Sutherland moet een van die bekendste klein dorpies in die land wees – as dit nie is oor die Sterrewag daar met sy Groot Teleskoop nie, is dit omdat dié Noord-Kaapse dorpie gereeld op die weervoorspelling genoem word as een van die koudste plekke in Suid-Afrika.
Kamp en koue is natuurlik nie goeie vriende nie, en daarom verwag ’n mens nie dat kampeerders na ’n plek soos Sutherland sal stroom nie. Boonop bestaan die dorpie eintlik maar net uit ’n hoofstraat met ’n hotel, ’n paar winkels en ’n rits gastehuise.
Maar wintertyd is die beste tyd om te kom sterre kyk, en daarom is Sterland so ’n gewilde afhaakplek. ’n Mens is aangenaam verras. Nie net is dit ’n lieflike kampplek nie, maar hier is ook ’n hele paar teleskope skaars 100 m van jou staanplek af van waar jy die hemelruim kan bestudeer.