Kom loer hier na Jupiter en Saturnus

Nog elke keer as Danie Barnardo by die Kambro-padstal buite Britstown oorgeslaap het, het hy hom verwonder aan die Karoo se ongelooflike nagte. Hier kon hy sterre, planete, mane en konstellasies waarneem wat hy nie gewoonlik in Gauteng se lug- en ligbesoedelde ruimtes kan sien nie. As lid van die Pretoria-sentrum van die Astronomievereniging van Suider-Afrika (ASSA) het hy besluit die plek moet met meer mense gedeel word, en in 2009 het ’n klompie sterrekykers van reg oor Suid-Afrika vir die eerste keer by Kambro kom uitspan. Sedertdien het die “Karoo Star Party” ’n jaarlikse instelling geword.

Op ’n donker aand in Mei staan ek – hande diep in my baadjiesakke – by die sesde Star Party en staar. ’n Strepiesdun sekelmaan het ’n rukkie gelede in die weste weggesink en die sterre flonker so helder jy wil eintlik aan hulle vat-vat.

“Kyk, die Melkweg is só helder hy maak glad lig hier op die grond,” beduie Bosman Olivier, voorsitter van die Pretoria-sentrum. Rondom ons staan ’n hele klomp sterrekykers met hulle teleskope tussen die Karoo-bossies. Dis snerpend koud, maar winter is die beste tyd vir sterrekyk omdat die koue lug min vog bevat en alles dan skerper lyk, verduidelik Bosman.

Van die sentrumlede werk dié naweek aan hulle ASSA 100-lys: 100 verskillende sterre, sterrebeelde, newels en donker voorwerpe wat hulle moet soek en aanteken. Vir hierdie sterrekykers is dit nogal ’n prestasie om die lys te voltooi. Albie Lombard spook behoorlik om NGC 288, ’n stertros, op te spoor: “Ek raak heel verlore tussen die Karoosterre omdat ’n mens hier net soveel meer met die blote oog kan sien as daar by ons in Gauteng.”

’n Hele klomp van die Pretoriase manne het hulle eie teleskope gebou – Johan Smit het selfs ’n kontrepsie waarop hy ook sy kamera monteer wat presies teen die aarde se spoed draai. Met dié volgtoestel kan hy dan sy kamera se sluiter vir baie lang tye oophou sonder dat die sterre sulke lang strepe maak op sy foto’s.

“Kom ek wys julle ietsie,” sê Johan en swaai sy teleskoop amper heeltemal noord. Die kol waarin hy soek, lyk vir my na net ’n diep, donker gat. Daar is nie veel sterre wat jy met die blote oog kan sien nie.

“Hulle is tricky om te kry, maar kyk ’n bietjie hier,” sê Johan en steek ingenome sy pyp op. Deur sy teleskoop sien ek twee sterre sommer na aan mekaar – die een is effens rooi, die ander blouerig.

“Dubbelsterre – twee sterre wat om mekaar wentel,” praat Johan hier langs my kop. “Die suidelike punt van die Suiderkruis is ook dubbelsterre.”

Die sterremanne wys en vertel my nog baie ander baie interessante dinge wat oral in en om die Melkweg wegkruip. Naderhand tol my brein van al die duisende ligjare en vreemde name. Kan ons nie maar na iets eenvoudigs soos ’n planeet kyk nie?

“Ag ja, kom ek wys jou gou Jupiter en Saturnus,” sê Johan, min beïndruk. Jupiter en drie van sy mane verskyn in die teleskoop, en dan Saturnus met daai vreemde gasmassa wat soos ’n frisbee om hom draai. My aand is gemaak!

Tot in die oggendure word daar sterre gekyk terwyl ’n verskietende ster elke nou en dan vir goeie vermaak sorg. Eers teen 4 vm. is dit slapenstyd. Toe ek my oë toemaak, maal die Melkweg steeds deur my kop voordat ek oor die Skerpioen se stert verbyskiet droomland toe.

Waar? By die Kambro-padstal, sowat 21 km noord van Britstown langs die N12.

Kontak   www.pretoria-astronomy.co.za/

Bly hier Die Kambro-padstal (* 053 672 0408; * www.kambroaccom.co.za