“Ongeteer” is sag gestel. Die entjie van die Baviaans-wildernisreservaat se oostelike hek by die Komdomo-kampterrein deur die Grootrivierpoort is mak met mooi driffies en ’n vasgetrapte grondpad.

Maar waar ek nou oor die los klippers en sinkplaat van Combrink se Pas skud, is ek maar te dankbaar vir die Mahindra Pik Up Karoo onder my sitvlak.

Mense ry gewoonlik die Baviaanskloof van Willowmore af oos of “afdraande” Patensie toe, maar ek het vanoggend by die reservaat aan sy oostelike punt begin in die geloof dat dié wildste deel my kop vinniger uit die stad en in die veld sal kry.

Die smal paadjie is die ene blinde draaie, met hier rég langs die wielspoor ’n afgrond wat ek eerder nie moet gesien het nie.

As hier nou ’n ding van voor af kom… ek wil liewers nie daaraan dink om ’n ent te moet terugstoot tot waar die pad effense skouers maak en ons mekaar kan verbygaan nie.

Die mooi lê reeds alom. Ek kan nie glo ek was nog nooit hier nie.

Maar toe Pikkie Daniel van Paternoster die anderdag vir my uit die bloute ’n boek getiteld Baviaanskloof – ’n kultuurhistoriese oorsig van Nuwekloof tot Kruisrivier met ’n koerierdiens stuur – met voorin die boodskap: “Dis ’n Godsmooie wêreld – geniet hom” – het ek besluit dis hoog tyd.

Die pad klim tussen aalwyne, broodbome en plate spekboom. Die Mahindra gedra hom goed.

Waar Slingsby se padkaart aandui dat ’n mens liefs na viertrek moet oorskakel, klouter hy steeds sonder moeite.

Maar met ’n gewone sedan gaan jy nooit aste nimmer hier deurkom nie – Thomas Bain het dié landskap net-net getem!

Bo-op die Bergplaatzplato hou ek stil om bene te rek en moed te skraap vir wat nou voorlê: Holgatpas.

Die tweespoor oor Combrink se Pas is smal en sonder keermuur – ry stadig

Combrink was duidelik net vir litte losmaak; Holgat se byna 5 km is die smalste strook van die ganse R332 en heelwat van sy draaie is só skerp dat ek ’n paar keer byna ’n driepuntdraai moet maak.

Die sement-tweespoor wat vir beter vastrapplek moet sorg, is al voos en ek kruie in eerste rat af tot waar bome en bosse ’n tonnelruigte oor die pad maak en ek en ’n trop blouape mekaar aangaap.

Dankie tog, hier’s die Smitskraal-piekniekplek!

Eers weer asem skep voor… die Grasnekpas!

Dié is toe darem meer gangbaar.

Die noutes van die kranse maak plek vir ’n valleitjie met koedoes, blouape en die Baviaans se eerste bobbejaantrop.

Ek hou stil by ’n driffie, trek my vellies uit en stap deur die koel water.

Iets laat my opkyk... en daar sit hy: ’n bruinkopvisvanger.

Die son sit al laag, maar die plaas Zandvlakte moet nou net hier voor lê.

Ek het ’n voldag aan sowat 70 km gery en blaai Pikkie se boekie oop om seker te maak ek het alles van dié stuk Kloof gesien.

’n Handgeskrewe nota val tussen die blaaie uit: “Ongelooflike rit. Heeltemal wille wêreld!”

Pieter Kruger van die plaas Zandvlakte gesels spekboom.

Hy móét ’n rok hê

Vroegoggend klim ek in Pieter Kruger, die eienaar van Zandvlakte, se bakkie.

Dis ’n groot lekkerte om saam met ’n boer op sy plaas rond te ry.

Jy leer die noemname van rante en koppies wat nêrens opgeteken staan nie en kry ’n terugblik én voorskou van ’n plek.

Elke kraal en murasie het ’n verlede, elke lappie grond ’n toekoms.

Pieter het dit sy plig gemaak om sy deel van die Kloof te rehabiliteer en hy kan jou baie vertel van dié proses se impakspelers, waarvan die spekboom ’n belangrike een is.

Hier op Zandvlakte kon hulle die laaste paar jaar met behulp van buitelandse befondsing vier miljoen spekbome aanplant – die eerste stap in ’n enorme taak om landbougrond weer na natuurlike habitat te herstel.

Ons hou suid tot aan die voet van die Kougaberg en klim dan uit om ’n spekboom deeglik te bekyk.

