Kyk híér na aangrypende tonele in die nagruim

Die lede van die Southern Star Party (SSP) trek minstens twee keer per jaar saam. Buiten verkykers en standaard-teleskope sal jy hier ook ’n paar selfgeboude modelle aantref, en praatjies, demonstrasies en werksessies oor ’n hele rits onderwerpe word aangebied – waaronder astrofotografie. En ’n hoogtepunt op die program is die gewilde sterrekundevasvra.

Wanneer dit by sterrekyk kom, word jy gewoonlik beloon wanneer jy bereid is om van sononder tot sonsopkoms buite te wees. Die deurnagsittery kan veral in die winter ’n beproewing wees, veral vir nuwelinge en die koulike soort. Maar die vrugte wat dit afwerp, is soet: die Suiderkruis is heeljaar sigbaar in die Kaap; ’n helder Venus en dowwer Mercurius kan aand- of oggendplanete wees; meteore kan enige aand verskyn... en hoe verder jy die diepruimte inkyk, hoe meer aangrypend raak die tonele.

Waar? Leeuwenboschfontein-gasteplaas buite Touwsrivier.

Wanneer? 5-10 September 2018

Kontak * 083 787 0792 (Edward Foster); 084 512 9866 (Lynnette Foster) * www.southernstarparty.org