Vas in ’n ysskeur

akkreditasie
Uit die argief: Meer as 50 jaar gelede val twee Suid-Afrikaners in ’n ysskeur op die verlate vlaktes van Antarktika. Dolf Els het in 2016 met van die manne van die vyfde Suid-Afrikaanse Antarktiese Ekspedisie gesels en oor hulle avontuur in Maart 2016 se Weg geskryf.
Foto’s ANDRÉ DU PLESSIS en TREVOR ROBERTSON

Dolf Els vertel hoe hy destyds op Hermanus saam met Trevor Robertson en twee van sy destydse spanlede, André du Plessis en Deon Kühn, gekuier het om na hulle verhaal te luister.

’N HALFEEU LATER (heel bo links). André du Plessis staan links, saam met Trevor Robertson. Op die onderste foto is Trevor (links) en André 54 jaar gelede net nadat hulle van ’n veldekspedisie van drie weke teruggekeer het. DEEL VAN DIE SPAN (heel bo regs). Deon Kühn, wat die toerusting uit die kaboes in die skeur gaan haal het. Op die onderste foto is Deon as 22-jarige in Antarktika.

Dis 6 September 1964. Die donker wintermaande is byna verby en die lede van die vyfde Suid-Afrikaanse Antarktiese Ekspedisie kan weer buite die basis werk. Die SANAE-basis is op die massiewe Fimbul-ysbank in Koningin Maudland in die noorde van Antarktika. André (geoloog) gaan vandag geologiese opnames doen sowat 20 km van die basis af. Trevor (geomagnetikus), Bernie Booyens (22, weerkundige) en Noël Jay (middel dertigs, dieselwerktuigkundige) gaan saam.

Hulle wil ook ’n geskikte bukta (baai) soek waar die RSA kan vasmeer. Dié poolskip bring oor sowat drie maande hulle aflosspan. Die Poolsirkel-bukta waar hulle die vorige jaar aan wal gegaan het, begin verbrokkel. Hoewel die somer op pad is, is dit steeds bitterkoud.

“Vandag -40 grade Celsius,” skryf die 24-jarige Trevor in ’n teleks huis toe. Maar “die dae is nou al tussen 12 en 13 uur lank”. Die koue bemoeilik opnames.

Dit word laat en hulle besluit om terug te gaan basis toe. Noël bestuur die Muskeg-sneeutrekker en sleep ’n slee en ’n kaboes (’n houthut op ’n slee waarin hulle slaap of gedurende sneeustorms skuil). Dit gaan maar stadig met die trekker wat teen sowat 2-3 km/h oor die ys beur.

’n Paar honderd meter van die Polarsirkel-bukta af hou hulle stil by ’n skeurtjie in die ys. “Ons besef toe ons staan eintlik bo-op ’n hengse skeur met ’n hangbrug van ys bo-oor,” vertel André.

Sneeu pak saam teen die kante van ’n skeur namate dit wyer raak. Die aangepakte sneeu vorm later ’n “hangbrug” oor die skeur wat in die winter vries.

Die skeurtjie wat hulle kan sien, is aan die kant van ’n groter skeur waar ’n hangbrug van sowat 4 m dik teen die een wand vasgeys het.

Die Muskeg staan op die oorkantste rand van die groot skeur en die slee en kaboes op die hangbrug. Hulle skakel die trekker af en maak die slee en kaboes los.

Hulle besluit om met die trekker al langs die skeur af te ry en op sy smalste punt oor te gaan dan terug tot by die slee en kaboes te ry en dit van die hangbrug af te sleep. “Trevor het langs die trekker geloop om vir Noël te wys waar om te ry terwyl ek en Bernie by die kaboes gebly het,” vertel André.

“Noël ry toe oor die skeur en toe hy terugdraai in die rigting van die kaboes, sak die trekker effens in ’n ander skeurtjie weg. Hy gee toe vet en die trekker brul daar uit.

“Op daardie oomblik breek die hele hangbrug los en ruk ’n skeur van sowat 100 m lank en 20 m breed oop. André en Bernie verdwyn saam met die kaboes en die slee die dieptes in. Trevor hoor ’n suisgeluid agter hom.

“Toe ek omkyk, was alles weg. Net ’n wit sneeuwolkie het in die lug gehang.” Hy sak op sy knieë en loer oor die skeur se rand. André staan sowat 12 m ondertoe in sy geel sneeupak op ’n groot ysblok – dis sowat drie verdiepings ver!

“Ek’s orraait,” skree hy.

“Waar’s Bernie?”