“ ’n Spekboom moet eers ’n rokkie maak, sien?”

Daai takkies wat net bo die grondoppervlak na die kante toe uitgroei, is belangrik.

Hy moet die grond bedek, dan beskerm hy die biologie wat in die grond is, wat weer die voedingstowwe vervaardig.

Op daai manier begin hy groei en ’n klein waterspons onder hom opbou. Hy móét ’n rok hê.

Pieter buk en krap ’n hand vol grond onder die boompie se rok uit.

“Kyk hierdie grond!” sê hy opgewonde. “Kýk al die dooie blare. Dís waar jou nuwe formasie van grond tot stand kom en dit is ook jou veld se voedingsiklus.

Die swamme begin op hierdie goed teer en in ruil vir die suikers wat hulle by die spekboom kry, stel hulle voedingstowwe vry en ook glomalien wat die grond soos kaas laat verkrummel en suurstof inlaat.

Dan skop hy ’n meter van die spekboom af ’n gaatjie oop – klipharde kleigrond.

“Ons gemiddelde reënval was altyd sowat 300 mm per jaar. Die afgelope sewe jaar kry ons maar die helfte daarvan,” verduidelik hy.

“En ás dit die slag reën, loop als weg, want die grond is nie meer ’n spons nie.

“Ons het in die verlede in hierdie vrugbare grond kom lande maak, en om die lande te beskerm het ons keerwalle gebou en dit versteur die water se natuurlike vloeipatroon nog verder.

“En ons wêreld word net al hoe droër. As mense aanhou inmeng, hoe de hel moet dit vanself regkom?”

Maar hoe lank sal dit vat om die ganse distrik na sy droom te herstel?

“As almal saamwerk, kan hier oor 40 jaar ’n standhoudende rivier loop. Jy gaan wild hê wat toeriste met die oog kan kom oes.

’n Bruinkopvisvanger besluit oor middagete.

“Die diere sal selfs uit die Baviaans na die jagplase agter in Winterhoek kan migreer. Ons sal baie spesies kan hervestig: olifant, renoster, eland… En daar sal nie heinings of waterpunte wees wat in stand gehou moet word nie.

“Die simbiose tussen die diere en die veld sal vir ’n natuurlike, volhoubare sisteem sorg.”

Die krag van water Pieter laat my met heelwat dinkwerk verder ry.

Voor in die pad draf drie volstruise en toe ek hulle verbysteek, besluit die lotjie om die Mahindra vir ’n kilometer of twee te dice. Hulle lang treë laat hulle logge lywe rondswaai, maar hulle klein koppies hang doodstil in die lug, soos heliumballonnetjies.

Net voor die NG kerkie blaas die voëls die aftog en ek hou stil om die gebou te bekyk.

Die hoeksteen is op 16 Februarie 1918 gelê, twee jaar nadat die groot vloed die oorspronklike kerkgebou weggespoel het.

Pikkie se gidsboekie vertel dat slegs die doopvont van die ou kerk herwin is – iemand het dit in die spoelsand sien uitsteek.

Die Baviaanskloof is nie danig breed nie en die plase volg kort op mekaar: plekke soos Joachimskraal, Doringkloof, Damsedrif en Kleinpoort.

Daar’s omtrent nie ’n plaas in die Kloof wat nie deesdae gasteverblyf bied nie.

Dit wissel van spoggerige plaas-opstalle tot kampplekke en op Kleinpoort gaan loer ek hoe Bakkrans lyk: ’n slaapplek onder ’n rotsoorhang.

Wanneer ’n mens hier kom bly, het jy eksklusiewe toegang tot Gertsmitskloof – een van talle syklowe wat soos geute uit die Baviaanskloofberg afloop.

Die meeste van hulle staan vol trosvye.

Ek gewaar nog van die eienaardige boompies wat ek gister in die Baviaanskloofreservaat opgemerk het… Dis ’n soort naboom.

Die kleintandnaboom (Euphorbia grandidens) kom hier in die Oos-Kaap sowel as in KwaZulu-Natal en Mpumalanga voor.

Anders as die bekende Euphorbia ingens met sy dik stam en digte kroon het dié een, die Euphorbia grandidens, meer die lyf van ’n palmboom met ’n kuifie stekelblare boaan.

’n Entjie aan met die hoofpad staan die Campbell-monument wat die Baviaanskloof-landbouvereniging in 1999 ter herdenking van die groot vloed van 1916 opgerig het.

