Die Swahili-woord “safari” beteken “reis”, en Tanzanië is beslis ’n hoogtepunt op ons epiese reis. Net soos ander natuurliefhebbers het ons grootoog gekyk na die fantastiese natuurfoto’s op blink tydskrifblaaie.

Ons moes besluit wat ons regtig wou sien en ons roete dienooreenkomstig beplan. Tanzanië is groot en ons kon nie alles inpas nie. Dus het ons gemik na die groot parke in die noorde van die land: Die Manyarameer, die Ngorongoro-bewaringsgebied, Tarangire en die Serengeti, met ’n kort kuier by die Natronmeer. Afrika se “Tuin van Eden” was vol beloftes van natuurskoon en diere, en ons was meer as gereed.

Troopy-spore

Sake by die Namaga-grenspos tussen Kenia en Tanzanië was maklik – die beamptes het nie eens na ons voertuig gekyk nie. Ons het direk (100 km) na die Arusha-lughawe gery waar ons Marie se Franse neef Aksel Kibarer en sy gesin ontmoet het. Hulle sou by ons aansluit vir ’n kort safari. Die kinders, Elio (7) en Thelma (10), het nie juis geken van in die bos kamp nie.

Hulle het ’n Toyota Land Cruiser Troopy by Arusha Car Rental gehuur. Dié voertuig het dubbele daktente, ’n yskas en gaskookblad en ’n paar stukke kamptoerusting. Ons het die aand in Arusha geslaap, die toerusting nagegaan en die volgende dag na die Manyarameer- nasionale park vertrek.

Ons het buite die park by die Migombani-kampplek (US$15 p.p.p.n.) gebly. Die kampplek kyk uit oor die Manyarameer, en spog met ’n enorme swembad en die grootste kremetart wat ons nog gesien het. Ons het vyf Suid-Afrikaners ontmoet wat saam ’n oorlandtoer doen. Die groepleiers was Henk en Sandra du Toit in hulle massiewe Iveco genaamd “Skolopata”.

Migombani is spesifiek vir oorlandtoerders en toergroepe wat kamp. Die storte was fantasties en die kos lekker, maar dit was die ooptes en groen gras en die uitsigte wat ons altyd sal bybly. Ons het dit so baie geniet dat ons drie aande gebly het en op daguitstappies na Manyara en Ngorongoro gegaan het.

Manyarameer- nasionale park
Migombani-kampplek

Die unieke Manyarameer- nasionale park beslaan 300 km² en het ’n soutmeer in die middel wat gevoed word deur borrelende warmwaterbronne, en digte woude van wildevy-, mahonie- en doringbome. Ons kon dit alles op een dag sien, ook die plankiespad langs (en in!) die meer waarvandaan ons watervoëls kon dophou, asook ’n paar buffels wat op die oewer wei. Iewers in die dag was ons gelukkig en sien ’n leeuwyfie in ’n boom! Manyara is bekend vir hulle leeus wat kan boomklim.

Ons het middagete op die oewer van die meer geniet saam met ’n groot trop nuuskierige kameelperde. Daarna het ons die seekoei-poel besoek. En wat ’n gesig om dié logge diere uit die water te sien verrys met ’n groen koptooisel van waterhiasinte! Hulle het gelyk soos meerminne wat na ’n fancy dress gaan.

Ons het daai aand by die kampplek ons uitstappie na die Ngorongorokrater die volgende dag bespreek. Toegangstariewe vir buitelandse voertuie is buitensporig. Teen 5.30 vm. klim ons almal in die plaaslik geregistreerde Troopy. In die Troopy het ons net 30 000 Tanzaniese sjielings betaal (met ons Hilux sou ons US$190 (R2 800) moes opdok).

Ngorongorokrater

Op die rand van die krater dink ’n mens egter nie aan geld of enigiets anders nie. Jy poseer vir ’n selfie by een van Afrika se mees ikoniese uitkykpunte.

Dié twee miljoen jaar oue krater het ’n ononderbroke rand van 600 m hoog. Tussen 1899 en 1916 het twee Duitsers, die Siedentopf-broers, binne die vrugbare krater begin boer. Hulle het honderde wildebeeste gejag en die tonge laat piekel vir Duitse fynproewers.

Teen 1928 is die krater tot ’n reservaat verklaar en in 1959 as ’n bewarea. Ons het leeus, buffels, olifante, verskeie voëls (en Land Cruisers) gesien! Ons het by twee piekniekplekke gekuier en moes dit met ongeveer 80 Land Cruisers en hulle passasiers deel. Ons moes selfs toustaan vir die gemakshuisie!

Tamarinde en tsetsevlieë

Ons was steeds op soek na daai “wilde gevoel” sonder om elke tien minute ’n Land Cruiser teë te kom. In Tarangire het ons ’n bespreking gemaak by ’n kampplek in die middel van die park genaamd Korongo (dit kos US$50 p.p. teenoor die openbare kampplekke se US$30 p.p.) vir twee nagte.

