Victoriapiek, Emerald Dome, Die Pieke... Ja-nee, met dié oorvloed van spitse in Jonkershoek vergeet ’n mens soms van Stellenboschberg. Hier is dalk nie watervalle nie, maar die kronkelpaadjie en plek-plek vreesaanjaende steil rotse waarteen jy moet uitklouter, sorg vir ’n goeie skeut opwinding! Én op ’n mooi dag lê Valsbaai oop voor jou en doer ver staan Tafelberg. Trouens, jy staan só hoog dat Tafelberg glad nie so plat lyk nie!
Hier is ’n paar plekke waar jy kan begin stap tot by Stellenboschberg se spits, maar die gewildste beginpunt is by die Coetzenburg-sportveld. Hier is ’n bord wat die verskeie roetes op die berg (tussen 2,5 km en 15 km) aandui, asook watter voëls en plante jy gaan teëkom. (Ons besluit om ’n korter maar steiler roete te volg en stap dus ’n kombinasie van ’n paar roetes.)
Hou regs by dié bord op ’n tweespoorpad en draai regs by die groot houtkruis (dié kruis staan onder Stellenbosch se Berg-en-toerklublede bekend as Eerste Kruis). Voor jou lê ’n stewige bult, maar as jy links draai, gaan jy veel verder stap. Die reuk van dennenaalde hang swaar in die lug namate jy langs die dennebome verby stoom.