Die roete begin by Mont-aux-Sources – in Frans beteken dit “berg van fonteine” – in die Koninklike Natalse nasionale park.

In die reënseisoen stort die Tugelawaterval, die hoogste ter wêreld, teen die Drakensbergse Amfiteater af en verskeie strome vloei ineen aan die voet van die dramatiese krans. Hier langs die parkeerterrein (S28.70953 E28.94022), van waar jy die toneel aanskou, is die Tugelarivier nog jonk, skaars 5 m breed en enkeldiep, en sy blinknuwe water kristalhelder.

Ongeveer 500 km ooswaarts, waar die Tugela in die Indiese Oseaan uitmond, lyk hy egter heeltemal anders.

Dag 1

Draf deur die geskiedenis

Die teerpad loop teenaan die Tugelarivier tot by ’n piekniekplek langs ’n dam.

Hou eers hier stil en neem ’n pragfoto van die Amfiteater. Van hier af ry jy verby die besoekersentrum en kort daarna verlaat jy die nasionale park by die hoofhek.

Skaars 200 m buite die hek steek jy die Tugela die eerste keer oor. Hier lyk dit of die rivier wraggies in die afgelope 6 km sedert die parkeerterrein dieper én breër geraak het.

Volg ’n slaggatbesaaide teerpad vir 7 km en draai regs by die padpredikant vir Dukuza (S28.67535 E29.03577).

’n Skaflike teerpad neem jou verby verskeie nedersettings met interessante boustyle.

Een so ’n ongewone huis langs die pad lyk soos ’n vliegtuig. Die argitek het duidelik groot gedroom, maar sy begroting en vakmanskap het hom in die steek gelaat, want die sinkplaatromp en Volksiebusdeure van sy vliegtuighuis is besig om weg te roes.

Hier is talle spoedhobbels en jy moet waaksaam wees vir beeste en boerbokke wat soms voor jou inloop.

Ná 26 km bereik jy die Woodstockdam, die eerste van drie groot damme in die Tugelarivier. ’n Brug van 394 m neem jou oor die dam en dan daal die teerpad tot agter die 54 m hoë gronddamwal wat 373 miljoen kubieke meter water terughou.

Hier steek jy die Tugelarivier – wat nou al tot 50 m breed geswel het – die tweede keer oor (S28.75747 E29.25145). Die pad styg weer en oorbrug die Tugelakanaal wat water voorsien aan ’n besproeiingskema vir die omliggende landbougebied.

Regs van die pad lê die Drieldam, die kleinste van die drie in die Tugela se loop. Omdat die landskap so heuwelagtig is, is hy egter nie van die pad af sigbaar nie.

Die eerste dorp wat jy aandoen, is Bergville. Die Britse blokhuis in Bergville is die laaste oorblywende gebou van sy soort in KwaZulu-Natal.

Die Britte het in die tyd van die Anglo-Boereoorlog nagenoeg 8 000 blokhuise en forte gebou – party was beswaarlik meer as klipkrale – en betreklik min van hulle staan vandag nog. Hou ooswaarts met die R74-streekpad, see se kant toe, en steek die Tugelarivier ’n derde keer oor op die dorp se buiterand.

Die Tugela swenk hier noordwaarts tot in die Spioenkopdam – die derde een in die rivier se loop. As jy kans sien vir ’n 90 km-ompad, kan jy die slagveld van Spioenkop naby die dam besoek.

Interessant genoeg het verskeie groot geeste op verskillende maniere aan die Slag van Spioenkop deelgeneem in 1900: ’n jong verslaggewer met die naam Winston Churchill sou later Eerste Minister van Brittanje word; ’n jong draagbaardraer, Mahatma Gandhi, sou mettertyd Indië se onafhanklikwording van Brittanje lei; die jong offisier Robert Baden-Powell sou ná die oorlog die Boy Scout- en Girl Scout-beweging stig; en genl. Louis Botha word ’n jaar later die eerste leier van die Unie van Suid-Afrika wat versoening tussen Boer en Brit probeer bewerkstellig.

Ons bly egter op die R74 en ry tot op Winterton, soos die kraai vlieg 12 km suid van die Tugela. Dié dorp lê langs die Klein-Tugelarivier, in Zoeloe die Njesuthi, oftewel “die versadigde een”.

