St. Helena se betowering lê nie in die voor die hand liggende mooi nie. Inteendeel, wanneer ’n mens dié vulkaniese eiland die eerste keer gewaar, skrik jy effe. Waar’s die ménse? En die strande vol sonbaaiers?

St. Helena is op soveel maniere anders as dít wat ons van ’n eilandbestemming verwag. Hier’s nie rye dekstoele en kelners wat mengeldrankies aandra nie. Ook nie bikinilywe wat op waterponies rondrits, of calypso-klanke in die agtergrond nie.

Dis juis dié andersheid, haar rou aantreklikheid, wat jou oorrompel. Vyf eeue lank het die Portugese, die Engelse Oos-Indiese Kompanje, die Britse Koninklike Vloot, en ook die Nederlanders tougetrek oor wie s’n die eiland nou eintlik is.

Dis juis dié andersheid, haar rou aantreklikheid, wat jou oorrompel.

In die vroeë 1800’s was hier ’n Chinese werkerskorps en ná die afskaffing van slawehandel in die 1850’s is 24 000 slawe uit Afrika, Madagaskar, Maleisië en Indië hier “vrygelaat”. En die eiland het eers in 1899 ’n telegraafkonneksie met Londen gekry. Dié mengelmoes van invloede maak St. Helena ’n plek soos geen ander op aarde.

Begin solank vir ’n vliegkaartjie spaar, want St. Helena, soos sy nou daar lê, is nog vol karakter. Maar wie weet hoe die opbloei in toerisme haar in die toekoms gaan verander met dié dat ’n mens nou soontoe kan vlieg? Die beste tyd om te gaan, is nóú – met hierdie aksieplan in jou koffer. 

VIDEO: So land jy in St. Helena!

AL DIE MOETDOENDINGE

Longwood House

Kuier by Napoleon Heelwat bekendes het oor die jare heen op St. Helena vertoef, onder andere die befaamde kaptein James Cook, die sterrekundige Edmond Halley, Charles Darwin en Napoleon Bonaparte – waarskynlik die bekendste banneling ooit.

Met sy aankoms op St. Helena het Napoleon twee maande in ’n huisie bo Jamestown genaamd Briar’s Pavilion gewoon (tien jaar vantevore was dit die woning van die einste Hertog van Wellington wat Napoleon by Waterloo so op sy baadjie gegee het), waarna hy na Longwood House verskuif is en tot sy dood op 5 Mei 1821 gewoon het.

Wanneer ’n mens deur die spoggerige plek vol deftige meubels, kristalkandelare en vergulde muurpapier dwaal, is dit moeilik om jou te verbeel dat dié huis destyds klam en muwwerig was – iets waaroor Napoleon glo gereeld gekla het.

Dít en talle ander staaltjies vertel ’n oudiotoer jou: Hier staan die generaal se veldbed, en hier sy meter diep loodbad in ’n houtraam; só het sy swierige handtekening gelyk, en by hierdie einste aardbol het hy seker baie aande, met ’n glasie Klein Constantia in die hand, staan en wonder wat Louis XVIII, nou aan die stuur van sake in Frankryk, aanvang.

Koste: Toegang tot Longwood House en Brair’s Pavilion is R255 p.p. en die oudiotoer R35. ’n Deeglike toer neem sowat 2 uur. Jy kan egter jou kaartjie hou en ’n paar dae later terugkeer as jou tyd min is.

Oop:

Longwood House Ma.-Vr. van 11 vm. tot 1 nm.

Briar’s Pavilion Wo. en Vr. van 10 vm.-11 vm.

WAT NOG?

Napoleon se oorskot is in 1840 na Parys geneem waar dit op ’n staatsbegrafnis in die Les Invalides-katedraal ter ruste gelê is. Maar twee dekades lank was sy voorlaaste rusplek hier op St. Helena, onder ’n steen sonder enige inskrywing.

Die Britse goewerneur Hudson Lowe het glo daarop aangedring dat die graf, soos enige ander, met die afgestorwene se naam én van gemerk word, terwyl die Franse slegs die koninklike voornaam, “Napoleon”, op die steen wou hê. Niemand wou besgee nie.

Napoleon is wel in viér doodskiste (die een binne-in die volgende) begrawe – een van tin, een van lood en twee van mahoniehout. Van die parkeerplek af is dit sowat 500 m se stap tot by die terras waarvandaan jy die graf kan besigtig.