Die boek Baviaanskloof Stories vertel hoe op 3 Mei sowat 350 mm bo in die Kloof geval het.

Die rivier het afgekom en die telefoonpale opgestoot.

Daar was nie ’n manier om die mense laer af in die Kloof te waarsku dat groot waters op pad is nie.

’n Wolkbreuk die volgende dag in die Kougaberg het nóg water aangejaag en in die smal vallei met sy talle vernoude poortjies wat die golwe net laat spoed optel, kon niks meer in die grond wegsyfer nie.

Teen die aand was van die huise omring deur water en die inwoners moes vir veiligheid op die dakke klim.

Hier waar die monument staan, was voorheen Kleinplaas waar vyf families gewoon het. Hulle – 18 mense altesaam – het na die Campbells se huis gevlug wat hoër as die res geleë was.

Ene mnr. Zilberg wat ’n winkel op die werf gehad het, het die ander gesmeek om saam met hom uit die huis pad te gee voordat die water hulle ook bereik.

Almal is toe saam met hom vort, behalwe die Campbell-egpaar, hulle kinders, Ada, Flossie en Robert, en Hans Terblanche, ’n maatjie wat vir die vakansie kom kuier het.

Want, het hulle geglo, daar’s nie ’n manier dat die water só hoog sou styg nie.

Maar hulle net nie rekening gehou met die digte turksvyboskasies wat dié deel van die vallei oortrek het nie.

Opdrifsels het begin vassteek, die water kon nie meer stroomaf ’n pad vind nie…

In Zilberg se winkel het items begin ronddryf. Die mense het teen die rakke uitgeklim en deur ’n gat in die dak tot op die solder gevorder.

Toe die mure een ná die ander begin meegee, is hulle deur die gewel uit op ’n stuk plat dak.

Die Campbells het intussen al van húlle dak af in ’n wildedruifboom oorgeklim en tot dagbreek daar bly sit.

Met eerste lig was daar niks van hulle huis oor nie en kort daarna het die boom skielik hier onder hulle getuimel.

Die ma, pa en twee sussies het onder die water verdwyn. Robert en sy maat, Hans, het aan die takke bly vasklou terwyl die stroom hulle wegvoer.

Aan wal het mense saamgehardloop, angstig om die kinders te probeer red.

Die wildedruif het genadiglik later op ’n sandbank vasgespoel.

Die vloed het meer as 500 mense dakloos gelaat, 7 of 8 plase was tot niet, en die skade aan lewende hawe, huise en grond het sowat £70 000 beloop.

Oom Gustav Nortjé in Babes se Winkel.

Studtispoort vol stories

Ek ry steeds wes, deur Studtispoort. Alkant van die pad staan kranse nou roesbruin in die laatson en bobbejaantroppe laat spaander voor die bakkie uit.

Voor die vloed het hier ’n Duitser genaamd Studti geboer.

Nadat sy plaas weggespoel het, is hy ook vort, maar die Klowers het dié stukkie rivierpad van 6,5 km (met tien driwwe oor die Baviaanskloofrivier) na hom genoem.

Hierdie deel van die Kloof was vroeër jare meestal Nortjé-plase, die skrywer P.H. Nortjé se mense.

’n Paar van sy boeke speel in hierdie kontrei af, soos In Voetpad Se Kloof (dit verwys na ’n steeds bestaande paadjie wat tydens die Anglo-Boereoorlog ’n roete oor die berge was) en Die Wildedruif Val (oor die vloed).

Twee van sy jeugverhale, Pennie Se Vuur en Die Groen Ghoen, is ook deur die Baviaans geïnspireer.

“Weet jy waar kom ’n pennie se vuur vandaan?” vra oom Gustav terwyl hy op-cash. Hy’s ook ’n Nortjé.

Sy pa en P.H. was neefs en Babes se Winkel waarin ons nou staan en gesels, het voorheen aan P.H. se broer Francis behoort.

“Dis hoe die mense doeriejare hier by die winkel vir ’n boksie vuurhoutjies kom vra het – ’n pennie se vuur.”

Dis Saterdag en die winkel het pas om 1 nm. gesluit. Oom Gustav tel die banknote en skribbel sommetjies op ’n sigaretboks.

Strepies, sy kat, flikflooi teen die oubaas se skene. Hy is die oudste oorlewende man in die Kloof en het dié winkel 11 jaar gelede saam met sy vrou, Babes, oorgeneem.

