lange Woodcutter se roete, wat almal se fiksheidsvlakke pas.

Die voetpad begin by die drumpel van ’n groen deur – jou poort tot die woudwêreld.

Die groen deur.

Hoewel ons roete een van die kortstes is, het die inligtingsbord aangedui dat dit sowat 2 uur sal neem omdat ’n mens eers ’n ent in die woud opstap en dan daal.

Maar ons is hier om die omgewing te geniet en niemand is haastig nie.

Die roete styg in ’n vou tussen twee heuwels uit. ’n Stroompie loop in dié klofie af en die voetpad sigsag heeltyd oor die water.

Kort-kort sien ons mense op die Canopy Tour se platforms tussen die boomtoppe.

Hulle krete van vreugde (of vrees?) weerklink af en toe deur die kloof.

Andersins is die woud tjoepstil.

Ná sowat 200 m kruis ons die stroom met ’n bruggie waarna die régte klim begin.

Net soos wat dit vir liggaam en siel verkwikkend is om in ’n skuimbad te week is dit terapeuties om jou aan die atmosfeer binne ’n woud oor te gee.

Dis ’n skerp, modderige helling en ek is dankbaar vir die houttrappies wat ons ’n entjie daarteen help.

Waar die trappe ophou, hang toue om aan vas te klou en verder hys jy jouself maar teen die boomstompe op.

Jinne, ’n mens moet seker maak waar jy... Oepsa! Daar ploeg ek neer!

My mense lag en grinnik nog vir my wat besmeer is, toe my suster skielik neersloeg, gevolg deur haar man en kort daarna ook my pa.

Ja, julle wóú mos lag!

Dis glad nie so gevaarlik as wat dit klink nie.

Ons het op ’n nat dag kom stap en die vrou by ontvangs het gewaarsku dat ons kan gly en val.

Psst!

Laat dié storie jou wens jy kan self jou sakke pak en dié sprokiesmooi deel van die land kom besoek? Hier’s jou kans! Klik hier vir nog.

Deel van die pret is om vindingryke maniere te bedink om in die kloof op die klouter.

En dit is lekker om vir ’n slag op niks anders nie as jou volgende vastrapplek te fokus.

Die bome en groenigheid herinner my aan die Japannese begrip shinrin-yoku, wat losweg beteken “om ’n woudbad te neem”.

Net soos wat dit vir liggaam en siel verkwikkend is om in ’n skuimbad te week is dit terapeuties om jou aan die atmosfeer binne ’n woud oor te gee: Kyk hoe filter die sonstrale deur die blare, luister hoe die klam grond jou voeteval absorbeer, trek jou longe vol suiwer lug en verwelkom die kalmte wat bome bring.

Ja, ja, ek klink stroperig, maar dit maak sin.

Binnekort gaan jy ’n stroompie kruis en van die koudste, helderste water op aarde drink.

Tyd vir ’n sluk vars rivierwater.

Met longe vol vars lug en ’n sitvlak vol modder is jy myle weg van die alledaagse sleur van die lewe.

Vertoef ’n rukkie hier...

Het julle dit gehoor? Die roep van die gevlekte vleikuiken, en daar’s ’n bloukuifloerie!

As jy gelukkig is, hoor jy dalk selfs die luidrugtige fluite van woudpapegaaie.

Dié voëls word selde gesien, maar hulle is hier iewers tussen die geelhout- en stinkhoutbome wat bo jou uittoring.

Die roete se keerpunt is ’n groot bloekom sowat 1,2 km in die kloof op.

Ja, dis ’n indringer, maar darem die enigste een wat ons teëkom.

’n Ou wurgvyboom.

Dis glo die gebruik om die boom ’n drukkie te gee en dus maak ons ook so!

Terwyl ons voetjie vir voetjie daal, val die skoonheid van die woud my weer op.

Slierte mis kartel soos slange deur die boomstamme, ’n blouduikertjie flits verby en alles wat hier groei – van die ligene tot die rankers – beur boontoe vir ’n leksel sonlig.

By die voet van die hang swenk ons af op die 500 m lange Wellness-sirkelroete wat al langs ’n stroompie loop.

Hier’s verskeie bankies waar ’n mens kan sit en nadink oor die lewe.

Elke honderd meter staan ’n houtbordjie met ’n aanhaling.

Voordat ons die woud verlaat, gaan sit ek vir oulaas op ’n bankie en oordink een van my gunstelinge, hierdie strofe uit ’n gedig van lord Byron:

There is a pleasure in the pathless woods, There is a rapture in the lonely shore, There is a society where none intrudes, By the deep Sea and music in its roar: I love not Man the less, but Nature more.

’n Houtbordjie op die Wellness-sirkelroete.

Afstand? Die Woodcutter se roete is ’n 2 km lange sirkelroete. Al die Karkloof-roetes is kort maar die terrein uitdagend, met Giant’s Top (’n steil 5 km wat sowat 480 m styg) die moeilikste.

Waar? Die afdraai na die Karkloof Canopy Tours is op die Karkloofpad, sowat 18 km noord van Howick.

Wanneer? KZN het ’n hoë somerreënval; dus kan stappers van September af regdeur tot in Februarie regmaak vir modder. Dan is die vallei se watervalle ook op hulle sterkste en reën en mistigheid is deel van die ervaring. In die winter is hier minder water en die voetpaaie ook droër.

Koste R80 p.p. (R50 per kind). Die kantoor is elke dag oop van 8 vm. tot 3 nm.

Kontak 033 330 3415; 076 241 2888; canopytour.co.za

Jeuk jou voete nou?
Klik hier vir Salomon-stapskoene en ander toerusting van topgehalte.