“Daar’s geen kans dat ons vir Bernie gaan kry nie!” antwoord André. Die massiewe blok ys van die hangbrug het verder ondertoe in die skeur vasgesteek en in blokke gebreek, sommige so groot soos ’n slaapkamer. Ondertoe was die skeur ’n verdere 20 m tot op seevlak. (André het uitgewerk sowat 1 500 ton ys en sneeu het in ’n oogwink in die skeur afgestort!)

Oral om hom lê los sneeu en ysblokke van tot 4 m hoog. Trevor, die sterkste van die vier, pluk sy geel handskoene af om toue aan mekaar te knoop sodat hy Noël na onder kan laat sak. In die skeur soek André tussen die ysblokke.

Ná waarskynlik tien minute hoor André ’n gesmoorde skreeu: “André, is dit jy?” André sien ’n swart kolletjie onder die sneeu. Dis die bopunt van Bernie se sneeumus.

Bernie – wat in 2014 oorlede is – het destyds aan die koerant Dagbreek en Sondagnuus vertel dat hy in die val sy bewussyn verloor het: “Ek het wakker geword en kon nie roer nie. Sneeu en ys het my van bo en van die kant af vasgepak. Ek het skuins op ’n ysbank en ’n dun laag sneeu gelê. My linkerarm het vry in die skeur gehang. Ek het besef die ysbank en sneeu hou my tussen hemel en aarde vas.”

 Kaboes
ALMAL WIL ’N HUISIE IN DIE SNEEU HÊ. ’n Kaboes – ’n basiese houthut op ’n slee – wat in die skeur geval het agter die slee en die Muskegsneeutrekker. Die kaboes is oral saamgesleep– dit was beknop met vier slaapbanke en ’n tafeltjie. Die foto is op ’n vorige ekspedisie geneem. Die span geniet ’n bier voor hulle vertrek.

Die laag los sneeu oor Bernie se gesig versmoor hom. Sy regterarm is vas en hy kan nie sy linkerhand oplig om die sneeu weg te krap nie. Hy spartel totdat daar ’n opening is waardeur hy met moeite asemhaal.

In daardie eerste benoude minute is Bernie seker sy spanmaats is in die dieptes af en dat hy ook gaan omkom. “Ek was tevrede om maar net te lê en wag op die dood. Die koue het my stuk vir stuk oorwin. Maar my asem wou nie opraak nie,” het hy aan die koerant vertel.

Hy sou binne vier dae sy 23ste verjaardag vier. “Nou word ek hier in Antarktika begrawe,” dink hy. Toe hoor hy voetstappe wat op die ys weerklink. Bernie!” roep ’n verligte André. André krap dadelik die sneeu uit Bernie se gesig. “André, wees asseblief baie, baie versigtig, my arm swaai los,” smeek Bernie.

Hy is benoud dat hy verder die dieptes in gaan val. Hulle maak versigtig die tou om sy bors en arm vas. Intussen laat sak Trevor die grawe.

Dis ’n gesukkel om Bernie uit te kry, want hy sit vas en die los sneeu val aanhoudend op hom. Met ’n geskop en gespartel kry hulle hom ná sowat 15 minute uit die sneeu.

Voor hom staan André en Noël. Hulle praat nie, kyk mekaar net stip in die oë. Toe gee hulle mekaar ’n stywe druk. Bernie bewe ontsettend en sy hele lyf is seer en yskoud.

Hy kyk op na die skeur se massiewe yswalle wat aan weerskante van hulle uittroon. “Verder boontoe was die blou lug en die strale van die son. Iets wat ek nooit sal vergeet nie.”

André hou Bernie se voete, wat al begin vries het, ’n ruk lank teen sy lyf om dit warm te maak. Terwyl hulle spook om Bernie los te kry, bind Trevor die tou se ander punt vas aan die trekker.

“Daar op die rand van die skeur was dit die eensaamste wat ek nog in my lewe gevoel het,” sê Trevor en vryf oor sy oë. Die skeur was sowat 18 km van die basis op ’n wit verlate vasteland – meer as 5 000 km van Suid-Afrika af.

Trevor trek daarna vir Noël met die tou na bo, maar sy hande is so gevries dat hy hulle skaars kan beweeg. Noël kry die trekker aan die gang en hulle sleep die ander twee met ’n gesukkel uit. Dit begin skemer raak en die donker gaan hulle inhaal voordat hulle die basis bereik. Al genade is om na die substasie te gaan, ’n noodkamertjie onder die ys, sowat 3 km hiervandaan.

Trevor se hande het vriesbrand opgedoen. “Onthou jy, ou Burie, jy het toe water op die primusstofie gekook en my hande in die stoom gehou om dit te ontdooi.” Hy en André se kamers was langs mekaar in die basis, en hulle het mekaar altyd “ou Burie” genoem.

