Net so berug as wat Sutherland is vir sy koue, net so beroemd is dié plek vir die sterrekunde. Suid-Afrika se Nasionale Sterrewag is juis vanweë die donker naghemel hier gevestig. Voordat die Sterrewag gebou is, is die stabiliteit van die atmosfeer getoets en daar’s bevind dis vergelykbaar met dié van die beste sterrewagte ter wêreld.
Omdat Sutherland op die grens van die somer- en winterreëlvalstreek lê, is daar nie ’n oorheersende bewolktheidseisoen nie, en daarom is sterrekyk heeljaar moontlik. En hier is verskeie opsies:
Die Sterrewag het dag- én nagtoere. Op al twee sien jy verskeie uitstallings en kort DVD-vertonings wat verskeie aspekte van die sterrekunde toelig. Op ’n begeleide dagtoer (elke dag buiten Sondae) kan jy op die teleskoopplato tussen die verskillende koepels rondloop om foto’s te neem, en ’n gids verduidelik hoe die onderskeie teleskope se instrumentasie werk. Nagtoere vind op Maandae, Woensdae, Vrydae en Saterdae plaas. Besoekers mag nie snags op die teleskoopplato rondloop nie, maar kry wel die kans om deur twee groot rekenaarbeheerde teleskope na die sterre te kyk – mits die weer dit toelaat.