Deel

Veldfeite: Al gehoor van die superjakkals?

akkreditasie
Uit die argief: Jakkalse is bekende lede van die hondefamilie en hou van grasveldgebiede. Hulle veelsydigheid en aanpasbaarheid maak hulle van die suksesvolste roofdiere.

In baie gebiede waar met vee geboer word en waar leeus, luiperds en jagluiperds uitgewis is, staan rooijakkalse nou in die rol van hoofroofdier. Boere voer ’n ewige stryd teen jakkalse – berugte rowers van skape en ander klein plaasdiere.

In sommige gebiede waar hulle erg gejag word, kry hierdie slinkse menere dit reg om amper onsigbaar te wees. Daar is ’n teorie dat boere in hulle strewe om jakkalse uit te roei natuurlike seleksie bespoedig het deur die “dommer” diere dood te maak. Die slimmer jakkalse, wat die lokvalle, hokke en gif oorleef, plant voort. Dit lei tot ’n soort “superjakkals”.

In sommige gebiede waar hulle erg gejag word, kry hierdie slinkse menere dit reg om amper onsigbaar te wees.

Jakkalse vreet byna enigiets – van insekte en knaagdiere tot middelslag-bokke. Hulle speel ’n belangrike ekologiese rol aangesien hulle die swak en siek diere in ’n groep sal uitsoek en die bevolking só in ’n goeie toestand bly. Ongelukkig tel die lammertjies en ander jong diere ook as “swak” diere en daarom kan jakkalse die bevolkings-dinamika van herbivore negatief beïnvloed – en natuurlik lei tot finansiële skade vir die boere.

Jakkalse se sosiale strukture is veral interessant. Na bewering het hulle net een lewensmaat en ’n paartjie eis vir hulle ’n grondgebied op. Maar as daar ’n groot kosvoorraad is, soos ’n karkas, sal verskillende individue byeenkom en dan die dominante en onderdanige gedrag toon wat meer algemeen voorkom by sosiale tropdiere.

Dit laat ’n mens wonder of jakkalse nie eintlik as afgesonderde lede van groter “troppe” woon nie. Soos met baie dinge in die natuur is meer waarneming en navorsing nodig om hierdie moontlikheid te ondersoek. Dis nou as ’n mens hulle te siene kan kry!


Hierdie artikel het oorspronklik in Oktober 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.