Ek en my vriend Kobus Joubert praat nou nog oor ’n toer wat ons in die 1960’s as studente aan Stellenbosch Universiteit onderneem het. Louis Botha, ’n ou skoolmaat, het antropologie geswot en was doenig met ’n tesis oor die Ovambo- en Himba-mense van Namibië en Angola. Hy het ’n navorsingtoer saam met ’n klomp studente na dié lande beplan en my en Kobus saamgenooi oor ons “bestuursvernuf”.
Die toerwa was ’n seweton-Leyland-skoolbus. Ons was plaasseuns en kon swaar voertuie bestuur, ’n nodige vaardigheid op die toer aangesien dat ons oor die sogenaamde Rooilyn na afgeleë gebiede sou reis. Natuurlik het ons dadelik ingestem!
Die roete was soos volg: Teerpad tot op Springbok, daarna net grondpad. Van Springbok tot by die Augrabies-waterval, steek die grens oor by Noenieput, Grünau, Visrivier-canyon. Van daar af is ons teen die rivierloop langs tot by die Hardapdam en nog verder noord tot by Namutoni in Etosha voordat ons Brandberg langs Ruacana-waterval toe gery het. Ons het sowat 25 km ver in Angola gereis voordat ons teruggedraai het; die bus het net-net deur die klein hekkie van die Oshikango-grenspos gepas. Dit was voor die burgeroorlog wat in 1975 begin het.