Nunavut is die mees noordelike streek van Kanada, en ’n groot deel daarvan bestaan uit eilande. Op ’n kaart lyk dit soos ’n klomp legkaartstukkies wat wegbreek van die res van die Noord-Amerikaanse vasteland. Dis koud en die winters lánk.

“Wanneer die winter kom, gaan dit rof van Oktober tot Maart,” sê Sam de Beer (64), ’n aardwetenskaplike en geoloog. “Temperature daal tot -50° C en met die aanhoudende windstorms daal die aanvoelbare temperatuur na -65° C!”

In die middel van die winter is dit heeldag donker en op die dorpies noord van die breedtegraad 66°N kom die son glad nie op nie.

Sam woon in Iqaluit, die hoofstad van Nunavut. “Hier sien ons die son net vir ’n uur per dag in Desember.”

Hy werk vir die Kanadese staatsdepartement Crown Indigenous Relations and Northern Affairs Canada (CIRNAC), wat omsien na die belange van die inheemse volke – onder meer Inuïete en Mestiese – met betrekking tot mynbou en eksplorasie na minerale.

“In die winter hou die werk my binne besig,” sê Sam. “Ek bestudeer geologieverslae van verskillende maatskappye en evalueer die beplanning vir die jaar wat voorlê. In die somer doen ons veldwerk. Ons bestudeer die geologie, hoe die mynmaatskappye se boorwerk vorder en waar hulle eksplorasie in die afgeleë dele van Nunavut doen.”

Sam het in 2019 by CIRNAC begin, maar het reeds 20 jaar gelede die eerste keer in Kanada aangekom.

Die geoloog met ’n rock show

Sam se swerfstorie begin in 1999 terwyl hy werk by ’n goudmyn naby Klerksdorp.

“Toe die myn vir die hoeveelste keer toemaak en almal retrench is, besluit ek en my vrou, Ralda, om in 2000 Kanada toe te trek. Dit het aanvanklik swaar gegaan. Kanada is glo die land van melk en heuning, maar niemand het gesê jy moet jou eie koei en by saambring nie!

“Ek het in ’n visvang-en-jagwinkel gewerk en Ralda by ’n spreekkamer as ontvangsdame. Sy het in 2001 ’n pos gekry as ’n streeksbeplanner in Cambridge Bay. Daar het ek by die tronk gewerk, huise geverf, en by die Hunters and Trappers-winkel gewerk. Ek het ook diens gedoen as ’n kok by ’n lodge en as instaanonderwyser by skole. Ek het selfs twee aande ’n week ’n rock show aangebied op die plaaslike radiostasie, maar ek is seker niemand het daarna geluister nie...”

Op ’n dag ontmoet Sam die burgemeester van Cambridge Bay en hoor hulle is op soek na iemand om die ingewikkelde wêreld van mynbouontwikkeling te navigeer.

Sam het die geleentheid aangegryp en as konsultant vir ’n Inuïete-organisasie begin werk. Hy het ook die myn- en eksplorasiemaatskappye se administratiewe rompslomp begin uitsorteer en sodoende vir homself ’n nis geskep.

Sam op sy getroue quadfiets voor een van die radarinstallasies wat in die 1950’s deur die Amerikaners opgerig is om te dien as ’n vroeë waarskuwingstelsel teen Russiese aanvalle

Cambridge Bay is op ’n eiland sowat 1 700 km wes van Iqaluit. Die bevolking is sowat 600 in die somer wanneer Inuïete op die toendra jag en hengel of by van die myne werk en 1 200 in die winter wanneer die meeste mense tuis is. Dis ’n plek waar die wildernis altyd vir jou wink, en as natuurliefhebber was Sam in sy element.

“Ek het een somer met ’n Ski-Doo-sneeumobiel en slee suid van Cambridge Bay oor die bevrore Arktiese Oseaan gery na ’n eksplorasiekamp op die vasteland. Dit was ’n wonderlike ervaring om met net ’n GPS en die son as rigtingwyser suid te ry oor die see, die Kent-skiereiland en Robert’s Bay tot by die kamp op die Melville Sound.

“Ek en ’n groep vriende het ons kano’s en kajakke gepak met proviand en dan van Cambridge Bay met die riviere en mere langs geroei en die omgewing verken. Ander kere het ons weer met quadfietse gegaan.”

