Vragskepe gelaai met skatte uit die Ooste het deur die eeue hier gestrand en vergaan en koning Dingaan se Zoeloe-impi’s het 160 jaar gelede op strooptogte hier amok gemaak. Selfs die man na wie die dorp in 1925 genoem is, prins Eduard van Wallis, moes in 1936 as koning Eduard VIII van Engeland abdikeer toe hy met Wallace Simpson, ’n geskeide Amerikaner, wou trou.

Die geskiedenis van die dorp se ouwêreldse vakansieoord op die strandfront, vandag bekend as die Port Edward-vakansieoord, is net so kleurryk.

Die oord het sy ontstaan te danke aan die Tweede Wêreldoorlog of, om meer presies te wees, die Suid-Afrikaanse polisiemanne wat in dié oorlog aan die kant van die Geallieerdes geveg het.

Port Edward-vakansieoord

In 1942 het genl. Jan Smuts, Suid-Afrika se eerste minister, plaaslike polisiemanne opgekommandeer om die Sesde Infanterie Brigade te vorm om in Noord-Afrika teen die Duitsers en die Italianers te veg. Dié polisiemanne het skaars daar aangeland of die meeste van hulle is in die rampspoedige Slag van Tobruk deur die Duitse Afrika-korps gevange geneem.

In Suid-Afrika het familielede en vriende ’n fonds gestig en geld ingesamel met die doel om vir die krygsgevangenes geld en goedere te stuur. Hiervan het nie veel gekom nie, bloot omdat die logistiek bykans onmoontlik was om te oorkom.

Die fonds het aanhou groei, en teen die einde van die oorlog is die “krygsgevangene-fonds” in ’n “vakansiefonds” omskep.

Daar is besluit om met die geld ’n eiendom aan die kus te koop waar lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens kon vakansie hou.

In 1947 is die plaas Umtamvuna by Port Edward gekoop.

In daardie dae het die dorpie net uit drie winkels, ’n hotel, ’n slaghuis en enkele woonhuise bestaan.

In 1948 het die eerste polisielede by die Port Edward-polisiekamp aangemeld vir hulle vakansie. Hulle het in tente gebly, maar die oord het oor die jare gegroei. Tennisbane en ’n swembad is gebou, asook baksteenchalets. Warm water, elektrisiteit en stowe het in die 1950’s gevolg.

Aanvanklik kon net polisielede en afgetrede lede hier vakansie hou, maar ná 1994 is die oord herdoop tot die Port Edward-vakansieoord. Vandag is sy deure, en die kans om ’n lywige elf van die rotse voor die oord te vang, oop vir almal. Hoewel hier deesdae moderne geriewe en selfs platskerm-TV’s in die vakansiehuisies hang, sal die geskiedenis van die oord nie sommer vergeet word nie.

Gaan na portedward.co.za vir meer inligting en lees die dorp-van-die-maand-storie oor Port Edward in Weg #171