Lt. Hans Goerke het in 1904 saam met die Schutztruppe uit Duitsland in Duits-SuidwesAfrika aangekom. Maar ná die ontdekking van diamante by Kolmanskop in 1908 het dié voorraadinspekteur uit die weermag bedank en as die bestuurder van die Emiliental Diamantengesellschaft mbH sy fortuin gemaak.

Die woonhuis wat hy in 1910 aan die bopunt van Zeppelinstraat teen Diamantberg laat bou het, is ’n toonbeeld van die rykdom wat in daardie dae uit diamante bekom is.

Daar word geglo dat die argitek ene Otto Ertl was, wat ook heelwat ander Duitse ampsgeboue en huise in Lüderitz en Swakopmund ontwerp het.

Die spoggerige plek het Goerke destyds 70 000 Duitse mark (£3 500) gekos, en hoewel verskeie boustyle te bespeur is, voer art nouveau (of Jungendstil, soos die Duitsers dit genoem het) die botoon – let byvoorbeeld op die sonhorlosie teen die regterkantste toring.

Hans Goerke het egter net twee jaar hier gewoon voordat hy (in 1912) terug is Duitsland toe.

In 1915 val genls. Smuts en Botha Duits-SuidwesAfrika in en Goerke Haus – wat in 1920 die eiendom van Consolidated Diamond Mines (CDM) geword het – word in 1944 aan die regering van Suidwes-Afrika (toe ’n mandaatgebied van die Unie van Suid-Afrika) as magistraatswoning verkoop.

Op 26 September 1975 word die huis tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Die geringe misdaad in Lüderitz regverdig egter nie die teenwoordigheid van ’n magistraat nie en dié amp verskuif in 1981 na Keetmanshoop. CDM (nou Namdeb) het die gebou kort daarna teruggekoop en onder leiding van die argitekte Edda Schoedder en dr. Water Peters gerestoureer.

Bronne: So Few Are Free deur Lawrence G. Green; Lüderitz-stadsraad se geskiedkundige toer; kolmanskuppe.com; www.andrewcusack.com; namibian.org

Goerke Haus
Goerke Haus. Foto: Sam Reinders

ONS SOEK JOU OU KIEKIES
Het jy ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na kyra.tarr@media24.com