Proe ’n skeutjie vuurwater

St. Helena-distilleerdery

St. Helena se onbewerkte berghellings (oftewel “Crown Waste”) staan oortrek van turksvybosse. Dis moeilik om die vrugte te pluk, maar dis presies wat Paul en Sally Hickling ’n paar jaar gelede saam met ’n klomp vriende gedoen het. Hulle het ’n allemintige 15 ton turksvye geoes en gestook.

Die eindproduk? ’n Heerlike drankie genaamd Tungi Spirit (die plaaslike woord vir turksvy). Die Hicklings maak by die St. Helena-distilleerdery ook ’n eersteklas jenewer, ’n Midnight Mist (koffielikeur) en ’n rum genaamd White Lion – genoem na die Witte Leeuw-wrak wat in Jamesbaai lê. Enige Saint (dis hoe die inwoners hulleself noem) sal vir jou verduidelik: op hierdie eiland word ’n rum-en-Coke ’n “shipwreck” genoem!

Groet die Boere

Boere-grafte

Buite ’n kerkie in die Knollcombes-distrik staan twee gedenknaalde. Langs die een wapper ’n verbleikte Vierkleur; langs die ander die vlag van die voormalige Republiek van die Oranje-Vrystaat. Hier, teen ’n skuinste in ’n smal valleitjie, lê die Boere-grafte van die meerderheid krygsgevangenes wat op St. Helena gesterf het.

Die eerste Boere – onder wie genl. Piet Cronjé en sy vrou, Hester – het op 12 April 1900 aangekom, en oor die volgende jaar sou nog ’n paar skepe vol prisoniers volg totdat die Boerebevolking op sowat 4 500 sou staan.

Hulle is in twee konsentrasiekampe – Deadwood Plain in die ooste en Broadbottom in die weste – gehuisves.

Sommige is toegelaat om op boere se plasies te werk, hout te kap, slote vir pype te grawe, restourasie- en bouwerk te doen; ander het weens die vermoeiende seereis, ’n ongebalanseerde dieet en ’n tekort aan vars water siek geraak en siektes soos ingewandskoors, tuberkulose en ’n vitamien B1-tekort (wat tot beri-beri lei) het vir sowat 180 sterfgevalle gesorg.

Die sowat 300 seuns het darem skoolonderrig ontvang, die Boere se handwerk (houtsneewerk, pype, kieries, borsspelde, swepe, speelgoed...) is uitgestal – alles gemaak met “toerusting” soos ’n gewone tafelmes en ’n ou sambreel se speke.

Daar was selfs kafeetjies, ’n bakkery en ’n Afrikaanse koerantjie in die kampe. En af en toe is ’n sportdag gehou, met krieketwedstryde tussen Boer en Brit. Die nagenoeg 40 000 briewe wat maandeliks na Engeland, Suid-Afrika en ander lande versend is ten spyt, was die mense op St. Helena só afgesonder dat, toe ’n telegram op 1 Junie 1902 uiteindelik aankondig dat die oorlog verby is, albei partye maar hulle oorwinning gevier het.

Daarna het die krygsgevangenes stuk-stuk teen wil en dank hulle trou aan die koning gesweer en ’n eed onderteken om huis toe te kan gaan. Slegs sewe boere het geweier, maar hulle is per skip terug Kaap toe om daar verhoor te word.

Vyf het op die eiland agtergebly en met plaaslike meisies getrou.

In ’n openbare brief van die krygsgevangenes aan die mense van St. Helena staan geskryf: "We find it impossible to leave St. Helena unless we contribute our share of thankfulness to His Majesty’s Officers... for what they have done to make us take courage to fight the future. ... the conclusion has been made that the prisoners of war have been squarely and gentlemanly treated... Their general attitude towords us prisoners of war will always be recounted with pleasure – an attitude at once firm and manly and worthy of admiration – and why? Because “politeness” was evinced in all their actions and doings.”

Parkeer by die houthek en stap in – daar is nie omdraaiplek aan die einde van die tweespoor nie en ná ’n bietjie reën gaan jou huurmotor in die modder sukkel.

Kiek vir Jonathan

JONATHAN, IS DIT JY? Ongelukkig nie – dis een van sy jong vriende, David.

Kom stap rond op die goewerneurswoning, Plantation House , se grondverdieping, met sy massiewe eetkamerstel, mooi biblioteek en galerye van al die vorige goewerneurs, sowel as lede van die koninklike gesin wat kom besoek aflê het.

Daarna kry jy vir sowat ’n halfuur toegang tot die grasperk waar die oudste Aldabra-skilpad ter wêreld, Jonathan, en ’n paar van sy trawante ’n luilekker bestaan voer. Trouens, Jonathan is die oudste landdier ter wêreld! Jonathan is na raming nou 186 jaar oud en is in 1882 van die Seychelle af hierheen gebring. Jy gaan hom uitken aan die katarakte op sy regteroog.