Winterton is in 1905 gestig met die oorspronklike naam Springfield, maar is vyf jaar later na die destydse Natalse sekretaris van landbou, H.D. Winter, vernoem. In die dorp se hoofstraat, Springfieldstraat, draai jy regs op die Colensopad, wat ná 6 km ’n baie slegte grondpad word.

Kyk, ons hou van grondpad, maar hierdie een was met ons besoek onsmaaklik verby, en te oordeel na die parallelle spore deur die veld voel die omgewing se inwoners ook so.

Ná 15 km ry jy met ’n duikweg onderdeur die N3-snelweg en 12 km daarna bereik jy die Kitchenerbrug oor die Doringspruitrivier op die buiterand van die dorp Colenso.

Die brug is genoem na graaf Herbert Kitchener wat die Britse magte in die Tweede Anglo-Boereoorlog gelei het. Kitchener word natuurlik onthou vir sy “Verskroeide aarde”-beleid én vir die konsentrasiekampe waarin derduisende vroue en kinders van verskeie bevolkingsgroepe omgekom het.

Ry noord met die R103 verby Colenso, steek die Tugelarivier die vierde keer oor (S28.74198 E29.81899) en draai ná 500 m regs, terug Colenso toe.

Jy steek die Tugela hier die vyfde keer oor met die Bulwerbrug. Die brug is van klip en staal gebou en is genoem na sir Henry Ernest Cascoyne Bulwer, voormalige goewerneur van die Natalkolonie.

Buiten die brug is daar ’n dorp en ’n soort fisant (Lophura bulweri) wat Bulwer se naam dra, maar in die geskiedenisboeke is daar maar bra min geskryf oor hom. Trouens, van die voël weet ons meer as van die man.

Draai uit Colenso se hoofstraat, Sir George-straat, in Weststraat en steek die spoorlyn oor wat deur die dorp loop. Links van die pad is 12 kort pilare wat die posisies van Britse kanonne in die Slag van Colenso aandui. Altesame 4 500 Boerevegters, gelei deur genl. Louis Botha, het in dié veldslag ’n veel groter mag van nagenoeg 17 000 Britse soldate onder bevel van sir Redvers Buller verslaan.

“Reverse” Buller, soos sy manskappe hom agter sy rug genoem het, het mettertyd die Boere se oorlogtaktiek begin verstaan, en die Britse leër het uit Buller se nederlae geleer hoe om Duitsland 15 jaar later in die Eerste Wêreldoorlog te verslaan.

Verlaat Colenso by die woonbuurt Inkanyezi – in Zoeloe “die ster” – en volg ’n grondpad (S28.73842 E29.84225) wat jou tot in die Thukela-biosfeerreservaat neem. Hier gaan jy vir die eerste keer op die roete viertrek moet inhaak.

’n Smal grondpad loop deur digte doringveld en boswêreld, en met ons besoek was daar heelwat kleinwild wat oor die pad gebokspring het. Die grondpad kruip mettertyd teen ’n klipbank af na die Bloukransrivier (nie dieselfde een as in die Tuinroete nie).

Dis nogal steil, en veral as jou voertuig swaar gelaai is, moet jy oorweeg om laestrek in te haak. Onder in die loop van die Bloukransrivier word dit sanderig met groot spoelklippe wat plek-plek kop uitsteek.

Ongeveer 10 km ná die klipbank steek jy die Bloukransrivier met ’n laagwaterbrug oor en hier draai jy links (S28.78815 E30.10125) in ’n breë grondpad wat jou terugneem na die Tugelarivier. Hier is verskeie nedersettings teenaan die Tugelarivier – trouens, van hier af verder oos word die oewer van die Tugela bewoon tot amper by die see.

Skaars 45 km nadat jy die Bloukransrivier oorgesteek het, sluit jy aan by die geteerde R33-streekpad. Draai hier links na die dorp Tugela Ferry en steek die Tugela die sesde keer met ’n enkelbaanstaalbrug oor.

Die dorp se naam is ontleen aan ’n pont wat gebruik is om oor die rivier te vaar, voor die dae van die brug. Tugela Ferry is ’n bedrywige plek, met kosstalletjies tot in die strate en vragmotors en minibustaxi’s wat moet stoei om ryvoorrang.