Die veldtelefoon in die substasie werk nie en hulle gebruik ’n radio in die trekker om die basis te laat weet.

 bukta
WELKOM! Die vyfde SANAE-span het in Januarie 1964 in Antarktika aangekom. Hier meer die poolskip RSA in die Poolsirkel-bukta vas en die nuwe span word verwelkom.

Tien dae daarna laat weet Trevor sy mense in ’n teleks dat “my hande vriesbrand opgedoen het en my tone verkluim is”. Weens “amptelike redes” kan hy eers later vertel wat gebeur het. “Egter niks om bekommerd oor te wees nie.”

Só was die lewe in Antarktika, 1964

Die vyfde SANAE-span het in Januarie 1964 in Antarktika aangekom. Die SANAE I-basis het bestaan uit ’n onverhitte ysgang van 100 m met deure aan die een kant na onder meer die slaapkwartiere, kombuis en kragkamer. Dié hele struktuur was binne twee jaar toegesneeu. In vergelyking is die nuwe SANAE IV-basis (met onder meer twee gimnasiums, ’n speletjieskamer en sauna) soos ’n luukse hotel. Tog het die span groot pret gehad in die sneeu.

Hier’s ’n paar foto’s van die lewe op die wit vasteland in die middel jare sestig.

Ekspedisies is meestal onderneem met een van die basis se twee Muskeg-sneeutrekkers wat ’n slee en kaboes gesleep het. Hulle het in die kaboes geslaap, geëet en gedurende sneeustorms daarin geskuil. Ná ’n sneeustorm moes die span hard werk om die sleë en voorrade onder die sneeu uit te grawe.  

Die span is ná die voorval in ’n sneeustorm in die substasie – ’n noodkamertjie onder die ys – vasgekeer. Hier speel van links Zac Ezekowitz, Skroef van Zyl, André du Plessis (half verskuil), Bernie Booyens en Noël Jay (albei met hulle rug na die kamera) kaart om die tyd te verwyl.

Dis somer en die span speel in die sneeu bo-op die basis. In die lang donker wintermaande het hulle egter ’n kunsmatige dag en nag onder die ys gehad. Die koudste dag was -52 ºC en Zac Ezekowitz het met net pantoffels die 100 m van die suidelike luik tot by die noordelike een gehardloop – “die vinnigste 100 m ooit in Antarktika”. Buite die basis het ’n mens se asem met ’n kraakgeluid voor jou mond gevries. Dit het ook aan jou balaklawa vasgevries en dan moes jy dit oor ’n primusstofie losstoom.

Elkeen het elke twee weke ’n beurt gekry om die sneeusmelter vol te maak om die basis se watervoorraad aan te vul. Dit was ’n dieseldrom wat deur die dieselenjins se uitlaatgasse verhit is. “Dit was harde werk en elke drom het net ’n klein bietjie water gelewer. Die geleentheid is ook sommer vir hulle tweeweeklikse bad benut.

Geoloë het dikwels poolhonde en sleë op hulle ekspedisies gebruik omdat dit veiliger was. Dit was lig en het nie so maklik in die ysbedekte skeure geval nie. Die 1964-span was die laaste een wat met honde gewerk het. Die jaar daarna is gemotoriseerde sleë gebruik.

Die span se drankvoorraad is streng gerantsoeneer. Hier gaan dr. Tollie Traut hulle drankvoorraad na. Elkeen het ’n sopie brandewyn, ’n sopie jenewer en ’n bier per week gekry. Toe maak hulle Aaptraan, hulle eie merkwaardige brousel van vyf dele gemmerbier en een deel mediese alkohol (uit die siekeboeg). Die metiel het hulle oë laat traan, vandaar die naam Aaptraan.

Die weerballon moes elke dag om twaalfuur opgestuur word. Hier word dit gereed gemaak.

As die lus vir braaivleis te groot geraak het, het die klomp sommer op die ys gebraai. Dit het maar gelol, want die vuur het al dieper in die ys weggesak. Hier sit v.l.n.r. André du Plessis, Trevor Robertson, Skroef van Zyl en Zac Ezekowitz om die kole. 

SANAE I het bestaan uit ’n onverhitte ysgang van 100 m met deure aan die een kant na onder meer die slaapkwartiere, kombuis en kragkamer. Die gang was bloot ’n sinkplaatdak op pale wat met goiingsak bedek is. Leë paraffienkassies is daarteen gepak om ’n muur te vorm en as bergplek vir onder meer hulle voedselvoorraad te dien.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #137 (Maart 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.