“Waar is die toilet? Is ons op die regte plek?” wou Aksel se kinders weet. Oorsese besoekers verwag meer vir die geld wat hulle betaal. Ten minste was ons oplaas in die boendoes, hoewel ons ’n parkgids vir die eerste aand saamgeneem om ’n oog te hou oor Aksel se gesin. Kinders kan vinnig onder jou oë verdwyn as jy nie mooi kyk nie en ons wou aan die veilige kant bly.

Ngorongorokrater-piekniekplek

Ek het nog altyd gewonder waar bobbejane in die aande tot ruste kom en in Tarangire kon ek dit beleef. Tanzanië se olyfbobbejane is baie meer beskaafd as hulle Suid-Afrikaanse neefs. Ons was langs ’n droë rivierloop met tamarindebome aan die kant. En dis in dié bome waar die bobbejane saans huis gemaak het.

Laatmiddag het ons almal ’n peuselding geniet: Ons Pringles en koue bier en die bobbejane tamarindepeule. Daardie aand het ons feëtjieligte gehang en saam met die geselsende bobbejane en die leeus wat in die verte brul ’n magiese aand beleef.

Op ons wildrit die volgende oggend ry ons verby ’n bordjie wat na ’n grondpad wys: “The Greatest View”. Natuurlik moes ons gaan kyk. Aan die einde van die pad vind ons toe die Tarangire Safari Lodge met uitsonderlike uitsigte so ver as wat die oog kan sien. Brenden Simonson, die eienaars se seun, het ’n Landie in die parkeerterrein herstel.

“Kom drink asseblief koffie en tee,” het hy genooi en ons het ’n rukkie gesels oor hoe sy familie so ’n mooi stuk aarde bekom het. Hy het ons ook sy pa se tuisgemaakte “Swamp Crawler” gewys. Dis ’n eienaardige kombinasie van Land Rover, Unimog en Lexus! Blykbaar is die voertuig ’n paar jaar gelede ingespan om die avonturier Kingsley Holgate uit die taai Tarangire-modder te red.

Dit was interessant om langs die bobbejane te kamp. Elke aand het hulle die tamarindepeule kom verslind en dan lêplek in die bome gekry. Op die tweede aand is ons slaap versteur – daar was bobbejaanmoles. Teen 1 nm. wou ek baie graag ’n klip na die geskreeu slinger, maar ek was bang dit lei tot verdere onrus en dan sou ons wakker lê totdat die son opkom.

Patrick, Marie en die Kibarers
Thompson se gaselle, Ngorongorokrater

Gepraat van onrus, met ons besoek het die tsetsevlieë omtrent die ronde gedoen en veral Marie het deurgeloop. Ons kon nie verstaan hoekom net sy nie. Ons het verskeie tsetsevliegstrikke (stukke lap tussen bome) in die park gesien en besef hoekom hulle spesifiek vir Marie opsoek: Hulle was aangetrokke tot die donkerblou en swart kleur van haar klere.

Tarangire is beslis een van Tanzanië se hoogtepunte. Die landskap is ’n indrukwekkende mengsel van palms, kremetarte, vlaktes en moerasse en dit wemel van die diere. Die paaie in die park is beter as dies in meer gewilde parke en dus is wildkyk ’n fees. Een oggend het ’n trop van 150 buffels sommer deur ons kampplek geloop.

Tarangire-nasionale park

Poeierstof en gekleurde flaminke

Die Kibarers is terug Arusha toe en ons reis alleen verder. Daar was twee maniere om van Tarangire na die Serengeti te reis: ’n Duur maar kort roete – US$140 (R2 080) vir ons en ons Hilux – deur die Ngorongoro-bewaringsgebied of ’n langer roete oor die Natronmeer in die noorde. Ons het gehoor die Natronmeer word selde besoek, dis wild en met swerms flaminke wat daar hou – perfek!

Ons het gedroom oor in die meer baai terwyl ons flaminke dophou. ’n Wildbewaarder het dié drome verydel. “No, no, leave the soaking to the flamingos, it’s dangerous!” het hy gewaarsku. Verdamping veroorsaak “loogsout” wat lei tot ’n brakheid (ph 9-12). Groot algebloeisels gee aan die meer ’n pienk kleur – en dis hoekom die flaminke pienk is. Hulle eet hope alge. Blykbaar word 75% van die wêreld se kleinflaminke op die Natronmeer gebore en ons wou dit bittergraag sien. Terloops, as ’n Tanzaniese wildbewaarder vir jou sê dat die paaie “nogal goed” is, moet jy dit maar met ’n knippie sout neem.

Op pad na die Natronmeer.

Die 10 uur lange reis (450 km) neem ons deur ’n rotsagtige half-woestyn. Dis bloedig warm en plek-plek is daar fyn poeierstof. Die stof het agter ons aangedwarrel en dit was moeilik om vars lug by die vensters te laat inkom. ’n Paar keer het ons ons lelik daarmee misgis, maar die uitsigte was nogtans uitsonderlik.