Vandat sy Januarie laasjaar oorlede is, bedryf hy dit op sy eie.

Vra oom Gustav enigiets oor die Baviaans, hy lê dit vir jou uit: families, landbou deur die jare, reënvalsyfers, luiperdgebiede, bobbejaanprobleme… Van laasgenoemde is hier báie.

“Desjare het ons hulle nog kon skiet en dus het hulle dit nie naby die lande gewaag nie. So nou en dan kom daar een, maar hy sal nie weer kom nie, want hy gaan nie weer uit nie!

“Maar déésdae… byna elke kloof het sy eie trop!”

En dis nie net die bobbejane nie, die blouape is net so lastig. Ons hoor hoe ’n bende oor die dak hol en dan wieg die koejawelboom langs die winkel se takke soos hulle hom stroop.

Ek koop ’n pakkie koekies, ’n hand vol Champion-toffies en groet. Die volgende stop is Sewefontein – ook ’n ou Nortjé-plaas, maar sedert 2001 ’n gemeenskapsboerdery met 75 aandeelhouers en die plek waar ek Patrick Ruiters vir ’n toer van die trosvywoud ontmoet.

Patrick Ruiters by een van die oudste boorgate in die Kloof.

Patrick gaan wys my eers ’n boorgat. Dis een van slegs ’n handjievol in die Kloof wat al só lank standhoudend water lewer – in hierdie geval vanaf 16 Februarie 1937.

“Hy’s 110 m diep en lewer 49 500 liter vars water per uur,” vertel Patrick.

Die water borrel met mening uit. Ek skep ’n bakhand en proe – so soet en skoon soos reënwater. Dís dan nou Skoolfontein.

Die ander ses – Wit-, Bakkies-, Groot-, Melk, Riet- en Vaalfontein lê ’n klipgooi terug grootpad se kant toe.

Hier’s ’n plankiespad wat ’n mens al met die waterstroompies langs tussen massiewe besemtrosvye se stamme deurlei, bome wat al eeue lank uit dié fonteine drink en ’n woud geword het.

Kan jy glo, hiér in die Karoo.

Op Bo-Kloof is Bakkies, die skaaphond, jou stapgids.

Towerklowe en spelonke

Gisteraand het ek in Baviaanskloof Guest Cottages se Ou Kerkie op Beacosnek geslaap.

Die bobbejane wat skemeraand teen die kop langs die kerkie uit is, het deurnag geblaf – duidelik ongelukkig met dié langbeen-kees op húlle plek.

Vanoggend kon ek vir Quintis en Anina Bezuidenhout op hulle plaas Bo-Kloof, 1,5 km wes van Beacosnek, se werf vang, maar ons geselsie was kort – hulle moes De Rust en Bonnievale toe om hulle korwe na te gaan.

Want toerisme is nie al nuwe ding waarmee die Klowers deesdae boer nie, en hoewel die Bezuidenhouts hulle heuning op die plaas bottel, is die 600 swerms bye elders aan diens.

Quintis bou sy eie korwe en maak ook “fondasievelle”. Dié velle van herwonne byewas uit ou korwe kry met behulp van ’n pers alkant ’n patroon van seshoekige ruitjies en pas binne-in die rame wat soos laaie in ’n byekorf inskuif.

Dit maak die bye se werk baie makliker – hulle bou die heuningkoeke op dié fondasie.

Dis reeds laatoggend wanneer ek en Bakkies, Quintis se skaaphond, koers kry Waterkloof toe.

Sy voorganger, Skollie, het gaste al die jare vergesel, maar dié is al oud en doof en lê en dut onder die Mahindra.

Dis koel in die kloof. Iewers ver kabbel water.

Bakkies stap vooruit, net om kort-kort weer om te draai en my te kom haal waar ek talm om foto’s te neem.

Lee-Ann Smith in Houtkloof op die plaas Uitspan.

Die byna loodregte kranse maak ’n tregter teen die berg in en die gangetjie raak naderhand só smal ek kan bykans alkant met my hande aan die klam rots raak.

Ons klouter oor klippe, skuur verby gladde trosvystamme en probeer paddas vang nes hulle wegplons.

Ek is bly my stapmaat is nie ’n groot geselser nie en geduldig genoeg om lank roerloos tussen die varings te sit.

Want dis net ’n kwessie van tyd – hier móét feetjies wees...

Dis my laaste aand in die Kloof en ek slaap in die Makkedaat-grotte.