Jonathan

Die uur lange toer vind plaas op weekdae van 8 vm. tot 4 nm. (Bespreek vooraf by die toerismekantoor.) 

Leer ken koffie

Boltons se koffiewinkel

Die eerste Arabica-koffieboompies het al in 1732 uit Jemen saam met die Engelse Oos-Indiese Kompanjie op St. Helena aangekom. Napoleon het glo die koffie as “die enigste goeie ding omtrent St. Helena” beskou.

St. Helena het ’n paar klein plantasies van die Green Tipped Bourbon-soort en ’n mens kan Bill en Jill Bolton se Rosemary Gate-plantasie besoek. Bill vertel begeesterd hoe koffie gemaak word – van waar sy 1 800 bome in Februarie die eerste van twee keer in die jaar bot, tot hoe 2½ ton bessies met die hand geoes word.

Dis kostelik om toe te kyk hoe Bill langs die koffierooster staan en luister vir die eerste boon om soos ’n springmielie oop te kraak. En dan, op die tweede kraak, is die saak reg en die koffiebone se kleur en geur perfek.

Sakkies bone sowel as gemaalde koffie is by die Boltons se koffiewinkel (foto links) in die hawe te koop. Buiten Harrods in Londen is dit die enigste plek ter wêreld waar jy dié koffie kan aanskaf. Koste ’n Koffietoer is R170 p.p. Reël joune by die toerismekantoor.

Tuur uit High Knoll-fort

High Knoll-fort

Met al haar hoogtes en see-uitsigte is die hele St. Helena oortrek met mooi sonsondergangkolle. Maar min is meer dramaties as die High Knoll-fort . In die ou dae was hierdie mure gestip met kanonne wat enige naderende skeepskaptein twee keer sou laat dink.

Boerekrygsgevangenes wat erge oortredings begaan het, is ook vir tye hier toegesluit. Deesdae staan die fort egter oop en jy kan die mosoortrekte donker hoekies te voet verken en dan teen skemeraand op die borswerings gaan sit en kyk hoe die son in die Suid-Atlantiese Oseaan verdwyn.

IN JAMESTOWN

Laat oom Basil vertel... Basil George is die kleinseun van een van die Boere wat agtergebly het, Alfred Smith (dalk oorspronklik “Smit”).

Op ’n voetslaantoer deur die hawe en van die dorp se oudste geboue vertel Basil jou hoe die eiland 15 miljoen jaar gelede deur ’n reeks vulkaniese uitbarstings gevorm is, en hoe die Portugese admiraal João da Nova dit reeds in 1502 ontdek en dekades lank ’n geheim gehou het, totdat die Nederlanders en die Engelse vloot ook kom aanklop het.

Basil George

Terwyl ’n mens van die een geskiedkundige gebou na die volgende drentel, brei hy uit oor die eiland se ekonomiese agteruitgang oor die eeue heen, hoe die welvaart sedert die 1970’s weer stadig maar seker begin herstel het, maar dat St. Helena se probleme steeds legio is: Hier’s nie ’n arbeidsmark (werksgeleenthede is grotendeels beperk tot opvoedkundige, mediese en staatsposte) of eiendomsontwikkelaars nie.

En as die jong mense eers ná skool in Suid-Afrika of Engeland gaan studeer het... waarom sal hulle hierheen wil terugkeer? Dan spring sy storie weer terug na die walvisjagters van die 1800’s, hoe die dorp rondom die ou paradegronde uitgelê is, en dat hierdie katedraal waarin ons nou staan, uit 1774 dateer en dus die oudste Anglikaanse kerk in die Suidelike Halfrond is.

Basil het ’n passie vir sy plek. Wat jy in ’n paar uur by hom wysraak, is soveel meer as wat enige boek of stapel brosjures jou kan vertel.

Koste: ’n Toer is R170 p.p. en sluit ’n koppie koffie en ’n versnapering in.

Wat jy in ’n paar uur by hom wysraak, is soveel meer as wat enige boek of stapel brosjures jou kan vertel

Die toerismekantoor reël vir jou die afspraak met Basil.

Koek en tee by die Consulate

Peter Mott en sy eendkuiken, Donald

Die Consulate Hotel se koloniale sjarme voer ’n mens ’n eeu of wat terug na ’n tyd toe “high tea” nog ’n instelling was.