Skaars 1 km noord van die rivier, op die buiterand van Tugela Ferry, draai jy regs op ’n grondpad wat die Tugelarivier – nou ’n knewel van meer as 90 m breed – see se kant toe volg.

Die grondpad is effens stamperig, maar die pragtige uitsigte oor die Tugelarivier vergoed daarvoor. Ná 20 km steek jy die Tugela die sewende keer oor (S28.73998 E30.61816) by ’n nedersetting waarvan ons die naam op geen kaart kon kry nie.

Hierna is die pad geteer, maar dit word mettertyd weer ’n sinkplaatgrondpad wat jou al hoe verder van die Tugelarivier af wegneem tot by die R74-streekpad buite Greyton.

Soos die kraai vlieg, is jy nou 35 km van die Tugelarivier af. ’n Mens moet maar die ompad vat, want daar is nie paaie in dié geweste wat styf teenaan die Tugela loop nie.

Greyton is boonop die enigste dorp in ’n 50 km-radius wat kampplek bied en dit raak al laat. Mik na die The Beehive-familieoord (S29.07542 E30.56002) op die buiterand van Greytown en slaan tent op.

Jy het vandag 270 km afgelê en jy sou omtrent 9 uur gery het as jy, soos ons, gereeld gestop het vir foto’s.

Dag 2

Waar die tyd stilstaan

Die tweede dag van jou roete is 250 km lank en jy behoort nie langer as 7-8 uur op die pad te wees nie.

Verlaat Greytown en volg die geteerde R74-streekpad deur denneplantasies tot by Kranskop. Kranskop is genoem na ’n 1 155 m hoë krans wat bo die dorp uittroon – dié se Zoeloenaam is Ntumjambili.

’n Legende lui dat Zoeloemeisies moeg was om water uit ’n nabygeleë rivier oor die berge te dra en hulle het gefluister: iTshe likaNtunjambili (“laat my toe in jou huis”).

’n Grot in die krans het oopgegaan en die meisies is deur vrolike klanke binnetoe gelok. Hulle was skaars binne toe klap die grot se bek toe en hulle is nooit weer gesien nie...

In Kranskop se hoofstraat is ’n padpredikant vir Nkandla: Hier draai jy links op ’n teerpad wat vir die volgende 7 km esse kap deur ’n plantasie.

As jy met ’n motorfiets ry, gaan die versoeking groot wees om soos Valentino Rossi deur die draaie te vleg, maar pasop vir slaggate en vragmotors wat boomstompe vervoer.

Die teer raak mettertyd grondpad, en 27 km later bereik jy Jamesonsdrif, genoem na H.B. Jameson, eertydse superintendent van Natal wat die pad tussen Kranskop en hier laat bou het.

In die dae voor brûe was daar slegs twee plekke betreklik naby die kus waar ’n mens die Tugelarivier heeljaar te voet kon oorsteek. Dié plekke is by Jamesonsdrif en Middeldrif, waar ons later uitkom.

Op 25 Maart 1593 het ’n Portugese karak, die Santo Alberto, naby die Keirivier op die rotse geloop. Omdat dit lank voor Jan van Riebeeck se tyd was, moes die skipbreukelinge uitstap na Maputobaai in die hedendaagse Mosambiek as hulle ’n skip terug na Europa wou haal.

Die 285 skipbreukelinge – 160 slawe uit Indië en 125 Portugese, onder wie twee adellike vroue – is deur ene Nunho Pereira op ’n binnelandse roete noord na Maputo- baai gelei.

Ná vele ontberinge het die groep op 4 Junie 1593 die magtige Tugelarivier hier by Jamesonsdrif te voet oorgesteek – met die hulp van die plaaslike Ngunimense. Die twee vroue is al die pad, van die Kei tot in Maputobaai, op drastoele gekarwei.

Talle van die skipbreukelinge, veral slawe, het langs die pad besluit om eerder ’n nuwe lewe in Afrika te begin, en uiteindelik het 65 slawe en 91 Portugese dit tot in Maputobaai gemaak.