Met die indraai het ek eers vir tannie Henriëtte en oom Boetie Terblanche op die werf gaan groet en ’n ribbetjie, brood en beet aangeskaf.

Voor skemer klim ek die kop agter my grot uit. Bo is dit doodstil.

Hierdie plek is nog beskut teen die wêreld se verderf.

’n Gunterland vol goedheid, waar ’n mens weer nader aan die oorsprong van alles voel. Die paar dae was gans te min.

Môreoggend wil ek by Nico Smith op Uitspan inloer.

Daar’s glo ook ’n mooi kloof en ek kan nie genoeg kry van dié skemertes waarin aronskelke ’n geheime lewe lei nie.

En dan nog by Veronica Maganie se Vero’s-restaurantjie stilhou vir roosterkoek vir die langpad.

Volgende keer kom ek die Kloof nóg stadiger deurry sodat ek meermale daardie tweede koppie koffie kan aanvaar, nóg stories van die ou dae kan hoor en met my rug teen ’n krans kan bly sit vir so lank ek wil.

Want Pikkie was reg: Dit ís ’n Godsmooie wêreld.

Waar bly ek in die wildernisgebied?

Kamp Die Baviaanskloofreservaat het drie kampterreine waarvan twee – Doodsklip en Rooihoek (5 stanings elk) – slegs per 4x4 bereik kan word. Dié boskampe het ’n tafel en banke, ’n braaiplek en ’n eko-toilet. Alles anders moet jy self saambring. Die driester-Komdomo-kampterrein (27 stanings) langs die Grootrivier het kragpunte en ablusiegeriewe en is geskik vir woonwaens.

Onderdak Die Geelhoutbos-chalets is tans gesluit vir restourasiewerk. Die Bergplaatz-staphut (stapelbeddens vir 12, stort en toilet, maar geen ander geriewe nie) bo-op die plato is ’n gawe basiskamp waarvandaan jy die reservaat te voet kan verken. Stappers moet in gedagte hou dat hier gevaarlike diere (luiperds, buffels...) in die wildernisgebied loop, en daarom is dit belangrik om wanneer jy bespreek ook aan te dui watter dae jy waarlangs gaan stap sodat ’n veldwagter kan saamgaan.

Koste Doodsklip en Rooihoek: R413 tot R437 p.n. (maksimum 6 mense). Komdomo: R460 p.n. Bergplaatz-hut: R340 p.n. vir die eerste 4 mense, plus R93 tot R122 (afhangende van die seisoen) per ekstra persoon.

Bewaringstarief R51 p.p.p.d. (R26 per kind)

Hektye Elke dag van 8 vm.-4.30 nm. Geen voertuie word ná 4 nm. toegelaat nie.

Kontak 043 492 0882/3/4; reservations@ecpta.co.za (besprekings) of 087 286 6494; amanda.persent@ecpta.co.za (navrae).

Uitspan het die netjiesste kampterrein in die Kloof. Die agt stanings het elektrisiteit en ’n braaiplek (bring jou eie rooster), en sommige het ook ’n lapa en private ablusie.

Hier’s ook ’n boskamp met plek vir 20 mense. Op die werf is drie selfsorghuisies, ’n swembad en ’n dam met ’n foefieslaaid. Stappers kan die Houtkloof- en Koepelroete van die kamp af vat. Vir die 4x4-ouens is hier ’n 8 km-roete.

Koste Kamp: R125 p.p. (halfprys vir kinders jonger as 12). Selfsorg: Vanaf R650 p.n. vir 2. Dagbesoekers: R25 p.p. 4x4: R100 per voertuig.

Kontak 082 468 1005; baviaansuitspan.co.za

Die Makkedaat-grotte op die plaas Rietrivier se sewe blyplekke (met slaapplek vir 2-10 gaste) is halfgrot, halfhouthut en gerieflik ingerig met elkeen ’n kombuis, braaiplek, kuierkol en badkamer mét ’n warmwaterstort en spoeltoilet.

Dis privaat en jy kan die etlike dagstappe van jou voordeur af bereik.

Op die Rietrivier-sirkelroete (24 km, 4 dae) oornag stappers in ander grotte op die plaas. Hier’s ook ’n 10 km lange 4x4-roete. Maak ook ’n draai by die mistafel – dis ’n uitstalling van al die wildlewe in dié geweste se mis en spore.