As ’n bietjie reënweer jou planne in die wiele ry, is die koffiesitkamer ’n welkome plek om die ure te verwyl. Kom kry jou sit op die veranda, of sak weg in ’n gemaklike stoel en verwonder jou aan die groot versameling skilderye en sketse van Napoleon teen die mure. Bestel ’n beker warmsjokolade (sowat R20) en ’n snytjie koek (sowat R35; hier’s gewoonlik wortelkoek, sjokoladefudgekoek, skons, ’n quiche en selfs melktert!).

Soms tokkel iemand die Baby Grand se klawers, soms sien jy iemand wegdommel en – as jy gelukkig is – kom die boer Peter Mott en sy eendkuiken, Donald (foto onder), ’n draai maak!

Klim Jacob’s Ladder

Jacob’s Ladder

Dié trap gaan by jou bly spook totdat jy dit geklim het. Jacob’s Ladder is van 1829 tot 1871 as ’n sweefspoorweg tussen die dorp aan sy onderpunt en die fort aan die bopunt gebruik. Swaargelaaide karretjies is teen 40° op ’n stel ysterstawe hier uitgesleep deur drie stomme donkies wat aan die bopunt heeldag om ’n spil moes stap.

Deesdae is die spoor en dwarslêers weg en slegs groot kliptrappe het oorgebly. Maar Jacob’s Ladder is ’n moet, en as ’n mens die 699 trappe (!) baasgeraak het, het jy rede om daarmee te spog.

Glo my, die Saints kyk met nuwe respek na jou!

VIDEO: Jacob's Ladder  699 trappe tot bo!

WAT NOG: Die museum (aan die onderpunt van Jacob’s Ladder) is op weekdae oop van 10 vm. tot 4 nm. en op Saterdae sluit dit om 12 nm. Jy kan ure hier deurbring tussen uitstallings van skeepswrakke, Boere-geskiedenis en die vlasbedryf.

Vra die personeel ook uit na die lewe van Dinuzulu, die Zoeloe-koning wat van 1890 tot 1897 hier ’n banneling was.

SPEEL IN DIE SEE

Die seetemperatuur dobber rondom ’n aangename 20 °C. Maar die seestrome is sterk en die eiland het ook nie eintlik strande waarop jy veilig in die vlak brandertjies kan baljaar nie.

Maar daar is maniere om die see van ’n boot af te geniet. Dis egter nie net mense wat van ’n warm see hou nie. Dieselfde rede lok walvishaaie na St. Helena se waters en jy kan saam met hulle gaan inspring.

VIDEO: Só lyk die walvishaaie van St. Helena:

Dis ’n rare belewenis om saam met walvishaaie te swem. Dié massiewe visse met hulle kolletjieslyf en breë bek waarmee hulle plankton inslurp, is saggeaard en kruie net rustig met sterthale aan terwyl jy en jou GoPro probeer byhou. (Duikbrille, snorkels en vinne word verskaf.)

Die kans is ook goed dat jy stompneus-, growwetand- of gevlekte dolfyne sien. Koste ’n Walvishaai-uitstappie is R500 p.p. en duur ongeveer 3 uur.

Kontak: Johnny Herne van Enchanted Isle Limited: Johnny.Herne@helanta.co.sh

Die water is skoon en sigbaarheid uitstekend. Aan die westekant lê agt skeepswrakke vir duikers om te verken, waarvan die Nederlandse Witte Leeuw waarskynlik die bekendste is.

Dié vragskip vol speserye, porselein en diamante het in 1613 gesink na ’n kort maar kragtige onderonsie met die Portugese kanonne aan wal. (Onthou jou skubasertifikaat en logboek.)

Koste: Vanaf R500 p.p., insluitend toerusting en ’n vol silinder. (Doen ook navrae oor diepseehengel- en seevoëlkyk-uitstappies.)

Kontak: divesainthelena.com; stadventures.com

WAT NOG? Jamestown het ’n 33 m lange swembad waar jy – wanneer die skoolkinders nie ’n swemles het nie – kan lengtes swem.

STAP DIE EILAND PLAT

St. Helena is eintlik ’n groot berg en dus is hier legio staproetes. Die stuk of twintig Post Box-staproetes wissel in lengte van skaars 1,5 km (die Heart-shaped-watervalroete) tot 12 km (die Sugar Loaf-roete).

Die terrein wissel van ruwe vulkaniese berghellings tot koel subtropiese wolkwoude. Die gewildste roete is die 3,8 km lange een wat jou tot bo-op St. Helena se hoogste spits, Diana (823 m), neem. Dis nie ’n vermoeiende stap nie en op ’n mooi dag het jy uitsigte in alle rigtings.