In 2002 het Sam en Ralda se paaie geskei, en hy het alleen agtergebly op Cambridge Bay voordat hy in 2004 na die dorp Deliné in die Northwest Territories getrek het om by Deliné Uranium Team aan te sluit.

“Ons het navorsing gedoen oor die gevolge van uraanmynbou op die plaaslike bevolking, die Sahtu-Dene, wat naby die Port Radium-myn gebly het. Dié uraan is destyds gebruik in die Manhattan-projek en was in die kernbomme wat in 1945 op Japan geval het. Ons het gevind daar is geen negatiewe gevolge op die plaaslike bevolking nie.

“Van Deliné af het ek op kanotoere gegaan en van die Groot-Beremeer na die Mackenzierivier geroei, en toe met die Mackenzie tot op die dorp Inuvik aan die Arktiese Oseaan.

“Aan die einde van die projek het ek en ’n kollega ons bagasie in ’n 4x4 gepak en op die yspaaie oor mere, die Mackenzierivier, die Groot-Slawemeer en suid tot in Edmonton gery, ’n afstand van byna 1 400 km.”

Van Edmonton, die hoofstad van die provinsie Alberta, reis Sam verder na Smithers, ’n dorpie in die Coastal Mountain Range, in die provinsie Brits-Columbië. Hier kry hy werk by die Eskay Creek-myn, een van die rykste klein myne in die wêreld.

“Dit was só ryk aan goud en silwer dat die silwer alléén vir die hele mynbouproses betaal het – die goud was net wins!”

In 2006 ontmoet Sam vir Diane Schoeman, eers oor die internet en later in persoon in Suid-Afrika. Diane kom kuier ’n paar keer vir Sam in Kanada.

Maar die goeie tye kom toe tot ’n einde in Eskay Creek. “Teen 2008 is dit uitgemyn, en ek en Diane trek Australië toe.” Daar werk Sam by die Plutonic-goudmyn totdat hy weer afgelê word in 2014, toe dié toemaak. Die lewenskoste in Australië is duur, en Sam en Diane trek terug Suid-Afrika toe, waar hulle ’n huis in Durbanville het. (Hulle is in 2009 getroud.)

“Ek het vier jaar lank stopgatwerk in Suid-Afrika gedoen, maar ek moes ’n ordentlike werk kry,” sê Sam. Hy doen aansoek vir die CIRNAC-werk en in April 2019 land hy in Iqaluit.

’n Bloedmaan en die noorderligte bokant Iqaluit.
sneeu-uil
Hierdie jong sneeu-uil is net betyds gered voordat ’n Arktiese vos hom kon verslind.
Kajaktoer
’n Kajaktoer op die Arktiese Oseaan, ongeveer 150km oos van Cambridge Bay.
bergforel
Sam met ’n Arktiese bergforel wat hy met ’n selfgemaakte vliegie en ’n vlieghengelstok gevang het.

Bere en bug suits

“Die Nunavut-landstreek is groot en onbewoon en hier is geen infrastruktuur buite die dorpies nie; dus vlieg ons gereeld vir werk.

“Ek het met ’n verskeidenheid ongewone vliegtuie kennis gemaak, soos Beavers, Otters en Dorniers wat in die somer toegerus word met pontoons eerder as wiele sodat hulle op die water kan land. In die winter kry hulle weer ski’s om op die sneeu te land.”

In die somer smelt die sneeu, en die see-ys verbrokkel en verdwyn meestal. Dan kom die mense van Nunavut om te wérk.

“Die son skyn amper 24 uur per dag,” sê Sam. “Almal werk dan volstoom, en baie bly twee of drie maande lank in kampe op die toendra. CIRNAC los net een persoon agter in Iqaluit om die kantoor op te pas.

“Geoloë verken die toendra, dol klippe om, tel klipmonsters op en skryf in hulle notaboekies. Daar word lesings geneem oor wat ondergronds lê, en gekarteer waar daar dalk gemyn kan word. Toetsgate word geboor.

“Jy moet jou beskerm teen lastige muskiete en swartvlieë – ons dra wat hulle ’n bug suit noem. Dis gemaak van diggeweefde katoen en baie fyn muskietnet. Jy moet ook op die uitkyk wees vir ysbere.

“Ek het nog nie regtig ’n close encounter met ’n ysbeer gehad nie, maar daar het al ’n ma met haar kleintjie naby my uitgeklim terwyl ek visgevang het. Hulle het gou padgegee toe hulle my sien.