Koste R280-R300 p.p. (R225 per kind) vir die groot grotte; Dassiebak en Swaeltjie Nes (dis nou meer wittebroodreiswegkruipplekkies): R850 p.p. Rietrivier-staproete: R270 p.p.p.d. en 4x4 kos R100 per voertuig.

Kontak 082 215 5175; makkedaat.co.za

Die Luiperd-staproete (63 km, 4 dae) op Cedar Falls het onlangs slenterstapstatus gekry. Stappers se kos en oornaggoed word van hut tot hut aangery, maar jy moet steeds fiks en voorbereid wees. Hier is ’n paar stewige steiltes en die daaglikse afstande is onderskeidelik 10 km, 18 km, 22 km en 13 km. Elke stapkamp bestaan uit drie hutte (elk met slaapplek vir vier mense), ’n kombuishut, ’n braaiplek en ’n swembadjie.

Op Cedar Falls is bergfietspaaie en ’n mooi dagstap waar ’n mens plek-plek deur poele swem – net vir gaste. Verblyf bestaan uit twee groot selfsorgplaashuise – Cedar Farmhouse (vir 8 mense) en Red Cliffs (vir 12), ’n staphut (12 stapelbeddens) en twee kleiner huisies met slegs ’n dubbelkamer elk – Cob Cottage en Just for Two Cottage.

Koste Luiperdroete: R1 680 p.p. (minimum 4 en maksimum 12 stappers). Verblyf in ’n plaashuis R320 p.p., in die staphut R170 p.p. (minimum 4 gaste) en in die kothuise R980 p.n.

Kontak  074 939 4395; gobaviaans.co.za

Duiwekloof se kliphuise lê sowat 1,5 km van die grootpad af. Die oopplan-Blouduiker Cottage het slaapplek vir 4 tot 6, Leopard Cavern is vir ’n paartjie bedoel en die lodge se 4 en suite-selfsorgkamers (slaapplek van 2-4) het toegang tot ’n gemeenskaplike kuierkamer met ’n kaggel.

Hier’s ook 6 stanings vir kampeerders met elektrisiteit, gemeenskaplike ablusie en ’n gesellige braailapa. Hier is verskeie kort staproetes, ’n swemgat en houtdekke vir boeklees.

Koste Kliphuise: vanaf R1 200 p.n. Lodgeverblyf: Vanaf R640 p.p. tot R1 320 per kamer vir ’n gesin van 4. Kamp: Vanaf R300 p.n. (maksimum 4 mense)

Kontak  072 602 7383; duiwekloof.co.za

Op Speekhout kan jy in ’n boomhuis slaap. Dié huisie vir ses is óm ’n rooikaree gebou en het tot ’n braai, kaggel en badkamer! Hier’s ook selfsorgopsies: Die Karoo Cottage (vir 5 mense) en die oopplan-Klipspringer, ’n riethuis in ’n klofie.

Koste Boomhuis: R450 p.p. (R250 per kind jonger as 12). Karoo Cottage en Klipspringer: R370 p.p. (R350 per kind).

Kontak 072 202 5752; speekhout.co.za

Verlorenrivier se twee selfsorghuisies (met onderskeidelik slaapplek vir 2 en 4 gaste) sit op ’n koppie met ’n uitsig oor die plaas se lande en omliggende berge. Elke huis het ’n braaistoep en tussen die twee is ’n heerlike swemdam.

Koste R350 p.p. (R150 per kind jonger as 12)

Kontak 078 168 9868; verlorenrivier.co.za

Vero’s is Veronica Maganie (foto) en haar suster, Katriena, se huisrestaurant. Hulle ma, Mieta, het in 2004 begin om vir reisigers koffie en iets te ete voor te sit; deesdae bak die twee in die vakansietyd tot 100 roosterkoeke elke dag!

Hou stil vir iets te ete en ’n glas koue gemmerbier. Terwyl die roosterkoeke oor die kole rys, kan jy langbeen onder die seringboom uitspan of deur Veronica se mooi tuin en haar handwerkwinkel drentel. Koop ’n vetplantjie voor jy ry.

Kontak 078 343 8181

Bo-Kloof se Kolgans Cottage is van hout gebou en snoesig ingerig. Onder is slaapplek vir twee, met nog twee enkelbeddens in die solder. Aan die Bezuidenhouts se plaashuis is ook ’n gastehuis met ’n kombuis, badkamer en slaapplek vir 6. Op die werf staan ’n wildedruifboom soos die een waarin die Campbell-gesin tydens die vloed geklim het.