Die voetpad slinger deur digte vlasbosse en verby mooi inheemse bergvarings, en neem jou ook oor twee ander spitse – Mount Actaeon en Cuckold’s Point. Op eersgenoemde staan ’n Norfolk-denneboom wat kaptein James Cook glo in die 1770’s hier geplant het.

Dié bome groei baie hoog en reguit en het as bakens vir seevaarders gedien en ook gesorg dat daar langs hulle roetes dienlike hout vir herstelwerk aan maste beskikbaar is. Die staproete tot by die Lot’s Wife Ponds-getypoele (4,5 km) aan die suidekant van die eiland is ’n moet.

Dis ’n op en af oor vulkaniese berghellings, met neste van brilmalgasse langs die pad. Rotsformasies waarvoor jy op die uitkyk kan wees, is die Donkie se Ore, Lot se Vrou en die Gorilla se Kop. By die getypoele gekom, help dik toue jou om die laaste steiltes tot onder veilig af te klim en dan is dit tyd vir inplons!

Die poele word deur ’n rotsrif van die oopsee afgesluit en branders breek kort-kort bo-oor. Moenie jou lyf Evel Knievel hou nie – bly aan die veilige kant. Die water is vol subtropiese vissies en só sout dat jy sonder moeite ronddryf. En kyk ook uit vir die Sally Lightfoots – dis enorme rooi krappe!

WAT NOG? Elke roete het ’n posbussie met ’n unieke stempel binne-in waarmee jy jou dag se stap-avontuur in jou notaboekie kan verewig.  

WEET VOOR JY WAAI

Beste tyd om te gaan? Heeljaar! St. Helena is subtropies en het dus gematigde temperature. Maar pasop: In Jamestown kan die son skyn, terwyl dit slegs ’n halfuur se ry bergop mistig raak of goed sous. Onthou dus jou sonhoed én reënjas. Gelukkig raak dit nooit werklik koud nie.

Hoe kom ek daar? Airlink vlieg elke Saterdag en Dinsdag van Johannesburg af. Retoervlugte kos vanaf R13 577 p.p. Gaan na flyairlink.com.

Visum nodig? Nee. Hoewel St. Helena ’n Britse gebied is, is slegs jou paspoort, bewys van mediese reisversekering en ’n korttermynvisum (dit kos sowat R300 en jy betaal wanneer jy hier aankom) nodig.

Waar slaap ek? Verblyf wissel van selfsorg (vanaf R340p.p.p.n.) en bed-en-ontbyt (vanaf R1 100p.p.p.n.) tot spoggerige hotelverblyf (vanaf R3 050p.p.p.n.). Gee die toerismekantoor ’n aanduiding van jou begroting en hulle sal voorstelle maak.

Waar eet ek? Die Boltons se koffiewinkel in die hawe maak lekker hamburgers (R100), die toebroodjies (R85) van die Sandwich Bar in die markie is groot met vulsels te kus en te keur. Die daaglikse visgereg (R200) van Anne’s Place in die kasteeltuin is aan te beveel, en die Blue Lantern se steaks is sappig en SuidAfrikaans (R340 vir ’n driegangete).

Wat van winkels? Ja, hier’s ’n handjie vol kruidenierswinkels wat meestal Suid-Afrikaanse en Britse produkte aanhou. Vrugte en groente word op Donderdae uit die koelkamers op die rak gesit en verkoop taamlik gou uit. Hoewel die eiland ’n bietjie vars vleis en eiers verbou, word die meeste as bevrore produkte uit Suid-Afrika ingevoer. Winkels is op Woensdae slegs halfdag oop.

Sê nou maar ek kom iets oor? Hier’s ’n tandarts, ook ’n hospitaaltjie met internasionale dokters.

Hoe werk die geldsake? Hier is nie kitsbanke nie en weinig van die winkels of blyplekke aanvaar kredietkaarte. Bring kontant en ruil dit op die lughawe of by die bank in Jamestown vir St. Helena-pond (gelykstaande aan Britse pond).

Kan ek huis toe bel? Waarskynlik nie. Hier’s wel by enkele punte WiFi beskikbaar (Anne’s Place s’n werk goed) – teen R112 per uur!

Het St. Helena Ubers? Nee, maar jy kan met jou Suid-Afrikaanse rybewys ’n motortjie teen sowat R280 per dag huur. Hier is drie vulstasies op die eiland.

Gaan na sthelenatourism.com om jou besoek te beplan en sainthelenaisland.info/ vir inligting. Die toerismekantoor is aan die bopunt van Jamestown se hoofstraat, by die verkeersirkel.


Sophia het as gas van St. Helenatoerisme gereis.