By Jamesonsdrif steek jy die Tugela die agste keer oor, dié slag met ’n groot staalbrug, en volg ’n goeie grondpad langs die Tugelarivier vir 33 km tot jy weer by ’n teerpad aansluit. Draai regs op die teerpad en ry deur ’n vlei in die Ntembeni-nedersetting.

Wees op die uitkyk vir ’n groep grasdakhuise en rondawels teen ’n bult. Dit is oudpres. Jacob Zuma se berugte Nkandla-opstal (S28.84571 E31.09895) wat meer as R246 miljoen gekos het.

Volgens een politieke kommentator is die eintlike skandaal dat Nkandla-opstal ondanks soveel geld só onindrukwekkend is. Ons kon ’n vinnige foto van die opstal kiek, maar sekerheidsvoertuie patrolleer soms die teerpad en jy kan dalk gekonfronteer word as jy Zuma se huis probeer afneem met ’n zoemlens.

Stryk 10 km aan met die teerpad tot jy die Tugelarivier die negende keer oorsteek met ’n enkelbaanbetonbrug. Hierdie gebied was in die verlede onder trekboere en jagters bekend as Middeldrif, en naas Jamesonsdrift was dit ’n goeie plek om die Tugela oor te steek.

Die rivier by Middeldrif is amper 700 m breed, maar nie besonder diep nie. Kort ná die enkelbaanbrug draai jy regs op ’n ondergeskikte pad en volg dié vir 5 km noord tot by Shu Shu, ’n eiland en warmwaterbron in die Tugelarivier waar families al geslagte lank elke Junievakansie poedelnaak onder die sterre bad.

Ons sustertydskrif Weg het in 2013 hier ’n draai gemaak (“Stoom saam in die Tugela”, Weg #111), maar met ons besoek was die water só hoog dat ’n mens nie die baddens kon sien nie.

Ry terug na die enkelbaanbrug oor die Tugelarivier, maar draai nou regs, weg van die rivier af, in die rigting van Kranskop. Net 2 km van die Tugela af draai jy links (S28.91284 E31.01582) op die D1533-grondpad; hier is ’n padteken vir die Mphise-kliniek, as jy twyfel.

Wat nou volg, is 93 km deur ’n Zoeloeland waar die tyd stilstaan. Die smal grondpad kronkel deur diep klowe en styg en daal oor heuwels. Dit is dig bebos, en plek-plek sien jy ’n rokie uit die woud opdwarrel, gevolg deur ’n rondawel met ’n strooidak en helderkleurige wasgoed op die draad.

Kinders lag en waai in die verbygaan en bejaardes knik beleef. Die huise word minder soos jy die Maphumolo-reservaat binnery (S28.99378 E31.07447), want dit word glo in ’n trust bewaar vir die Zoeloe-nasie. Hier is inderdaad tekens van wild.

Mettertyd sluit jy by die R102-teerpad aan en jy ry ’n laaste keer – die tiende keer – oor die Tugelarivier wat hier sterk vloei en 350 m breed is.

Kort anderkant die brug is ’n aftrekplek met ’n gedenksteen vir die Slag van Ndondakusuka. Die woorde wat in die graniet uitgekerf staan, herdenk die dag op 2 Desember 1856 toe die oudste twee seuns van die Zoeloekoning Mpande mekaar die stryd aangesê het.

Die eersgebore, prins Cetshwayo, was die wettige opvolger met 20 000 krygers, maar die jonger prins, Mbuyazi, was koning Mpande se gunsteling, en omdat die jonger prins net 10 000 volgelinge gehad het, is ene John Dunn ontbied om vrede te probeer herstel.

Dunn is op Port Alfred gebore, maar het tussen die Zoeloes grootgeword nadat sy ouers op ’n vroeë ouderdom oorlede is. Dunn kon vlot Zoeloe praat en was goed vertroud met die kultuur, en hy het besluit om met 35 gewapende polisielede en 100 jagters bankvas agter prins Mbuyazi te staan nadat sy pogings tot versoening misluk het.

Mbuyazi kon daarin slaag om Cetshwayo se eerste aanval af te weer, maar die tweede aanslag was té sterk en Mbuyazi is met assegaaie deurboor. John Dunn en sy koloniale mag kon betyds vlug en Cetshwayo het opdrag gegee dat elkeen van Mbuyazi se ondersteuners – mans, vroue en hulle kinders – om die lewe gebring word.