Die Waterkloof-staproete is mooi en as jy fyn kyk, sal jy 12 uitgemerkte rotsklimroetes (die gradering wissel van 21 tot 34) teen sy kranse gewaar. Jy kan ook 4x4 ry.

Koop gerus van die Bezuidenhouts se heuningprodukte. Heuning kos R45-R63 per fles, heuningslaaisous R45 per botteltjie en heuningasyn R42.

Jy kan ook rou heuning per emmer koop – vanaf R150 vir 1,4 kg tot R790 vir 7,5 kg.

Koste Kolgans: vanaf R400 p.p. wat deel. Gastehuis: vanaf R375 p.p. wat deel. (Laer tariewe geld hoe meer mense per nag in ’n eenheid oorbly.) Waterkloofroete: R25 p.p. of R10 p.p. as jy ’n klimmer is. Die 4x4-roete: R100 per voertuig vir dagbesoekers en R50 vir gaste.

Kontak 072 227 6338; bokloof.co.za

Die Baviaanskloof Guest Cottages op die plaas Beacosnek lê digby die grootpad. Die Langhuis het ’n groot grasperk waar ’n paar bergskilpaaie hou, ’n gesellige braaiplek en slaapplek vir 13. Die Ou Kerkie en Oupatjie kan elke tot vier gaste akkommodeer.

Die BaviJAANS-padstal (Ma. tot Sa. van 8.30 vm.-4.30 nm.) net oorkant die gastehuise is Jana Meyer se winkel met alles en nog wat. Bykans elkeen wat die Kloof inry, stop eers hier vir ’n roosterbroodjie, koffie, koeldrank of melkskommel. As jy jou serp vir die koue aande vergeet het, sal jy hier geholpe raak, en die rakke is vol geskenke, boeke oor die Kloof, braaitoerusting, ingelegte goed en loslekkers.

Koste Vanaf R700 p.n. vir 2.

Kontak 079 894 8952; baviaanskloofcottages.co.za

Sewefontein se begeleide toer deur die vyeboomwoud en fonteine kos R45 p.p. Kry jou permit (en vir Patrick Ruiters) by die kantoor op Sewefontein.

Oop Elke dag van 8 vm.-12 nm. en van 2 nm.-5 nm.

Babes se Winkel is ’n algemene handelaar wat die gemeenskap van basiese produkte voorsien.

Oop Weeksdae van 9 vm.- 1 nm. en 2 nm.- 5 nm. Op Saterdae sluit die winkel om 1 nm. en op Sondae is dit slegs oop van 11 vm.-12 vm.

DamseDrif het ’n ou plaasopstal, Johnnie se Huis, met 5 kamers (slaapplek vir 14), ’n swembadjie buite en ’n binnebraai sowel as ’n outydse es in die kombuis. Hier’s ook twee kothuisies, Boklied en Volstruisie, elk met ’n dubbelkamer.

Jy kan na hartelus fietsry, in die plaasdam swem, roei en die plaasdiere voer.

Koste R300 p.p.

Kontak 072 727 8654; damsedrif.co.za

By die Doringkloof-boskamp kan jy kies om op volvloergras langs die dam te kamp of eenkant tussen die doringbome. Die stanings het kragpunte, braaiplekke, koeltebome en mooi badkamers staan versprei oor die terrein. Op die rand van die dam staan drie eenvoudige selfsorghuisies.

Doringkloof is ’n gewilde 4x4-bestemming met roetes wat teen die Kouga- sowel as die Baviaanskloofberg uitkronkel. Hier’s ook twee klowe – Klipspringer en Varing – om te voet te verken.

Koste Kamp: R100 p.p. (R80 per kind jonger as 12) en verblyf in ’n huisie R300 p.p. (R250 per kind). 4x4: R100 per voertuig.

Kontak 063 431 6588; doringkloof4x4.co.za

Kamerkloof is weelderig. Die Landhuis is meer as 150 oud en was tot in die 1980’s die Kloof se polisiestasie. Dié woning met slaapplek vir tien mense (vyf en suite-kamers) kan in twee vleuels verdeel word wat elk sy eie kombuis, leefvertrek en stoep het. Landhuis het ook ’n swembad en ’n sondek op die dak.

Studtis Huis is luuks ingerig met elke moontlike gerief wat jy aan kan dink. Hier’s slaapplek vir 12 (die kinders gaan mal wees oor die solderkamer!), ’n mooi  tuin en ’n swemdam met ’n houtdek rondom.

