Kyk deur jou teleskoop na die suidelike konstellasies 

Die Vrystaat se koue, droë lug sorg vir ’n stabiele atmosfeer met uitstekende waarnemingstoestande. En omdat die wêreld hier so plat en uitgestrek is, kan sterrekykers selfs voorwerpe wat laag op die horison lê, waarneem – van die suidelike konstellasies soos Tucana en Lira met sy Ringnewel, tot die noordelikes, soos Pegasus en die sterretros M13 in Hercules.

Om saam met die Bloemfonteinse tak van die Astronomievereniging van Suider-Afrika (ASSA) te kom sterre kyk, moet jy jou eie toerusting bring – ’n teleskoop, verkyker of kamera – maar dis nie nodig om ’n gevorderde kennis van die sterre te hê nie: Die amateur-sterrekundiges is altyd gretig om hulle kennis te deel.

In die wintertyd is die Melkweg ’n prominente fokuspunt van die sterrekykers se nagte buite: Vroegaand kan die helder konstellasie van Canis Major nog in die weste gesien word, en Orion verskyn net voor sonop in die ooste. In die suide kan ’n mens die Magellaanse Wolke uitmaak en laatnag, wanneer die temperatuur soms tot -7 °C val, is ons naaste buurman, die Andromeda-sterrestelsel, met die blote oog sigbaar.

’n Mens vergeet nie maklik só ’n nag waarop jy, sjerrietjie in die hand, toekyk hoe die Melkweg soos ’n banier deur die swart nag skuif nie.

Waar? Op die plaas Gansvlei, sowat 10 km suid van Brandfort.

Kontak assabfn@gmail.com; www.assabfn.co.za