Volgens oorlewering het nagenoeg 20 000 Zoeloes gesterf en die sandbank in die Tugelarivier se monding waar die lyke uitgespoel het, is Mathambo genoem: “plek van die beendere”. Koning Mpande was gebroke, en het tot met sy dood in 1872 nooit vir Cetshwayo vergewe nie.

John Dunn sou egter Cetshwayo se vertoue wen en het sodoende grond langs die Tugela ontvang – nie ver van die slagveld af nie – waarop hy met 48 vroue en 117 kinders die eerste wit stamhoof in die Zoeloe-koninkryk geword het. Verlaat die gedenksteen en ry 500 m verder met die R105 waarna jy afdraai op die Tugelamondpad.

Tugelamond is ’n piepklein vakansiedorp met gastehuise en twee woonwaparke: die Tugelamond-oord en Lobotes-woonwapark. Jy kan nie met jou voertuig by die monding parkeer nie; jy sal die 500 m van die kampplek af op die strand moet stap.

Hier is die breë geelbruin Tugelarivier onherkenbaar: Weg is die helder stroompie wat jy gisteroggend aan die voet van die Drakensberg ontmoet het.

Foto: Wikipedia, Smurfatefrog

Dis asof hy die sweet van dapper skipbreukelinge, die trane van Zoeloemeisies wat in ’n grot vasgekeer is, en die bloed van derduisende krygers saam met hom dra en hier in die warm waters van die Indiese Oseaan kom uitspoeg.

Hier het ons gebly

Mahai-kamp Hier is 44 staanplekke waarvan 40 kragpunte het. Jy kamp op gras onder bome langs die Mahairivier met ’n onverbeterlike uitsig op die Drakensberg.

Prys R150 p.p.p.n. en R450 in die spitsseisoen – vir minimum 3 mense.

Kontak 033 845 100 kznwildlife.com

Beehive-gesinsoord Met ons besoek was die nuwe eienaars besig om luukse tente op te rig en ander veranderinge aan te bring. Hier is staanplek vir honderde tente, én ’n swembad.

Prys Vanaf R100 p.p.p.n.

Kontak 081 858 6724 (Zeenath); zeesuperbody@gmail.comthebeehive.co.za

Tugelamond-vakansieoord Hier is 39 staanplekke, elkeen met krag, ’n kraan, braaiplek en koeltebome. Hier is ’n kafee, jy’t toegang tot die strand en daar’s spesiale tariewe vir Swaeltjies.

Prys R230 p.p.p.n.

Kontak 082 803 6339 (Tessa); info@tugelamouth.co.zatugelamouth.co.za

Hiermee het ons gery

Die 4x4-huurmaatskappy Britz het ’n Orion aan ons beskikbaar gestel. Ry & Sleep het die versekering en brandstof betaal, maar Britz het ons kwytgeskel van die huurtarief.

Die Orion is gegrond op ’n Toyota Land Cruiser 79 met ’n enkelkajuit, en die ombouing is deur Travelstar op Knysna gedoen.

Kontak 011 230 5200; bookings@britz.co.za; britz.co.za

Ek wil ook gaan!

Kan ek op my eie ry? Ja, en ons vermoed dis veiliger hier langs die Tugelarivier as in die meeste van ons stede. En die mense is beslis vriendeliker.

Hoe lank? Die roete is 522 km lank en duur 2 dae.

Waarmee moet ek ry? ’n Sagte veldryer sal deug, maar die paaie is plek-plek só sinkplaat gery en verspoel dat jy gaan wens jy ry eerder in ’n bostrok.

Hoeveel brandstof het ek nodig? Jy moet 180 km kan ry op ’n tenk. Ekstra brandstofkanne is dus nie nodig nie.

Watter noodtoerusting moet ek pak? Bring gerus ’n bandherstelstel, maar jy gaan só stadig ry dat jy dit waarskynlik nie gaan nodig kry nie.

Mag ek sleep? Ja. Sommige draaie op die roete is knap en ’n lang boswoonwa gaan dalk ’n kopseer wees, maar dis haalbaar. ’n Gewone padwa is uit.