En een nag, terwyl ek van die skool waar ek gewerk het gestap het na my losieshuis, het een my agtervolg. Maar ek het dit eers die volgende dag besef toe ek die ysbeer se spore bo-oor myne sien!”

roeitoere
Die somer is tyd vir roeitoere met kano’s en kajakke op die talle mere en riviere op die toendra.

Voëlkyk is een van Sam se stokperdjies en hy het vroeër in sy lewe voëls help vang en bering, en studente opgelei in dié rigting. Hy het ook help werk aan die Suider-Afrika-voëlatlasprojek en mense op voëltoere geneem. Dié liefde vir voëls sit hy voort in Nunavut – met ’n nuwe stel voëls.

“Die Noordpoolstreek is die hoof-broeiplek vir talle trekvoëlspesies, soos waadvoëls, sterretjies en roofmeeue. Die lang somerdae en die oorvloed kos maak dit die ideale plek om kuikens groot te maak. Die roofvoëls sluit die mooi sneeu-uil in, die gyrvalk (soos ’n groter weergawe van ons swerfvalk), en die rough-legged hawk, ’n soort jakkalsvoël.

“Wat ander wildlewe betref, is hier kariboes, muskusbeeste, Arktiese hase, en lemmings. Die groot roofdiere is ysbere, wolwe, Arktiese vosse, en ’n verskeidenheid kleineres soos die veelvraat (wolverine), hermelyn (ermine) en nerts (mink).

“Op die toendra kry ’n mens die gevoel van absolute verlatenheid. Dis veral lekker in die lente en herfs, want dan kan jy nog die sterre sien al is dit net vir ’n uur of twee in die nag. In die winter het ’n mens meer as 20 uur ’n dag om sterre te kyk, maar teen -30° C wil teleskope en kameras nie meer werk nie!

“Die landskappe is dramaties en strak, maar tog is hier vir ’n kort rukkie in die somer plate blomme op die toendra, met groen gras en wit Arktiese katoen in die valleie. Hier is geen bome in Nunavut nie.

“As ons in die lente, somer en herfs uitgaan op die toendra om te werk, vis te vang of te kamp vat ons altyd ’n haelgeweer, gelaai met bear bangers – daar is ’n helse slag wanneer dit die teiken tref sodat jy die beer kan skrikmaak en verjaag indien jy bedreig word. Dit veroorsaak minder pyn as ’n verfbalskoot. Genadiglik het ek dit nog net een keer vir ’n lastige swartbeer gebruik.”

’n Tipiese winter-eksplorasiekamp waar almal in verhitte tente slaap

Die rand van die wêreld

Iqaluit se bevolking is omtrent 8 000 en die hele Nunavut, waaroor net 25 dorpies versprei lê, se bevolking is maar 40 000.

“Ek hou van die dorp. Dit is seker een van die mees kosmopolitiese plekke waar ek al gebly het – hier is mense van reg oor die wêreld. Ek bly in ’n ruim en gemaklike woonstel soos die meeste ander regeringsamptenare.

Maar dis ontsettend duur – ek kan twee luukse huise in Kaapstad huur vir dieselfde bedrag wat ’n woonstel hier kos! Ek sou graag in ’n selfs kleiner dorpie as op Iqaluit wou bly, waar daar meer Inuïete en die mense vriendeliker is. ’n Mens maak gouer vriende – wat vriende vir altyd bly – op kleiner plekkies.

“Alles hier is ekstreem: die koue, die wind, die sneeu, die ys. Maar dit is ’n ervaring om buite te wees in ’n drif-sneeustorm en die ruwe krag van die wind en die koue te ervaar.

“Dis baie anders hier as op enige ander plek. Ons is op die rand van die wêreld, op die rand van beskawing, op die rand van lewe.”

Volg Sam op Instagram @samdebeer

Twin Otter
’n Dienswillige Twin Otter word gelaai vir ’n werksekspedisie na die ou Port Radium-myn waar die uraan vir die Manhattan-projek ontgin is.
bewerpelsmus
Gepantser teen die koue in ’n snoesige bewerpelsmus.
Muskusbeeste
Muskusbeeste is groot, harige buffels wat op die toendra voorkom en deur drie lae pels teen -50°C in die winter beskerm word.