Ons moes US$10 p.p. (R150) by die Engaresero-hek betaal om die omgewing rondom die Natronmeer te verken. Ons het gekamp by ’n gemeenskapskamp, Maasai Giraffe Eco Lodge (US$10 p.p.). Dis ongeveer ’n kilometer van die meer af. Die wind het egter so geloei dat ons eerder in die Welcome Hut geslaap het. Die volgende dag was die wind erger, die flaminke was skaars en stap ’n uitdaging. Ons het nie tot by die waterval gestap nie en die meer net van ’n afstand af gesien. Buite die gemeenskapkamp kos elke aktiwiteit US$20 p.p. (R300).

Ja-nee, in Tanzanië het alles ’n prys. 

Maasai Giraffe Eco Lodge

Serengeti se paaie

Van die Natronmeer af het ons vier uur lank gery tot by Klein se Hek in die noordooste van die Serengeti- nasionale park. Ons het die tarief van US$260 (R3 800) vir ons en die Hilux betaal en twee nagte in die park deurgebring.

Die eerste aand het ons in die Lobo- openbare kampplek in die Lobovallei gebly, groot katte gaan kyk en leeus gesien. Ons het die kampplek met ongeveer 30 Italianers en drie buffels gedeel. Die bestuurdergids van die Italianers het my verbaas deur sy kliënte toe te laat om sterk flitsligte te skyn op buffels sodat hulle op 20 m selfies kon neem!

Natronmeer

Ons was gewaarsku dat die Seronera- openbare kampplek (in die suidooste van die park) besig is en die paaie swak. Ons het die kaart geraadpleeg en besluit om by die Ndabakahek uit te ry, waar daar ’n klein openbare kampplek is. Ndabaka is na aan die Victoriameer, en van daar af kan ons na Rwanda reis.

Maar ons moes eers agt uur (220 km) op swak paaie ry om by Ndabaka te kom voordat dit donker raak. Ons het nie. En hoewel ek glad nie onwettige wild kamp goedpraat nie, moes ons ’n plan maak. Ons het laterhand ’n ongebruikte pad gevind wat geëindig het in wat gelyk het soos ’n kol waar sand versamel word langs ’n rivierbedding. Ons het die Hilux buite sig parkeer, toebroodjies geëet en by ons daktent ingekruip.

Die volgende oggend het ons ’n geluid aan die agterkant van die Hilux gehoor. Die berugte sinkpaaie van die Serengeti het hulle tol geëis – een van ons dakrakklampe was gebreek. Ons het dit vasgebind sodat die ander drie kan hou terwyl ons ry.

Ons het nog net vyf minute gehad om die park te verlaat: Jy betaal vir 24 uur in die park en as jy laat is, betaal jy vir nóg ’n dag. Buite die park was ons baie verlig om weer op teer te ry.

Serengeti- nasionale park
Veerboot by Mwanza
Veerboot oor die Victoriameer

Ons het by die Fukufuku-kampplek naby die Ndabakahek kamp opgeslaan. Dis klein maar silwerskoon. Ons het ’n bier geknak op die feit dat ons dit uit die Serengeti gemaak het met net ’n gebreekte dakrakklamp.

Daai aand skrik ons teen 2.30 vm. wakker van ’n geskree en ligte wat skyn. In Tanzanië (net soos in Kenia) is al die parke sonder heinings en die gemeenskap jaag die diere weer in die park – dié keer was dit ’n trop olifante!

Die Serengeti het slegte paaie, maar dis steeds die besoek werd. Ons moes eintlik vyf nagte hier gebly het pleks van twee.

Tanzanië is wild en duurder as die deursnee-safaribestemming, maar daar is hope te sien. Dis waar jy varsgesnyde suikerrietblokkies en sakkies geroosterde grondboontjies sommer so deur jou karvenster kan koop. Dis waar jou dag met vars oliebolle, vetkoek en koffie begin. Dis waar mense glimlag en waai wanneer jy verby hulle ry.

Maar dis ook ’n plek waar jou voertuig se dakrakklampe en kronkelvere breek. Van Fukufuku het ons gery na die meerdorp Mwanza, ’n veerboot geneem oor die Victoriameer na die Rusumo-grenspos met Rwanda.

Tanzanië

Patrick en Marie Gurney

Die egpaar het op 3 Junie 2018 vertrek uit Valence, Frankryk (Marie se tuisdorp), met die doel om binne 18 maande tot by hulle huis in Johannesburg te ry.

Teen die tyd dat hulle in Tanzanië gekom het, was hulle reeds 14 maande op die pad. Hulle het deur Frankryk, Switserland, Italië, Kroasië, Slowenië, Hongarye, Roemenië, Bulgarye, Griekeland, Turkye, Israel, Palestina, Jordanië, Egipte, Soedan, Ethiopië en Kenia gery.

Marie is ’n volhoubaarheidskonsul-tant en Patrick ’n bemarker.

NOG INLIGTING

Stuur ’n e-pos na info@skultcha.com as jy vrae het oor die Gurneys se reis, of gaan na skultcha.com. Soek hulle op Facebook deur “skultcha” in te tik, en @skulcha op Instagram.

VOLGENDE MAAND
Patrick en Marie verken Rwanda (deel 6). Vorige maande: Egipte (deel 1, Weg #178), Soedan (deel 2, Weg #179), Ethiopië (deel 3, Weg #180) en Kenia (deel 4, Weg #181).