Die Olive Tree Cottage (selfsorg) grens aan die opstal en is geskik vir ’n paartjie, en daar is ’n enkelbed in die leefvertrek vir ’n kind. En die Wildedruif-huisie (selfsorg) staan effens eenkant teen ’n hoogtetjie en het slaapplek vir vier.

Gaste wat in Landhuis of Studtis Huis tuisgaan, kan vooraf etes bestel: R250 p.p. vir ’n viergangaandete en R150 p.p. vir ontbyt. (Etes vir kinders jonger as 12 kos onderskeidelik R100 en R70.) Dis ’n olyfplaas – koop gerus van hulle seep (R45) of olie (R90 vir 500 ml).

Gaste mag twee klowe verken – die historiese Voetpadsekloof en Damsekloof (met kettinglere). Hier’s ook ’n tennisbaan, kuns-galery en ’n inligtingsentrum oor die Baviaans se erfenis.

Koste Landhuis: R6 297 p.n. vir 10 (R4 620 p.n. vir die noordvleuel met slaapplek vir 6; R3 080 p.n. vir die suidvleuel met slaapplek vir 4); Studtis Huis: Vanaf R2 761 p.n. vir 3 volwassenes. Olive Tree Cottage: Vanaf R 600 p.p. en Wildedruif-huisie vanaf R700 p.p. (vir albei dié opsies moet jy vir ten minste 2 nagte bespreek).

Kontak 083 602 1253; kamerkloof.co.za

Op Kleinpoort kan jy in die Bakkrans (slaapplek vir 15) in die bek van Gertsmitskloof oornag. Die blyplek onder ’n rotsoorhang het ’n braaiplek, opwasplek, gasstoof, tafel en stoele en ’n stapel matrasse – alles op ’n netjiese sementblad. Wraggies ook ’n badkamertjie met ’n stort, wasbak en ’n spoeltoilet.

Hier’s ook ’n selfsorggastehuis op die plaas (slaapplek vir 8-10), óf jy kan vooraf reël vir aandete (R185 p.p.) en ontbyt (R70 p.p.).

Koste Bakkrans: R180 p.p. Gastehuis: R300 p.p.

Kontak 082 879 5023; bavkleinpoort@tiscali.co.za

Zandvlakte-plaas is ’n lushof met grasperke en ’n swembad omring deur dekstoele. Van die gerestoureerde gaste-eenhede dateer uit die 1800’s en jy kan kies tussen ’n gastekamer (en suite met 2 enkelbeddens) met aandete en ontbyt ingesluit of selfsorg (met slaapplek vir 6).

Koste ’n Kamer (etes ingesluit): R925 p.p. wat deel en selfsorg R400 p.p. wat deel. Halfprys vir kinders jonger as 12.

Kontak 087 700 8473; baviaanskloof.com

Weet voor jy waai
  • Die Baviaanskloof vra vir ’n 4x4-ryding of ten minste een met goeie grondvryhoogte. Van die weste af sal jy nog met ’n gewone sedan teen Nuwekloofpas kan af om by heelwat van die plase uit te kom, maar die passe in die wildernisgebied toon geen genade nie. Ná groot reën is die pad ook dikwels verspoel en die driwwe diep – maak vooraf by die boere seker dat jy sal uitkom waar jy wil wees.
  • Maak jou motor se tenk vooraf vol op Patensie, Uniondale of Willowmore.
  • Bring jou bergfiets – ’n mens kan op die meeste plase en ook met die grootpad deur die Kloof langs ry.
  • Hier is nie outobanke of kaart-masjiene in die Kloof nie. Betaal jou verblyf vooruit en bring genoeg kontant saam.
  • Hout (sowat R40 per sak) en braaipakke (sowat R70 p.p.) is op bykans elke plaas te koop – bestel vooraf.
  • Moenie selfoonontvangs te wagte wees nie. Die meeste plaaswerwe bied darem Wi-Fi.
  • Hou dus ook in gedagte: die selfoonnommers in die blyplekgids kan nie geskakel word nie – kontak die mense liefs via WhatsApp.

Bronne Baviaanskloof – ’n Kultuur-historiese oorsig van Nuwekloof tot Kruisrivier, saamgestel deur Colijn Scheltema en Naomi Haupt; Baviaanskloof Stories deur J.C. Scheltema; mountainpassessouthafrica.co.za