My ouers, Gene en Poppie, het my al as klein tjokkertjie van vier of vyf jaar oud saamgesleep Drakensberg toe. Ná skool op Nelspruit (nou Mbombela) het ek ’n paar maande as ’n kelner gewerk om Afrika se hoogste spits, berg Kilimandjaro, in Tanzanië te klim. Dié klimtog was ’n wonderlike ervaring en ek het daarvan begin droom om die hoogste spitse op die sewe vastelande, bekend as die Seven Summits, te klim.
Teen 6 960 m is berg Aconcagua in Argentinië naas berg Everest die hoogste van dié sewe. Hulle sê as jy berg Aconcagua met gemak kan klim, jy Everest sal kan tem. En omdat berg Aconcagua nie ’n “tegniese” klim is nie, kan jy dit alleen doen, dus sonder ’n ekspedisie-agentskap. Dit het my gepas, want ek’s mal daaroor om die wildernis manalleen in te vaar!